Vlug ET302 het om 08:38 (plaaslike tyd) van die lughawe in Addis Ababa opgestyg en ses minute later het die nuwerige Boeing 737 Max8 neergestort. Agt bemanningslede en 149 passasiers het gesterf.

In Oktober 2018 het dieselfde model, dié keer in besit van Lion Air in Jakarta met 189 mense aan boord in die see neergestort, 13 minute na dit uit Jakarta opgestyg het, ook niemand het hierdie ramp oorleef nie.

Wêreldwyd gons dit nou weer oor wat vliegtuie kan laat faal en val.

Met die tergende raaisel rondom die verdwyning van vlug MH370 vyf jaar gelede, het Huisgenoot ondersoek ingestel vir moontlike redes:

Die raaisel van vlug MH 370 - Lara Atson en Pieter van Zyl (Huisgenoot, 27 Maart 2014)

Hoe kon ’n vliegtuig met 239 passasiers net spoorloos verdwyn? Lugvaartkenners sê of ons nou almal senuagtig moet wees om te vlieg.

Toe ’n Boeing 777 met 239 siele aan boord op 8 Maart net verdwyn, het die wêreld regop gesit. Is so iets dan moontlik?

Want iewers moes daar ’n spoor wees van ’n 400-ton-vliegtuig ter waarde van R2,9 biljoen – daardie geld koop tog seker die beste tegnologie en veiligheid?

In wat beskryf is as die grootste raaisel van moderne lugvaart, wou almal in die dae daarna weet: Of die vliegtuig nou geval het of gekaap is, waarom is dit asof die heelal Malaysia Airlines se vlug MH370 net ingesluk het?

Talle teorieë het gevolg oor wat op Saterdag 8 Maart in die lugruim tussen Kuala Lumpur, Maleisië, en Beijing, China, gebeur het, met van gissings oor ’n katastrofiese disintegrasie tot bewerings van terreur.

Spokerige beelde van hoe die vliegtuig eensklaps van die radar verdwyn sonder enige noodsein of -boodskappe van die bemanning is op TV en die internet gewys. Teen druktyd het die soektog na die vermiste vliegtuig voortgeduur en is die soekgebied na die Indiese Oseaan uitgebrei.

Grafiese voorstelling van moontlike roetes ingeslaan deur MH370

Wat beteken dié voorval vir moderne lugvaart en die gemiddeld meer as 3 miljoen passasiers wat daagliks op byna 100 000 vlugte die aardbol oorkruis?

Is enige van die teorieë wat in die dae ná die verdwyning genoem is enigsins moontlik op ’n gewone passasiersvlug? Hoe gerus kan ons wees wanneer ons terugsak in ons sitplek terwyl die vliegtuig opstyg vir ’n verre reis?

Kan ’n vliegtuig net van die radar verdwyn?

Ja, dis moontlik, sê lugvaartkenners, maar dit beteken nie die vliegtuig het noodwendig geval of ontplof nie. Daar is twee antwoordsenders aan boord van moderne vliegtuie.

Een is in die kajuit en nog een elders in die romp, sê Guy Leitch van die tydskrif SA Flyer.

Bemanningslede kan die een in die vlugkajuit deaktiveer, maar dis baie moeilik om te ontkoppel as jy nie weet waar dit is nie.

“Jy sal dit met ’n byl moet uitkap.”

Hy bevestig dis nie net ’n knoppie wat jy kan afskakel nie.

'n Familielid van een van die vermiste passasiers
'n Familielid van een van die vermiste passasiers aan boord van vlug MH370 treur voor die Lama-tempel in China 'n jaar nadat die vliegtuig verdwyn het. Foto: Kevin Frayer/Getty Images

Die ander sender stuur inligting na die lugbeheertoring sonder dat iemand dit beheer. Ook dit kan nie net gedeaktiveer word nie.

“Dié senders identifiseer die vliegtuig aan lugbeheertorings,” sê Linden Birns, besturende direkteur van die lugvaartkonsultasiefirma Plane Talking in Kaapstad.

“Voor die vliegtuig opstyg, tik die vlieënier ’n viersyferkode in die antwoordsender.”

So kan die lugbeheertoring sien waar die vliegtuig vlieg, teen watter spoed en in watter rigting, sê hy.

Kenners sê wel as ’n vliegtuig meer as 200 seemyl van die naaste radarsensor is, gaan dit moeilik wees om hom raak te sien en bemanningslede moet dan per hoëfrekwensieradio of satelliet in kontak bly met die lugverkeerbeheersentrum.

Krake in die onderstel

Die Amerikaanse Federale Lugvaartadministrasie het verlede September lugrederye oor die wêreld heen gewaarsku dat krake in sekere modelle van die Boeing 777 daartoe kan lei dat die tuig midde-in ’n vlug kan opbreek, of dit kan ’n katastrofiese afname in kajuitdruk veroorsaak.

