Sedert die opspraakwekkende verdwynings die eerste keer die nasionale nuus gehaal het, het die vermiste meisies se name huishoudelike name geword. Talle ouers se harte gaan uit na die dogters se bedroefde geliefdes – veral met die besef dat dieselfde lot hul kinders kon getref het. 

Die name van Gert van Rooyen en Joey Haarhoff haal hoofopskrifte nadat een van hul slagoffers, Joan Booysen (16), daarin kon slaag om uit die paartjie se huis te ontsnap. Maar toe pleeg Van Rooyen en Haarhoff op 15 Januarie 1990 selfmoord. En tog is niemand bereid om te praat oor waar die ses meisies hulle dalk bevind nie . . .

Hoe is dit moontlik dat twee mense so ’n geheim kon hou? Iewers moet iemand tog meer weet?

In die Huisgenoot van 9 Augustus 2007 vertel ’n joernalis van haar twee jaar lange soektog na leidrade wat tot die opsporing van die sestal kon lei.

Gevind (of nie): Bene van vermiste 6 deur Susan Purén (Huisgenoot, 9 Augustus 2007)

Byna twee dekades al teister vrae oor die verdwyning van ses meisies van Gauteng die land.

Nou, eindelik, is daar ’n nuwe deurbraak in die tergende raaisel wat oor die jare as die Gert van Rooyen-sage bekend geword het.

Hul name was Tracey-Lee Scott Crossley (13), Fiona Harvey (11), Joan Horn (13), Ann-Marie Wapenaar (12), Odette Boucher (12) en Yolanda Wessels (12), en dit was asof hulle in die laat  1980’s  eenvoudig in die niet verdwyn het.

Anne-Marie Wapenaar (12). Foto: Gallo Images/Getty Images.
Joan Horn (13). Foto: Gallo Images/Getty Images.
Fiona Harvey (11). Foto: Gallo Images/Getty Images.
Tracey-Lee Scott Crossley (13). Foto: Gallo Images/Getty Images.
Odette Boucher (12). Foto: Gallo Images/Getty Images.

Min twyfel bestaan vandag dat Van Rooyen, ’n veroordeelde seksmisdadiger, en Joey Haarhoff, sy houvrou, die meisies ontvoer het. Maar wat het hulle met die ses gedoen?

Van Rooyen en Haarhoff het ongelukkig hul grusame geheim saam met hulle graf toe geneem: Met die polisie warm op hul hakke het Van Rooyen in 1990 eers vir Joey en toe homself geskiet.

Nuwe hoop

In die hoop dat leidrade oor die saak gevind sou word, is Van Rooyen se huis in Capital Park, Pretoria, in 1996 gesloop, maar vergeefs. Deur die jare het die saak af en toe in die nuus opgeduik, maar die raaisel is nooit opgelos nie.

Toe, einde Julie, ruk Carte Blanche kykers met ’n aangrypende program waarin die Bloemfonteinse uitvinder Danie Krugel en die Johannesburgse siener Marietta Theunissen met Carte Blanche se vervaardiger, Susan Purén, saamgespan het om eindelik antwoorde te kry.

Danie en Marietta glo hulle het die oorblyfsels van die meisies in ’n verlate gebied binne ses straatblokke van Van Rooyen se huis opgespoor.
Danie sê hy het van die meisies se haarlokke en sy geheime apparaat gebruik om hul oorskot op te spoor. Marietta vertel sy het met die meisies in die geesteswêreld gekommunikeer.

Argeoloë van die Universiteit van Pretoria het beendere opgediep in die omgewing wat Danie en Marietta uitgewys het, en dit is vir DNS-toetse gestuur. Intussen het Carte Blanche nou die polisie gevra om die saak verder te ondersoek, in die hoop dat hulle verdere opgrawings sal doen in die groot gebied waarby die span in een week net nie kon uitkom nie.

Hier vertel Susan Purén self van haar twee jaar lange soektog na antwoorde . . .

Huisgenoot, 9 Augustus 2007.
Huisgenoot, 9 Augustus 2007.

