Telkemale word na Stacey Castor as "The Black Widow" verwys vanweë haar karaktertrekke wat ooreenstem met dié van die knopiespinnekopwyfie wat haar maat doodmaak ná sy eiers gelê het, waarskynlik as 'n beskermingsmaatreël vir die ongebore kleinspan.

Maar anders as die beskermingsdrang wat oorheersend is by die wyfiespinnekop, was Ashley deur geldgierigheid gedryf. En sy het nie gehuiwer om selfs haar dogter die prys daarvoor te laat betaal nie.

Aaklige dood vir my geliefdes - deur Marissa Charles (Huisgenoot, 13 Augustus 2009)

In vyf jaar het sy albei haar mans vermoor en toe die polisie onraad merk, het sy haar eie dogter probeer vermoor.

In haar hospitaalbed sukkel Ashley Wallace om op die vreemdeling voor haar te fokus.

‘‘Ek kon nie goed sien nie,’’ vertel sy van dié oggend in September 2007.

‘‘Alles was in ’n waas. Ek kon nie regtig enigiemand se gesig sien nie. Ek het tonnelvisie gehad. Ek het besef ek is in die hospitaal, want my arms was vasgebind.’’

Geleidelik het die 19-jarige vrou agtergekom die vreemdeling peper haar met vrae.

Die man was sers. Michael Norton en hy wou veral drie goed weet: Het sy haar pa en stiefpa vermoor? Het sy probeer om haar eie lewe te neem? En het sy skuld beken in ’n selfdoodbrief wat by die koppenent van haar bed gevind is?

Toe kom Ashley blitsig tot haar sinne.

‘‘Van die oomblik toe ek wakker word en almal my ondervra, het ek net geweet my ma het my probeer doodmaak,” sê sy.

Sy is die oudste dogter van Stacey Castor, ’n vrou in haar laat dertigs wat binne vyf jaar twee keer ’n weduwee geword het. Die eerste keer was met die skielike dood van Michael Wallace, die pa van haar kinders, Ashley en Bree. Hy was 38 toe hy in 2000 dood is.

Ashley was byna ook een van haar ma se slagoffers. Foto: Splash.

David Castor

Die tweede tragedie het in 2005 gebeur toe haar tweede man, David Castor, dood in sy bed aangetref is. Hy het oënskynlik sy eie lewe geneem.

Stacey was hoogs ontsteld toe die polisie by haar huis opdaag. Haar man se lyk het uitgestrek op hul bed gelê.

Sy het hulle gebel en gesê: ‘‘My man sluit hom nou al ’n dag lank in ons kamer toe. Hy het nie vanoggend by die werk opgedaag nie.’’

David Castor is in 2005 dood in sy bed aangetref. Foto: Splash.

Toe sers. Robert Willoughby by die Castors se huis aankom, het hy ’n somber toneel aangetref.

‘‘Ek het aan die slaapkamerdeur geklop. Daar was geen antwoord nie. Ek het die deur oopgeskop en David het naak op die bed gelê. Sy het my gevra of hy oukei is. Ek het net gesê: ‘Nee, hy is nie.’ ’’

Die gesigte van paramedici wat by die huis in- en uitgaan, was genoeg om Stacey aan die gil te sit.

‘‘Stacey was histeries,’’ onthou haar vriendin Lynn Pulaski. ‘‘Sy het gesê: ‘Hulle moet hom gaan haal en in die ambulans sit.’ ’’

Maar dit was reeds te laat. David (48) was dood.

'Soos 'n prinses in 'n sprokie'

Ná die voortydige dood van haar eerste man het dit gelyk asof Stacey ’n groot slag geslaan het toe sy met ’n suksesvolle sakeman trou.

David, die eienaar van ’n verhittingsondermening, het skynbaar sy vrou verafgod.

‘‘Stacey het soos ’n prinses gevoel, asof dit ’n sprokie is. Sy is bemin en soos ’n dame behandel,’’ vertel nog ’n vriendin, Dani Colman.

Maar sy toegeneentheid het blykbaar nie sy nuwe stiefdogters, Ashley en Bree, ingesluit nie.

