Sy persoonlike lewe was kleurryk genoeg om tot ’n hele televisiereeks te lei. Noem dit, en die elemente vir sukses is daar: seks, glans, laster, meineed, vervalsing het tot die skandaal van die jaar in 2001 gelei.

In die Huisgenoot van 2 Augustus 2001 word die ander kant van die gladdebek-lord blootgelê nadat hy op 19 Julie daardie jaar skuldig bevind is aan meineed. Dit spruit voort uit ’n lastersaak in 1987 teen ’n poniekoerant wat oor Jeffrey se verhouding met prostitute gehandel het.

Huisgenoot, 2 Augustus 2001 — deur Andrew Burke

Koel, onverstoorbaar en onberispelik geklee sit sy dag ná dag langs haar man in die hof. Sy is die toonbeeld van alles wat die Engelse ’n ware dame noem.

Haar man dagvaar die Daily Star, ’n Britse poniekoerant, vir laster. Die Daily Star, verklaar hy, het sy reputasie besoedel deur te beweer hy kuier gereeld by prostitute.

Toe sy getuig, betower sy die regter.

Ek en my man, Jeffrey, het ’n gelukkige huwelik, verklaar sy met groot oortuiging onder eed.

Toe die regter die saak opsom, sê hy die jurie moet hulself afvra of dit moontlik is dat Jeffrey dit ooit eens sou oorweeg het om ’n prostituut te gebruik gegewe Mary se “geurigheid”, “elegansie” en “glans”.

Mary se amper bomenslike onverstoorbaarheid oortuig die jurie haar man is onskuldig aan alles waarvan die koerant hom beskuldig. Hulle bevind die Daily Star het Archer belaster en gelas die koerant om hom meer as R5 miljoen se skadevergoeding te betaal.

Jeffrey, met Mary aan sy sy, stap triomfantelik by die hoër hof uit.

Terug in die hof: 2001

Veertien jaar later is Mary (toe 56) en Jeffrey (toe 61) weer in die hof. Die voormalige ondervoorsitter van die Konserwatiewe Party en multimiljoenêr — hy is een van die gewildste skrywers op aarde en miljoene van sy boeke is al verkoop — is nou ’n lord: baron Archer van Weston-super-Mare. Sy is lady Archer.

Dié keer word hy aangekla van meineed en regsverydeling. Die staat beweer hy het in die 1987-lastersaak onder eed gelieg toe hy gesê het hy het nooit iets met die prostituur Monica Coghlan te doen gehad nie. Boonop het hy twee dagboeke vervals om homself ’n alibi te gee, word beweer.

Net soos in 1987 getuig Mary weer vir haar man.

Jeffrey, sê sy, het in 1986, die jaar waarin hy na bewering die dagboeke vervals het, ’n dagboek van A4-grootte op sy lessenaar gehou.

Skuldig

Maar Angela Peppiatt, Archer se gewese sekretaresse, getuig dit was ’n A5-dagboek. Sy het in opdrag van Jeffrey ’n nuwe dagboek gekry en dit vervals.

Dié keer glo die jurie Mary Archer nie. Hulle glo Angela Peppiatt.

Angela Peppiat en haar dogter Catharine by die hoër hof in Londen tydens Jeffrey Archer se verhoor. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Jeffrey Archer word skuldig bevind en kry vier jaar tronkstraf.

Mary kry skaars kans om tot siens te sê voor ’n bewaarder Jeffrey met die trap aflei na die selle. Die man wat eens met koninklikes en eerste ministers gemeng het, is nou gevangene nommer FF8282 van die Belmarsh-gevangenis.

Eers het dit gelyk asof Mary dalk nog saam met haar man in die tronk kon beland. Die regter het gewonder of haar getuienis oor die dagboek nie meineed was nie.

Maar Scotland Yard het laat weet hulle ondersoek nie klagte teen haar nie, en lady Archer kan nou rustig in een van hul luukse wonings op haar man se terugkeer wag. Hy sal minstens twee jaar van sy straf moet uitdien voor parool oorweeg word.

Hoekom wag Mary vir Jeffrey?

Dit laat die Britte nou wonder hoekom die lady hoegenaamd nog vir die skurk wag. Hoe kan sy hom ná 35 jaar van getroude lewe nog verdedig ná al die vernedering en skandes wat sy danksy hom moes beleef?

En moenie ’n fout maak nie, hy het genoeg sondes op sy kerfstok om 10 vroue na die skeihof te dryf. Hy was nie met net een prostituut deurmekaar nie; daar was talle.