Tussen die riete

Dit was die telefoonoproep waarvoor ek weke lank gewag het. Nee, jare lank, en op Woensdag 11 Oktober 2006 het dit eindelik
gekom.

‘‘Ek het hulle gekry,’’ het hy gesê, ‘‘hulle lê langs mekaar in Capital Park!’’

Ek, gesoute televisiejoernalis, was skielik oorweldig. Trane het oor my wange geloop en my hart het in my keel geklop toe ek Pretoria binnery.

‘‘Ry wes in Malherbestraat en draai regs in Behrens,’’ het hy beduie.

‘‘Hulle lê onder tussen die riete.’’

Ek kon die plek toe reeds visualiseer, want ek ken Pretoria. Die laagwaterbruggie waar die Apiesrivier in vloed opstoot. Naby die plek waar die pedofiel Gert van Rooyen hom en sy houvrou, Joey Haarhoff, in 1990 doodgeskiet het.

Revolusionêre toerusting

In die vroeë wintermaande van 2005 pak ek en die kameraman Ferdinand Kapp die tog van Bloemfontein na De Aar aan om ’n program vir Carte Blanche te skiet. Op pad terug vertel Kappie my terloops van ’n Bloemfonteiner wat revolusionêre toerusting ontwikkel het waarmee hy mense met behulp van haarmonsters kan opspoor.

Skielik is alle moegheid ná die lang dag weg. Dit klink onmoontlik, maar Kappie vertel met oortuiging. ’n Paar dae later bel ek Danie Krugel in Bloemfontein, maar hy’s sku vir die media.

‘‘Ek’s nog nie reg nie,’’ sê hy, ‘‘en ons is nog besig met toetse.’’

Deur Kappie weet ek toe reeds van talle suksesse wat Danie met die toerusting behaal het. Hy het verskeie wegloopkinders opgespoor met hare wat hy van hul beddegoed geneem het.

’n Paar baardstoppels op ’n skeermeslemmetjie was genoeg om ’n moordenaar vas te trek; met haartjies op ’n kopdoek het hy ’n vermiste huiswerker honderde kilometers ver opgespoor waar sy dodelik siek in die hospitaal gelê het.

Danie Krugel. Foto: Gallo Images/Getty Images.


Die lys is indrukwekkend, maar die werkwyse vaag. Danie wil nie daaroor uitwei nie.

Al wat ek wys word, is dat dit berus op die beginsel dat kommunikasie tussen die komponente van ’n objek plaasvind.

My mediakollegas lag my uit.

‘‘Onmoontlik,’’ sê hulle.

Tog bly die ding by my spook, en so begin my vennootskap met Danie Krugel, direkteur van sekerheid aan die Sentrale Universiteit van Tegnologie van die Vrystaat, oudpolisiekolonel, gesinsman en Christen.

Ek vertel hom van my verbintenis met die Gert van Rooyen-saak, die pedofiel wat met die verdwyning van ses jong skoolmeisies van Gauteng verbind is.

Teorieë en toebroodjies

Toe die polisie in 1996 die Van Rooyen-huis in Capital Park, Pretoria, platgestoot het om leidrade te soek, was ek by die SAUK en ons span verslaggewers het voor die huis in Malherbestraat kampeer.

Kort voor lank het die bure ons op ons voorname gegroet, selfs toebroodjies en tee oorgestuur.

So het dit by tye voor Gert van Rooyen se huis gelyk met joernaliste en nuuskieriges wat wag op nuus. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Ek vertel Danie van Van Rooyen se seuns, Flippie en Gerhard, nou albei in die tronk, en ons gesels oor al die teorieë oor die saak: satanisme, kinderhandel, prostitusie, korrupsie, politieke betrokkenheid, en dat Van Rooyen dalk nie selfmoord gepleeg het nie, maar deur die polisie geskiet is.

