In 'n skokwending is die enigste oorlewende gesinslid, die seun Don Steenkamp (nou 22), eindelik skuldig bevind aan die moorde op sy pa Deon Steenkamp (44), sy ma, Christel (43), asook die moord en verkragting van sy 14-jarige suster, Marthella

Tydens sy moordverhoor mag die media involge die bepalings van die Kinderwet nie sy naam bekendgemaak het tot Don agtien geword het nie.

Hy is tydens die verhoor in die hooggeregshof deur vriende van die gesin, Bennie en Hanlie Heckroodt, ondersteun.

Bennie is as sy voog aangewys. Nog iemand wat hom vurig ondersteun het, was sy geliefde ouma Bettie, wat tot aan die einde aan sy onskuld geglo het.

Geldkinkel in seun se moordsaak — deur Herman Scholtz (Huisgenoot, 26 September 2013)

Dit klink na enige skoolseun se droom: Pleks van jou broek op die skoolbanke deurslyt, sit jy bedags in die veld op jou voog se Noord-Kaapse plaas op die rug van ’n perd. Of jy speel saam met jou voog se kleinseun in die plaasopstal.

Buiten die verhoor wat soos ’n swaard hang oor die kop van die 17-jarige wat teregstaan vir die moord op Deon, Christel en Marthella Steenkamp op Goeie Vrydag verlede jaar, het ’n splinternuwe onweerswolk dae gelede sy plaaslewe kom versuur.

’n Geldstorm dreig, en die implikasies vir die seun se regstryd kan verreikend wees. Aanvanklik het Don Steenkamp, Deon se pa, geld uit Deon en Christel se boedels vir die regskoste beskikbaar gestel, maar Don is einde Julie oorlede.

Die dringende hofaansoek oor die beskikbaarstelling van geld vir die moordsaak sou  op Vrydag 13 September aangehoor word, maar is tot 11 Oktober uitgestel nadat Bettie Steenkamp, Don se weduwee, op die nippertjie laat weet het sy gaan dit teenstaan.

Bettie wil blykbaar keer dat haar oorlede man se erfgeld vir die moordsaak gebruik word.

Dié saak is nog nie naby die halfpadmerk nie, maar die regsrekening beloop glo reeds R1,5 miljoen. Die moordverhoor is begin vandeesmaand voorlopig opgeskort sodat die kostekwessie eers afgehandel kan word.

Die beskuldigde se voog hoop die seun kan sy huidige  regsverteenwoordigers behou.

Hy het twee advokate en ’n prokureur wat reeds ingegrawe is. Die span het ook hul eie patoloog, ballistiese deskundige en sielkundige.

Tog kan die regsverteenwoordigers nie sonder vergoeding werk nie en in die hofgange word reeds gefluister hulle kan onttrek as die kwessie oor hul betaling veel langer “voortploeter”.
 
As hulle onttrek, sal die seun om regshulp aansoek moet doen, en ’n nuwe regsverteenwoordiger sal van voor af vir die verhoor moet voorberei.

Hoewel niemand van die voog verwag om die seun se regskoste te betaal nie, het hy verlede maand stukke van sy grond vir meer as R10 miljoen verkoop.

Bennie en Hanlie Heckroodt gesels met Don tydens die hofsaak.

Hy het ook namens die seun ’n dringende aansoek in die Noord-Kaapse hooggeregshof gebring om die rekeninge uit Deon, Christel en Don se boedels te betaal. In die aansoek sê die voog hy kan nie pa staan vir die aardige bedrae nie, maar die boedels behoort dit te doen.

“Hy is onskuldig. Teen die einde van die jaar is alles afgehandel en dan wil hy volgende jaar teruggaan skool toe,” het die voog aan Huisgenoot gesê.

Maar nou het Bettie haar rug styf gemaak.

En as die geldtrein ontspoor, kan dinge nog baie lank sloer . . .

Haar man, Don, het tot sy dood vas geglo die seun is onskuldig en hy was bereid om alles uit te haal om sy onskuld te bewys (‘Elke sent vir sy onskuld’, Huisgenoot 25 April 2013).

