Terwyl die ouer garde haar vir onder meer die reusetreffer Jolene onthou, sal die jonger garde weet sy is die Hannah Montana-ster Miley Cyrus se peetma. En wat ’n vrolike peetma is sy nie. Die twee het al talle kere impromptu begin sing en dis ’n absolute wenkombinasie.

Toe Miley in 2016 tydens die The Voice-werklikheidsreeks deelgeneem het, was Dolly daar. Saam het dié twee Jolene van voor af weer op die gewildheidsleer vir oud en jonk laat klim.

Benewens haar bewondering vir Dolly se flambojante uitrustings, is die liefde en respek waarmee Dolly mense hanteer, vir Miley beslis haar mooiste eienskap.

Dolle Dolly met die vrolike lied deur Simon Hattenstone (Huisgenoot, 4 September 2008)

Sy is vreeslik gevat en kan jou hartsnare roer en al lyk sy soos ’n Barbie van die gopse, is haar liedjies ongelooflik kragtig. Die joernalis Simon Hattestone vat die pad saam met die formidabele koningin van country, Dolly Parton.

Ek was nog altyd dol oor Dolly Parton.

Daar is die nuwe gesig – voor al die plastiese chirurgie was dit beeldskoon, nou is dit fassinerend – die krag, vreemde uitrustings, glans en swier, die strokiesprentlyfie, die onsigbare huweliksmaat, gerugte van affairs, die intelligensie, die ligsinnige lag soos ’n tjankende babahondjie en daardie bisarre mengsel van vuilbekkigheid en godvresende heilsaamheid.

En natuurlik is daar haar liedjies. Soos al die groot countrysterre kan Dolly situasies en emosies briljant en bondig opsom.

Sy keer ook dikwels tradisionele country op sy kop soos met I Will Always Love You. Die titel skep die indruk van ’n vrou wat aan haar geliefde vasklou, maar eintlik gaan dit oor ’n vrou wat wegstap.

Dolly kan soetsappig en alledaags wees, maar het ’n verstommende vermoë om iets raak te beskryf. Teen die einde van My Tennessee Mountain Home kan jy nie net die kewers en gloeiende vuurvliegies sien nie, maar die krieke hoor en die kanferfoelie uit haar kinderjare ruik.

Dolly verskil hemelsbreed van daardie ander groot vroulike countrysanger Tammy Wynette.

Terwyl Tammy oor hartseer en ongelukkigheid gesing het, sing Dolly dikwels oor haar geluk en liefde. En terwyl Tammy al haar operasies weens siekte ondergaan het, het Dolly hare ondergaan net omdat sy wou.

Sy sê graag sodra sy iets sien wat hangerig, sakkerig of papperig lyk, laat sy dit lig, wegsny en uitstryk.

Toe Tammy geluk gevind het, was dit ’n kort tussenspel. Toe Dolly aan depressie gely het, was dit ’n tydelike terugslag. Sy het haarself nog altyd as geseënd beskou.

Ek wag in ’n hotelkamer in Londen vir haar.

Skielik swaai die deur oop en sy verskyn asof uit ’n rookwolk. ‘‘Hallo, hoe gaan dit met jou? Haaaiiii, Simon.’’

Dis vreesaanjaend en opwindend, komies en roerend. Sy is 62, kommerwekkend maer, maar nog sterk. Sy het pas die rolprent Nine to Five as ’n musiekblyspel vir die verhoog verwerk en ’n nuwe album, Backwoods Barbie, uitgereik.

Sy het ook as gas op American Idol verskyn en haar geletterdheidsprogram vir kinders na Brittanje uitgebrei.

Waar kom Dolly vandaan?

Dolly is in Januarie 1946 in Oos-Tennessee se Smoky Mountains gebore. Haar pa, ’n ongeletterde boer wat ’n stukkie grond gehuur het, kon die dokter nie vir die bevalling betaal nie en het toe maar vir hom ’n sak mieliemeel gegee.

Sy was die vierde van twaalf kinders en het in ’n tweevertrekhuisie in Sevierville, Tennessee, grootgeword.


As jong meisie het sy uit volle bors gesing vir wie ook al wou luister. Dan het sy ’n stok by die krake in die vloerplanke op die voorstoep ingedruk, ’n blikkie aan die bopunt gehang en haar verbeel dit is ’n mikrofoon.

Die stoep het haar verhoog geword. Sy het op vyf kitaar gespeel, op tien liedjies geskryf en op twaalf haar televisiedebuut gemaak.

