Wat die volgende agt en ’n half jaar in haar lewe gevolg het, is 3 096 dae van absolute hel, mishandeling, afsondering en fisieke aftakeling. Dié gruweldade het hoofsaaklik plaasgevind in ’n kelderverdieping van 2 m x 3 m wat spesiaal deur haar ontvoerder, Wolfgang Priklopil, gebou is in die huis wat hy geërf het.

Huisgenoot kyk terug na die opspraakwekkende wending nadat Natascha uit die kloue van haar ontvoerder ontsnap het. 

Twee boeke, ’n fliek en geld wat ingerol het; tog bly Natascha steeds ’n gevangene van die ontvoering wat haar lewe 21 jaar gelede onherroeplik verander het.

Vrye gevangene - deur David Jones (Huisgenoot 8 Maart 2007)

Dit lyk of die horlosie ophou tik het in dié slaapkamer. Dis gevul met boeke en speelgoed van ’n vorige tyd. Niks verklap dis ’n tiener se kamer nie. 

Voor sy ontvoer is, was dit die kamer van die 18-jarige Natascha Kampusch en nou is dit die enigste plek waar sy veilig voel.

Ses maande nadat sy ontsnap het uit die kelderkamer in ’n voorstedelike huis buite Wene waar Wolfgang Priklopil haar agt jaar lank aangehou het, het dié onaangeraakte slaapkamer in haar ouerhuis die Oostenrykse meisie se toevlugsoord geword.

Sy kruip in haar kamer weg, eet aanhoudend en sukkel om sosiaal te verkeer nadat sy agt jaar aangehou is.

Dis waar sy van die afgryslike ervarings uit haar verlede probeer wegkruip en veg teen haar vrese, eetsteurnisse en skynbare onvermoë om die buitewêreld te hanteer.

Die wêreld se bekendste ontvoeringslagoffer is ’n multimiljoenêr danksy al die geld wat die media haar vir haar storie betaal het. Sy het onlangs ’n ruim dakwoonstel in ’n gesogte deel van die Oostenrykse hoofstad begin huur.

Enige gewone, onafhanklike Weense meisie sou haar dié spogplek met sy groot balkon, asemrowende uitsig en moderne vertrekke beny.

Maar Natascha is geen gewone meisie nadat Wolfgang haar amper ’n dekade lank gevange gehou het nie. (Hy het ná haar ontsnapping sy eie lewe geneem deur voor ’n trein in te spring.)

En al doen sy en haar helpers hul bes om die wêreld van die teendeel te oortuig, is sy nie naastenby onafhanklik nie.

Al probeer sy meer tyd in haar nuwe blyplek deurbring, gaan sy nog dikwels terug na die voorstedelike woonstelgebou waar sy voor die ontvoering grootgeword het.

Pleks van aan ’n blink toekoms te bou, het sy ’n kind-vrou geword wat van haar puberteitsjare beroof is en amper geen vriende het nie.

Natascha se voorkoms het die afgelope vyf maande ook drasties verander, en nie ten goede nie. Sy het half verhonger uit haar ondergrondse sel te voorskyn gekom en toe heel begryplik lekker geëet, ook om emosionele redes.

In die proses het sy gewig aangesit.

‘‘As ons haar nie keer nie, sou sy net aanhou eet,’’ sê haar pa, Ludwig Koch.

‘‘Ons moet haar stop, want sy sit gewig aan. Sy is baie selfbewus oor haar figuur en kyk gedurig in die spieël.’’

Die taamlik oudmodiese klere wat sy kies – wit broekpakke en bonkige knooptruie – en haar lang, outydse haarstyl help ook nie. Dit laat haar soos ’n middeljarige Oostenrykse huisvrou lyk.

Tog is sy pynlik onvolwasse.

Op 18 moes sy eintlik nou met universiteitstudie begin het, maar omdat sy agt jaar van skool misgeloop het, moet sy met die staat se leerplan vir 10- tot 14-jariges begin.

Spesiale onderwysers van Wene se departement psigososiale dienste onderrig haar alleen in ’n privaat vertrek.

Dié onderwysers – tesame met die span prokureurs, maatskaplike werkers en publisiteitsmense wat haar amper eenstryk deur verpes – is omtrent die enigste mense met wie sy in aanraking kom.

Sy is bang om uit te gaan en voel net in toe ruimtes op haar gemak. Wanneer sy wel uitgaan, lyk dit selde of sy dit geniet.