Ons praat oor die private ondersoekers, die waarsêers, die malles, die aandagsoekers en die leuenaars. Almal wat oor die jare praatjies oor die saak gemaak het, waarskynlik omdat almal sukkel om te aanvaar dat ses pragtige jong kinders eenvoudig verdwyn het. Sonder spoor, sonder taal of tyding.

Haarlokkie met ’n pienk strikkie

Danie hoor by my van Kobie Wapenaar, die ma met wie ek oor die jare kontak behou het. Soos die ander het sy nooit ophou hoop dat haar blonde Anne-Marie eendag gevind sou word nie.

Ek en Danie besluit eindelik ons gaan ’n doelgerigte poging aanwend om die saak te probeer oplos.

‘‘Dis lank reeds ’n obsessie by my,’’ bieg hy, en ek verstaan dit maar te goed.

Die eerste mens wat ek bel, is Kobie Wapenaar. Kobie werk en woon steeds in Kempton Park waar haar dogter verdwyn het, en ek vertel haar van Danie se suksesse.

‘‘Jy’t nie dalk ’n haarlokkie van Anne-Marie nie?’’ vra ek.

‘‘Ja,’’ sê sy, ‘‘kom haal dit gerus.’’

Danie kry intussen ook uitstekende toetsresultate met beendere en teen die middel van 2006 is hy eindelik bereid om oor sy uitvinding te praat. Ons maak ons reg om ’n TVprogram oor hom te maak.

Anne-Marie se haarlokkie wat ek by Kobie se werkplek in Kempton Park gaan haal het, is met ’n pienk strikkie vasgebind aan ’n kaartjie met ’n versie op.

Ek voel skoon aardig terwyl ek ’n paar haartjies met ’n tangetjie verwyder en in ’n vel papier toedraai om saam te neem Bloemfontein toe.

Ek ontmoet Danie vir die eerste keer van aangesig tot aangesig op ’n koue Vrystaatse winteroggend in sy kantoor by die universiteit. Die kameraman is Ferdinand Kapp, die man wat my langer as ’n jaar tevore die eerste keer van die uitvindsel vertel het.

Die uitvindsel en diamante

Ons doen verskeie toetse en lê alles op video vas. Ons neem ’n haarmonster van Kappie en ek vra hom om in die begraafplaas te gaan wegkruip terwyl Danie die hare ontleed en die berekenings doen.

Binne 20 minute wys hy my op ’n lugfoto van Bloemfontein presies waar ons Kappie tussen die honderde grafte sal vind.

‘‘Net langs die Joodse akker onder ’n lappie struike,’’ sê hy.

Hy is presies reg. Dis indrukwekkend, maar Kappie en Danie ken mekaar en ’n mens weet nie of hulle konkel nie.

Die volgende eksperiment neem ons na ’n koppie buite Bloemfontein waar ons ’n kan met ruolie in die bosse wegsteek. Danie wag 6 km daarvandaan by sy bakkie. Hy het vroeër ’n monster van die olie geneem, en 15 minute later gee hy ons die GPS-koördinate van die weggesteekte kan.

Dit verskil ’n paar honderd meter van ons lesing, maar Danie is nogtans oorstelp, want dis die eerste keer dat hy olie oor so ’n lang afstand uitwys.

Skielik besef ek watter verreikende gevolge die uitvindsel kan hê. Vir Danie, die land en die mensdom.

Die volgende dag ry ons na ’n ou, uitgewerkte diamant-delwery op ’n plaas. Die hopies gesifte grond lê al die afgelope honderd jaar so en is oorgroei met gras en bosse. Hier word nou gruis gemaal op soek na diamante wat vroeër deur die delwers misgekyk is. Danie het die plekke uitgewys waar die grond weer verwerk moet word.

‘‘Ons soek net die grotes wat agtergebly het,’’ sê hy, en wys my die lys. Binne drie maande is meer as 300 karaat se diamante van goeie gehalte met behulp van sy toerusting herwin.

Die eerste sein

Maar so kom ons nooit by Anne-Marie se haarmonster uit nie. Danie sê hy wil die toetse sonder druk doen, want hy weet nie wat om te verwag nie. Die kinders is immers al sedert die laat 1980’s soek.

