As kinderster het Drew Barrymore afwesige ouers gehad en die pad byster geraak, maar vandag het sy oplaas die gesin wat sy nog altyd wou hê.

Lewenslesse van ’n wilde japsnoet —Simon Hattenstone (Huisgenoot, 10 Desember 2015)

As kind het sy gehore bekoor met haar rol in ET. Maar toe loop dinge skeef vir Drew Barrymore.

Op die ouderdom van 12 het sy behandeling gekry vir ’n drankprobleem, en ’n jaar later is sy in ’n inrigting opgeneem. Op 14 is sy in fliekkringe as oor die muur beskou.

In dié onderhoud vertel sy hoe die liefde, toneelspel en ’n goeie skeut lawwigheid haar redding was.

Verbeel jou jy is ’n Hollywoodvervaardiger wat na dié idee vir ’n fliek luister: ’n baba uit ’n akteursfamilie is op 11 maande in ’n hondekosadvertensie. Sy het in verskeie advertensies, waaronder vir Rice Krispies, McDonald's en 'n koekiedeegadvertensie opgetree.

Op sewe jaar is sy ’n rolprentster wat Ierse likeur oor haar roomys skink, op 11 het sy ’n drankprobleem, op 12 is sy ’n dwelmverslaafde, op 13 sny sy haar polse, op 14 is sy wettig van haar ouers geskei . . .

Natuurlik sal jy lag vir die voorstel; dis mos te vergesog, of hoe? G’n fliekgehoor sal daarvoor val nie.

Dink weer, want dis alles waar – en nog nie eens die helfte van Drew Barrymore se verhaal nie.

Kwalik vier jaar oud, maar Drew weet reeds hoe om voor die kamera te speel. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die voormalige kinderster kon op 15 nie meer akteurswerk kry nie. Op 16 het sy toilette skoongemaak vir geld. Lank voor haar 30ste verjaardag het sy vir die tweede keer getrou en geskei.

En nou het sy die boek Wildflower geskryf – ’n versameling essays en stories wat haar uitheemse lewe uitbeeld.

Op 40 is Drew fyn gebou (sy is 1,63 m lank), mooi en stralend. Vir die onderhoud dra sy jeans, ’n streeptop en sandale. Bier in die hand.

“Gesondheid,” sê sy.

As kind was sy belaglik oulik. Fliekgangers, oud en jonk, was versot op haar. Sy het haar debuut op vyf gemaak in Ken Russell se wetenskapsfiksiegruwelprent Altered States.

Maar dit was Steven Spielberg se ET twee jaar later, die vierde suksesvolste fliek nog, wat haar beroemd gemaak het. In ’n fliek vol kinderakteurs (soos Henry Thomas wat die seuntjie Elliott gespeel het) het sy as Gertie met die bokstertjies almal se harte verower.

Maar nie lank daarna nie het dinge begin skeefloop. Daar is ’n beroemde videogreep van haar onderhoud met Johnny Carson. Sy is sewe, maar klink 27.

Sy dra vals voortande in die plek van die melktande wat sy toe pas verloor het, maar raak vinnig ontslae daarvan en sit dit op sy tafel. Sy is vrypostig, snaaks en flirterig met die middeljarige kletsprogramaanbieder.

Wat ons toe nie geweet het nie, was dat haar pa, die akteur John Drew Barrymore, ’n gewelddadige alkoholis was. Haar ma en bestuurder, Jaid, was self wild, met geen benul van ouerlike verantwoordelikheid nie.

Ná haar ouers se egskeiding toe Drew nege was, neem Jaid haar na die gewilde New Yorkse nagklub Studio 54, waar sy met dwelms te doen gekry het en aangemoedig is om met beroemde jong mans te dans.

Op agt noem sy haarself ’n “partytjiemeisie” en gaan tot vyf keer per week uit saam met haar ma en dié se vriende. Kort voor lank was dit alles te veel.

Op 12 ondergaan sy rehabilitasie, maar sy struikel en op 13 begin sy haar verblyf van 18 maande in ’n inrigting waar sy vir alkohol- en dwelmverslawing behandel word.

“Op 13 het ek waarskynlik my laagtepunt bereik.”

Wat het toe gebeur?

Sy kyk weg.

“Die wete dat ek werklik alleen was, het my getref. En dit het aaklig gevoel. Dit was ’n baie rebelse tydperk. Ek het weggehardloop. Ek was baie, baie kwaad.”

Waaroor was sy die kwaadste?

Stilte.