‘‘My oom Bill Owens het my na ’n plaaslike TV-program geneem. Ek het op die verhoog gestap en moes ’n liedjie oor en oor sing. Ek het gedink: O, dis wonderlik, ek gaan ’n ster wees.

“Eers as volwassene het ek besef daardie reaksie op my was nie omdat ek goed was nie, maar omdat ek klein was.’’

Sy was dadelik dol oor die aandag.

‘‘Ek het gevoel almal het my lief en tot vandag toe het ek ’n liefdesverhouding met my aanhangers. Elke keer dat ek die verhoog opstap, voel ek dis my mense dié, my familie.’’

Sy sê sy kry haar kreatiwiteit van haar half-Cherokese ma, Avie Lee, en haar ‘‘aanvoeling vir perde’’ van haar Skots-Ierse pa, Robert. Avie Lee se familie was musikaal en Dolly het as kind saam met haar oom Bill en tante Dorothy Jo Owens begin liedjies skryf.

Bottelblond, blink en 'goedkoop'

Uit die staanspoor het sy geweet hoe sy wil lyk – goedkoop.

Daar word vertel sy het die dorp se prostituut met haar bottelblonde hare en kunsmatige glans bewonder en besluit sy wil ook so lyk. Is dit waar?

‘‘Dis reg, en dis presies hoe ek lyk. Dink jy nie so nie?’’

Sy grinnik.

‘‘Dit was ’n plattelandse meisie se idee van glans. Ek is geen natuurlike skoonheid nie; daarom wou ek daardie voorkoms hê. Just a backwoods Barbie in a push-up bra and heels/I might look artificial but where it counts I’m real.’’

Dolly laat nooit ’n geleentheid verbygaan om haar eie liedjies aan te haal nie. Sy het al dikwels gesê haar hart is ál deel van haar wat eg is.

Ek vra hoe oud sy was toe sy besef het mans kyk vir haar.

‘‘Oe, mans het vir my begin kyk toe ek baie jonk was, want ek het baie vinnig grootgeword. Op dertien was ek al uitgegroei. Ek het geen enkele sentimeter verder gegroei nie.’’

‘‘Waarvan praat ons?’’

‘‘Ek praat van borste, lyf, vorm en lengte. Op dertien was ek ’n volgroeide vrou. Daarom het ek al vroeg agtergekom mans kyk vir my. Maar dit was oukei. Ek wou hê hulle moes vir my kyk.

Ek het nooit by iemand geslaap om ’n deurbraak in die bedryf te probeer maak nie.


“Ja. Ek was baie seker van myself as vrou en ek het saam met ses broers en my pa en al my ooms grootgeword; daarom het ek mans en die manlike natuur geken en was ek nie bang daarvoor nie. En ek het dit tot my voordeel gebruik.’’

As meisie, sê sy, was sy ‘‘sexy en luidrugtig’’, maar dit was al.

‘‘Ek het by niemand geslaap voor ek volwasse was nie en ek het nooit by iemand geslaap by wie ek nie wou slaap nie. Ek het nooit by iemand geslaap om ’n deurbraak in die bedryf te probeer maak nie.’’

Beteken dit ’n mens kan sukses behaal sonder om jou morele waardes oorboord te gooi?

‘‘Ja, jy kan. Maar ek het ’n vuil mond gehad. Ek sou grappe vertel.’’

'Countryhemel' en mev. Dean

Nashville het ’n deurslaggewende rol in Dolly se lewe gespeel. Sy het na hierdie stad, vier uur se ry van haar huis in Locust Ridge, getrek toe sy agttien was.

‘‘Ek het gesê ek sal nie terugkom voor ek iets het om te wys nie. Ek het die Vrydagaand met hoërskool klaargemaak, die Saterdagoggend op ’n bus geklim en nooit teruggegaan nie.’’

Haar vriende was bang sy sou sukkel, maar sy het nie.

So het Dolly in 1975 gelyk. Foto: Gallo Images/Getty Images.

‘‘Ek was nie bang vir mense nie, ook nie vir myself of vir hard werk nie, en ek het geweet ek kon niks armer in Nashville wees as wat ek by die huis was nie. Ek het gereken ek sou altyd op ’n manier iets te ete kry. En dan kan jy oorleef.’’

Op haar eerste dag in Nashville het sy haar toekomstige man, die sakeman Carl Dean, buite die Wishywashy-wassery ontmoet waar hy haar teen die warm middagson gewaarsku het. Hulle is al 41 jaar lank getroud.