Hy bel ’n week later en vra dadelik of ek van Anne-Marie se hare in Kempton Park agtergelaat het. Ek het. En sy toerusting het dit aangetoon.

Die volgende Sondag bring Kobie en haar seun, Albert, die res van die hare Pretoria toe. Ek stuur dit met die oornagpos Bloemfontein toe, en binne ’n dag of twee hoor ek van Danie.

Yolanda se afgesnyde vlegsel ruik steeds na sjampoe waar dit in die Tupperware-kosbakkie lê . . .

‘‘Dis ’n baie flou sein en dit wys in die rigting van Pretoria. Ons moet seker maak – kry vir my nog ’n kind se hare,’’ sê hy.

Twee dae later kry ek Yolanda Wessels se dik bruin vlegsel – dis kort voor haar verdwyning afgesny. Dit ruik steeds na sjampoe waar dit in die Tupperware-kosbakkie lê en ek stuur dit dadelik Bloemfontein toe.

Die volgende dag bel Danie opgewonde.

‘‘Die sein is so sterk, ek dink die persoon wie se hare ons toets, leef nog,’’ sê hy.

‘‘Die sein wys reguit Pretoria toe.’’

Die sein en lesing moet verfyn word, en daarvoor moet Danie met sy toerusting Pretoria toe ry.

Op 11 Oktober pak hy die tog aan na Pretoria, en teen vieruur die middag lui my selfoon. Hy het hulle gekry . . .

Hy gee die aanwysings, en ek kry hom voor die laaste huise in ’n doodloopstraat. Hy staan half verdwaas en kennelik ontsteld vir my en wag.

Ontnugtering en toeval?

Om ons dreun stootskrapers en vragmotors van kontrakteurs wat besig is om die stuk aarde hier in die buitewyke van Capital Park te ontwikkel. Ons stap deur die stofwolke tot agter die rietbos. Danie gaan staan.

‘‘Ek kry hier ’n sein vir Anne-Marie en daar een vir Yolanda,’’ sê hy vol emosie. Hy wys na twee bome aan die kant van ’n droë waterpan.

Dis ’n oomblik wat my vir altyd sal bybly. Die toeval is eenvoudig te groot.

Die pan is minder as 2 km van Van Rooyen se huis. Die stad pols in die verte, maar hier agter die rietbos is ’n mens doodstil-alleen, buiten ’n trein wat elke vyf of tien minute verbysnel.

Die pan word deur ’n grondwal omarm. ’n Netwerk van vervalle waterkanale loop by die dam in en uit, en in die gebied tot teen die treinspoor lê groot hope vars bourommel. Dit lyk asof geboue onlangs hier gestroop is.

Die naaste huise is 200 m daarvandaan. Wes van hier lê die deurpad waar Gert en Joey aan hul einde gekom het. Dis ’n somber toneel, ’n aaklige plek waar ’n mens nie lank wil vertoef nie.

Ek bel onmiddellik kantoor toe, en binne ’n paar minute word die toneel vir Carte Blanche op video vasgelê. Danie loop gespanne op en af, of staan hande in die sye. Hy praat moeilik, maar die kamera rol.

‘‘Wat het deur hul koppe gegaan?’’ mompel hy. ‘‘Wat ’n monster was die man . . .’’

Bome en beendere

’n Paar dae later besluit ons om te grawe.

Binne enkele dae sluit ’n span argeoloë van die Universiteit van Pretoria hulle by ons aan en op 31 Oktober begin hulle die riete stroop.

‘‘As hulle hier is, sal ons hul liggame kry,’’ sê die spanleier, prof. Maryna Steyn.

Transnet, aan wie die grond behoort, gee ons toestemming om sewe dae lank opgrawings te doen, maar weet nie waarna ons soek nie. Die nasionale vervolgingsgesag weet ook nie, maar sê solank ons nie lyke opgrawe nie, oortree ons geen wet nie.