“Soek ’n mens diep binne-in my, sal jy sien ek vra ook hoekom ek so kwaad is, man. Oukei, dis omdat my ouers nie daar was nie, maar wie gee om? Baie mense het nie ouers nie. Hulle was weg; hulle kon dit nie hanteer nie. Ek verstaan dit.”

Ja, baie ouers is nie daar vir hul kinders nie, sê ek. Maar min van hulle is so “weg” soos joune was . . .

Sy grynslag.

“Hulle was kwaai afwesig! Maar ek het besef: ja, my ma het my in ’n inrigting laat opsluit – boehoe! – maar dit het my ongelooflike dissipline geleer.

“Dit was soos ernstige militêre opleiding en aaklig en donker en baie lank, ’n jaar en ’n half, maar ek het dit nodig gehad. Ek het daardie waansinnige soort dissipline nodig gehad.

“My lewe was nie normaal nie. Ek was nie ’n skoolkind met normale omstandighede nie. Iets was bitter abnormaal, en ek het ’n radikale verandering nodig gehad.”

Drew en haar ma, Jaid Barrymore op 8 Junie 1982. Foto: Yvonne Hemsey/Getty Images

Ek het al tevore gehoor Drew verwys na die inrigting, maar was nooit seker wat presies dit was nie. Was dit ’n inrigting vir geestesiekes?

“Ja, absoluut.”

Kon jy dit verlaat of moes jy bly?

“O ja, jy kon vir ’n jaar en ’n half lank nie daar uitkom nie.”

Dis ’n ontstellende storie. Sy praat oor die lewe in die slaapsale, hoe sy nog bevriend is met een “eksentrieke maar wonderlike” vrou, hoe hulle haar probeer bedwelm en sy haar verset het.

“Ek het gesê: ‘Nee dankie.’ Ek wou skoon kom. Ek wou nie ’n cliché wees nie.”

Het jy ooit gedink jy is geestesiek?

“Nee, nee. Ek het net geweet ek het die pad byster geraak.”

Het die dokters gesê hulle dink daar is fout? Sy giggel.

“O, hulle het beslis gedink ek het die kluts kwytgeraak!”

Op die ou end was dit die inrigting wat voorgestel het dat sy op 14 as volwassene verklaar word. Drew sê die kenners het geglo as sy na die buitewêreld terugkeer, sou dit beter wees dat sy op haar eie is.

Vandag is sy glad nie spyt oor haar tyd daar nie.

“Dit was ’n baie belangrike ding vir my om te ervaar. Dit het my nederig gemaak en laat stil raak. Dalk was dit nodig, want ek het as ’n meer respekvolle mens daar uitgestap. My ouers het dit nie vir my geleer nie; die lewe het my dit nie geleer nie. Ek het baie anders uitgekom . . . maar dit was steeds ek.”

Die pas onafhanklike 14-jarige was ’n uitgeworpene in Hollywood. Uitgedien. Sy sou oudisies bywoon waar rolverdelingsregisseurs vir haar lag omdat sy die moed gehad het om op te daag.

“Om so ’n groot loopbaan op so ’n jong ouderdom te hê en dan jare lank niks – mense wat sê jy is ’n ramp vir wie hulle nie werk kan gee nie – dis ’n moeilike ding om deur te maak wanneer jy 14 is.”

Toe gaan werk sy in restaurante en maak toilette skoon en sê vir mense, ja, sy was Drew Barrymore, en is steeds.

Terwyl sy praat, kyk ek na twee tatoes, een op elke arm. Links is die woord “breathe” (jy is nooit slegter daaraan toe ná ’n diep asemteug nie, sê sy); regs ’n klein voëltjie.

Toe sy klein was, het sy haar ma gevra of Steven, wat die regie van ET behartig het, haar peetpa kan wees. Steven het ingestem.

Het sy in haar moeilike tye vir raad by hom aangeklop?

“Sekere goed wou ek hom nie wys nie. Hy het my altyd geïnspireer om so goed te wees as wat ek kan; ek wou nie hê hy moet my op my slegste sien nie. Ek kon maklik na hom toe gaan; sy deur was altyd oop. Maar ek het gedink ek sal dit self uitpluis, ek sal opstaan, verskoon my net ’n minuut!”

Maar nadat sy op 19 kaal vir Playboy poseer het, het Steven vir haar ’n groot lappieskombers gestuur en ’n briefie met die boodskap: “Bedek jouself hiermee.”

Drew het bitter min aan die verbeelding oorgelaat in die Playboy-uitgawe van Januarie 1995. Foto: Gallo Images/Getty Images

Sy drink haar bier klaar en lyk vir die eerste keer effens ongemaklik.

“Net terloops, ons praat nou oor al die dinge wat nie in die boek is nie . . .”

