In Huisgenoot (5 Februarie 2009) vertel David Grann meer oor die man wat beweer hy het ongeveer 500 keer voorgegee hy is iemand anders. Drie keer het hy die identiteit aangeneem van kinders wat vermis is. En een van die drie was Nicholas Barclay (13) van San Antonio, Texas, ’n tiener met ’n opvlieënde humeur en gedragsprobleme.

Het Frédéric deur Nicholas se identiteit aan te neem, dalk ’n moord aan die lig gebring? Maar eers, wie was Frédéric regtig en hoe het hy van Spanje in Amerika beland? En waar is hy vandag?

Die geheime man van Nantes — David Grann (5 Februarie 2009)

Op 3 Mei 2005 het ’n man ’n Franse noodlyn vir vermiste en mishandelde kinders gebel. Hy het gesê hy is ’n toeris en het by die stasie in Orthez op ’n verskrikte 15-jarige seun afgekom.

’n Rukkie later het die seun alleen by ’n plaaslike kinderwelsynkantoor opgedaag. Hy was kort, tenger en bleek en sy hande het gebewe. ’n Serp was om sy gesig gedraai en bofbalpet tot oor sy oë getrek. Hy het geen geld by hom gehad nie, maar ’n selfoon en identiteitsdokument.

Daarop het gestaan hy is Francisco Fernandez en hy is op 13 Desember 1989 in Spanje gebore. Hy het vertel sy ouers en jonger broer is in ’n motorongeluk dood. Hy was weke lank in ’n koma en daarna het hy by ’n oom gaan bly, maar dié het hom mishandel.

Eindelik het hy na Frankryk gevlug. Die Franse owerheid het Francisco na die St. Vincent de Paul-skuiling in die stad Pau gestuur. Hy het verlig gelyk toe hy ’n enkelkamer kry waar hy hom in privaatheid kon was.

Brandwonde

Sy kop en lyf was oortrek van brandwonde wat hy in die ongeluk opgedoen het, het hy verduidelik.

Hy is by die Hoërskool Jean Monnet ingeskryf. Die destydse hoof, Claire Chadourne, het toegelaat dat hy ’n hoed dra, want Francisco het gesê hy’s bang hy word oor sy letsels geterg.

Hy het soos ’n tipiese tiener gelyk, maar was oënskynlik erg getraumatiseer. Hy het nooit in die gimklas voor die ander kinders uitgetrek nie en mediese ondersoeke geweier. Hy het koponderstebo en sag gepraat, en teruggedeins as iemand aan hom raak.

Geleidelik het Francisco pouses saam met ander kinders begin uithang en in die klas aan besprekings deelgeneem.

Eenkeer het ’n skoolmaat, Rafael Pessoa, Francisco se selfoon geleen en tot sy verbasing agtergekom sekerheidskodes beskerm die adresboek en oproepregister.

By oudisies vir ’n talentkonsert het die musiekonderwyser Francisco gevra of hy graag wil optree. Hy het vir haar ’n CD gegee, na die oorkant van die vertrek gestap en sy hoed flambojant skuins op sy kop gedraai.

Terwyl die klanke van Michael Jackson se liedjie Unbreakable die vertrek gevul het, het Francisco nes dié popster begin dans.

‘‘Hy het nie net soos Michael Jackson gelyk nie,’’ vertel die onderwyser.

‘Hy wás Michael Jackson.’’

Op en wakker onderwyser

Op 8 Junie het ’n administrateur die skoolhoof se kantoor binnegestorm en vertel van ’n TV-program wat sy oor een van die beroemdste swendelaars ter wêreld gesien het: Frédéric Bourdin (30), wat hom keer op keer as ’n kind voorgedoen het.

‘‘En ek sweer Frédéric lyk nes Francisco,’’ het sy gesê.

Nadat Claire op die internet rondgesnuffel het, het sy die polisie gebel.

Toe Francisco by haar kantoor instap, het die polisie hom gegryp en teen die muur vasgedruk. Sy het paniekerig geraak: Sê nou hy is regtig ’n mishandelde weeskind? Maar toe pluk ’n polisiebeampte sy bofbalpet af.

