Hinckley het sy misdaad as ’n “weergalose uitdrukking van liefde” vir die aktrise Jodie Foster beskryf. Ná die hofsaak het hy sy teleurstelling uitgespreek dat Jodie ná die aanslag nie ook vir hom lief geraak het nie. Dit was immers “die grootste liefdesdaad in die geskiedenis van die wêreld,” het hy gesê.

Ronald & Nancy Reagan

In die Huisgenoot van 9 April 1981 skryf Edwin Collins oor die presidentsvrou, Nancy Reagan, en hoe sy ná die aanslag op haar man se lewe, soos soveel ander presidentsvroue voor haar, voor die taaiste krisis in haar lewe staan.

Kykers het dit op televisie gesien; die skok, die pyn, die byt-op-die-tande van magtelose woede waarmee Maureen Reagan die sluipmoordaanval op haar pa veroordeel het. Nie die vrou van die president nie, maar sy kind was in daardie oomblik die versinnebeelding van die vrou van die Withuis toe sy voor God verklaar sulke boewery sal nie geduld word nie.

Enkele sekondes nadat hierdie foto geneem is, het John Hinckley op Ronald Reagan begin skiet. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Want daarmee saam het die wêreld ’n kykie gekry in die hart van Amerika se presidentsvroue, die gedurige angs waarmee hulle heeltyd moet saamleef.

En die skrynende ironie dat daar juis in dié grootse vestiging van vryheid geen beweging van vryheid vir sy leiers kan wees nie.

Nancy Reagan, almal noem haar "Nancy met die laggende oë", moet nou ervaar wat die vroue van soveel vorige Amerikaanse presidente en ander politici reeds beleef het.

Abraham Lincoln, James Garfield, William McKinley, die Kennedy-broers Robert en John — hulle het dit nie oorleef nie. In die fleur van hul lewe is hulle deur sluipskutters neergevel.

Waarvoor Nancy baie dankbaar is, is dat haar man die aanval op hom oorleef het. Maar hoe moet dit nie die vrees binne-in haar vergroot nie?

“Hierdie vrou wat altyd met ’n pistool by haar kopkussing geslaap het,” sê ’n waarnemer, “aan die wêreld het sy haar nog altyd voorgehou as ’n vrou van staal, al lyk sy so klein en kwesbaar. Maar Nancy is broos. Hierdie sinlose daad moet letsels laat. “

Vorige sluipmoordpogings

Dit is nie die eerste keer dat die Reagans met ’n moordaanslag te doen kry nie.

In ’n boek wat sy geskryf het, vertel Nancy van twee vorige sluipmoordpogings op Ronald Reagan, in 1968 en 1976. Sy vertel ook van ’n keer toe iemand haar probeer vermoor het.

“Hulle het probeer om my te ontvoer en my kop aan Ronnie (Ronald) te stuur, sou hy nie instem om sekere mense uit die tronk vry te laat nie.”

Dan beskryf sy die keer toe veiligheidsmanne ’n man moes gryp wat ’n vuurwapen op haar en Ronald rig.

“Ronnie moes ’n seuntjie help wat teen ’n tou vasgedruk is toe die skare vorentoe beweeg. Voor hy die seun kon bereik, het die veiligheidsmanne hom letterlik in veiligheid weggedra. Ek is in ’n nabygeleë gebou ingedruk om my weg te kry.

“Toe hulle die vuurwapen van die jong man wegneem, blyk dit ’n speelding te wees. Maar dit het eg gelyk en ons gewaarwordings was eg.”

Nou, met die jongste sluipmoordaanslag, was die vuurwapen én die gewaarwordings van angs baie eg.

Ek het al geleer om met die gedagtes en moontlikhede van gevaar saam te leef.

In haar boek het Nancy dit duidelik gestel dat sy weet watter gevare in die Withuis vir haar voorlê.