Sy sê ek fokus op die troosteloosheid van die verlede en die boek gaan oor die kosbare, privaat oomblikke van hoop.

Soos?

“Om op ’n boot te wees en die heelal te vra om nie moed op te gee met my nie. Of hoe ek gevoel het om op 14 my ma uit my lewe te sny, en hoe daardie eerste jaar was. Dit was vreemd.

“Ek het nie ’n benul gehad hoe om ’n woonstel aan die gang te hou nie. Daar het oral skimmel gegroei; dit was ’n ramp. Dit was in ’n gevaarlike buurt en ek was so bang om te gaan slaap.

“Ek het nie diefwering voor die vensters gehad nie. Ek was so bang.”

Om eerlik te wees, haar positiewe oomblikke klink nie veel minder troosteloos as enigiets anders waaroor ons gepraat het nie. Maar, sê sy, sy het doelbewus nie in eksplisiete besonderhede oor die probleme van die verlede in die boek geskryf nie.

“Dit was gemik op my kinders, wat dit eendag moet lees.”

Drew en haar man, Will Kopelman, se dogters, Olive en Frankie, is onderskeidelik drie en een jaar oud.

Drew en haar man, Will Kopelman, in 2014. Foto: Barry King/FilmMagic

Wil sy hulle beskerm teen haar verlede? Sy deins terug.

“Nee, in die boek word niks ontken nie. Ek gaan nie voorgee ek is iemand wat ek nie is nie. Ek gaan hulle wys hoe ek tot hier gekom het.”

Op 17 keer Drew terug as Poison Ivy, ’n karakter nes sy: sexy, prullerig, gevaarlik.

Oor die volgende ses jaar maak sy 16 flieks, waaronder Bad Girls, Woody Allen se musiekblyspel Everyone Says I Love You, die lokettreffer Batman Forever, die gruwelprent Scream en The Wedding Singer, die eerste in ’n reeks romantiese komedies saam met Adam Sandler.

Op 20 span sy en Nancy Juvonen saam en begin Flower Films, en drie jaar later vervaardig en vertolk sy die hoofrol in die fliek Never Been Kissed.

Haar 20’s is bevrydend – sy werk hard, kuier behoorlik, geniet haar sukses en die tienerjare wat sy nooit gehad het nie. Op David Letterman se kletsprogram dans sy op die aanbieder se tafel, wys haar borste en gaan sit weer met ’n reuseglimlag, so asof sy wonder wat sy pas aangevang het.

Jy kon nie uitpluis of dit skaamte of trots was nie, maar op 20 het sy jonger gelyk as die sewejarige Drew op Johnny Carson se program.

In dié tyd trou sy vir ’n tweede keer, met die komediant Tom Green (sy was op 19 getroud met Jeremy Thomas, ’n Walliese kroegeienaar). En sy het ’n rits verhoudings, onder meer ’n langtermyneen met Fabrizio Moretti, tromspeler vir The Strokes.

In 2009 behartig sy die regie van haar eerste vollengtefliek, Whip It, ’n romantiese komedie oor ’n wanaangepaste tiener wat by ’n rolskaatsderby-span aansluit.

Dit kry oor die algemeen positiewe resensies, maar is nie ’n lokettreffer nie.

Drew is baie trots op haar Hollywoodstamboom: sewe generasies van akteurs, onder wie haar gevierde oupa, John Barrymore, wat hom eindelik doodgedrink het (alkoholisme is ’n familie-eienskap).

Maar hoewel sy lief is vir toneelspeel, maak sy haar vermoë as aktrise af. Sy skryf in Wildflower dat sy eintlik nog altyd haarself gespeel het – toe sy ongelukkig in haar liefdeslewe was, was sy die perfekte keuse vir romantiese komedies.

Noudat sy ’n tevrede ma is, kan sy net tevrede ma’s speel, en dis maar flou rolle.

Sy verwys na die meeste karakters wat sy die afgelope paar jaar gespeel het as “hygende labradors”. Sy hyg dan heel geesdriftig om te wys wat sy bedoel.

“Soos ’n labrador wat op die vloer sit en hyg. Dis gretigheid.” Gretig om tevrede te stel, gretig om liefgehê te word.

Drew hou vol sy het deesdae nie die tyd of begeerte om veeleisende rolle te vertolk nie. Sy het vanjaar in die komediedrama
Miss You Already gespeel saam met Toni Collette, wat gaan oor beste vriendinne wat alles deel – ook kêrels.

Die enigste keer dat sy haarself as akteur uitgedaag het, erken sy, was vir haar rol as Edith Bouvier Beale, Jackie Kennedy se teruggetrokke niggie, in die 2009-HBO-fliek Grey Gardens.