Hy het geen letsels op sy kop gehad nie – wel ’n bles.

‘‘Ek wil ’n prokureur hê,’’ het hy in ’n diep manstem gesê.

By die polisiekantoor het hy erken hy is Frédéric Bourdin en het die afgelope 15 jaar al talle identiteite aangeneem, meestal dié van mishandelde of weggooikinders.

Die owerheid het probeer uitpluis waarom ’n 30-jarige man hom as ’n tienerjarige weeskind sou voordoen. Daar was geen teken van ’n seksuele afwyking of pedofilie nie, en hy het ook geen geldelike motief gehad nie.

‘‘In die 22 jaar dat ek werk, het ek nog nooit so ’n geval teëgekom nie,’’ het die aanklaer Eric Maurel gesê.

‘‘Mense pleeg gewoonlik bedrog vir geld. Dit lyk asof hy bloot emosioneel iets daaruit gekry het.’’

Op sy regtervoorarm het die polisie ’n tatoeëermerk gevind. Dit het gelui: ‘‘Caméléon Nantais’’ – die verkleurmannetjie van Nantes.

Sielkundiges het bevind hy is by sy volle positiewe. Hy is eindelik daarvan aangekla dat hy ’n vervalste ID verkry en gebruik het en hy het ’n opgeskorte vonnis van ses maande tronkstraf gekry.

'n Openhartige onderhoud

“Mnr. Grann,’’ sê Frédéric en steek sy hand na my uit. Ons sit op ’n bank op die treinstasie in Pau, waar hy ingestem het om my te ontmoet.

‘‘Ek sal jou die waarheid agter al my leuens vertel.’’

Voor al die identiteitsbedrog was hy Frédéric Pierre Bourdin, die buite-egtelike seun van Ghislaine Bourdin. Sy was 18, arm en lief vir partytjies toe hy op 13 Junie 1974 in Parys gebore is.

Die kinderwelsyn het hom in haar ouers se sorg geplaas en toe hy vyf is, het hy saam met sy oupa en ouma na ’n dorpie suidoos van Nantes getrek.

Frédéric was deels Algeryns, het nie 'n pa gehad nie, en moes ou klere dra wat hy van Rooms-Katolieke welsynorganisasies gekry het. Op skool het hy ‘‘uit’’ gevoel en fabelagtige stories oor homself begin vertel.

Sy gedrag het vererger en op 12 is hy na ’n privaat jeuginrigting in Nantes gestuur. Daar het Frédéric dikwels voorgegee hy ly aan geheueverlies en opsetlik in die strate verdwaal.

Ná sy 16de verjaardag in 1990 moes hy na ’n ander jeugtehuis oorgeplaas word, maar hy het weggeloop en na Parys geryloop. Daar het hy vir ’n polisiebeampte gesê hy is ’n vermiste Britse tiener, Jimmy Sale.

Toe die polisie agterkom hy kan skaars Engels praat, het hy erken hy het gelieg en is hy na die jeugtehuis teruggeneem. Maar dit was die begin van sy ‘‘tegniek’’, soos hy dit noem, en hy sou dit later gebruik om deur Europa te swerf.

Teen die middel 1990's het hy ’n misdaadgeskiedenis gehad omdat hy vir die polisie en landdroste gelieg het en Interpol en ander owerhede was ál meer op die uitkyk vir hom.

In Oktober 1997, terwyl Frédéric in ’n jeugtehuis in Spanje gebly het, het ’n regter hom 24 uur gegee om te bewys hy is ’n tiener. Anders sou sy vingerafdrukke geneem word en Interpol het dit toe al op lêer gehad.

Hy het geweet hy kan in die tronk beland; daarom het hy voorgegee of hy ’n vermiste 16-jarige seun van Texas is.

Frédéric (toe 23) het gevra of hy die skuiling se foon kan gebruik en die nasionale sentrum vir vermiste en mishandelde kinders in Virginia gebel. In Engels het hy gesê hy is die skuiling se hoof en ’n vreesbevange kind het daar aangekom. Hy het ’n beskrywing van die seun gegee wat met syne ooreenstem en gevra of die sentrum so iemand op hul databasis het.