Don Steenkamp snr.

As die eksekuteur kon Don die seun se regskoste uit sy seun en skoondogter se boedels betaal omdat hy in elk geval die erfgenaam sou wees as die beskuldigde nie kon erf nie weens die “bloedige hand”-beginsel in ons reg. Dié beginsel bepaal ’n erfgenaam mag nie bevoordeel word as dit as gevolg van sy eie misdaad is nie.

Die situasie het nou aansienlik verander.

Sake was goed op dreef met die dringende aansoek om geld, met geen teenspraak nie, maar toe steek Bettie (86) ure voor die verhoor ’n stokkie daarvoor.

Ouma Bettie.

Sy is die eksekuteur van Don se boedel en wil vermoedelik die leisels stywer vashou. Die aansoek moes uitgestel word sodat sy haar besware by die hof kan indien.

Tog ondersteun Bettie die seun en hy kuier gereeld by haar. Die matriarg van die familie praat nie self oor die saak nie, maar ’n hegte familievriend sê dit ontstel haar dat die aansoek vir geld nie net teen die vermoorde egpaar se boedel is nie, maar ook teen Don s’n.

Vir die aansoek teen Don se boedel steun die voog waarskynlik op ’n opdrag aan die seun se regsverteenwoordigers waarin Don vra dat hulle die kind verteenwoordig. Die opdrag, wat ook by die hof ingedien is, lui hy sal óf as die eksekuteur van sy seun se boedel óf in sy persoonlike hoedanigheid vir dié dienste betaal.

Die opdrag lui ook dat dit “onherroeplik” is, maar die nuwe eksekuteurs van Deon en Christel se boedels meen so ’n opdrag kan nie “onherroeplik” wees nie. Trouens, hulle het die opdrag gekanselleer toe hulle beheer neem oor die boedels.

Marianna Smith, Don se dogter en een van die nuwe eksekuteurs, sê hulle is nie onwillig om in te stem tot nog betalings nie.

Marianna Smith (links) en Elbeth Vermaak, die nuwe eksekuteurs, sê hulle wil net alles volgens wet doen.

Maar sy en haar suster, Elbeth Vermaak, is  tog bang hulle word aanspreeklik gehou vir die skuld as hulle die geld betaal en dit later blyk dis volgens wet ontoelaatbaar.

’n Familievriend vertel: “Bettie voel net die kind kan maar Deon en Christel se geld gebruik vir sy verdediging, maar nie dit wat haar twee dogters toekom nie.”

Boonop het Don ses kleinkinders wat eerder in gelyke dele by hul oupa kan erf as wat die hele familie se nalatenskap aan advokate en kenners bestee word, voeg die vriend by.

“Oupa Don het vir baie mense gesê hy sal elke laaste sent gee om die seun se onskuld te bewys, maar hy is nie meer hier nie en dit was nie ’n skriftelike onderneming nie.”

Don Steenkamp.

Die hof is ook gewys op ’n vroeëre hofsaak waarin ’n pa weens die moord op sy seun aangekla is. Daarin het die regter gesê dit sou onbetaamlik wees om geld uit die seun se boedel vir die pa se regskoste beskikbaar te stel.

En die beskuldigde? Hy wil net klaarmaak met skool en gaan boer, het die seun vroeër gesê.

Maar van Naauwhoek, die eens vooruitstrewende plaas buite Griekwastad waar die Steenkamp-egpaar en hul dogter vermoor is, is daar deesdae ook net vae herinneringe.

Bure huur dele van die grond, en die meeste van die vee is onlangs op ’n veiling verkoop uit vrees vir veediefstal.

Die seun se lewe is ook nie so lekker as wat mense fluister nie, sê die voog. Dis vir hom moeilik om nie by vriende van sy eie ouderdom te kan wees nie.

Sy tuisonderrig is ook vir almal ’n nuwigheid. Hy kon darem die halfjaar-eksamens slaag, en dit gaan “onder omstandighede” goed met hom.

Alle partye sê hulle wil nou net die saak afgehandel kry.