“Grey Gardens was ’n groot stap vir my. Dit was ’n geval van ek is nou vir ’n rukkie klaar, want ek het mal gegaan daarmee. Ek het 17 lae hoendervel op my gesig gehad. Dit het hulle vier uur elke dag gekos om my soos die vrou te laat lyk.

“Ek het vier maande lank met niemand gepraat nie. Ek kan nie nou weer so iets doen nie. Wat sal ek vir my kinders sê? ‘Jammer, ek kan vier maande lank nie met jou praat nie, want ek moet Edie Beale wees.’ ”

Sy sê dit was vir haar belangrik omdat sy aan haarself en die rolprentbedryf wou bewys sy kan ’n ernstige rol vertolk.

“Die regisseur wou my nie in die fliek hê nie, maar ek het gedink ek kan dit doen!”

Was sy bekommerd oor hoe sy as ma sou wees?

“Nee. Ek het geweet ek sou nie my ouers se foute herhaal nie. Ek sou nie afwesig wees of hulle in omstandighede plaas wat te volwasse is nie. Ek het geweet ek sou baie tradisioneel wees, of dit glad nie doen nie.

“Ek sou nooit kinders gehad het as ek nie baie stabiel en bereid was om hulle eerste te stel nie.”

Olive Kopelmaln (gebore 26 September 2012) en Frankie Barrymore Kopelman (gebore 22 April 2014)




Terwyl sy oor die wonder van moederskap praat, tuimel die woorde so vinnig uit dat sy daaroor struikel.

“Dis werklik die slimste, bekwaamste, geduldigste, liefdevolste, kreatiefste, behendigste take wat jy ooit sal doen. Dis ongelooflik. So ek wou teenwoordig wees daarvoor. Ek het ook gewag. Ek het geweet ek sou dit eers doen wanneer ek gereed is.”

Hoe sou sy voel as haar dogters kindersterre wou word?

“Ek sou ongelukkig die risiko moes loop dat hulle my haat.”

So sy sal hulle nie toelaat om dit te doen nie?

“Nee, ek sal nie. Dit beteken nie ek sal ooit die beroep slegmaak nie. Dis wonderlik; rolprente het my lewe gered. Ek bedoel, ek kom uit ’n familie waarin daar die afgelope 400 jaar akteurs was.

“Maar rolprentstelle is ’n bisarre wêreld. Vir my was dit beter as my omstandighede. Dit was ’n redding. Vir my kinders sal dit nie beter as hul omstandighede wees nie.

“Hulle gaan so veilig en gelief wees dat hulle nie ’n rolprentstel gaan benodig om hul lewe beter te maak nie.”

Toe Drew aankondig sy wil eerder tuisbly by haar kinders as om flieks te maak (sy gee darem nog heelwat aandag aan haar suksesvolle skoonheidsmaatskappy), het sy heftige reaksie gekry.

Van wie?

“Vroue! Omdat ek gesê het jy kan nie alles doen nie. Maar ek het dit nie so bedoel nie. Ek dink beslis jy kan enigiets doen wat jy wil; ek dink net ek kan nie alles gelyk doen nie. Dit gaan nie goeie resultate oplewer nie. En dit het mense regtig kwaad gemaak.”

Het die reaksie haar ontstel?

“Nee, maar ek het gevoel mense verstaan my verkeerd. Ek dink vroue weet hoeveel ek vroue steun, maar ek het ’n probleem met die idee dat jy alles kan doen.

“Dis ’n onmoontlike verwagting, en wat beteken dit nou eintlik? Dit klink baie gulsig, jy weet. ‘Ek kan dit alles hê.’ Ek kan nie.”

Drie jaar het verloop sedert sy met Will, ’n kunskonsultant, getrou het en swanger was met Olive.

Een van die roerendste dele in Wildflower is waar sy besef sy het oplaas die gesin wat sy altyd wou hê.

Haar pa is 11 jaar gelede as ’n brandarm verslaafde dood en Drew praat selde met haar ma. Haar ouers is grotendeels afwesig in die laaste dele van haar boek en ons wonder of daar enige vergifnis, wat nog te sê liefde, vir hulle is.

John Drew Barrymore (1932-2004) met sy toekomstige derde vrou en Drew se ma, Ildiko Jaid Mako, tydens 'n David Carradine-vertoning by The Starwood-nagklub in Kalifornië. Foto: Frank Edwards/Fotos International/Getty Images

Maar in haar bedankings agter in die boek skryf Drew: “En aan my ma, Ildiko Jaid Barrymore. Dankie. Ek is baie bly om op hierdie planeet te wees! En aan my pa, John Drew Barrymore. Sien jou weer eendag.”

