Twee jaar later slaag die New York Times daarin om transkripsies van talle van die slagoffers se laaste oproepe, wat op daardie dag vanuit die World Trade Center gemaak is, openbaar te maak.

Terwyl die beelde van daardie noodlottige sonskynoggend in 2001 steeds nie vervaag het nie, is dit die laaste oproepe van die slagoffer wat jou tot in jou siel sal ruk.

'n Alledaagse nuusberig van CNN het begin om die afgryslike oomblikke van absolute terreur en vernietiging met die wêreld te deel.


Skaars twintig minute later . . .

Doodstemme uit die as van 11 September deur Elretha Louw (Huisgenoot, 9 September 2001)

Party stemme was ver­basend beheers in die aangesig van die dood.

Soos dié van Frank de Martini (49), 'n argitek op die 88ste verdieping van die World Trade Center, kort nadat hy 23 vasgekeerdes se lewe gered het deur 'n muur tussen hulle en die brandtrap met 'n koevoet oop te breek: "Konstruksiebestuurder aan die basis: Sê vir die brandweermanne die hys­bakke gaan ineenstort . . ."

Dit was De Martini se laaste woorde op 'n opname van noodoproepe op 11 September 2001 — die swart dag toe New York sy beroemde tweeling­torings en 2 792 mense hul lewe verloor het in 'n terreurdaad wat Amerika en die wêreld geruk het.

Nou, twee jaar nadat twee gekaapte passasiersvliegtuie kort na mekaar in die World Trade Center se torings vasgevlieg en dit te midde van vlamme en verstikkende rook in duie laat stort het, is 'n transkripsie van opnames van vasgekeerdes se telefoonoproepe uit die gebou vir die eerste keer openbaar gemaak.

In baie gevalle klink stemme asof uit die dood op om van hul laaste skrik­wekkende oomblikke te vertel.

Soos ene Racko, 'n brandweerman, wat op sy roepradio gesê het hy is vasgekeer op die dak. Tog wil hy nie hê enigeen moet hul lewe waag om hom te kom help nie.

"Moenie mense laat opkom hierheen nie. Hier's baie rook ..."  

Van die 131ste verdieping het nog 'n noodoproep gekom: "Mense is vas­gekeer op die trap. Maak die verdomde deure oop!

"Hitte word erger ... hel!" het 'n onbekende man geskree voor die radioverbinding verbreek is.

Van buite die gebou het 'n geskokte man gebel om te sê: "Ek het tientalle lyke hier – mense spring bo uit die gebou aan die voorkant van World Trade One."

Die skakelbord-operateur van die New Yorkse hawe-owerheid, wat die World Trade Center besit het, kon nie haar ore glo nie. "Meneer, wat spring uit die gebou?"

"Mense. Lyke val net uit die lug ..."

Talle het geen ander uitweg gesien nie. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Hartverskeurende aanhalings soos dié op 'n transkripsie van sowat 2 000 blaaie vertel die skreiende ver­haal van 'n wêreldstad plotseling vas­gevang in skok, onsekerheid, doods­vrees en vretende kommer oor geliefdes.

Die opnames is drie weke ná die ramp in die puin van die gebou gevind. So pynlik is die herinnerings dat die opnames tot nou toe van die media weggehou is.

Die New York Times is met die saak hof toe. Die inligting kan waardevolle insigte bied in die ge­beure van die dag en die manier waarop die reddingspoging hanteer is, het hulle aangevoer.

Die teenargu­ment was dat dit inbreuk kon maak op die privaatheid van die slagoffers en hul naasbestaandes. Van die familielede het egter die regter se uitspraak verwelkom dat die opnames wel openbaar gemaak moet word.

Een van hulle is Nicole de Martini, wie se man, Frank, 'n helde­dood gesterf het nadat hy en sy kolle­ga Pablo Ortiz vasgekeerdes op die 88ste en 89ste verdiepings bevry het.

Frank en Nicole het albei in die World Trade Center gewerk. Maar die oggend van 11 September het sy eers by hom in sy kantoor koffie gedrink.

Sy was by hom toe die eerste vlieg­tuig die noordelike toring tussen die 94ste en 99ste verdiepings tref. Die volgende oomblik het 'n brand by hulle op die 88ste verdieping uitgebreek.