Ted Francis, die vriend wat vir Jeffrey se ondergang verantwoordelik was omdat hy nie langer kon stilbly oor die leuens van 1987 nie, vertel onder meer van ’n nag toe Jeffrey in Lagos ’n Nigeriese prostituut deur ’n kamervenster laat vlug het sodat vriende by wie hy gebly het, nie op haar sou afkom nie.

Die minnaresse

Benewens sy liefde vir prostitute was daar ook Jeffrey se minstens vyf minnaresse.

Sally Farmiloe

Met die aktrise Sally Farmiloe (toe 52), gebore in Kaapstad, het hy drie jaar lank ’n verhouding gehad. In dié tyd wou die seksbehepte edelman glad een keer onder ’n tafel in die Britse hoërhuis met haar intiem verkeer, vertel sy. Net die feit dat daar te veel mense in die omtrek was, het hom gekeer.

Nikki Kingdon

Nikki (toe 51), ’n getroude ma van twee, is in Februarie vanjaar afgeneem waar sy hand aan hand met hom op Noordhoek in die Kaapse Skiereiland stap. Jeffrey het Nikki onder meer beloof hy sou vir haar ’n woonstel in dieselfde blok as syne in Londen koop.

Vir albei vroue het Jeffrey vertel hy het 13 jaar laas seks met sy vrou gehad.

Andrina Colquhoun

Ook bekend as Andy, was sy jare lank sy minnares. Sy het openlik by hom in sy woonstel in Londen gebly wanneer Mary in hul huis op die platteland was.

Eenkeer het sy selfs ’n nuwe matras bestel van Heal’s, een van die deftigste meubileerders in Londen. En daarvoor geteken toe dit afgelewer word, want sy sou dit meer as Mary gebruik, het sy gesê!

Jo Haesen

In die 1980's het Jeffrey ’n verhouding met Jo gehad. Sy het baie van sy manuskripte getik.

Sarah Symonds

Die laaste minnares van wie ons gehoor het, is Sarah Symonds, ’n 31-jarige skakelbeampte. Daardie verhouding het ’n jaar lank gehou.

Sy verklap hoe Jeffrey in ’n telefoononderhoud met ’n radiostasie vertel het hoe ’n wonderlike vrou Mary is terwyl sy wat Sarah is, nakend langs hom in die bed gelê het.

Daar was ook talle ander kortstondige verhoudings. Mary moes daarvan geweet het, maar tog het dit haar nie van haar man weggedryf nie.

Waarom nie?

Angie Peppiatt beweer dis omdat Mary nie in die minste gepla is daaroor nie. Mary het dan al openlik erken, op daardie omslagtige manier waarop Britte dinge kan stel, “streng seksuele getrouheid is glad nie so hoog op die skaal van belangrikheid van dinge in ’n objektiewe sin nie”.

Michael Crick, Jeffrey se biograaf, beweer ware vriendskap is die band tussen Jeffrey en Mary. En ook dat Mary van die begin geweet het ’n lewe saam met Jeffrey sal stormagtig wees, maar dat dit haar roem, belangrike vriende, status en ’n gerieflike leefstyl besorg.

Danksy Jeffrey is sy ’n lady. Sonder hom sou niemand eens van haar geweet het nie.

Maar daar is ’n ander baie goeie rede – geld. Uit dankbaarheid omdat sy in 1987 by hom gestaan het, het Jeffrey onderneem om voortaan alle geld wat hy in Brittanje uit die verkoop van sy boeke verdien, aan haar te skenk. Dis ’n aardige R11 miljoen per jaar.

Britse koerante skat die Archers se rykdom op sowat R660 miljoen. En dit neem steeds toe, al sit hy nou in die tronk. Sy volgende boek, Serendipity, is klaar geskryf en hy sal waarskynlik nog ’n boek plus ’n versameling kortverhale voltooi terwyl hy agter tralies sit.

Ongetwyfeld sal hy ook sy tydjie in die tronk inspan as agteragrond en inspirasie vir ’n latere boek of twee.

Vir Mary sal die geld dus bly inrol.

Trouens, sy het reeds koerante en tydskrifte gevra of hulle nie belang stel om al die geheimee van haar lewe met Jeffrey te hoor nie. Hulle kan dit kry — vir R2,75 miljoen.

Twee soos hulle verdien mekaar . . .