’n Vrou daar het gesê die seun is dalk Nicholas Barclay wat in 1994 op 13 in San Antonio vermis geraak het. Frédéric het gevra dat die sentrum vir hom nog inligting faks.

Die seun op die foto’s wat hy gekry het, het nogal baie na hom getrek. Hy het die sentrum teruggebel en gesê: ‘‘Ek het goeie nuus. Nicholas Barclay staan hier langs my.’’

Die volgende dag het Frédéric ’n pakkie van die sentrum onderskep.

Frédéric word Nicholas

Binne-in was ’n strooibiljet met ’n kleurfoto van die vermiste Nicholas – ’n tingerige seun met ’n ligte vel, blou oë en ligbruin hare. Op sy regterhand het hy ’n tatoe van ’n kruis tussen sy wysvinger en duim gehad.

Frédéric het die strooibiljet verbrand en toe in die badkamer sy hare gaan bleik. Hy het ’n vriend gevra om met ’n naald en ink vir hom ’n tatoe nes Nicholas s’n te maak.

Sê nou ’n kinderseksnetwerk het hom ontvoer en met hom Europa toe gevlieg? En toe het sy ontvoerders sy pupille met chemikalieë ingespuit om die kleur te verander. En hy het sy Texas-aksent verloor toe hy in die drie jaar dat hy aangehou is, geen Engels mag gepraat het nie. Hy is in ’n huis in Spanje gevange gehou, maar het ontsnap.

Dit was ’n vergesogte storie, maar sou moes deug.

Toe die foon in die kantoor lui, het Frédéric geantwoord. Dit was Nicholas Barclay se halfsuster, Carey Gibson (31).

‘‘Hemel, Nicky, is dit jy?’’ het sy gevra.

‘‘Ja, dis ek,’’ het Frédéric sag geantwoord.

Sy het Nicholas in Spanje kom haal. Hy was bang sy sou dadelik besef hy is nie haar broer nie. Pleks daarvan het sy hom tegemoetgehardloop en omhels.

Carey sê sy het geensins getwyfel dis Nicholas nie. Enige teenstrydighede in sy storie kon hy aan sy verskriklike beproewing toeskryf. En sy neus het nou vir haar nes haar oom Pat s’n gelyk.

Daarby het hy dieselfde tatoe as Nicholas gehad en klaarblyklik baie van haar familie geweet.

‘‘Jou hart neem oor en jy wil dit glo,’’ sê sy.

Nie die Amerikaanse of Spaanse beamptes het vrae gestel toe Carey bevestig dit is haar halfbroer nie.

Die volgende dag het Frédéric San Antonio toe gevlieg. Daar het Nicholas se familie hom ingewag: sy ma, Beverly, Carey se destydse man, Bryan Gibson, hul seun, Codey (14), en dogter, Chantel (10). Net Nicholas se broer, Jason, ’n herstellende dwelmslaaf, was nie daar nie.

Hulle het hom almal dadelik omhels.

‘‘Ons was almal mal van emosie,’’ onthou Codey.

'Nicholas' vir die Barclays op die lughawe ontmoet
Emosies het hoogty gevier toe 'Nicholas' vir die Barclays op die lughawe ontmoet het. Foto: YouTube-skermgreep
Die ontmoeting met sy 'ouers' op die lughawe. Foto
Die ontmoeting met sy 'ouers' op die lughawe. Foto: YouTube-skermgreep (Frederic Bourdin)

Frédéric het by Carey en Bryan gaan bly pleks van by Beverly.

Sy was ’n geharde heroïenslaaf wat sewe nagte per week by Dunkin’ Donuts die spookskof gewerk het. Sy het Nicholas se hele jeug deur gesukkel om die dwelms te los en het ná sy verdwyning weer begin heroïen gebruik. In daardie stadium was sy aan metadoon verslaaf.