Te midde van die chaos het Frank dadelik na 'n manier begin soek om die veertigtal mense op die verdieping veilig na buite te lei. Ná ’n kwartier het hy met roet besmeer teruggekom om te sê hy het 'n trap gekry wat nog toeganklik was.

Die laaste keer dat Nicole haar man gesien het, was toe sy saam met sy kollegas na onder begin klim. Frank het agtergebly om seker te maak almal is veilig.

"Hy het gedoen wat hy moes doen," vertel Nicole hartseer.

Op die 89ste verdieping het vas­gekeerdes paniekerig teen deure ge­hamer toe hulle 'n stem hoor: "Staan weg van die deur!"

Die volgende oomblik het hulle 'n koevoet deur die muur sien kom, het Nathan Goldwasser, werknemer by 'n versekeringsmaatskappy, later vertel.

Dit was Frank en Pablo wat, nadat hulle hul eie kollegas gered het, voortgegaan het om met 'n koevoet, 'n flitslig en roepradio's vasgekeerdes te bevry.

Tien minute nadat die 23 mense op die 89ste verdieping ondertoe begin klim het, word Frank se stem vir die eerste — en laaste — keer op die bandopname gehoor. Hy noem nie sy naam nie, net sy posbenaming:  kon­struksiebestuurder.

Die oomblik toe sy die gebou sien ineenstort, het Nicole geweet haar man is dood.

Meer as 1 100 mense is nog vermis of hul oorblyfsels onherkenbaar. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Die eerste oproepe is opgeneem enkele oomblikke voor die eerste vliegtuig om 08:46 die Dinsdagoggend die eerste toringblok getref het, die laastes was byna twee uur nadat die eens trotse World Trade Center om 28 minute oor tien finaal in 'n stofwolk ineengestort het.

Een van die eerste oproepe was van ene Josie, 'n amptenaar van die hawe-owerheid op die 22ste verdieping, wat na haar hoofkantoor gebel het.

“’n Vliegtuig het ons nou net getref,” het sy uitgeroep. “Hier is ’n noodtoestand. ’n Brand het uitgebreek.”

Toe haar baas wil weet hoe hulle die krisis hanteer, antwoord sy moedig: "Ons is oukei, meneer. Op die oomblik het ons verskriklik baie rook hier. Ons het die deure met nat snesies toegestop, maar ons kan nie uit nie.”   
'n Ander vrou het uit nuuskierigheid na die polisie op die grondverdieping van die World Trade Center gebel. “Was dit ’n groot vliegtuig of ’n kleintjie?” wou sy weet.  

"Moet 'n kleintjie wees," het 'n jong polisieman geantwoord.

Die volgende oomblik is die tweede toring getref.

“O wow, wow, wow!” het die polisieman verbyster laat hoor. “Dit het nie goed gevoel nie . . ."

Terwyl die besef stadig ingesink het dat dit nie ’n fratsongeluk is nie, maar ’n deeglik beplande terreuraanval, het kosbare tyd verlore gegaan.

Oorweldig deur die gevoel van onmag en verlies. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Uit die bandopnames blyk 'n bevel om die gebou te ontruim is eers om drie minute oor nege gegee — sewentien minute nadat die eerste vliegtuig dit getref en toe die tweede al daarop afgepyl het.

Dit beantwoord ook die tergende raaisel waarom sommige kantoorwerkers soos die hawe-owerheid se ingenieurs op die 64ste verdiepings almal dood is terwyl honderde op hoër verdiepings gered is.

Toe Patrick Hoey (53) die polisie bel om te vra wat hulle op die 64ste verdieping te doen staan, het 'n sersant geantwoord: "Bly naby die trap en wag vir die polisie om op te kom."

'n Uur later het Patrick weer gebel.

“Die rook raak nou nogal erg," het hy gesê . "Ons oorweeg dit om met die trap af te klim. Maak dit sin?"

"Ja, probeer om uit te kom,” het die polisieman dié keer gesê. Vir hom en sy kollegas was die raad egter te laat.

Op die 103de verdieping het Christine Olender (39), assistent-bestuurder van die Windows on the World-restaurant kalm na 'n uitweg vir haar en sowat 170 vasgekeerdes gesoek.

