My pa, baas van die Mafia — deur Jane Mulkerrins (Huisgenoot 13 Maart 2014)

Rita Gigante se eerste helder herinnering aan haar pa is nie iets waaroor ’n mens nostalgies kan raak nie. Op vyf het sy eendag alleen onder die etenstafel in haar ouma se beknopte woonstel gespeel, waar die groep mans in die vertrek haar nie kon sien nie.

Toe word die stemme skielik stil en ’n man slaan met ’n dowwe slag op die vloer neer. Vanuit die skadu’s onder die tafel het Rita toegekyk hoe ’n vuis met haar pa se ring aan die pinkie die houe op die man op die vloer laat neerreën.

Daarna het ’n blink gepoetste skoen, haar pa s’n, drie keer hard op die bebloede, gekneusde gesig getrap. Toe is dit weer stil in die vertrek.

“Ek het nie verstaan wat ek toe pas gesien het of die implikasies daarvan nie, maar ek weet dit het my getraumatiseer en tot in my siel geruk,” sê Rita vandag.

“Ek het jare lank daardie herinnering probeer begrawe omdat dit my so bang gemaak het.”

'The Chin'

Haar pa se werkwyse was om mense vir hom bang te maak.

Vincent “The Chin” Gigante (hy het dié bynaam gekry oor die uitspraak van sy voornaam in Italiaans: “Wien-tsjen-zô”) was ’n gesiene bendelid in New York.

Hy het in die 1950’s en 60’s vir die Mafia gewerk voor hy die baas van die berugte Genovese-misdaadfamilie geword het.

Vincent was in beheer van die georganiseerde misdaad (van dwelmhandel tot swendelary, intimidasie en moord) wat die botoon in die stad gevoer het.

“Hy was in beheer van alles,” sê Rita (nou 46).

“Al het hy nie self al die nare goed gedoen nie, het hy ander regstreeks opdrag gegee.”

Hy het beslis in 1986 opdrag gegee dat sy mededinger en hoof van die Gambino-misdaadfamilie, John Gotti, vermoor word. Die poging het misluk, maar toe John ses jaar later tronk toe is, is Vincent as die magtigste misdaadbaas in Amerika beskou.

Al is hy op straat gevrees, was Vincent se “sakebelange” in sy huis ’n geheim. Tot op 16 het Rita geen benul gehad haar pa is in die Mafia nie, en nog minder dat hy die grootbaas is.

Selfs toe Vincent in die 60’s vir vyf jaar tronk toe is, het die kinders nooit die waarheid gehoor nie. Aan hulle is gesê hul pa is weg om in die weermag te veg.

“Wanneer iemand kleintyd vir jou sê: ‘Moenie vrae vra nie,’ leer jy hulle gehoorsaam,” sê Rita en haal haar skouers op.

Nou, agt jaar ná Vincent se dood op 77, is Rita gereed om oor hom, haar familie en haar kinderjare te praat. Haar outobiografie, The Godfather’s Daughter, het onlangs verskyn.

Op ’n stormagtige somerdag ry ek oor die George Washington-brug tussen New York en New Jersey om Rita in die boomryke voorstad Tappan te gaan ontmoet.

Dis net 2 km van die kinderjare-tuiste waar haar pa eens daarvan beskuldig is dat hy die hele plaaslike polisiespan van vyf lede in sy sak het.

Die TV-reeks The Sopranos speel nie om dowe neute hier af nie.

Vandag woon Rita in ’n beskeie maar keurig versierde huis saam met Bobbi Sterchele, haar lewensmaat van ses jaar met wie sy onlangs getroud is.

Nog iets wat vir selfs meer geheimhouding kleintyd gesorg het, was dat Rita van 12 jaar af geweet het sy is gay, maar sy het haar seksualiteit tot in haar 20’s geheim gehou uit vrees vir wat haar pa en die res van haar Italiaans-Katolieke familie en die gemeenskap sou sê.

Bobbi se 19-jarige seun, Joey, woon ook by die egpaar.

Rita en Bobbi ontmoet my by die voordeur. Rita is klein en fyn met kort, krullerige donker hare. Sy dra nie grimering nie. Bobbi is blond en keurig versorg met dik, vals wimpers en helderrooi vingernaels.

Angel, hul wollerige wit basterhond met drie bene (’n oorlewende van die aardbewing in Chili wat deur ’n vriend gered is), loop agter hulle aan.

Albei is saggeaard en begaan oor die ander en dis geen verrassing om te hoor Bobbi is ’n verpleegster nie, terwyl Rita as ’n “geneser” werk. Sy help mense hul emosionele en geestelike probleme met reiki, masseerterapie en lesings verwerk.

Bobbi is 'n geregistreerde verpleegster. Foto: Ins
Bobbi is 'n geregistreerde verpleegster. Foto: Instagram (Bobbi Sterchele)
Rita Gigante was 16 toe sy uitgevind het wie haar
Rita Gigante was 16 toe sy uitgevind het wie haar pa regtig is. Foto: Instagram (Rita Gigante)

Hoewel haar aksent deesdae eg “Noo Joisey” is, is Rita aan die oorkant van die Hudson gebore en het sy haar eerste 18 maande saam met haar ouers, Vincent en Olympia, haar vier ouer broers en susters, haar ouma en twee Duitse herdershonde in ’n beknopte viervertrekwoonstel in die West Village deurgebring.