In Carey en Bryan se woonwahuis net buite San Antonio het Frédéric ’n kamer met Codey gedeel. Hy het geweet as hy die bedrogspul wou voortsit, sou hy alles oor hulle moes uitvind.

Hy het heimlik deur hul laaie en albums gekrap en na tuisvideo’s gekyk. Wanneer hy by een familielid iets oor Nicholas gehoor het, sou hy dit teenoor ’n ander een herhaal. Hy het byvoorbeeld gepraat van die keer toe Bryan briesend vir Nicholas was omdat hy Codey uit ’n boom gestamp het.

Hy het gou by die familie ingeskakel en begin skoolgaan. Elke aand het hy sy tuiswerk gedoen en met Codey geraas as hy nie leer nie.

Elke keer dat hy Beverly gesien het, het hy haar omhels en gesê: ‘‘Hallo, Ma.’’

Beverly Barclay, Nicholas Barclay se ma. Foto: You
Beverly Barclay, Nicholas Barclay se ma. Foto: YouTube-skermgreep (Frederic Bourdin)

Drie weke ná Frédéric se aankoms het die privaat speurder Charlie Parker ’n oproep van ’n TV-vervaardiger gekry. Hy het van Nicholas se verstommende terugkeer gehoor en Charlie gevra om sy ontvoering te ondersoek.

Hy het met ’n kameraspan by Carey en Bryan se woonwa aangekom. Frédéric was bereid om te praat.

‘‘Ek het destyds die aandag geniet,’’ verduidelik hy.

Sy aksent het Charlie dronkgeslaan en op ’n rak het hy ’n foto van Nicholas as jong seun gesien. Hy het dit met die mens voor hom vergelyk, maar iets het hom gehinder.

Hy het eenkeer gelees ore is – nes vingerafdrukke – uniek en het vir die kameraman gefluister: ‘‘Zoem op sy ore in.

‘‘Die ore was byna dieselfde, maar nie heeltemal nie,’’ sê hy.

Charlie het ook verskeie oogartse gebel en gevra of chemikalie-inspuitings oë se kleur van blou na bruin kan laat verander. Die dokters het almal nee gesê.

Charlie was agterdogtig en het die owerheid daarvan vertel, maar niks het daarvan gekom nie.

Wanneer jy teen monsters baklei, moet jy oppas dat jy nie self een word nie.

Ná twee maande het Frédéric begin stokkiesdraai en is hy geskors. Hy is ook vir ’n spoedoortreding aangekeer. Toe hy voor Kersfees ’n skeermes gryp en sy gesig daarmee begin sny, is hy ’n paar dae lank in ’n psigiatriese saal opgeneem.

Later het Frédéric in ’n notaboek geskryf: ‘‘Wanneer jy teen monsters baklei, moet jy oppas dat jy nie self een word nie.’’

Hy het ál meer begin wonder wat met die regte Nicholas Barclay gebeur het. En Charlie ook.

Nicholas se laaste oproep

Hy het vasgestel Beverly en Jason het vir die polisie gesê Nicholas het die dag van sy verdwyning basketbal gaan speel. Hy het van ’n telefoonhokkie huis toe gebel en gevra hulle moet hom kom haal.

Beverly het geslaap en Jason het die foon geantwoord. Hy het vir Nicholas gesê hy moet stap, maar hy het nooit by die huis uitgekom nie.

Aangesien Nicholas kort tevore tekkies gesteel het en met sy ma vasgesit het oor die moontlikheid dat hy na ’n verbeteringskool gestuur sou word, het die polisie gedink hy het weggeloop.

Die regte Nicholas Barclay. Foto: YouTube-skermgre
Die regte Nicholas Barclay. Foto: YouTube-skermgreep (Frederic Bourdin)

Nicholas se verdwyning, het Codey vir my gesê, het ‘‘Jason die kluts laat kwytraak. Hy het hom aan dwelms vergryp en vir ’n lang ruk kokaïen gebruik.’’

Laat in 1996 is Jason in ’n rehabilitasiesentrum opgeneem. Hy het die program voltooi en daarna ’n berader geword en werk gekry by ’n onderneming wat tuine uitlê.