Jeffrey Archer (78) —deur Annelene Oberholzer (saamgestel)

Hy was in 1999 die Konserwatiewe Party se kandidaat om die eerste verkose burgermeester van Londen te word. Toe word sy politieke ambisies deur sy leuens gepootjie. Hy was 29 jaar oud toe hy tot parlementslid verkies is.

Dit sou nie die eerste keer wees nie. In Oktober 1986 bedank hy uit die politiek nadat gerugte opgeduik het dat hy ’n prostituut destyds £2 000 vir seks sou betaal het.

Sy vriend, die fliekvervaardiger Ted Francis, het ná ’n uitval met hom die nuus van sy aand met Monica in September 1986 aan die poniekoerant News of the World uitgelap.

Monica Coghlan

Monica het in April 2001 in ’n motorongeluk gesterf toe ’n dwelmverslaafde onder die invloed van verskeie dwelmmiddels in ’n gesteelde Jaguar teen haar motor gebots het. Sy het op 27 April, ’n week voor haar 50ste verjaardag, aan kopbeserings beswyk. Gary Day (toe 32) is op 6 Julie 2001 lewenslange gevangenisstraf opgelê.

Monica Coghlan in haar slaapkamer, Januarie 1987. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Verkeerde teiken?

In 1999 word ’n gewilde BBC-televisieaanbieder, Jill Dando, vermoor. Samesweringsteorieë begin die ronde doen dat sy “verkeerdelik” doodgeskiet is en dat Jeffrey Archer moontlik vir Angela as ’n potensiële getuie teen hom wou “elimineer”. Jill en Angela het in dieselfde straat gewoon en toevallig dieselfde tipe motor gery. Mary het destyds die gerugte as belaglik afgemaak.

Barry George is weens die moord in hegtenis geneem, maar hy is agt jaar later vrygespreek. Tot vandag toe is die eintlike moordenaar nog nie opgespoor nie. 'n Sluipmoordenaar het in Februarie 2017 gesê hy weet wie dit is, maar uit vrees vir sy eie lewe sal hy nie die naam bekend maak nie.

Beroemdheid gekelder deur affair

Sally Farmiloe sal ongelukkig meer vir haar “oudisies” sedert 1996 met Jeffrey onthou word as vir haar fliekrolle. Sy het op 28 Julie 2014 aan kanker gesterf.

Vind die foto's

Andrina Colquhoun het glo foto’s van Mary oral in Jeffrey se dakwoonstel in Londen weggesteek en die personeel gedwing om daarna te soek voor Mary tuiskom. Volgens Angela het Jeffrey minstens ses of sewe ander meisies in die dakwoonstel onthaal sonder dat Andrina daarvan bewus was.

Andrina Colquhoun was ook bevriend met lord Lucan, die man wat in 1974 onder raaiselagtige omstandighede verdwyn het na die moord op sy kinderoppasser. Foto: Gallo Images/Getty Images.

'Wonderseun'

Nikki Kingdon was getroud met ’n bekende plastiese chirurg toe sy en Jeffrey in 1996 meer as net telefoonnommers uitgeruil het. Sy was glo baie lief vir die man wat as WB op haar selfoon geberg is. En "WB" het glo vir Wonder Boy gestaan . . .

'Professionele ander vrou'

Sarah Symonds was nie net betrokke by Jeffrey nie. In 2011 kom sy met die hele sak patats na vore omdat sy glo keelvol was om “die ander vrou” te wees. Ná Jeffrey het sy in Desember 2008 bekendgemaak dat sy en die vuurvreter-sjef Gordon Ramsey sewe jaar lank in ’n verhouding was. Gordon het dit ontken.

Jeffrey, die skrywer

Wêreldwyd het reeds meer as 330 miljoen van sy boeke verkoop nadat sy eerste pennevrug, Not a Penny More, Not a Penny Less, in 1975 die lig gesien het.

Hy was 34 toe hy die boek skryf om op ’n manier geld te maak sodat hy sy skuldeisers kon terugbetaal. Jeffrey het ’n hewige finansiële verlies gely nadat hy in Aquablast, ’n Kanadese maatskappy, belê het. Hulle het bankrot gespeel en drie direkteure is weens bedrog toegesluit.

Hy en Mary, nou dame Mary Archer, is steeds getroud.

Bronne: dailymail.co.uk, bbc.co.uk, jeffreyarcher.co.uk, theguardian.com, irishtimes.com, independent.ie, telegraph.co.uk