Toe Stacey en David in 2003 getroud is, was dit die einde van hul huishouding van uitsluitlik vroue.

‘‘Ons het altyd saam aandete geëet, gelag en grappe gemaak,’’ vertel Bree. Dit was net ek, my ma en my suster.’’

Stacey, Bree en Ashley in gelukkiger tye. Foto: Splash.

Moeilik met die kinders

David, die pa van ’n seun, was nie lus om stiefpa te speel nie, vertel Stacey se familie en vriende.

‘‘Ná hul troue het hy nie daarvan gehou dat die dogters by hulle is nie, vertel Judy Eaton, Stacey se ma. ‘‘Sy verhouding met hulle het baie gespanne geraak.’’

Stacey beaam dit: ‘‘David was moeilik met die kinders. Hy het verwag hulle moet doen wat hy sê sonder om dit te bevraagteken en omdat hulle my kinders is, het hulle alles bevraagteken. Dit het baie probleme veroorsaak.’’

Ashley stem saam met haar ma en ouma, maar sê haar stiefpa het die spanning in die huis probeer verlig.

‘‘Ons het eers nie eintlik van hom gehou nie. Hy het gesê hy wil nie ons pa wees nie, maar toe het hy tog probeer.’’

Die naweek van sy dood het hy en sy vrou rusie gemaak oor Bree. Stacey sê hy wou hê hulle twee moes op reis gaan. Dit sou beteken dat die 15-jarige Bree alleen moes agterbly.

Stacey sê: ‘‘David wou ’n taamlik uitgebreide reis onderneem. Ashley is ’n volwassene, maar ek wou Bree nie twee weke lank by die huis los nie, en ons het rusie gemaak daaroor.’’

Maar op die ou end is net een mens êrens heen. Dit was Stacey wat by haar vriendin Dani gaan kuier het. Sy het later vir die polisie gesê David het alleen by die huis gebly en die naweek om geslaap en gedrink. Sy het van tyd tot tyd gaan kyk hoe dit met hom gaan.

Stacey beweer sy het hom eenmaal hoor snork, maar die kamerdeur was gesluit.

Vonds in die vullisdrom

Toe speurders later die huis fynkam, het hulle iets verdags gevind.

Speurder Dominic Spinelli het die slaapkamer deursoek.

‘‘Ek het ’n houer met teenvriesmiddel, ’n leë bottel bosbessiesap, ’n bottel appelkoosbrandewyn en twee glase langs die bed op die vloer gesien. Die een glas was halfvol teenvriesmiddel.

‘‘Ek het gedink daar was die een of ander rusie en hy het weens depressie sy eie lewe geneem.”

Stacey het vertel David se pa is ’n paar weke tevore dood en hy was boonop gespanne oor sy onderneming – dit kon hom dalk tot selfmoord gedryf het.

Toe sien Robert iets in die vullisdrom in die kombuis.

‘‘Nadat ons papier uit die drom verwyder het, het ek op ’n kalkoenbedruiper afgekom. Toe ek dit optel, het ek druppels daarin gesien. Ek het die rubberbal van die punt afgehaal en daaraan geruik. Dit het na alkohol geruik.

Die kalkoenbedruiper is in die vullisdrom in die kombuis gevind. Foto: YouTube-skermgreep (Dateline 2017).

‘‘Dit was vir my vreemd, want daar was geen kos, vuil borde of enige aanduiding dat iemand kos gemaak het nie.

‘‘Ek het geweet hy het gedrink. Ek het geweet daar was alkohol en teenvriesmiddel betrokke. Ek het net nie geweet watter een was in die bedruiper gebruik nie.’’

In ’n lykskouing op David het dr. Robert Stoppacher ’n paar interessante leidrade gekry.

‘‘Daar was kristalle in sy niere en ons het bevind hy is aan etileenglikolvergiftiging dood,’’ sê hy.

Die polisie het gedink hy het sy eie lewe geneem deur homself met teenvriesmiddel te vergiftig. Dit was ’n uitgerekte en uiters pynlike dood.