Beendere naby Gert van Rooyen se huis gevind. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Die bure sien ons kom en gaan, maar vra nie wat ons doen nie. Dis vuil en stowwerige werk en die November-son brand ons moeg, maar ons beur voort. Reeds op die tweede dag word dit duidelik dat ons ’n feitlik onbegonne taak aangepak het.

Die gebied word stelselmatig deurgewerk en die grond gesif, maar ons kry nie wat ons soek nie.

Ons kry wel bene met saagmerke op wat op die oppervlak gestrooi lê. Dis klaarblyklik van diere-oorsprong. Wie het so gereeld hier kom braai of piekniek hou? Nietemin word alles in sakke verpak vir latere klassifikasie.

Teen die einde van die derde dag is dit duidelik ons gaan sukkel om die terrein binne ’n week deur te werk. Danie kan nie die soekgebied verklein nie en ons besluit om die siener Marietta Theunissen in te roep.

Ons gesels met haar in ’n koffierestaurant in Johannesburg, en sy verstom ons: Voor ons haar kan vertel, vertel sy ons waarmee ons besig is en hoe die terrein lyk waar ons grawe.

‘‘Hier is ’n treinspoor, hier is ’n rivier en daar is ’n boom wat uitstaan,’’ sê sy terwyl sy ’n kaart van die gebied teken. Dis die boom wat Danie met ’n Y vir Yolanda gemerk het . . .

Marietta weet niks van Danie nie, maar sy skryf Yolanda se naam langs die boom op haar kaart.

Die kaart wat Marietta Theunissen geteken het. Foto: Gallo Images/Getty Images.


Ná sewe dae verlaat ons die terrein met ’n paar sakke vol bene. Een beentjie hou ons apart, verseël in ’n sakkie vir verdere ondersoek, want van die spanlede meen dit kan ’n menslike hand- of voetbeentjie wees.

DNS-toetse wys hulle is reg, die been is van menslike oorsprong, maar dis manlik. Die res van die bene word vir toetse Kaap toe gestuur.

Maande later wonder ek steeds oor die ander vier meisies. Ek slaag daarin om hare van twee van hulle te kry – Joan Horn en Fiona Harvey.

Danie doen sy toetse en die resultate lei ons na dieselfde plek.

Dit duur ses maande om die toetse deur te werk, maar die uitslag oortref al ons verwagtinge.

Ses verskillende mense se DNS word geïdentifiseer: dié van vier mans en twee vroue.

En dan die teleurstelling: Die DNS in die bene kon nie met dié van die meisies vergelyk word nie; dis eenvoudig te verweer.

‘‘Dit is voorlopig die uitslag,’’ sê dr. Munro Marx, besturende direkteur van die toetslaboratorium in Kaapstad.

‘‘Maar ons sal aanhou toets in die hoop dat ons tog vollediger resultate sal kry.’’

Suid-Afrika hou asem op. Ses ma’s hou hul hart vas . . .

’n Spook lei tot hernude hoop - saamgestel deur Annelene Oberholzer
 ’n Ouma wat bekommerd was oor haar tweejarige kleinseun wat met ’n spook gespeel het, sou in 2017 daartoe bydra dat daar met hernude ywer na drie van die vermiste kinders op Blythedale-strand in KwaZulu-Natal gesoek is.


Sy’t eers gedink dis ’n verbeeldingsvlug. Tot waar hy vir haar sê sy “maatjie” is dood. Tydens ’n video-opname word die seuntjie gevra waar sy maatjie bly. “In daardie blou oseaan daar,” kom die helder antwoord.

Volgens die seuntjie het ’n baie, baie slegte man sy maatjie in ’n motor gebring. Toe sy hom vra wat die “slegte man” aan sy maatjie gedoen het, het hy ’n swembad-noedel opgetel en met ongekende woede dit teen die grond bly slaan en gesê sy het gehuil en gehuil terwyl die man haar bly slaan het.

Sy pa vertel eweneens van die keer toe hy ’n meisie langs sy seuntjie in die huis gewaar het. En dit was nie ’n regte mens nie.