Vyftien minute nadat die eerste vliegtuig enkele verdiepings onder hulle in die noordertoring ingeploeg het, het sy die polisie vir opdragte gevra oor waarheen hulle hul gaste en werknemers moet stuur.  

“Die meeste mense is op die 106de vloer, op die 107de is heeltemal te veel rook," het sy gesê.

"Ons doen ons bes," het die polisieman haar verseker.

"Ons het die brandweer hier. Ons probeer om bo by julle uit te kom. Bel ons weer oor twee of drie minute.”

Christine het stiptelik teruggebel, maar die keer was sy hoorbaar ontsteld.

“Die vars lug word vinnig minder. Ek oordryf nie!”

"Ek weet jy oordryf nie,” het die polisiebeampte haar getroos.

"Kan ons 'n venster breek?" het Christine gevra.

"Jy kan doen wat ook al nodig is om lug te kry," was die antwoord.

Maar vir Christine, soos al die ander mense op die 91ste verdieping van die World Trade Center, was daar geen hoop op oorlewing nie.

Hulle was gelukkig. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Tuis het kantoor- en reddingswerkers se naasbestaandes beangs op nuus gewag.

Christy Ferrer, vrou van die hawe-owerheid se direkteur, het na die World Trade Center gebel om te sê die goewerneur van New York soek na haar man, Neil "en ek ook  — niemand kan hom kry nie.”  

"Ons weet nie waar hy is nie," het die polisie-offisier haar eerlik geantwoord. Later sou sy sy doodstyding kry.

'n Vroulike polisiebeampte het kantoor toe gebel om te hoor of haar broer, ook ’n polisieman, nog leef.

“Hy’s beslis oukei. Hy was nie naby die gebou nie,” het 'n kollega haar verseker.

“Sê vir hom om sy ma te bel, want sy huil en is histeries," het sy te midde van die chaos 'n boodskap gelaat.

'n Ander New Yorkse vrou kon 'n sug van verligting slaak toe haar man uitasem bel: “Liefling! Liefling! Ek was besig om die World Trade Center Plaza oor te steek. Ek moes vir my lewe hardloop, want die hele gebou het begin omval.

“Ek wou net sê ek is lief vir jou . . ."

Gekaapte vliegtuie, boodskappe . . . en die afskeid deur Annelene Oberholzer (saamgestel)

Om 08:13 die oggend van 11 September probeer die vlugkontroleur in Boston tevergeefs om kontak te maak met American Airlines Vlug 11 van Boston na Los Angeles.

Maar Betty Ong, 'n lid van die kajuitpersoneel aan boord van die vliegtuig, slaag daarin om met behulp van 'n Airfone ('n aanboord-telefoon in 'n sitplek gemonteer waarmee passasiers destyds oproepe kon maak) 'n bloedstollende oproep aan die redery se besprekingskantoor in Cary, Noord-Carolina, te maak: "Die stuurkajuit reageer nie. Iemand in besigheidsklas is gesteek en ek dink daar is Mace en ons kan nie asemhaal nie. Ek weet nie, maar ek dink ons word gekaap."

Een van die vlugkontroleurs in Boston hoor hoe Mohamed Atta, een van die kapers, die passasiers aansê om stil te sit en niks te doen nie "anders sal julle julself en die vliegtuig skade aandoen".

American Airlines Vlug 11, 'n Boeing met 75 500 L in die brandstoftenk, tref die noordelike toring om 08:47. 

United Airlines Vlug 175 verdwyn ook van die rader om 09:01. Terwyl daar op verskeie vlakke geskarrel word om militêre steun in te roep, sien kontroleurs hoe Vlug 175 vinnig hoogte verloor. Twee minute later tref die vliegtuig naby die 60ste vloer van die suidelike toring.

Boodskappe

Die oproepe wat in hierdie stadium na die noodnommer 911 deurgeskakel word, klink soos iets uit 'n fliek. Dis onwerklik. Maar dan die besef: Hierdie is nie 'n repetisie nie, dis die brutale waarheid en daar is nie 'n tweede kans vir enigeen aan die ander kant van daardie lyn nie.

Een van die reddingsbeamptes maak kontak met 'n 911-operateur.

