Dié daad het destyds nie net die geweldgeteisterde gemeenskap van Lavender Hill naby Kaapstad geruk nie; dit het landwyd opslae gemaak.

Toe Ellen Pakkies begin oopmaak oor die hel waarin haar seun haar gesin gedompel het toe sy dwelmgebruik hom in ’n monster verander het, het Suid-Afrikaners met begrip en simpatie na die vrou gekyk wat haar eie seun op 12 September 2007 verwurg het. So het Huisgenoot Ellen se verhaal vertel: 

Tik-kind, jy moet sterf! — deur Haidee Muller (Huisgenoot, 18 Oktober 2007)

Sy't geknak oor al die diefstal, aandrandings en vernederings, toe verwurg sy haar verslaafde seun.

Sy het geweet haar hande doen verkeerd toe sy die strop om haar slapende seun se nek sit en dit styf trek, maar sy kon haarself net nie keer nie. Nie eens nie toe hy wakker skrik en vra: ‘‘Hoekom choke mammie my?’’

Haar bewende hande het die tou ál stywer getrek, en sy het toegekyk hoe die lewe uit haar kind sypel . . .

Wat op aarde sou ’n ma by haar volle positiewe aanspoor om die kind aan wie sy 20 jaar tevore die lewe geskenk het, so koel en berekend met haar kaal hande uit hierdie wêreld te help?

Ellen se seun Adam.

Kyk 'n mens so na Ellen Pakkies hier waar sy in haar huisie in Lavender Hill naby Kaapstad sit en vertel van daardie oggend van 12 September (2007), lyk sy soos ’n doodgewone middeljarige ma, saggeaard, ordentlik.

Maar daardie oggend het sy na haar slapende kind gekyk en toe die besluit geneem wat haar gesin se lewe vir altyd sou verander: die jongste nou dood, ’n pa sy seun ontneem, twee broers hul kleinboet, en wanneer die hof beslis, dalk ook die gesin hul ma.

Toe ek so na sy dooie liggaam kyk, het dit gevoel of ’n las van my skouers af is . . .

Iets het bloot in haar geknak daardie oggend toe sy Adam – Abie, soos sy mense hom genoem het – verwurg het in sy sinkhuisie in die agterplaas.

Haar kind, wat in die greep van tik ’n monster geword het, ’n booswig wat sy ouers rot en kaal besteel het, sy ma met die vuiste bygedam en met ’n mes gesteek het, haar selfs gedwing het om haar slaapkamer as toilet te gebruik wanneer sy haar snags agter ’n traliehek weggesluit het van hom.

Agter die hek voor haar kamerdeur.

Sy vertel vlot hoe dit alles was, ses jaar lank tot verlede maand. Maar vir haar eie gevoelens het sy nie woorde nie.

‘‘Ek het nie meer trane nie, hy het my hard gemaak,’’ sê sy dan.

‘‘Moenie my verkwalik nie, niemand weet wat ons moes deurmaak nie. Toe ek so na sy dooie liggaam kyk, het dit gevoel of ’n las van my skouers af is . . .’’

Daardie noodlottige oggend het dié versorger by ’n tehuis vir bejaardes in ’n waas van die sinkhuisie weggestap en soos gewoonlik gaan regmaak vir werk. Van haar werkplek is sy na die polisie om hulle alles te vertel.

Dis amper ’n maand later en op die oog af lyk Ellen, wat nou op borgtog is, rustig waar sy praat oor haar Abie. Hy was ’n talentvolle en sportiewe kind – lief vir musiek en dans, vertel sy met ’n glimlag.

‘‘Hy en ’n vriend het altyd gerap; ek het gedink hulle gaan eendag nog hul eie musiek maak.’’

Maar toe hy 14 word, het die eens sorgelose kind ’n omwenteling ondergaan. Hy was nukkerig, afgetrokke en aggressief. Hy het begin vloek en wou nie meer skool toe gaan nie.

'Hy was ’n vreemdeling'

‘‘Ek en sy pa, Odneal, het gepraat. Ons was by ’n maatskaplike werker, alles verniet. Hy het met die verkeerde maats uitgehang. Hy het gesteel by die winkeltjie waar ek eers gewerk het en glad nie meer skoolgegaan nie. Ek was moedeloos.’’