Volgens die ouma, wat glo ook spoke kan sien, is dit twee blonde meisies wat naby die seuntjie se ouerhuis te siene is, maar dat hulle nie met grootmense wil gesels nie.

SAUK2 se aktuele program Fokus het La-Rentia Marx, ’n medium, geraadpleeg oor ’n foto van waar die seuntjie se maatjie na bewering bly. Daar is ’n duidelike blou vorm in die foto te sien. Asook twee katte.

Sy is vas oortuig dat die maats, Odette en Anne-Marie, daar begrawe is. Volgens Odette se suster, Natasha, het Odette boonop vir haar op ’n keer toe hulle saam by die openbare swembad was, gesê sy ken Van Rooyen waarna sy na hom en 'n jong man gestap het en 'n geselsie aangeknoop het.

Volgens La-Rentia is ’n derde slagoffer naby Odette en Anne-Marie begrawe: Joan Horn . . .

Alet van Rensburg Wright, uitvoerende regisseur van Fokus, het op 15 Junie 2017 aan Huisgenoot gesê hulle het die afgelope 15 maande inligting ondersoek wat daarop gedui het dat minstens twee van die ses vermiste meisies moontlik onder die stormpyp op Blythedale-strand en een daar naby begrawe is.

Vroeg in Junie 2017 is daar begin om die waterpyp oop te grawe. Daar is wel beendere gevind, maar dit was vermoedelik van diere afkomstig. Twee dae later het die ondersoekspan bes gegee.

Brig. Vish Naidoo, die nasionale polisiewoordvoerder in daardie stadium, het ontken dat hy van die opgrawings by die stormwaterpyp bewus was en het bygevoeg selfs al was hy, sou hy hom "in elk geval nie daaroor uitgelaat het nie". Volgens hom sal die hernude soektogte net die slagoffers se naastestaandes van vooraf ontstel.

Drie kindergeraamtes

In 1999 het die polisie reeds dieselfde gebied deursoek.

’n Oudpolisieman, Glen Fitchet, het aan Fokus gesê hy glo drie volledige skelette, dié van kinders, is reeds in 1992 op Blythedale-strand gevind. Die geraamtes kon nie geïdentifiseer word nie en Fitchet vermoed daar was met die bewyse gepeuter.

Hy is aangesê om die saak te laat vaar: “Sersant, jy’t genoeg uitgevind, rapporteer terug aan die basis.” En dit was dit. . .

Wat van Danie Krugel se tegnologie?

Daar is talle uiteenlopende opinies oor Danie se Matter Orientation System, oftewel die Krugel-teorietoetsapparaat. Kritici beweer dis te goed om waar te wees. Ander glo weer dit het wel meriete.

Danie se apparaat is selfs ingespan in die soektog na Madeleine McCann wat in 2007 spoorloos verdwyn het tydens ’n gesinsvakansie in Portugal.

In Julie 2007 het hy ’n verslag opgestel oor Madeleine en dit aan haar ouers en die polisie in Portugal oorhandig. Aanvanlik wou hy niks meer daaroor sê nie, maar ná vyf maande het hy besluit om sy bevindinge bekend te maak.

“Selfs al is sy verskuif ná Julie 2007, sal daar steeds bewyse van haar teenwoordigheid wees (op die kaart aangedui). Ek het my allerbeste gedoen en glo my bevindinge is akkuraat.”

Op die kaart onderskei hy tussen die hoofsoekgebied wat tussen die hondehokke en ’n gebied wat hy as die “blanket area” aandui, en die begin van sy soektog waar hy melding maak van ’n klomp vuilgoedsakke – propvol maar waarvan die inhoud onbekend is.

In ’n artikel wat in Die Volksblad (21 Desember 2004) verskyn, word Danie geloof vir sy hulp met die opspoor van ’n moordenaar van Pierre Smit, departementele assistent in die departement van argitektuur.

Bronne: businesstec.co.za, daniekrugelfacts.com, iol.co.za