Hy word so min gesien dat daar gerugte is dat hy nie eens bestaan nie. Is hy al ooit in die openbaar gesien?

Sy glimlag. ‘‘Hy is baie privaat.’’


Hy moet seker ’n sterk man wees om mnr. Dolly Parton te wees?

‘‘Ja, hy is. Maar hy voel nie soos mnr. Dolly Parton nie, hy voel soos mnr. Carl Dean.’’

Voel sy soos mev. Carl Dean wanneer sy by die huis is?

‘‘Ja. Ek skryf my tjeks uit as Dolly Dean. As ek plek by restaurante bespreek, doen ek dit altyd as mev. Dean.’’

Sy en Carl het vyf van haar jonger broers en susters grootgemaak, maar het nooit self kinders gehad nie. Dolly erken sy is hartseer daaroor.

‘‘Maar ek sê altyd ek het nie kinders gehad nie sodat almal se kinders myne kan wees.’’

Affairs

Talle gerugte oor hul huwelik het al die ronde gedoen en blykbaar geniet Dolly dit om hulle aan te blaas deur nie die skinderstories oor affairs met die countryster Porter Wagoner en akteurs Burt Reynolds en Sylvester Stallone te ontken of te erken nie.

Sy maak selfs kwinkslae daaroor: ‘‘Toe ek saam met Sly Stallone aan Rhinestone gewerk het, het ons ’n wedersydse verhouding gehad . . . Ons was albei tot hom aangetrokke.’’

'Toe ek saam met Sly Stallone aan Rhinestone gewerk het, het ons ’n wedersydse verhouding gehad . . . Ons was albei tot hom aangetrokke.' Foto: Gallo Images/Getty Images.

Verlede jaar het sy volgens berigte glo gesê: ‘‘Wanneer ek deesdae met my man seks het, fantaseer ek dat ek by iemand soos (die countryster) Keith Urban of ’n petite, sexy jong vrou is.’’

Het sy dit regtig gesê? Sy tjank harder as ooit, maar dié keer met net soveel waarskuwing as humor in haar lag.

‘‘Ek weet nie waar hulle daaraan kom nie. Ek het grappenderwys gesê ek fantaseer oor Keith Urban, maar ek het dit nie van die vrou gesê nie.’’

Sy bly ’n oomblik stil en kyk my soos ’n teleurgestelde onderwyser aan.

‘‘Maar my fantasieë is my eie. En as ek so wil dink, is dit my saak, nie joune nie.’’

Porter Wagoner

Dolly het haar eerste groot kans gekry danksy Porter Wagoner, die countryster wat The Green Green Grass of Home gekomponeer het. Sy was 21 toe hy haar as sanger in sy televisieprogram aangestel het.

Sy was sexy, snaaks en het met ’n kristalhelder, suiwer stem gesing. Hulle het meegeding oor wie die hoogste pompadour-haarstyl en die kitschste klere kon hê en die beste liedjies kon sing.

En wanneer hulle saam gesing het, was dit pragtig.

Dolly saam met Porter Wagoner. Sy het haar eerste groot deurbraak danksy hom gekry toe hy haar op 21 as sanger in sy televisieprogram aangestel het. Foto: Gallo Images/Getty Images.


In 1974 het Dolly besluit dit is tyd om haar eie koers in te slaan en haar loopbaan as liedjieskrywer en rolprentster te ontwikkel. Porter het haar vir sowat R22 miljoen gedagvaar.

Sy het gesê hulle is uitmekaar oor ‘‘creative differences – I was creative and Porter was different".

Al het die skeiding haar op die ou end sowat R7,4 miljoen uit die sak gejaag, het sy Porter later gehelp toe hy belastingprobleme gehad het deur die publikasieregte op sy liedjies vir honderdduisende dollars te koop.

Toe hy weer finansieel op die been was, het sy dit vir hom gratis teruggegee.

Altesame 25 nommereenenkelspelers van Dolly het al die countrytrefferlyste gehaal en ’n rekordgetal van 42 albums was op die toptienlys. Sy is 44 keer vir ’n Grammy benoem en het sewe keer gewen. En sy het al meer as 100 miljoen albums verkoop.

Dolly en haar biblioteek

Dis halfsewe in die oggend en ek is per trein op pad na Rotherham. Intussen is die Dollybus van Londen af noordwaarts op pad. Sy stel haar Imagination-biblioteek in Brittanje bekend.