Eers ses weke ná Frédéric se aankoms het Jason eindelik kom kuier. Ná ’n paar minute het hy Fréderic buitentoe geroep en sy hand na hom toe uitgehou. In sy palm het ’n hangertjie met ’n goue kruis geglinster. Jason het dit om sy nek gehang.

‘‘Dit was asof hy dit vir my moes gee,’’ sê Frédéric. Daarna het hy gegroet en nooit teruggekom nie.

‘‘Jason het klaarblyklik geweet wat met Nicholas gebeur het,’’ het Frédéric vir my gesê. Vir die eerste keer het hy begin wonder wie lei nou eintlik vir wie om die bos.

DNS-toetse

Intussen het Charlie se waarnemings daartoe gelei dat die FBI Frédéric se storie begin betwyfel het. Die geheime agent Nancy Fisher het lasbriewe gekry om Beverly en Frédéric te verplig om bloedmonsters vir ’n DNS-toets te verskaf.

Sy het ook Frédéric se vingerafdrukke gekry en gekyk of dit met vingerafdrukke op Interpol se databasis ooreenstem.

Teen daardie tyd, beweer Frédéric, het hy die familie al in ’n ander lig gesien. Beverly het glo eenkeer dronk geword en vir hom geskree: ‘‘Ek weet God het jou na my gestuur om my te straf. Ek weet nie wie de hel jy is nie.’’

Op 5 Maart 1998, terwyl die owerheid sy net ál nouer om hulle gespan het, het Beverly vir Charlie gesê sy dink Frédéric is ’n bedrieër. Die volgende oggend het Charlie hom na ’n eetplek geneem. Daar het hy vir Nicholas gesê hy het sy ma ontstel.

‘‘Sy is nie my ma nie en jy weet dit,’’ het die jong man uitgeblaker.

‘‘Gaan jy vir my sê wie jy is?’’

‘‘Ek is Frédéric Bourdin en Interpol soek my.’’

’n Paar minute later het Charlie Nancy Fisher uit die kleedkamer met die nuus gebel. Sy het toe pas dieselfde inligting van Interpol gekry.

Sowat ’n uur later het Charlie Frédéric na Beverly se woonstel teruggeneem. Toe Charlie wegry, het die polisie toegeslaan. Hy het hom stil oorgegee. 

"Ek het geweet ek is weer Frédéric Bourdin,’’ sê hy.



Terwyl hy in aanhouding was het Frédéric gesê hy vermoed Beverly en Jason het iets met Nicholas se verdwyning te doen gehad en hulle het van die begin af geweet Frédéric lieg vir hulle.

‘‘Ek is ’n goeie bedrieër, maar ek is nie so goed nie,’’ het hy vir my gesê.

Natuurlik sou die owerheid nie maklik ’n patologiese leuenaar glo nie. Maar hulle het self hul bedenkinge gehad.

Nancy en Jack Stick, destyds die federale aanklaer, het te hore gekom dat van die personeellede by Nicholas se skool vermoed het hy word mishandel. Eenkeer het Nancy vir Beverly gevra om ’n leuenverklikkertoets af te lê.

Toe die ondersoeker Beverly vra of sy weet waar Nicholas is, het die masjien woes gereageer en gewys sy lieg.

Daarna het Nancy Jason ondervra. Sy wou weet waarom hy twee maande gewag het voor hy by die man gaan kuier het wat glo sy vermiste broer is.

‘‘Ek het gesê: ‘Was jy nie gretig om jou broer wat ontvoer is en lank weg was, te sien nie?’ ’’

‘‘Hy het gesê: ‘Wel, nee.’ ’’

Nancy het ‘‘sterk begin vermoed Jason was aandadig aan sy broer se verdwyning’’.

Ook Jack het gemeen Jason was óf ‘‘betrokke’’ by Nicholas se verdwyning óf ‘‘het inligting gehad oor wat gebeur het’’.

Etlike weke daarna het Beverly vir Charlie gesê Jason is aan ’n oordosis kokaïen dood.