Sy lyk verheug toe ek sê dis vir my die aangrypendste deel in die boek.

“Ek het soveel jare nie geweet hoe om oor my ma te voel nie. Dis pynlik om in twee geskeur te voel oor die vrou wat die lewe aan jou geskenk het. Maar dit voel of ek eindelik deur iets gaan wat my oukei maak met alles, selfs al verstaan ek dit nie alles nie en gaan dit dalk nooit opgelos word nie.”

Met ons vertrek teken sy ’n DVD-omslag van Never Been Kissed vir my dogter en ons praat oor hoekom die fliek so ’n indruk op baie meisies gemaak het.

Dis vreemd, sê sy, hoe ’n mens daarna kan streef om diep te wees, maar op die ou end is dit die eenvoudige dinge wat saak maak.

“Jy probeer so hard om iets belangriks en betekenisvols te doen, maar dit is belangriker om die universele aar van lawwigheid oop te boor.

“Ons almal plaas druk op onsself en dink ons moet iets belangriks en betekenisvols in die wêreld doen, ’n impak en verskil
maak, iets verander.

“Maar op die ou end gaan dit eintlik oor of jy enigeen laat voel het dat hulle nie alleen is nie. Dit kan moontlik die koelste ding wees wat jy ooit met jou lewe bereik.”

© SIMON HATTENSTONE/GUARDIAN NEWS & MEDIA
Wildflower deur Drew Barrymore
Wildflower deur Drew Barrymore is ’n versameling essays en stories wat haar uitheemse lewe uitbeeld. Foto: Takealot
  • Beskikbaar by takealot.com teen R145
  • Prys mag wissel na gelang van tydperk verloop sedert artikel op Huisgenoot.com verskyn het.
Tien kitsfeite oor Drew Barrymore
  • Drew Blythe Barrymore is op 22 Februarie 1975 in Los Angeles gebore. Haar verloskundige was dr. Paul Fleiss, pa van die berugte “Hollywood Madam” Heidi Fleiss.
  • Haar outobiografie getiteld Little Girl Lost het op die rakke verskyn toe sy net 14 jaar oud is.  
  • In 1995 het haar ma haar babaklere op eBay verkoop. Drew was glad nie daarmee beïndruk nie.
  • Benewens haar loopbaan as ’n kinderster wat in vlamme opgegaan het, het haar Beverly Hills-herehuis in 2001 letterlik in vlamme opgegaan. Dit het 55 brandweermanne en 11 brandweerenjins sowat ’n uur geneem om die vuur te blus. Haar hond Flossie het haar en Tom Green, haar verloofde in daardie stadium, se lewe gered deur hulle wakker te blaf toe die vlamme aan die huis begin lek.
  • Sy verskyn in Bonnie Raitt se musiekvideo You Got it (1995) wat een van die liedjies is van die fliek Boys On The Side waarin sy saam met Whoopy Goldberg en Mary-Louise Parker verskyn.
  • In 2004 het sy ’n 23-jarige meisie van plan laat verander om plastiese chirurgie te ondergaan om soos Drew te lyk. Die meisie wou dit doen om op die televisiekanaal MTV se “I Want a Famous Face” te verskyn.
  • Haar jarelange vriendskap met Adam Sandler het gespruit uit Drew se beslistheid in die middel 1990's om die opkomende akteur te ontmoet. Sy het ’n Hollywood-restaurant binnegewals met pers hare, pienk stiletto’s en ’n luiperdmotiefjas. En hy? Min gesteur het Adam in ’n kortbroek, T-hemp en tekkies opgedaag.
  • Drew en haar sakevennoot, die Fins-gebore Nancy Juvonin (nou 51), het mekaar in 1993 deur Drew se halfbroer Jim ontmoet en kort voor lank het hulle Flower Films tot stand gebring.
  • Sy het in 2007 Kupido gespeel toe sy die televisiepersoonlikheid en komediant Jimmy Fallon (nou 44) aan Nancy voorstel. Die twee het in 2007 getrou.
  • In wat Drew as haar "ergste nagmerrie ooit" beskryf, het haar en Will Kopelman se huweliksbootjie in April 2016 in onstuimige waters beland en in Augustus dieselfde jaar was die egskeiding finaal. Dit het etlike maande geduur voor sy in onderhoude oor die egskeiding gepraat het.
Bykomende bronne: pagesix.com, people.com, ohfact.com, therichest.com, aceshowbiz.com, popsugar.com