'Té lief vir die lewe'

Twee van David se familielede was egter oortuig daarvan dat hy dit nooit sou doen nie.

“David het met verhitting en lugversorging gewerk. Hy het ook aan motors gewerk. Hy het geweet wat teenvriesmiddel aan hom kon doen en watter pynlike dood dit sou wees,’’ sê sy suster, Linda Horzempa.

Janice Poissant, sy eerste vrou en die ma van hul seun, David Castor jr., was ook agterdogtig.

‘‘Hy sou nooit homself om die lewe gebring het nie,’’ sê sy. ‘‘Hy was te lief vir die lewe.”

Dominic het ook gevoel iets is nie pluis nie, veral toe hy onthou dat Stacey aan die speurders vertel het David het vermoedelik die idee om met die teenvriesmiddel sy eie lewe te neem, van ’n televisieprogram gekry het.

‘‘Sy het gesê sy het ’n dokumentêre program gekyk oor ’n vrou wat twee van haar mans vermoor het met dodelike dosisse teenvriesmiddel. Sy het gesê dis dalk waar David die idee gekry het.”

Dit het nie vir die speurder sin gemaak nie.

Agterdog neem toe

Die polisie het nog meer agterdogtig geraak toe haar telefoonstate wys sy het op sy sterfdag net een keer huis toe gebel en nie ’n paar keer soos sy beweer het nie. Toe Stacey die polisie heelwat later die dag bel, was dit uit die kantoor wat sy met haar man gedeel het.

‘‘Hy was die oggend veronderstel om halfagt by die werk te wees en die oproep is eers tweeuur die middag gemaak,’’ sê Robert.

‘‘Hoekom het sy amper vyf uur lank gewag voor sy die polisie gebel het?’’

Daar was nog ander leidrade. Toetse het gewys daar is net drie vingerafdrukke op die halfvol glas met teenvriesmiddel langs die bed.

Speurder Dominic Spinelli het die slaapkamer deursoek en ’n houer met teenvriesmiddel gevind. Foto: YouTube-skermgreep (Dateline2017)
Daar was 'n leë bottel bosbessiesap, ’n bottel appelkoosbrandewyn en twee glase langs die bed. Foto: YouTube-skermgreep (Dateline 2017)

Nie een daarvan was David s’n nie; almal was Stacey s’n. En op die bottel teenvriesmiddel was geen vingerafdruk nie.

‘‘As David ’n glas teenvriesmiddel geskink het, waarom is daar geen enkele vingerafdruk op die houer nie?’’ vra Dominic.

‘‘En as hy die middel uit ’n glas gedrink het, hoekom is daar geen kladmerke of vingerafdrukke daarop nie?’’

Die speurder het vermoed die glas was net ’n rekwisiet wat daar neergesit is sodat die polisie moet dink David het sy eie lewe geneem. Die streekaanklaer Bill Fitzpatrick het met Dominic saamgestem.

Teen daardie tyd het forensiese toetse al gewys die druppels in die kalkoenbedruiper is teenvriesmiddel en die DNS aan die punt van die bedruiper is David s’n.

Die ondersoekers het begin vermoed Stacey het David vermoor.

‘‘Hoekom sou ’n man oor die verloop van drie dae sy eie lewe neem en op so ’n aaklige manier soos vergiftiging as daar ’n haelgeweer onder sy bed was waarmee hy in ’n breukdeel van ’n sekonde ’n einde aan alles kon maak?’’ sê Bill.

‘‘En waarom was daar teenvriesmiddel in ’n kalkoenbedruiper? Ek het nog nooit in my loopbaan van selfdood met ’n kalkoenbedruiper gehoor nie.’’

Michael Wallace

Die polisie was nog meer agterdogtig toe hulle uitvind Stacey se eerste man, Michael Wallace, is drie jaar voor haar troue met David skielik op 38 dood. Sy het hom ontmoet toe sy net 17 was.

‘‘Mike was die liefde van my lewe,’’ sê sy. ‘‘Vyf minute nadat ek hom ontmoet het, het ek geweet ek gaan met hom trou.’’