Sy het hierdie skema in 1996 in Tennessee begin – elke kind in ’n gekose gebied kry van sy geboorte tot op vyfjarige ouderdom elke maand ’n hardebandboek.

Sy rugsteun die biblioteek met haar eie geld uit die Dollywood-stigting, bestuur die verspreiding van die boeke en help om borge in plaaslike gebiede te kry.

Tot dusver het die biblioteek 11 miljoen boeke in 46 Amerikaanse state en in elke inheemse Amerikaanse reservaat versprei. In 2006 het Dolly die biblioteek na Kanada uitgebrei.

En vanoggend om tienuur sal sy die eerste Imaginationboek aan die eerste baba oorhandig wat in Rotherham se plaaslike hospitaal gebore word.

Ek kom tien minute vroeg daar aan, maar Dolly kom al klaar daar uitgestap in haar kuisste boekvrou-uitrusting, sonder ’n sweempie van ’n borsgleufie en met skaars ’n rynsteen in sig. Sy is soos altyd vroeg. Sy wuif koninklik.

By haar is Judy Ogle wat altyd saam met haar reis. 

‘‘Ons was vanoggend drieuur op – dis glad nie ongewoon wanneer ons op reis is nie,’’ sê sy. Hulle is al vriende sedert hulle sewe was.


Judy rond haar grimering versigtig af – ’n smeerseltjie lipstiffie hier, ’n tikkie poeier daar. Natuurlik was daar ook al gerugte oor hierdie verhouding.

Dis wonderlik om iemand te hê by wie jy volkome jouself kan wees.

In haar outobiografie het Dolly gesê hulle het jare lank op toere in dieselfde bed geslaap.

‘‘Ek weet nie wat ek sonder Judy in my lewe sou doen nie,’’ het sy geskryf.

‘‘Dit is liefde, so suiwer as wat ek ooit geken het en ’n sterker band as wat ek ooit geken het. Dis wonderlik om iemand te hê by wie jy volkome jouself kan wees. Een ding wat ons te bowe moes kom, is die hardnekkige gerug dat ek en Judy lesbiese minnaresse is.’’

Judy lyk ’n bietjie soos Dolly dalk sonder die uitrustings, die pruike en die operasies sou gelyk het.

Kwinkslae

Ek is 41 jaar lank getroud, maar nie dood nie. Ek haal steeds asem, ek kan nog flankeer.

Dolly nooi haar gehoor by Rotherham om oor enigiets vrae te vra.

‘‘Wat is die slegste ding wat iemand al vir jou gesê het?’’

‘‘Toe my man voor die kansel ja gesê het. Dis ’n grap. Die beste ding wat hy gesê het, is: ‘Sal jy met my trou?’ ’’

‘‘Hoe het jy dit reggekry om nie by skandale betrokke te raak nie?’’

‘‘Ek het nie. Watter skinderkoerante lees jy dan?’’

‘‘Hoe weerstaan jy versoekings?’’

‘‘Ek is net bly hulle ken nie die volle waarheid nie. Ek is 41 jaar lank getroud, maar nie dood nie. Ek haal steeds asem, ek kan nog flankeer.’’

Sy sê sy vra nie haar man wat hy alles aanvang nie en hy vra haar nie, en dit werk heel goed.

‘‘Pla die domblondine-cliché jou?’’

‘‘Nee. Ek weet ek is nie dom nie, en ek is beslis geen blondine nie. En jy ook nie!’’

Dollywood

Dollywood, Pigeon Forge, Tennessee. Elke jaar heropen Dolly haar avontuurpark met ’n optog deur die dorp. Pigeon Forge is minder as 16 km van waar sy grootgeword het.

Dit is vroeglente, die rooiknoppe en kornoelies blom. Dit is die hart van die sogenaamde Amerikaanse Bybelgordel. In die verte doem die Smoky Mountains op.

Dit is vier maande sedert Dolly se besoek aan Rotherham en die jaarlikse opening van Dollywood is uitgestel omdat sy siek was.

’n Onlangse opskrif in die National Enquirer het uitgebasuin: ‘‘Dolly – My borste maak my dood.’’

Dollywood verras my. Dit hang al die waardes van die Amerikaanse Suide aan –patriotisme, Christelikheid en reuseporsies appeltert – maar ook veel meer. Hier word gaydae ook met oorgawe gevier – Dolly ken immers haar gehoor.

Sy gaan vandag ’n nuwe pretrit bekendstel: die River Battle. Dit sluit gewere, strale water en sopnat, plesierige deelnemers in.