"Dit is 'n aaklige ding om iemand te bel en te sê 'jy gaan sterf'.  Ek hoop hulle is almal lewendig, want dit klink of hulle almal hul bewussyn verloor het. Hulle haal hard asem, soos wanneer jy bewusteloos is," is sy terugvoer oor die vasgekeerdes op die 83ste vloer.

Benewens die oproepe, vlieg teksboodskappe heen en weer en elkeen getuig van 'n diepe angs oor 'n geliefde, kollegas en vriende.

08:54:27 "Larry, bel vir Brian. Ek wil weet of ons mense oukei is. Het gesien 'n vliegtuig tref die gebou."

09:04:39 "Jou suster Joe het die nuus gesien en wil weet of jy oukei is. Bel my asseblief by die werk en los 'n boodskap as ek nie by my lessenaar is nie."

09:06:31 "Vliegtuig het pas die World Trade Center getref. F***** groot gat en groter brand."

09:31:35 "Ek het basies 'n diep, diep pyn in my maag gehad vandag en die voorgevoel gekry iets gaan uit die lug val of 'n baksteen gaan van 'n gebou val."

Onbesonge helde

Alayne Gentul (44), direkteur van menslike hulpbronne by Fiduciary Trust, en Edgar Emery, het sewe vloere van die 90ste vloer geklim om die maatskappy se werknemers wat op die 97ste vloer in die suidelike toring gewerk het, by te staan.

"Ons het nie geweet of ons moet bly of gaan nie. Ek wil nie tussen vlamme afgaan nie," het sy oor die telefoon aan haar man, Jack, gesê.

Edgar en Alayne het 'n keuse gemaak. Hy het vyf kollegas 12 vloere afwaarts gelei tot waar hulle in 'n hysbak op die 78ste vloer kon klim. Sy het op haar beurt ook 'n groep kollegas aangespoor om trappe na onder te neem.

Edgar het weer by Alayne aangesluit en hulle het nog ses mense op die 97ste vloer help ontruim. Dit is ook toe dat Elizabeth Emery haar laaste telefoongesprek met haar man gehad het. Sy kon Alayne in die agtergrond hoor gil op soek na die trappe . . .

Sean Rooney en Beverely Eckert het op 'n skooldans ontmoet toe hulle 16 was. Altwee het pas 50 jaar oud geword. Sean was op die 105de vloer en het na die dak geklim. Hy kon nie die deur na die dak oopkry nie. Hy het vir Beverly gesê die vensters was warm. Toe groet hulle mekaar. "Hy het gesê hy is lief vir my. Toe is daar 'n harde ontploffing."

Om 10:28 het die suidelike toring in duie gestort.

Video mag sensitiewe lesers ontstel

Kevin Cosgrove (46) was die vise-president van Aon Corporation, 'n internasionale versekeringsmaatskappy. Hy was op die 93ste vloer van die suidelike toring.

Negentien militante wat met die ekstremistegroep Al-Kaïda verbind is, het op 11 September 2001 vier vliegtuie gekaap vir die terreuraanvalle op Amerika. Benewens die twee wat in die World Trade Center vasgevlieg het, het 'n derde vliegtuig die Pentagon buite Washington om 09:45 getref.

Die 64 mense aan boord van die vliegtuig, asook 125 militêre personeel en burgerlikes in die Pentagon, het gesterf.

Die vierde vlug was vertraag en dit het passasiers bewus gemaak van die ander kapings. Thomas Burnett Jnr. was een van die passasiers. Hy het sy vrou gebel en gesê: "Daar's drie van ons wat iets daaromtrent gaan doen. Ek het jou lief."

Sandy Bradshaw, 'n lid van die kajuitpersoneel, het haar man gebel en gesê sy is besig om bekers met kookwater te vul. "Almal gaan na die eerste klas hardloop. Ek moet gaan. Totsiens."

Om 10:10 stort die vliegtuig neer in die veld naby Shanksville in die deelstaat Pennsylvania. Die 44 mense aan boord het omgekom, maar die teiken van die gekaapte vlug is nooit amptelik bevestig nie.

Van die kapers het vluglesse by 'n Amerikaanse vliegskool geneem. Die vier vlugte is na bewering gekies vanweë hul brandstofkapasiteit wat in geval van 'n botsing tot maksimum skade sou lei.

Bronne: history.com, nytimes.com, archive.org, nypost.com, theguardian.com