Toe hul pa hulle na New Jersey laat trek, is gesê hy wou meer ruimte en ’n beter lewensgehalte vir sy gesin hê. Maar eintlik het Olympia alleen die huis bestuur terwyl Vincent in die stad agtergebly, by sy ma gewoon en die land se magtigste misdaadsindikaat bestuur het.

“Kyk ek nou terug, is ek seker dit was die beste vir my om hier, weg van dit alles af, groot te word,” sê Rita.

Rita, ’n laatlam, het goeie herinneringe aan haar pa.

“Ek onthou hoe ek op sy skoot gesit en hy my rug gevryf het om my aan die slaap te maak. En ek onthou hoe hy op die maat van Elvis se musiek in die sitkamer gedans het; hy was mal oor hom.”

Hy het Marlon Brando ook aanbid, sê sy, veral in sy rol as Vito Corleone in The Godfather.

Hoewel sy gerieflik grootgeword het, was Rita allesbehalwe ’n tipiese Mafia-prinses wat geklee in pelsjasse en behang met diamante in klubs in die stad uitgehang het. Daar was geen uitspattige tekens van rykdom soos groot motors of eksotiese vakansies nie.

“My ouers kom albei uit ’n baie arm Italiaanse immigrantefamilie en was baie versigtig met geld. My ma gaar nou nog kombuispapier op sodat sy dit weer kan gebruik; ek kry dit in haar handsak,” vertel Rita.

Met Kerstyd het Vincent rolle banknote uitgedeel wat met ’n rekkie vasgemaak was.

Rita het toe gedink dis heel normaal, maar nou beskou sy dit as ’n gewisse teken van wie en wat hy werklik was. Dwarsdeur haar kinderjare was daar vreemde voorvalle en gedrag wat nooit heeltemal sin gemaak het nie.

Rita onthou die besoeke aan haar ouma se woonstel, wat sy The Dungeon genoem het weens die dig getrekte gordyne voor elke venster. Hier het mans met name soos Big Dom, Skinny Dom, Dominick the Tailor en Jerry Bulldog gekom en gegaan.

Pa in pajamas

Almal het altyd gefluister en die radio was altyd hard gestel. Vincent het weinig gepraat en het briefies vir die mans geskryf, selfs wanneer hulle reg langs hom gesit het. En hy het geweier om oor die foon te praat.

Rita het eers jare later, nadat sy die waarheid oor haar pa se bande met die Mafia uitgevind het, besef dit was om polisiemeeluistery te ontduik.

En toe Rita vra hoekom haar pa altyd pajamas dra en nie gaan werk nie, is vir haar gesê hy is siek.
 
“As iemand vra, sê pappa is siek,” het haar ma en susters vir haar gesê. Vincent se “siekte” was inderwaarheid ’n noukeurig uitgewerkte rookskerm; as hy ooit verhoor sou word, kon hy beweer hy is geestesversteurd en so tronkstraf vryspring.

Hy het alles in die stryd gewerp om die owerheid te oortuig dat hy siek is. Hy het dokters bedrieg sodat hulle geestesiekte en paranoïese skisofrenie by hom kon diagnoseer.

Sy kinders moes sy arms vashou terwyl hy gemaak het of hy ’n versteurde buitepasiënt is wat tydens uitstappies in die buurt met parkeermeters praat. Hy het selfs dan en wan verblyf in ’n hospitaal vir geestesiekes gereël.

Dit het hom die bynaam The Oddfather in die poniepers besorg.

Toe Rita die waarheid vasstel, dat hy glad nie siek is nie, was sy briesend.

“Ek was buite myself van woede wanneer ek gesien het hy maak of hy siek is,” sê sy en skud haar kop.

“Ek het gevoel hy maak ’n bespotting van die siekte.”

Daar was ander, subtiele aanduidings vir sy kinders dat hy mag en invloed gehad het.

Rita het begin agterkom wanneer sy en haar ma die motor naby haar ouma se woonstel parkeer, was dit nooit nodig om, soos ander mense, te wag en te betaal nie.

Met spesiale geleenthede het Vincent die hele familie uitgevat vir ete (ook hul gades en kleinkinders) en dit was nooit nodig om te bespreek nie, nie eens op Kersdag nie.

En toe ’n bejaarde Italiaanse straatwag onvanpas aan die jong Rita vat, het haar ma haar laat sweer dat sy Vincent nie daarvan sou vertel nie. ’n Betraande en verwarde Rita het gedink dis baie onregverdig.

“Pappa moet iets aan hom doen,” het sy gedink, maar nie besef haar ma vrees die omvang en erns van Vincent se reaksie nie.

Die 'Mafia-prinses' en 'n tweede gesin

Op 16 het die gefluister oor haar wat ’n “Mafia-prinses” is, so hard geword, sy kon dit nie meer ignoreer nie. Sy het daarop aangedring dat ’n familievriend haar die waarheid vertel. En hoewel dié feite haar pa se gedrag verklaar het, kon sy ander, groter werklikhede onmoontlik aanvaar.