Sy kom op ’n vlot aangedryf in ’n pragtige rooi reënjas en met ’n donkerbril op en herinner ons daaraan hoeveel dit kos om so goedkoop te lyk.

Eintlik haat sy die water.

‘‘Ek word nie nat nie, want ek kan dalk uitmekaarval.’’

’n Groot deel van die naweek word aan die nagedagtenis van Porter Wagoner gewy wat onlangs dood is. Môre sal Dolly ’n herdenkingsroos plant en ’n huldeblykkonsert hou.

Dis vroegaand, tyd vir die jaarlikse optog deur Pigeon Forge. Die dorp kom tot stilstand terwyl vlotte met militêre en godsdienstige temas, veteraan- en verspotte motors ’n ordelike stoet vorm.

Dit lyk asof almal hier Dolly ken en die meeste mense het iets goeds oor hul plaaslike meisie te sê. Dit is glad nie verbasend nie, want Dollywood, die reusewaterpark Splash Country en haar Dixie Stampede-restaurantgroep is verreweg die grootste werkgewer in die gebied. Sy het 3 700 mense in diens, van wie sowat honderd familielede is.

Sy het altyd gesê wanneer sy eers baie geld gemaak het – sowat R812 miljoen volgens die jongste berekeninge – wil sy aan haar neefs en niggies werk verskaf.

Met ons eerste ontmoeting het ek gevra hoe sy haar stem in so ’n goeie toestand hou.

‘‘Wel, ek skat ek sing net die hele tyd, want ek is lief vir sing.’’

Vandag op die huldeblykkonsert sing sy met dieselfde krag en suiwerheid as veertig jaar gelede. Dit is maklik om te vergeet watter goeie musikant sy is – sy speel die banjo, klavier en outoharp en het Nine to Five gekomponeer, nagemaakte naels en al.

Nou sing sy ’n paar van Porter se bekendste liedjies, speel kookwater-kitaar, bring hulde aan die ou orkesleier Don Warden saam met wie sy vir die eerste keer in 34 jaar optree, vertel stories van hoe sy gewoonlik in die middel van Porter se TV-program sanitêre doekies moes adverteer en roep die verlede teer in herinnering.

Die konsert sluit af met ’n spookagtige weergawe van I Will Always Love You wat sy fluister-sing en Dolly vertel hoe sy die liedjie vir haar sangmaat geskryf het om te verduidelik waarom sy van hom af weggaan.

By die replika van haar nederige ouerhuis in Dollywood lyk Dolly onversteurbaar opgewek.

Kry enigiets haar ooit onder?

‘‘Natuurlik. Ek is ’n liedjieskrywer, ek is ’n sensitiewe mens. Ek moet my hart op die mou dra.’’

Gesondheidsprobleme

Sowat 25 jaar gelede het sy werklik ’n laagtepunt bereik.

Haar loopbaan het gefloreer, sy het pas ’n rolprentster geword, die trefferplate het bly kom, maar dinge het net nie reg gevoel nie. Sy het gewig aangesit en was ongelukkig.

‘‘Ek het dit gehaat om vet te wees. In daardie stadium het ek ook baie gesondheidsprobleme gehad. My hormone was aan die verander . . . Soos ek al gesê het, ek het nie geweet wat eerste kom nie, die hoender of die eierstokke.’’

Sy maak die grap, maar vir ’n verandering glimlag sy nie.

Ek kry nes enigiemand anders seer, maar ek is met ’n gelukkige hart gebore.

‘‘Ek was so depressief dat ek verstaan het hoekom mense dwelms en alkohol begin misbruik. Nie dat ek dit gedoen het nie . . . ’’

Hoe het sy dit oorkom?

‘‘Met gebed. Gebed en vriende. En op die ou end was dit net ’n kwessie van lig jou vet alie en gaan aan met die lewe, of skiet jouself in die kop en hou jou mond. Ek het gedink: Dis nou genoeg van hierdie drama.

‘‘Dit was die enigste werklik aaklige tyd in my lewe en dit het net sowat agttien maande aangehou. Ek kry nes enigiemand anders seer, maar ek is met ’n gelukkige hart gebore. Jy kan nie net vir altyd in jou verdriet verval nie.’’

Daarvan het sy in elke geval nie veel nie, sê sy. Sy is immers gelief, suksesvol en trots op haar prestasies.

Hoe wil sy graag onthou word?