Net twee dae voor die raaiselvlug se vertrek het dié waghondorganisasie weer ’n waarskuwing uitgereik. Dit was nadat ’n redery ’n kraak van 40 cm in die dop van ’n 14 jaar oue Boeing gekry het.

’n Antenna onder die romp van die vliegtuig kan lei tot roes wat dié krake veroorsaak, maar die Boeing 777 wat vermis geraak het (die model se kode is 200ER), het ’n ander antenna; daarom is die waarskuwing tegnies nie van toepassing nie.

Daarby hou Malaysia Airlines vol die vermiste Boeing, wat glo 12 jaar oud is, was lugwaardig. Die laaste inspeksie was op 23 Februarie.

Kan ’n krakie in die onderstel tot ’n ramp lei?

“Alle vliegtuie is kwesbaar,” sê Guy.

“Maar die redery het ’n baie goeie instandhoudingsgeskiedenis. Dis hoogs onwaarskynlik dat roes of ’n kraak nie raakgesien en herstel sou word nie.”

Dit geld vir alle betroubare lugdienste, sê hy.

Vorige skade

In 2012 het die vermiste vliegtuig in ’n ongeluk op die aanloopbaan van die Pudong-lughawe in Sjanghai, China, die stert van ’n ander vliegtuig getref. Die punt van die Malaysia Airlines-vliegtuig se vlerk is afgeruk, maar herstel.

Kon skade soos dié later bydra tot ’n vliegramp?

“Enige herstelwerk sou baie deeglik wees,” sê Guy.

Die vervaardiger van die vliegtuig, die plaaslike lugvaartowerheid en versekeraars sou seker maak dat enige risiko beperk word. Daarby dring hulle almal daarop aan dat instandhouding gereeld gedoen word, sê Guy.

Instandhouding word gewoonlik gedoen wanneer ’n vliegtuig tussen 100 en 200 uur vlugtyd agter die rug het.

Vliegtuie wêreldwyd word goed in stand gehou, sê hy. Daar is ’n paar lande in Afrika waar dit nie die geval is nie, maar Suid-Afrikaners kan met ’n geruste hart met eie lugdienste vlieg.

Neil Hansford, voorsitter van die konsultasiefirma Strategic Aviation Solutions, beskryf die Boeing 777 as “seker een van die veiligste vliegtuie in die geskiedenis van lugvaart”.

Meer as 1 000 van die vliegtuie is gebou en net 60 voorvalle is aangeteken, waarvan die meeste baie klein was.

Volgens hom is die kans baie skraal dat albei enjins tegelyk ophou werk. Dan sal ’n vliegtuig in ieder geval nie net uit die lug val nie; daar sal minstens kans wees vir ’n noodsein.

Hoe algemeen is vlieëniersfoute?

“Vliegtuie is ingewikkelde masjiene,” sê Linden. “Hulle is net so goed soos die vlieënier en tegnici aan die stuur daarvan.”

’n Reeks foute deur die vlieëniers en verkeerde lesings deur die vliegtuig het daartoe gelei dat Air France se vlug 447 in 2009 tussen Rio de Janeiro en Parys in die Atlantiese Oseaan neergestort het.

In dié ramp het 288 mense gesterf. Sulke voorvalle lei tot die verbetering van sagteware en is uiters seldsaam.


Gevalle waar vlieëniers hul eie lewe neem, kom in hoogs uitsonderlike voorvalle voor.

In die laat 90’s is twee vliegrampe veroorsaak omdat die vlieënier homself om die lewe wou bring, en onlangs was daar weer sulke beweerde gevalle.

Vlieëniers van handelsvliegtuie word gereeld gemonitor, sê Linden. Hulle doen elke ses maande of jaarliks ’n toets na gelang van hul ouderdom. As hulle bo 40 is, sal dit waarskynlik elke ses maande gedoen word.

“Dis lugrederye se verantwoordelikheid om hul vlieëniers vir geestesgesondheid te toets. Daar is nou ’n hele debat oor hoe lugdienste die vlieënier se emosionele welsyn kan monitor om seker te maak hulle bring nie hul probleme van die huis af werk toe nie.”

Hoe moontlik is ’n terreuraanval?

Ná die 9/11-terreuraanval in Amerika het dit moeiliker geword om ’n vliegtuig te kaap, sê Guy.

Jy kry nie maklik toegang tot die kajuit nie, en passasiers word glad nie meer daar toegelaat nie. Die vlugkajuit se deur maak boonop net van binne oop. Daarby is sekuriteit op lughawens ál beter.

Dit skakel egter nie kapings uit nie.

Twee passasiers aan boord van vlug MH370 het met gesteelde paspoorte gereis.

Die Verenigde Nasies het ’n beroep gedoen op lughawens om beter paspoortbeheer toe te pas.

“Te veel lughawens gaan nie op Interpol se stelsels na watter paspoorte gesteel is nie en dit veroorsaak dat mense daarmee deurglip,” vertel Guy.

Kon lugdruk so val dat almal bewusteloos raak?