‘‘Ek het nou die dag na ’n plek gegaan en die mense het nie die moed gehad om met my te praat nie,’’ vertel sy.

Sy klink meer soos ’n 10-jarige meisie as ’n jong vrou.

‘‘Dié wat saam met my aan tafel gesit het, het almal grappe gemaak en gelag. Maar niemand het met my geskerts of gelag nie. Mense tree altyd terughoudend op of sluit my uit.’’

Sy besef blykbaar nie jong mense van haar eie ouderdom voel dalk bang om uit te vra oor haar donker, geheime verlede nie.

Sy het ook ander probleme.

Die dokters sê haar immuunstelstel is gevaarlik swak omdat sy in die agt jaar saam met Wolfgang net aan sy kieme blootgestel is.

Haar tande het verrot omdat sy geen tandsorg ontvang het terwyl sy by hom was nie. Sy kan nie lang rukke in skerp sonlig verduur nie en is pal moeg omdat sy snags skaars vier uur slaap.

Nog ’n aspek van haar lewe wat kommer wek, is hoeveel mense uit haar probeer geld maak.

‘‘Natascha is nou vir baie mense ’n bedryf,’’ sê haar pa.

‘‘Sy moet van hulle ontslae raak en oor haar eie sake beheer oorneem. Dit sou beter gewees het as sy alleen gelaat is saam met haar familie.’’

Ludwig Koch, Natascha se pa. Foto: YouTube-skermgr
Ludwig Koch, Natascha se pa. Foto: YouTube-skermgreep (Douglas Gritton)

Asof sy nie genoeg probleme het nie, word sy onder sieklike briewe toegegooi en is daar selfs ’n bekruiper op haar spoor. Hy het haar ma se selfoonnommer in die hande gekry en bestook haar met oproepe en SMS’e vir Natascha.

Hy het waarskuwings geïgnoreer en word nou deur ’n hofsaak in die gesig gestaar.

Natascha se ‘‘mediaman’’, ene Stefan Bachleitner, het haar situasie in ’n positiewe lig probeer stel deur vir die publiek te sê sy beoefen tai tji om haar koördinasie te verbeter en ledemate te versterk wat deur agt jaar in ’n beknopte sel verswak is.

Sy wil ook ’n liefdadigheidsorganisasie stig om vroue en kinders te help wat in Sentraal-Amerika verdwyn het.

Maar volgens die mense na aan haar is Natascha in geen toestand om ’n wêreld-ambassadeur vir die een of ander goeie saak te word nie.

In ’n onlangse Oostenrykse dokumentêre TV-program kan duidelik gesien word hoe sy sukkel om normaal op te tree. Toe haar ma haar ’n liefderike soentjie gee, het haar gesig vertrek asof sy nie so ’n spontane gebaar van liefde begryp nie.

Van die mense wat die program gesien het, sê sy het soms soos ’n ‘‘bedorwe, baasspelerige klein juffer’’ voorgekom wat bevele aan haar ma blaf en haar pa se rokery kritiseer.

Dan is daar die onbeantwoorde vrae. Is sy seksueel misbruik? Is sy gemartel?

Haar pa, by wie sy soms naweke kuier, sê hy weet vandag nog nie wat in daardie kelderkamer met Natascha gebeur het nie.

‘‘Stadig, bietjie vir bietjie, vertel sy vir ons klein besonderhede, maar dis asof sy bang is sy ontstel ons met wat sy onthul,’’ sê hy.

Maar ek en sy (Wolfgang se) ma moet daarmee worstel en saamleef. En miskien hou dit nooit op nie.

‘‘Ek is nie seker of sy my ooit alles sal vertel nie. Dit hang van haar af. As pa wil ek natuurlik uitvind, maar dis soms beter om nie alles te weet nie.’’

In die dokumentêr praat Natascha kortliks oor haar foltering: ‘‘Mense wat ’n kort rukkie daarmee te doen kry – die polisie, regters, die publiek – sal dit heel gou vergeet. Vir hulle is dit net ’n saak, ’n anonieme storie.

‘‘Maar ek en sy (Wolfgang se) ma moet daarmee worstel en saamleef. En miskien hou dit nooit op nie.’’