“Hoe moes ek dit verwerk dat hy ’n moordenaar is en by aaklige, onwettige goed betrokke is om geld en mag te kry?” sêvra sy.

“Dit het baie lank geduur voor ek alles verwerk het.”

Die volgende paar jaar het die stres van haar pa se identiteit geheim hou tot liggaamlike en sielkundige simptome gelei, onder meer pynlike maagprobleme, angs, angsaanvalle, depressie en ’n obsessief-kompulsiewe steuring.

“Die obsessief-kompulsiewe steuring was beslis deels omdat ek na normaliteit gesmag het, dat ek ’n bietjie beheer wou kry omdat alles so buite beheer gevoel het. Ek het nooit werklik veilig gevoel nie,” sê sy.

Hoewel sy toe geweet het wat haar pa se sake behels, sou nog geheime onthul word.

Toe Rita in haar vroeë 20’s was, het haar ma verduidelik Vincent onderhou ook ’n gesin in Manhattan.

Nog gebeure tydens haar kinderjare het begin duidelik word, van haar ma se depressieaanvalle tot die besluit dat die gesin New Jersey toe moes verhuis.

In 1990 het al die geheimhouding en drama eindelik op ’n end gekom toe Vincent in hegtenis geneem word weens swendelary en moord. ’n Regter het sy pleidooi oor sy geestesgesondheid verwerp en Vincent is in 1997 verhoor.

Die drama van die verhoor het selfs erger geword toe Rita en haar twee halfsusters en halfbroer mekaar vir die eerste keer in die hof ontmoet.

Hulle het probeer om mekaar te leer ken, maar toe Vincent skuldig bevind en 12 jaar tronkstraf opgelê word, het dié embrioniese verhoudings kort voor lank tot ’n einde gekom.

“Hulle was baie beskermend teenoor hom en kwaad omdat ek hom nie gaan besoek het nie,” sê Rita. “Maar dit was vir my makliker om eerder aan hom te skryf; ek wou hom nie in so ’n plek sien nie.”

Tien jaar later, in 2007, is Vincent in die tronk oorlede.

'n Beter verhouding

Rita het ’n oorweldigende warboel emosies ervaar: hartseer en skok, maar ook ’n groot verligting, vir die hele familie.

“Dit was ’n groot aanpassing, maar dit was ’n verandering wat my ma nodig gehad het, wat die hele familie nodig gehad het, want hulle het nie geweet hoe om vir hom nee te sê nie. Hulle het nie geweet hoe om individue te wees nie,” sê sy.

Dit lyk of Olympia (84) ’n nuwe gevoel van vryheid geniet, al treur sy oor haar man. Rita sê sy het nou ’n beter verhouding met haar pa as toe hy geleef het; as “geneser” van mense met emosionele en geestelike probleme glo sy sy het met hom gekommunikeer.

Maar haar besluit om ses jaar ná haar pa se dood ’n boek te skryf was omstrede in haar familie. Haar susters het verstaan waarom: nie net om haar eie, hoogs persoonlike verhaal te verwerk nie, maar om ander te help wat ook so iets ervaar.

“Sommige mense verstaan die angstigheid; party vind aanklank by die obsessief-kompulsiewe steuring; mense wat iemand na aan hulle verloor het ná jare se stryd, mense wat twee gesinne gehad het . . .” sê sy.

Haar broers, halfbroer en -susters was heftig daarteen gekant.

“Hulle het dit eenvoudig as verraad beskou, dat ek my vuil wasgoed in die openbaar was,” sê sy, terwyl Bobbi langs haar op die bank inskuif en haar hand liefderik druk.

Haar ma ondersteun haar ten volle, maar het nie die boek gelees nie.

“Ek is gelukkig daarmee – sy het nie nodig om dit in hierdie stadium van haar lewe te herleef nie,” sê Rita.

“Maar sy sien hoe ander daarop reageer en weet dit eindig gelukkig.”

Rita se broers, halbroer en -susters het haar boek
Rita se broers, halbroer en -susters het haar boek as verraad beskou.
The Godfather's Daugter deur Rita Gigante is beskikbaar by takealot.com
© Jane Mulkerrins/Dana Lixenberg/Telegraph Media Group Limited 2013
Wat doen Rita vandag?

Rita en Bobbi bedryf hul onderneming Space of Grace Healing vanuit Tappan in New York. Rita spesialiseer in intuïtiewe psigiese lesings, berading en chakra-genesing.

Hulle het vanjaar saam hul eerste boek (vir kinders en grootmense), Angel's Forever Home, gepubliseer.

Op haar webtuiste skryf Rita dat sy gereeld haar kliënte aanmoedig om die onbekende te konfronteer.

"Om in 'n toestand van vrees en ontkenning te leef, verhoed dat jy kan aanbeweeg en wérklik leef. Vir my is die deel van die waarheid die uiterste uitdrukking van liefde en hoop vir 'n beter vandag en more."

Bronne: azcentral.com, nypost.com, spaceofgracehealing.com