Sy het gereël dat hy na ’n ander skool gaan.

‘‘Die skoolhoof het selfs ’n uniform vir hom gekry, maar toe hardloop hy op die eerste dag al daar weg.’’

Toe verdwyn die neseiertjie wat pa Odneal, ’n motorwag, in die huis gebêre het – gesteel vir tikgeld.

Ellen weet nie presies wanneer Abie in die dwelmduiwel se kloue beland het nie.

‘‘Hy het alles ontken, maar hy was ’n vreemdeling. Hy was slordig. Dwelms was sy hele lewe.’’

Sy het haar geskaam vir hom, erken Ellen. Hy het haar besittings verkwansel, haar eens netjiese huis omgekeer, haar geslaan en gevloek, koffie in haar gesig gegooi, haar met ’n mes in die hand gesteek.

Ellen het hom uit die huis gesmyt en Abie het in ’n sinkhuisie in die agterplaas ingetrek. Sy het diefwering by die huis laat aanbring om hul goedjies te probeer beveilig, en ook ’n veiligheidshek voor haar slaapkamerdeur.

‘‘Dít het hy met ’n byl oopgekap om goed te kry om te verkoop. As ek nuwe kooigoed gekoop het, het hy dit gesteel. Ek en Odneal moes die hek al hoeveel keer regmaak. As hy nie kon in nie, het hy vensters gebreek.’’

Ruite wat Adam gebreek het.

Eenkeer het hy al haar klere gesteel, en sy moes met die klere van die vorige dag werk toe gaan tot ’n barmhartige Samaritaan vir haar nuwes gekoop het.

Oral waar sy om hulp gaan aanklop het, by maatskaplike werkers en selfs by die hof, het deure in haar gesig toegeklap.

Niemand kon help nie en Ellen en Odneal moes alleen met hul monster-kind klaarkom.

'Alles in my gedagtes was dood'

Die dag voor sy dood het sy hom geroep om iets te kom eet terwyl sy en Odneal winkels toe is. Toe hulle terugkom, het hy met ’n sak uit die huis probeer wegkom.

‘‘Toe sien ek dis ons besittings wat hy weer wou verkoop. Odneal het gegil: ‘Waardeer jy nie wat jou ma vir jou doen nie?’ ’’

Hy is saam met ’n vriend weg, net om later weer aan die deur te kom hamer, vertel sy.

‘‘Hy wou R20 hê. Ek het nee gesê en hy het op my gevloek.’’

Die volgende oggend het sy douvoordag by sy hokkie ingestap.

‘‘Abie het op die grond gelê, en ek het hom gevra om op die bed te klim. Hy was in ’n waas. Toe vra ek hoekom hy my so verneder en met my baklei, hoekom ons so moet leef.’’

Sy het omgedraai en ’n stuk tou in die huis gaan haal.

‘‘Alles in my gedagtes was dood,’’ vertel sy. Haar hande het begin bewe toe sy die tou stywer trek.

‘‘Maar ek het aanhou trek tot alles tjoepstil was.’’

By die polisiekantoor het die trane eindelik gekom.

‘‘Toe besef ek wat ek eintlik gedoen het.’’

LINKS BO: Hier het Ellen haar seun verwurg. LINKS ONDER: Die sinkhuisie wat sy pa vir hom gebou het. REGS: Skade aan die deur.

Sy weet Rudolph (30) en Colin (25) verlang na hul broer, maar ook dat hulle verstaan, sê Ellen. En ja, dis bitter om te sien hoe Odneal na sy kind verlang.

‘‘Nou die dag het hy by die agterdeur gestaan en hartseer na die sinkhuisie gekyk. Ek weet hy was lief vir hom, ten spyte van alles.’’

Hoe graag sou sy nie dinge anders wou hê nie. Maar nee, sy blameer haar lankal nie meer vir dinge wat skeefgeloop het in Abie se lewe nie.

‘‘Ek het hom alles gegee wat ek kon. Ek is nie meer kwaad nie. Ek het God dadelik om vergifnis gevra en Hy het vrede in my hart gesit, my rustig gemaak.’’