Hulle is drie jaar later getroud en in 1988 is hul dogter, Ashley, gebore.

‘‘Ek was verlief,’’ sê Stacey.

‘‘Ek het van daardie oomblik geweet die hele doel van my bestaan is om haar te versorg. Jy kan maar sê ek en Ashley was beste vriendinne. Ons het alles saam gedoen.’’

Drie jaar later is Stacey se tweede dogter, Bree, gebore. Michael het haar aanbid en haar sy prinses genoem.

‘‘Bree was pappa se dogtertjie,’’ sê Dani.

‘‘In Michael se oë kon sy niks verkeerd doen nie. Michael en Ashley het nie dieselfde verhouding gehad nie.’’

Van hul vriende vertel die huwelik het ná 10 jaar begin versuur en Stacey het dit oorweeg om van hom te skei.
Maar sy het nie daarmee voortgegaan nie, want die huwelik sou gou verby wees.

Michael het skielik siek geword. Hy was ses weke lank siek voor hy gesterf het.

Mel Ann Cahn, wat voorheen met Michael se broer getroud was, onthou die familie was destyds baie besorg oor hom.

‘‘Dit was asof hy dronk was. Hy was onvas op sy voete en hy het gesê: ‘Mel Ann, ek is regtig moeg om so te voel. Dit gaan nou al so lank aan en ek weet nie hoekom nie.’ ’’

Sy skoonma, Judy, het hom ook aangemoedig om dokter toe te gaan. Maar hy het nooit die afspraak nagekom nie.

Ashley (toe 11) was ’n paar dae later alleen saam met haar pa by die huis. Sy het gesien hy tree vreemd op.

‘‘Hy het op die bank gelê,’’ vertel sy. ‘‘Ek het gedink hy trek snaakse gesigte.”

Sy moes haar suster by die skool gaan haal en toe sy terugkom, was haar pa dood.

Geen lykskouing is op hom gedoen nie, want die dokters het gereken Michael, ’n drinker en roker, is aan ’n skielike hartaanval dood. Hy is begrawe en Stacey het sy lewensversekering van $55 000 (sowat R422 500) ontvang.

Opgrawing

Maar vyf jaar later, met die dood van haar tweede man, het die polisie besluit om sy lyk op te grawe en die lykskouing uit te voer wat nooit gedoen is nie.

Intussen is Stacey verdink van David se dood omdat sy feitlik sy hele boedel van $50 000 (sowat R384 000) geërf het.

David jr. se ma het vermoed Stacey het die testament herskryf, en sy was reg. Stacey het self die testament ná haar man se dood onderteken en dit ook vroeër gedateer.

Ek het gevoel as dit die lewe vir haar makliker sal maak, waarom nie?

Haar vriendin Lynn, wat as getuie geteken het, het gedink sy help ’n bedroefde weduwee en sê nou: ‘‘Sy het soveel deurgemaak. Ek het gevoel as dit die lewe vir haar makliker sal maak, waarom nie?’’

In ’n verskerpte ondersoek het die polisie meeluistertoerusting aan haar telefoon gekoppel en loerkameras buite haar huis en by haar man se graf laat aanbring.

Op 5 September 2007 is Michael se lyk opgegrawe en in ’n lykskouing is dieselfde soort kristalle in sy niere gekry. Toetse het gewys Stacey se eerste man is ook weens vergiftiging met teenvriesmiddel dood.

‘‘Die dodelike dosis sou sowat 57 tot 85 g gewees het, wat nie vreeslik baie is nie,’’ sê Bill.

‘‘Op die ou end vorm dit kristalle. Ongelukkig neem jou bloedstroom die kristalle van jou niere tot by jou brein. Jou niere hou op met werk en nierversaking sal die eerste stap voor die dood wees.

“Dit is ’n uiters onaangename manier om te sterf.’’

Op 5 September 2007 is Michael se lyk opgegrawe en in ’n lykskouing is dieselfde soort kristale as dié van David in sy niere gekry. Foto: YouTube-skermgreep (Dateline 2017)

Gewapen met hierdie wetenskaplike getuienis, is die polisie na Stacey se huis. Hulle het vir haar gesê hulle het bewyse dat albei haar mans dood is weens vergiftiging met teenvriesmiddel en vermoed dat sy albei vermoor het.