Een teorie in die Air Malaysia-raaisel is dat die lugdruk so skielik gedaal het dat die passasiers en bemanning hul bewussyn kon verloor weens ’n tekort aan suurstof. As dit ’n skielike daling was, kan dit binne minute gebeur dat almal flou raak.

“Dit kan inderdaad gebeur,” meen Linden. As die outoverstelling aan is, sal die vliegtuig ure lank kon aanhou vlieg tot die brandstof op is en dit val.

“Daar was al vliegongelukke waarin passasiers en die bemanning hul bewussyn verloor het weens ’n toestand bekend as hipoksie.”

Dit ontstaan wanneer ’n lugdrukprobleem byvoorbeeld weens ’n foutiewe seël of klep ontstaan. Op moderne vlugte is daar heelwat sirenes en alarms wat afgaan as daar selfs ’n stadige verlies aan lugdruk sou wees, sê Guy.

Kan ouderdom ’n vliegtuig laat val?

Dis hoogs onwaarskynlik, sê Linden. ’n Vliegtuig word elke vier tot vyf jaar uitmekaargehaal,
en X-strale word geneem om onder meer vas te stel of daar roesskade is. Die instandhoudingstoets duur tot drie maande.

“Die Hollywood-akteur John Travolta se Boeing 747 is seker al by die 50 jaar oud en hy vlieg nog met sy gesin daarmee,” sê Guy.

“Dit is baie skaars dat roes in vliegtuie voorkom, al is hulle hoe oud.”

EKSTRA BRONNE: DIE BURGER, TECHNOLOGY.INQUIRER.NET, ABCNEWS.GO.COM, REUTERS, WASHINGTON POST, MIRROR.CO.UK, DAILYMAIL.CO.UK, BBC.CO.UK
Wat weet ons van MH370 vandag?

Op 3 Maart 2019 het Mahathir Mohamad, Maleisië se eerste minister, aangekondig dat die soektog na die vermiste vliegtuig sal voortgaan.

"Solank as wat daar hoop is, sal ons aanhou maniere vind waarop ons meer oor die vliegtuig se lot kan leer," het hy aan 9 News Australia gesê. Dié aankondiging het talle verras, want die amptelike soektog na die vliegtuig deur Maleisië, China en Australië is in 2017 vir eers gestaak.

Minder as 30 wrakstukke wat moontlik van die Boeing afkomstig is, is op strande by Reunion-eiland, Madagaskar en aan die kus van Afrika gevind. Net drie van die items is bevestig as komende van die verdwene vliegtuig. Die stukke word in 'n geheime kluis bewaar.

Die kaptein van MH370

Internasionale kenners glo die enigste logiese rede vir die verdwyning van vlug MH317 is dat dit deur die senior vlieënier, kapt. Zaharie Ahmed Shah, gekaap is.

Maar dié bewerings mag glo nie in Maleisie geopper word nie. In daardie land word Shah se veronderstelde onskuld as heiligskennis beskou.

Op 13 Februarie 2019 word dit bekend gemaak dat Shah op 2 Februarie 2014, 'n maand voor vlug MH370 se verdwyning, 'n 45-minuut lange telefoongesprek met iemand gevoer het 'n uur nadat die vlug opgestyg het. Dit was met sy neef, vliegtuigengineur Zulhaimi Bin Wahidin.

Beide manne het jare lank vir Malaysia Air gewerk. Wahidin ontken ten sterkste dat Shah die vliegtuig doelbewus sou laat neerstort het en dat hul lang gesprekke 'n roetine tussen hulle was.

Shah het glo gereeld kommentaar gelewer op die een van die tweelingmodelle Lan Qi HUi en Qi Min Lan (26) se Facebook-blad en na bewering ook meer as 90 kriewelrige aanlynboodskappe aan hulle gestuur.

Hy het ook die destydse eerste minister van Maleisië 'n "moroon" op sy Facebook-blad genoem.

Tegnologie

Die verdwyning van die vliegtuig het tot 'n nuwe benadering gelei waarvolgens vlugroetes gemonitor sal word in die toekoms. Die internasionale burgerlugvaartowerheid (ICAO) werk aan 'n prototipe waarvolgens die nasporing van vliegtuige deur 'n netwerk van sateliete vergemaklik sal word.

ICAO het ook bekendgemaak dat vliegtuie vanaf 2021 met tegnologie toegerus moet word waarmee hul posisie meer gereeld uitgesaai word (elke 15 minute) en elke minuut wanneer daar 'n noodtoestand voorkom.

Malaysia Air is een van die eerste rederye wat van Aireon se 66 sateliete gebruik gaan maak om hul vlugte te monitor.

Die huidige akoestiese onderwater-bakenopsporingstoerusting wat aan die vlugopnemer gekoppel is, se lewensduur moet ook verleng word. In hierdie stadium hou die batterye net 30 dae, maar dit is nie lank genoeg nie.

Bronne: aireon.com, aviationtribune.com, forbes.com, news.com.au, cnn.com,