“Dis ’n nagmerrie vir die Steenkamps,” sê die vriend. “Dis nou al so lank dat hulle nie kan rou oor vier familielede wat dood is nie.”  

Die moordverhoor is uitgestel tot aanstaande maand en hervat dan in Desember.

Wat erf die beskuldigde?
  • R23 miljoen van sy ouers, Deon en Christel Steenkamp.
  • R500 000 van sy oupa, Don Steenkamp, wat in ’n trust gehou moet word tot hy 25 jaar oud is. Oupa Don het in Julie 2013 ná ’n derde beroerte gesterf.

Deon en Christel se testament.

Don Steenkamp — saamgestel deur Annelene Oberholzer

Op Goeie Vrydag 2012 jaag Don Steenkamp (toe 16) na die plaaslike polisiestasie met die angswekkende boodskap: Sy familie is deur aanvallers op die plaas uitgewis.

Deon is drie keer geskiet, Christel twee keer en Marthella vier keer. Sy is ook onsedelik aangerand.

Deon, Christel en Marthella Steenkamp.

Die beskuldigde beweer:

  • Hy was in die skuur toe hy skote hoor.
  • Hy het in die skuur gebly tot hy nie meer skote gehoor het nie. Hy het toe die huis binnegegaan en Deon en Christelle dood aangetref.
  • Hy het Marthella ook gesien; sy het nog gelewe. Hy het haar probeer optel, maar sy het in sy arms gesterf.
  • Sy het “sy hemp gegryp” toe sy val en dit het geskeur.
  • Hy het gery om die plaaswerkers te gaan waarsku en het toe nog skote gehoor.
  • Hy het vuurwapens by die plaashek gevind toe hy op pad was om die plaas te verlaat.
  • Hy het die wapens opgetel en dit saamgevat na die polisiekantoor, waar hy die wapens oorhandig en die aanval aangemeld het.

Die staat beweer:

  • Ballistiese bewyse toon albei vuurwapens is in die moorde gebruik; dit is dus onmoontlik dat die seun nog skote kon hoor nadat hy van die huis weggery het.
  • Marthella is in die 24 uur voor haar dood verkrag.
  • Die beskuldigde het erken dat hy en Marthella kort voor die moorde stry gekry het, maar het nog nie ’n verduideliking daaroor gegee nie.
  • Ontleding van die bloedspatsels strook nie met die seun se bewering dat Marthella sy hemp gegryp het nie. Deskundiges het ook getuig dat sy in alle waarskynlikheid te swak sou wees om net voor haar dood sy hemp te kon skeur.
  • Daar is ook bloedspatsels buite die huis en voor die skuur gevind.
  • Dit kan wees dat Marthella buite die huis al noodlottig gewond was. Dit is dus onmoontlik dat die seun nie van binne die skuur, waar hy beweer hy weggekruip het, kon hoor Marthella word aangeval nie.
  • Nog ’n bloedbesmeerde hemp is in een van die kamers gevind. Die beskuldigde het erken dat dit syne is; hy het die hemp uitgetrek voor hy polisiestasie toe is “omdat dit vol bloed was”. Die staat beweer dit was ’n poging om sy skuld te verbloem.
  • Volgens die staat is die dryfveer vir die moord dat die beskuldigde Marthella verkrag het, dat sy gedreig het om haar ouers te vertel en dat die seun hulle vermoor het om dit stil te hou.
  • Die feit dat Marthella (anders as haar ouers) voor haar dood in ’n worsteling gewikkel was, is ’n raaisel en versterk die teorie dat die moorde iets met haar verkragting te doen het.
  • Die beskuldigde se storie het verskeie kere verander sedert sy aanvanklike verklaring, en daar word beweer dat hy iemand twee dae ná die moorde gevra het hoeveel geld hy gaan erf. Dit skep die indruk dat hy die moorde met voorbedagte rade gepleeg het.

Skuldig

In 2014, twee dae voor sy 18de verjaardag, word Don skuldig bevind aan die moorde op sy familie en vir die verkragting van sy suster.