Natascha se ouers het deur ’n bitter egskeiding gegaan voor sy op 10-jarige ouderdom op straat ontvoer is. Tydens die ondersoek ná haar verdwyning het hulle mekaar daarvan verdink dat die ander een by die ontvoering betrokke was.

Weke ná haar ontsnapping was daar nog bitterheid in die lug. Maar een van die min positiewe gevolge van die verhaal is dat hulle hul verskille opsygeskuif het.

‘‘Ons het dit om Natascha se onthalwe gedoen,’’ sê haar pa.

Op Kersdag het hy, sy eksvrou en 15 familielede van albei kante saam met Natascha om die tafel vergader. Voorheen sou dit ondenkbaar gewees het.

‘‘Dit was haar eerste Kersfees van vryheid sedert 1997 en almal het gehuil,’’ sê hy.

‘‘Almal behalwe Natascha.

‘‘Sy sê sy vind dit eienaardig dat almal oor haar huil en sy stort nooit ’n traan nie. Is dit nie vreemd nie?’’

Vreemd voorwaar – en dalk ’n bewys dat die skade wat die kil Wolfgang Priklopil aangerig het, veel dieper lê as wat enige buitestander ooit kan vermoed.

© DAVID JONES/DAILY MAIL/SOLO SYNDICATION
So het Natascha se lewe verloop

Priklopil het haar sy slaaf genoem. Sy moes hom as "heer" of "meester" aanspreek.

  • Volgens haar is sy ná twee jaar van aanhouding soos iets "vuil en verwerplik" behandel. Hy sou haar op haar maermerries skop of slaan wanneer sy verby hom loop. Dan was daar die geringer seksuele aanrandings as deel van haar daaglikse bestaan.
  • Sy was 14 toe sy huiswerk vir hom moes doen. En sy is geslaan as haar handewerk nie na wense was nie.
  • "Hy het dit gehaat wanneer pyn my laat huil. Dan sou hy my kop onderwater in die opwasbak druk en wurg wanneer ek snik."
  • 'n Jaar later het sy meer as 200 keer per week onder sy vuiste deurgeloop.
  • Hy het kos van haar weggehou en haar hare afgeskeer as 'n tegniek om haar onder sy beheer te hou.

Volgens een van sy vriende, Ernst Holzapfel, wou Priklopil 'n "onaangeraakte maagd" hê om te kompenseer vir sy krom neus en slegte geluk met vroue.

"Hy was van jongs af ongelukkig omdat geen meisie ooit op hom verlief geraak het nie. Hy was onseker oor sy voorkoms, veral sy krom neus, en het selfs plastiese chirurgie oorweeg om dit reg te maak.

Op die ou end het hy die geld wat so ’n operasie hom uit die sak sou jaag, gebruik om die kelderverdieping in sy huis te bou," het Holzapfel glo in verklarings aan die polisie beweer.

Wolfgang Priklopil. Foto: YouTube-skermgreep (Doug
Wolfgang Priklopil. Foto: YouTube-skermgreep (Douglas Gritton)

Op 23 Augustus 2006 het Natascha ontvlug toe Priklopil se aandag glo deur sy selfoon afgelei is en sy besig was om die huis te stofsuig. Om 12:58 het sy die hek oopgemaak en na vryheid gevlug.

Dieselfde aand het Priklopil onder die treinwiele beland. ’n Ondersoek is later van stapel gestuur om seker te maak hy het vrywillig voor die trein ingespring en of hy dalk vermoor is. Maar hy is veras voor daar 'n deeglike outopsie op hom uitgevoer kon word.

Natascha het by die Weense lykshuis gaan afskeid neem haar ontvoerder om op haar manier die man wat agt jaar van haar lewe gesteel het, te groet.

Dietmar Ecker, 'n mediakonsultant, het die mediahisterie ná haar ontsnapping analiseer en hy het geglo dit was belangrik vir Natascha om op televisie te verskyn.

"Almal wil haar sien, almal wil weet hoe sy lyk. Die paparazzi sal haar soos Lady Diana jag," het hy gesê.

In daardie stadium was daar reeds digitale foto's van die tiener in die omgang wat met selfone geneem is. Astronomiese bedrae is genoem om die foto's te bekom en van dit kon vir tot $17 777 verkoop word. 

Natascha se ma, Brigitta Sirny-Kampusch, het haar hand aan pen en papier gewaag en 'n boek Zonder Natascha in 2007 uitgegee.