Sy skryf: “Die gesinne van mense in gesagsposisies leef in ’n visbak. Party van die druk wat op jou man is, druk jou ook. Jy moet sterk wees om dit te kan verduur.

Ek het al geleer om met die gedagtes en moontlikhede van gevaar saam te leef. Jy tref al die voorsorg wat jy kan, dan glo jy in God en gaan voort met jou daaglikse lewe.

“As jy dit nie doen nie, kry jy niks uitgerig nie.”

Maar as gevaar en angs daarvan deel is om die presidentsvrou van ’n land te wees, het dit beslis nie net met die vrees vir sluipmoord te doen nie.

Ander vroue van gewese Amerikaanse presidente kan van die traumatiese ervarings getuig terwyl hul mans in die hoogste amp van die land gedien het.

Gerald & Betty Ford

Betty Ford, vrou van oudpres. Gerald Ford, sê in ’n stadium het die spanning in haar huwelik so erg geraak dat sy sielkundige hulp moes kry.

“Ek het my sin vir eiewaarde heeltemal verloor,” het sy gesê.

Die Ford-huwelik se patroon was dat Betty tuis alles moes reël terwyl Gerald, die volslae politieke dier, ”in aktiewe diens” van sy Republikeinse Party gestaan het.

Soos baie ander vroue van ambisieuse mans moes sy haar kinders grootmaak met min emosionele steun van haar man.


Richard & Pat Nixon

Pat, vrou van oudpres. Richard Nixon, word deur baie mense as Nixon se “eindelike slagoffer” beskou. In die laaste maande van sy ampstermyn word vertel sy het geweldig gedrink, ’n eensame vrou wat deur haar man verwerp is.

Nixon het haar nie eens vertel van sy besluit om te bedank tot hy dit gedoen het nie. Toe sy daarvan te hore kom, het sy, soos dit later beskryf is, “in verskriklike trane uitgebars”.

Pat en die Withuis-personeel het in die laaste klompie maande in wanorde geleef. Sy kon haar nie doof hou vir al die vyandigheid teenoor haar nie, maar die president was oënskynlik nie eens daarvan bewus nie.

Ek het alles versaak wat ek ooit liefgehad het.


Teen die einde was haar gemoed op ’n laagtepunt. Sy het net saans om middernag kort entjies gaan stap terwyl veiligheidsmanne haar vergesel het. Sy was ook bekommerd oor die spanning wat sy in haar gesin sien ontwikkel het as gevolg van die Watergate-skandaal, wat net vererger het.

Haar hartseer verhaal word ten beste opgesom deur ’n opmerking wat sy gemaak het voor haar man president geword het: “Ek het alles versaak wat ek ooit liefgehad het.”

En in sy laaste toespraak in die Withuis op 8 Augustus 1974 het Richard Nixon sy ma opgehemel, maar nie eens een keer na die vrou verwys wat hom 28 jaar lank in die politiek bygestaan het nie. Dit was nie die enigste keer dat hy sy vrou in die openbaar geïgnoreer het nie.

John F. & Jacqueline Kennedy

Jacqueline Kennedy wie se man, John, langs haar in ’n motor deur die sluipmoordenaar Lee Harvey Oswald doodgeskiet is, het ook ’n goeie skeut angs en verdriet van ’n ander aard geken.

Almal weet Kennedy was nie die getrouste eggenoot nie. Sy moes glo ’n keer die haas onnoemlike vernedering ondergaan om te luister na ’n bandopname waarop haar man intiem sy liefde teenoor ’n ander vrou betuig.

Maar niks het Jackie se lewensuitkyk meer beïnvloed as daardie ontsettende ervaring in Dallas nie. Sy het daarna 'n onversadigbare kooplus ontwikkel en baie mense het gesê dit is omdat sy nie die ervaring van daardie dag verwerk het nie.

Mense na aan haar het ’n tyd lank gevrees Jackie sou van haar verstand af raak. Dit het weer gebeur toe haar swaer, Robert, ook doodgeskiet is.