Hy word 20 jaar tronkstraf opgelê. Hy word vir ’n tyd in die Boksburg-gevangenis aangehou en die tiener wat so gek was oor die plaaslewe en ’n geesdriftige gimkana-ruiter, is nou bloot net ’n nommer in ’n oorvol tronk.

Dis ook daar waar sy geliefde ouma Bettie hom gaan besoek.

“Hy was maar wat – 15 jaar oud? Hoe kan ’n kind van 15 soveel skote skiet? Hy het dan ook in die hof vir my gesê: ‘Hoekom sal ek my ma, my pa en my sussie, vir wie ek so lief was, skiet?’ Ek glo steeds hy is onskuldig. Ek kan nie glo dat hy dit gedoen het nie,” het Bettie (toe 89) in November 2015 ná afloop van die besoek aan Huisgenoot gesê.

Twee jaar later, op 24 Maart 2017 sterf ouma Bettie, die vrou by wie Don in 2015 gepleit het “om asseblief nie dood te gaan nie, want dan het ek niemand oor nie”.

Weldra word hy oorgeplaas na ’n tronk naby Deneysville in die Vrystaat waar hy in ’n enkelsel aangehou word en na bewering rekenaarstudie leer. Hy het op 15 Augustus vanjaar sy 22ste verjaardag gevier.

Die ‘bebloede hand’ en die boedel - Huisgenoot, 25 April 2012

Die “bebloede hand”-reël is goed gevestig in ons reg, verduidelik prof. Linda Schoeman-Malan, ’n erfregkenner aan die Universiteit van Pretoria.

Dit bepaal dat iemand wat opsetlik of deur nalatigheid die dood van ’n ander veroorsaak, nie van die oorledene mag erf nie.

Dit is eerstens omdat hy of sy die slagoffer die grootste moontlike onreg aangedoen het en tweedens omdat iemand nie uit sy eie misdaad verryk mag word nie.

Die reël is ook wyer van toepassing, verduidelik Linda. So iemand sal ook nie van naverwante van die slagoffers kan erf nie. As ’n dogter byvoorbeeld haar ma vermoor het, sal sy ook nie later van haar oupa en ouma kan erf nie.

Dieselfde beginsel strek nog verder sodat die persoon ook nie uit lewenspolisse, pensioenfondse en huweliksgoedere bevoordeel mag word nie.

’n Kind wat nie uit ’n gestorwe ouer se boedel erf nie, kan dalk wel ’n eis om onderhoud teen die boedel instel as hy of sy nog minderjarig is, sê Linda.

Of so ’n eis sal slaag as die bebloedehandreël vir die kind geld, is nog nie in ’n Suid-Afrikaanse hof getoets nie.

“Elke geval sal op sy eie meriete oorweeg word in die lig van die behoefte aan onderhoud.”

So ’n moontlike eis, of die hof dit eindelik toestaan of nie, sal in elk geval beperk wees tot geld vir die gewone, noodsaaklike onderhoud wat ’n kind van ’n ouer kan verwag, verduidelik sy.

Dit sal byvoorbeeld nie ’n eis vir regskoste insluit nie. Eindelik bly dit die eksekuteur van die boedel wat alle eise teen die boedel moet oorweeg, ook ’n moontlike eis om onderhoud van ’n minderjarige kind wat om watter rede ook al nie erf nie.

Nicolette en Hardus Lotter

Johnny en Riekie Lotter is deur hul kinders vermoor.

In 2009 is Nicolette en Hardus Lotter aangekla van die moord op hul ouers Riekie en Johnny Lotter. Hulle het die hof genader om toegang tot hul erfporsies sodat hulle hul regskoste kon betaal.

Regter Vivienne Niles-Duner van die hooggeregshof in Durban het die aansoek met koste van die hand gewys. Die broer en suster is in 2012 skuldig bevind aan die moorde en dien effektiewe gevangenisstraf van onderskeidelik 12 en 10 jaar uit.

FOTO’S: GALLO IMAGES/FOTO24/EMILE HENDRICKS, FANI MAHUNTSI, RIANA JACOBS, INDEPENDENT NEWS/LIZELL Muller, MARICELLE BOTHA CENTRAL MEDIA GROUP