‘‘My musiek was nog altyd my grootste liefde. Dit was ’n liedjie wat my uit die berge laat kom het en dit was ’n liedjie wat elke droom wat ek gehad het, moontlik gemaak het.

“Daarom wil ek vir eers as ’n liedjieskrywer en vermaakkunstenaar en sanger bekend wees wat nie net rondgesit en al die geld op myself uitgegee het nie, maar ook daarvan probeer teruggee het.

‘‘Ek wil net graag hê hulle moet sê: ‘Haai, daar was ’n meisie wat nie net wou neem nie, maar wat ook wou gee.’ ’’

Dis tipies country en stroperig, maar tipies Dolly – en so waar.

Dolly Rebecca Parton (saamgestel deur Annelene Oberholzer)

Gebore Dolly Rebecca Parton op 19 Januarie 1946, is die borrelende Dolly steeds nog aktief op die verhoog. Sy is ook die vrou wat iets gedoen het wat talle nie sou doen nie — en dit is om vir Elvis Presley nee te sê.

Hy wou haar nie net haar liedjie I Will Always Love You opneem nie, maar sommer ook die helfte van die publikasieregte daarvan bekom.



Dieselfde liedjie is in 1992 deur Whitney Houston Dolly opgeneem en in daardie jaar het dit 14 weke lank die topposisie op die Billboard 100 beklee. Whitney se weergawe was ook die temalied van die fliek The Bodyguard waarin sy teenoor Kevin Costner verskyn het.

Dolly is reeds 47 keer vir Grammy-pryse benoem en het al met talle van dié gesogte pryse huiswaarts gekeer.

Om maar net ’n paar te noem: Beste bluegrass-album (The Grass is Blue in 2001), beste countryliedjie (9 - 5 in 1982), ’n Grammy vir lewenslange toewyding (2011), beste countryoptrede (1988) en beste countryduo of -groep (Jolene in 2017).

Meer as 100 miljoen van haar albums is wêreldwyd verkoop.

Haar eerste musiekopname was Puppy Love in 1957 en haar eerste vollengte album Hello, I’m Dolly is tien jaar later vrygestel.


Jolene, een van haar bekendste liedjies, is die eerste keer in Mei 1973 opgeneem en in Oktober daardie selfde jaar as ’n enkelsnit vrygestel. Maar het Jolene werklik bestaan?

Inderdaad. Die liedjie het ontstaan toe ’n rooikopbankier van Nashville hopeloos té veel belangstelling na Dolly se sin in Carl getoon het. Carl het die aandag geniet en Dolly was gou om te terg: “Jy spandeer baie tyd by die bank. Ek glo nie ons het soveel geld nie!”

Daar is natuurlik ’n heerlike skeut snaakse goed wat reeds met Dolly gebeur het, waarvan die een wat die kroon span die keer is toe sy ’n Dolly-ewebeeldkompetisie verloor het. Die wenner? ’n Man . . .

O ja, Dolly se slaapgewoontes gaan jou ook verstom. Anders as die meeste bekendes, sal jy haar nie in ’n hotelkamer aantref nie. Sy verkies om op haar toerbus te slaap omdat sy glad nie dol is oor al die in- en uitpakkery nie.

Die eerste gekloonde skaap in 1996 is ook na haar vernoem, maar die kru rede daarvoor het allesbehalwe met Dolly se sangtalent te doene gehad.

In 2014 word Dolly (toe 68) na die Britse musiekfees Glastonbury genooi. En met hardebaardmanne soos die heavy metal-groep Metallica as deel van die kunstenaars, het Dolly in haar wit broekpak vol rynstene die gehoor geheel en al verower – as die grootste aantrekkingskrag sedert die Rolling Stones daar opgetree het. Na beraming het 100 000 mense opgedaag om die "blink buksie" te sien optree.

'Die meisie wat nie net wou neem nie, maar wat ook wou gee'

Ná die verwoestende Great Smoky Mountain-wegholbrande waarin minstens 14 mense gesterf en 134 beseer is in November 2016 het sy die My People-fonds tot stand gebring en elke gesin wat deur die ramp getref het, het daarvolgens vir die volgende ses maande toe sowat R13 850 van die fonds ontvang “om hulle weer op hul voete te bring’.

Op 27 Februarie 2018 bereik Dolly se Imagination Library-projek ’n reusemylpaal toe die 100 miljoenste boek aan die Amerikaanse staatsbiblioteek oorhandig is.

Bronne: cnn.com, grammy.com, visitmysmokies.com, today.com