Jackie het ná haar troue met die Griekse skeepsmagnaat Aristoteles Onassis eendag so gesels oor die verdriet van presidentsvrou wees: “Almal ken verdriet in die lewe, maar wat so verskriklik is, is dat jy as presidentsvrou geen privaat oomblik het om met jou verdriet te probeer saamleef nie.

“Hulle hou jou elke oomblik dop met televisiekameras, waar jy ook al gaan. Elke trek op jou gesig. Jy voel soos iets wat in ’n glaskas sit met jou hartseer terwyl die hele wêreld van buite af staan en kyk na jou en jou verdriet. Dit maak die pyn honderd keer erger.”

'Liefie, ek het vergeet om te koes'

Vir die buitewêreld lyk die verhouding van die nuwe egpaar in die Withuis baie hegter as dié van vorige presidente in ’n lang tyd.

Reagan is onteenseglik Nancy se held en meester en die spanning word versag deur die “ou man” se besonderse humorsin.

Hy is die enigste uit sewe Amerikaanse presidente wat met snaakse sêgoed op ’n sluipmoordaanval gereageer het. Hy het dit blykbaar verwag en in gesprekke daarna verwys as “the awful-awful” wat hy moontlik kan oorkom.

“Liefie, ek het vergeet om te koes,” het hy aan Nancy gesê terwyl hy na ’n operasiesaal in die George Washington-universiteitshospitaal gestoot is.

Aan drie Withuis-personeellede het hy met ’n knipoog gesê: “Wie sien om na die besigheid?”

Met die span dokters wat ’n noodoperasie op hom uitgevoer het, het die Republikeinse staatshoof voor die operasie die draak met hulle gesteek deur te sê: “Sê asseblief vir my julle is almal Republikeine.”

Een van die dokters het spitsvondig reageer: “Vandag is ons almal Republikeine.”

Nancy hoef met so ’n man nie veel ander vrese te hê as om te hoop dit gebeur nie weer nie. Daarvoor bid sy elke dag.

John Hinckley (63)

Hinckley was 25 jaar oud toe hy op 30 Maart 1981 voor ’n hotel in Washington ses skote op Ronald Reagan en sy span afvuur.

Hy was obsessief oor Jodie Foster, die kinderster wat veral opspraak gewek het vir haar rol in die fliek Taxi Driver saam met Robert de Niro.

Drie weke voordat John Hinckley skote op pres. Ronald Reagan afgevuur het, het hy dié nota aan Jodie gestuur. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Hy het ook ’n uur voor die sluipmoordaanval ’n brief aan haar geskryf en gesmeek sy moet hom ’n plek in haar hart gun.

Jodie, toe 19 en ’n student aan Yale-universiteit, was uiters geskok en vreesbevange toe sy besef die Hinckley wat reeds verskeie liefdesverklarings aan haar gepos het, dieselfde Hinckley is wat Ronald Reagan wou doodskiet.

Maar dis nie die einde van Hinckley nie. Dokters en hofbeamptes is in die pekel omdat hulle nie ’n opvolgondersoek binne 18 maande ná sy vrylating uitgevoer het nie. Die sperdatum vir die ondersoek was Januarie 2018.

Hulle moes uitvind of Hinckley, wat 35 jaar in die Sint Elizabeth-hospitaal vir mense met geestesprobleme in Washington deurgebring het en van 2016 in sy ma se sorg in Virginia vrygelaat is, enige gevaar vir die samelewing inhou.

Regter Paul Friedman het in Mei erken die ondersoek het nog nie plaasgevind nie en het “onvoorsiene roostervertragings buite die betrokke partye en die hospitaal se beheer” daarvoor blameer.

Luidens berigte sal op 10 Desember vanjaar in die hof oor Hinckley se “herstel-verlof” beslis word. In dié stadium word hy as ’n buitepasiënt behandel.

Bykomende bronne: politico.com, hollywoodreporter.com, nbcwashington.com