Ná ’n maande lange ondersoek het Jack besluit hy het nie bewyse om enigiemand vir Nicholas se verdwyning aan te kla nie.

Op 9 September 1998 het Frédéric Bourdin skuld beken op meineed en die verkryging en besit van vervalste dokumente.

Sy bewering dat hy bloot liefde gesoek het, het Carey woedend gemaak. Sy het ná Frédéric se inhegtenisneming ’n senu-ineenstorting gehad en in haar getuienis gesê: ‘‘Hy het gelieg en gelieg, en weer gelieg. En tot vandag toe hou hy aan lieg. Hy het geen berou nie.’’

Hy is tot ses jaar tronkstraf gevonnis – meer as drie keer die aanbevole vonnis.

In die hof het Frédéric gesê: ‘‘Ek vra al die mense in my verlede verskoning vir wat ek gedoen het. Ek hoop julle glo my, maar ek weet dis onmoontlik.’’

Of hy in die tronk is of nie, het hy bygevoeg, ‘‘ek is ’n gevangene van myself ’’. 

The Chameleon © 2008 deur David Grann. Dit is 'n verkorte weergawe van die artikel wat oorspronklik in The New Yorker se uitgawes van 11 en 18 Augustus 2008 verskyn het.
David Grann se boek THE LOST CITY OF Z is in April 2009 deur Simon & Schuster UK uitgegee. 

Die geheimsinnige verdwyning van Nicholas Barclay

Vanweë Frédéric se talent om mense om die bos te lei, is dit te verstane dat sy bewerings rondom Nicholas se verdwyning deur sommige met ’n knippie sout geneem is.

Hoekom is hy summier as die vermiste broer ontvang? Het Frédéric se onverwagte verskyning dalk die skuldiges gehelp om die werklike rede vir Nicholas se verdwyning verder te verdoesel?

Hy het die Barclays daarvan beskuldig dat hulle presies weet wat met die seun gebeur het.

Charlie Parker het ook wel sy bedenkinge oor die gesin se betrokkenheid gehad. Tot vandag toe bly Nicholas se verdwyning een van Amerika se tergende raaisels.


Waar bevind Frédéric hom vandag?

In 2004 het Frédéric voorgegee hy is ’n Spaanse tiener, Ruben Sanchez Espinoza, wie se ma tydens ’n aanval in Madrid gesterf het. Toe die polisie hom aankeer, is hy na Frankryk gedeporteer waar sy laaste bekende aangenome identiteit dié was van Francisco Hernandez-Fernandes (15), ’n Spaanse weeskind, in 2004. Hy is uitgevang en teruggestuur tronk toe.

Op sy Facebookblad ’n jaar gelede beskryf Frédéric sy identiteitsdiefstal as “15 jaar lange navorsing” vir liefde, familie, vriendskap en opofferings.

“Al die hel waardeur ek is, was dit werd. Die meeste van julle verstaan nie dat dit ’n rit na die hel neem om die kosbaarheid van liefde te verstaan nie.

“Ek wou nooit iemand skade berokken nie. Ek wou net myself red. Ek is nie meer 19 jaar oud nie en ek het nie ander se begrip nodig nie. Ek het my lewe geleef en dis dit.”

Frédéric belowe hy sal nooit weer iemand se identiteit aanneem nie. Die rede? Hy het in 2007 met ene Isabelle, wat hy as ’n volmaakte en onskuldige vrou beskryf, getrou en hulle het saam vyf kinders waarvan die jongste, James, op 31 Julie 2015 gebore is.

En wat van die Michael Jackson-inspirasie? Frédéric het ses jaar gelede hierdie video gedeel waarin hy met drie van sy kinders op die musiek van die koning van pop dans.

In September 2018 het hy  hierdie foto op Facebook gedeel. Daarby skryf hy: “Dis geskiedenis! Ek is die baie trotse eienaar van ’n Franse paspoort,  my eerste Franse paspoort, wettiglik bekom. Met my naam daarin!”

Bronne: allthatsinteresting.com, directexpose.com