Stacey het Ashley daarvan vertel. Toe die speurders by haar dogter se kollege aankom, was Stacey hewig ontsteld.

Wodka en Sprite

Die speurders het vir Ashley (20) gesê haar pa is dood weens vergiftiging. Ashley sê haar ma het haar toe na die kollege gehaas met ’n oplossing.

‘‘Sy het gesê: ‘Ons het so ’n moeilike dag gehad. Ons het ’n moeilike week gehad. Kom ons drink.’ ’’

Ashley was toe nog minstens twee jaar onder die wettige ouderdom vir drankgebruik en dit het vir haar na ’n koel voorstel geklink.

Maar toe haar ma die volgende dag teen die middag weer besluit om drankies te meng, het sy agterdogtig geraak. Tog het sy saamgespeel. Selfs toe haar ma uit die kombuis kom en ’n groot glas Watermelon Smirnoff Ice-wodka roer, het Ashley haar genoeg vertrou om die laaste druppel te drink, al het dit glo aaklig geproe.

‘‘My ma het die beker geroer,’’ vertel sy. ‘‘Ek het in die beker gekyk en gedink dit lyk snaaks. Sy het gesê ek moet dit aanhou roer.

“Ek het gesê: ‘Dis vreemd.’ Toe sê sy: ‘O, jy moet aanhou roer omdat daar Sprite in is.’

“Toe haal ek die lepel uit en vat ’n sluk. Dit het regtig aaklig gesmaak.”

Bree het haar ouer suster die volgende oggend bewusteloos in haar kamer gekry. Haar oë was glasig en haar mond wyd oop.

Vir die derde keer in sewe jaar het Stacey die nooddiens na haar huis ontbied.

Die selfdoodbrief

Met haar aankoms by die hospitaal was Ashley op die rand van die dood. Haar ma het vir die paramedici gesê sy het ’n oordosis slaappille en wodka gedrink. En Bree het op ’n getikte selfdoodbrief van 750 woorde afgekom. Dit was skynbaar van Ashley en daarin erken sy sy het haar pa en stiefpa albei vermoor.

Die brief het inligting bevat wat net die moordenaar kon weet.

Volgens Bree het die brief gesê sy is jammer dat sy dit moes doen, maar nou sal almal die waarheid weet. Nou sal hul ma nie meer geblameer word nie.

Die polisie was nie oortuig nie. Nadat hulle Ashley ondervra en besef het sy het geen benul waarvan hulle praat nie, het hulle Stacey in hegtenis geneem en aangekla van moord op haar man, David, en poging tot moord op haar oudste dogter.

Die sogenaamde selfdoodbrief. Foto: YouTube-skermgreep (TheLipTV)

In forensiese toetse is net Stacey se vingerafdrukke op die sogenaamde selfdoodbrief gevind.

Die hardeskyf van die gesin se rekenaar het ook gewys dat minstens twee weergawes van die brief getik is.

’n Jurie het drie dae geneem om Stacey skuldig te bevind aan die moord op David en aan poging tot moord op Ashley. Sy is tot meer as 50 jaar tronkstraf gevonnis.

‘‘As iemand moeg raak vir ’n huweliksmaat, gaan spreek hulle gewoonlik ’n prokureur of berader, maar Stacey het net vir hulle ’n drankie geskink,’’ sê Bill.

En Ashley moet met die pynlike wete saamleef dat haar ma haar probeer vermoor het.

‘‘Ek wonder elke dag hoe sy dit kon doen,’’ sê sy.

‘‘Ek weet regtig nie hoe ’n mens jou eie dogter kan probeer vermoor nie.’’

Stacey Castor - deur Annelene Oberholzer (saamgestel)

Regter Joseph Fahey het tydens sy uitspraak gesê hy het nog nooit tevore gehoor van 'n ouer wat die blaam van 'n misdaad op 'n eie kind probeer plaas nie, wat nog te sê dieselfde kind te probeer vermoor. Op 5 Maart 2009 het hy haar vir 51 jaar tronk toe gestuur.