Brigitta Sirny-Kampusch, Natascha se ma. Foto: You
Brigitta Sirny-Kampusch, Natascha se ma. Foto: YouTube-skermgreep (Douglas Gritton)

Daarvolgens was Natascha se eerste woorde aan haar ná haar ontsnapping "hy het my nie misbruik nie". Vir Brigitta sou dit ook voorlopig die laaste woorde uit haar dogter se mond aan haar wees voor sy deur 'n "horde advokate, sielkundiges en maatskaplike werkers weggeskerm is".

Dit was ook die jaar dat beskuldigings begin rondvlieg het. Brigitta (toe 56) is daarvan verdink dat sy die ontvoering van haar dogter georkestreer het. Regter Martin Wabl het in die hof gesê Brigitta het bitter min belangstelling in haar dogter se verdwyning getoon. Hy self was by die soektog na die tiener betrokke.

Hy het ook beweer Natascha is seksueel misbruik deur haar ma se "vriende" ná 'n onderhoud met Brigitta se twee ouer dogters, Claudia en Sabine. Volgens een van die susters het Natascha gereeld haar bed natgemaak en 10 kg aangesit.

Walb het ook aangevoer Priklopil is ses maande voor Natascha se ontvoering in 'n kruidenierswarewinkel waar Brigitta gewerk het, gewaar. Hy was glo saam met Brigitta se kêrel en was ingeroep om elektriese bedrading in die winkel uit te sorteer.

In 2008 het Natascha in die hof ontken dat Wabl se bewerings van enige waarheid ontdaan is en dat sy nooit misbruik is nie.

In 2013 voer haar pa, Ludwig, aan dat Priklopil nie alles op sy eentjie gedoen het nie. Hy beweer Ernst en Priklopil was groot vriende en het mekaar onderskeidelik Woody en Wolfi genoem.

Ludwig het alle besonderhede hieroor in sy boek Missing vervat wat hy saamgestel het uit 57 000 polisiedokumente wat uitgelek is aan sy regspan.

In 2016 het Natascha steeds 'n foto van Priklopil elke dag by haar gedra. Sy oornag glo ook gereeld gedurende die week in die huis waar sy aangehou en later deur die hof aan haar toegeken is. Die kelder is wel opgevul.

In 2017 het haar boek 10 Years Of Freedom verskyn en daarin vertel Natascha oor die diep trauma, hoe sy as die "keldermeisie" en "seksslaaf" beskryf word en wat haar planne vir die toekoms is.

Dit is ook die 10de jaar wat verbygesleep het nadat Madeleine McCann, oftewel Maddie soos sy in die vrye omgang bekend staan, in Praia da Luz in Portugal verdwyn het.

Natascha glo Maddie was te jonk toe sy ontvoer is om haar ware identiteit te onthou en dit mag dit moeiliker maak om haar te kry. Sy het ook vir Gerry en Kate McCann driftig aangemoedig om nie moed op te gee in hul soektog na Maddie nie.

"Asseblief, staan sterk en moet self nooit opgee nie. Ek hoop Madeleine keer terug," het sy tydens 'n onderhoud met Good Morning Brittain gesê.

Op die Find Maddie Facebook-blad het die McCann-gesin geskryf: "Tien jaar. Daar is geen maklike manier om dit te sê, te beskryf of te aanvaar nie. Shawn Hornbeck was ontvoer en meer as vier jaar lank weggesteek. Natascha Kampusch meer as agt jaar lank. Ek kan nie eers daaraan dink nie. En nou is ons hier . . . Madeleine, ons Madeleine – 10 jaar."


Is die laaste hoofstuk geskryf?
  • Is haar pa reg met die inligting wat uit polisiedossiere kom?
  • Is Priklopil dalk vermoor voor hy kop na onder op die treinspoor geplaas is?
  • Het hy, of sy vriend Holzapfel (wat hom laaste gesien het) sy selfdoodbriefie geskryf?
  • Was Priklopil deel van 'n uitgebreide pedofielnetwerk?
    Holzapfel het geweet Natascha is die ontvoerde meisie, maar hoekom het hy haar meer as ’n honderd keer gebel ná Priklopil se dood?
  • Beskerm Natascha dalk iemand anders of 'n groep mense?


Bronne: theguardian.com, natascha-kampusch.at, spiegel.de, news.com.au, thetelegraph.co.uk, dailymail.co.uk, independent.ie