Ellen verskyn op 20 Desember in die hof op ’n klag van moord. In die verlede, in gevalle waar die hof bevind het daar was sterk uitlokking om moord te pleeg, is ’n opgeskorte vonnis opgelê, maar elke geval word volgens verdienste beoordeel.

Wat daarna gebeur het

Vonnis

Ellen is 'n opgeskorte vonnis van drie jaar en 280 uur se gemeenskapsdiens opgelê.

Vyf jaar nadat Ellen haar jongste seun verwurg het, het die volgende slag haar getref: haar oudste seun, Rudolph (toe 33), 'n pa van ses kinders, voer ook 'n stryd teen dwelms (Ek't hoop vir dié dwelmkind, Huisgenoot 14 Maart 2013).

Sy was 17 toe Rudolph gebore is en toe hy op dieselfde dwelmpad as Adam begin loop, wou Ellen en Odneal maande lank niks met hom te doen gehad het nie.

Maar toe besef Ellen daar's hoop vir Rudolph en oor Kerstyd het daar vrede in die Pakkies-huis gekom.

Op die planke

Lizz Meiring het die pen opgeneem en die verhoogstuk My Naam is Ellen Pakkies het in 2013 die lig gesien. Vinette Ebrahim (Charmaine in die televisiereeks 7de Laan) het die rol van Ellen daarin vertolk en Christo Davids (Errol in 7de Laan) was Abie.

Ellen het destyds gesê sy het die toneelstuk net een keer gesien, maar dat dit haar in trane laat uitbars het omdat dit so ná aan die been gesny het.

Ellen in haar kantoor, voorheen haar seun Abie se kamertjie. Foto: David Briers.

Sy het Abie se sinkkamertjie oopgebreek en in 'n kantoor vir haarself verander vanwaar sy mense wil help, selfs al het haar eie gemeenskap haar nog nie heeltemal weer aanvaaar nie. Maar Ellen wil net met haar lewe aangaan en mense bystaan.

"Ek is in die Heilsleër gebore en my ma het nie vir my 'n naam gegee nie. 'n Verpleegster het vir my my naam gegee," en dit is van die dinge wat Ellen eendag in haar eie boek wil skryf.

Op die silwerdoek

Ellen se traumatiese ervaring het ook die buiteland laat kennis neem van 'n ma se stryd teen die vernietigende mag van dwelms wat daartoe bygedra het dat sy haar seun se lewe geneem het.

Daryne Joshua, die regisseur van Noem My Skollie, het sy aanvanklike huiwering oor die fliek Ellen, die Storie van Ellen Pakkies, opsygeskuif nadat hy Ellen ontmoet het.

"Ek het terwyl ek met haar gepraat het besef sy is 'n ware moeder," het hy aan capetownetc gesê.

Die fliek het reeds groot lof ingeoes op die internasionale rolprentfees wat in Rotterdam gehou is en dit sal ook by die 44ste internasionale rolprentfees in Seattle vertoon word.

Op 22 Augustus 2017 is Ellen, die Storie van Ellen Pakkies gekies om die jaarlikse Silwerskermfees in Kampsbaai, Kaapstad, te open. Die draaiboek is deur Amy Jephta geskryf en Ellen het ook insette gelewer, veral waar dele in haar huis verfilm is.

Jill Levenberg van Suidooster-faam vertolk die titelrol en Jarrid Geduld (Black Sails, Zulu, A Lucky Man) is Abie.

Van 7 September 2018 sal die fliek landwyd in teaters uitgereik word.

Tik, die dwelm wat in jou kombuis gemaak kan word

Tik (metamfetamien) is 'n hoogs verslawende dwelm wat tot 'n bylae 6-medisyne verklaar is in 'n poging om die gebruik daarvan te probeer bekamp. Dié dwelm kan maklik met 'n paar items in enige kombuis vervaardig word.

Hier's hulp:
  • Suid-Afrikaanse Nasionale Raad vir Alkoholisme en Afhanklikheid van Verdowingsmiddels (SANRA): WhatsApp 076-535-1701 of bel 011-892-3829.
  • Narcotics Anonymous: 24-uur hulplyn 083-900-69-62.
  • Suid-Afrikaanse Depressie- en angsgroep (SADAG): Destiny-hulplyn vir jong mense 0800-41-42-43.