Na afloop van die hofsaak wat vier weke geduur het, het Ashley aan die regter gesê sy haat haar ma omdat sy soveel lewens vernietig het, maar terselfdertyd is sy lief vir haar vir die aanvanklike verbintenis wat hulle gedeel het.

"Ek het nooit geweet wat haat is nie. Tot nou. Ek is steeds lief vir haar, maar ek haat haar terselfdertyd. Dit pla my, dis so verwarrend. Ek wens net sy wou sê sy's jammer vir alles wat sy aangevang het, ook die leuens.

"So verskriklik soos wat dit klink is hierdie nou tot siens, ma. Ten spyte van hoe hard jy probeer het, het ek oorleef. En nou gaan ek verder oorleef want ek is omring deur mense wat my liefhet. Ek gaan goeie dinge in die wêreld doen ongeag daarvan dat jy my in die volle sin van die woord 'n weeskind gemaak het."

Ook Bree het na afloop van die uitspraak gesê sy weet nie of sy haar ma ooit sal kan vergewe nie.

Regter Fahey het in Augustus 2010 Stacey se versoek vir 'n herverhoor verwerp. Haar laaste aansoek om appèl teen haar vonnis aan te teken, was in 2015.

Was daar 'n derde slagoffer?

Jerry Daniels het in Februarie 2002 in die hospitaal beland met longprobleme. Hy het beterskap begin toon en was op die punt om huis toe te gaan.

Toe kry hy 'n besoeker in die hospitaal wat vir hom koeldrank in 'n blikkie aanbied en op 27 Februarie blaas hy sy laaste asem uit. Sy besoeker was terloops ook die eksekuteur van sy boedel. En dit was sy dogter, Stacey Corbet . . .

Jerry is veras.

Nog 'n hofsaak

In 'n opspraakwekkende kinkel het David se seun, David Junior, en sy ma, Janice Poissant, hulle na die hof gewend oor die geld wat nog in David se boedel oor was. Regter Paris het ten gunste van hulle bevind en het nie woorde gespaar toe hy sy beslissing maak nie.

"Die Pulaskis was nie onskuldige pionne nie. Hulle het geweet wat hulle doen."

Op 9 Mei 2014 het die appèlhof beslis die hof het 'n fout begaan en is die klag van bedrog teen hulle teruggetrek.

Ashley

In die beweerde selfdoodbrief het Ashley glo van haar ma, haar suster en haar kêrel afskeid geneem.

Een van die aspekte wat in die hof na vore gekom het, is dat Stacey tydens 'n onderhoud met 'n speurder die woord "antifree" gebruik het. Dieselfde verkeerde spelling van die woord het ook in Ashley se beweerde selfdoodbrief opgeduik.

"Nou gaan almal weet wat werklik gebeur het en hulle sal weet dit was nie jy (Stacey) nie, dit was ek. Moet my asseblief nie haat nie. Onthou, ek is lief vir julle."

Stacey het tydens 'n dokumentêre program 20/20 volgehou sy is onskuldig en dat Ashley sélf verantwoordelik is vir wat met haar gebeur het.

'Bose vrou'

Die vrou wie se hofsaak een van die grootste nóg in die geskiedenis van New York was, het op 11 Junie 2016 in die ouderdom van 48 jaar gesterf. Bill Fitzpatrick, die staatsaanklaer van die Onondaga-distrik, het die nuus bevestig.

"In dié geval bestaan daar geen woord in die woordeboek om die vlak van boosheid te beskryf van 'n vrou wat haar eie dogter probeer vermoor het om die twee moorde wat sy sélf gepleeg het, te probeer verdoesel nie.

"Dit is die ergste wat dit kan wees. Met Ashley en Bree gaan dit goed en nou hoef hulle nooit weer daardie folterende besluit te neem of hulle 'n ma gaan besoek wat hulle soveel pyn besorg het nie."

Bronne: murderpedia.org, abcnews.go.com, rollingstone.com, localsyr.com