Pik Botha het op 27 April vanjaar sy 86ste verjaardag gevier. As minister van buitelandse sake was hy nooit op sy mond geval nie, maar min mense weet hy het in sy jong dae ook kortverhale geskryf, waarvan ’n hele klomp in Huisgenoot verskyn het. 

Gebore as Roelof Frederik Botha in Rustenburg in die Noordwes-provinsie, maar wêreldwyd staan hy bekend as Pik, afgelei van 'n bynaam wat 'n verpleegster hom toegedig het toe nog 'n klein babatjie was.

"Sy het gehelp om my in die wêreld te bring. En sy het 'n paar dae later vir my 'n wit-en-swart-pakkie aangetrek en toe lyk ek glo soos 'n pikkewyn. Ten spyte van al my pogings om dit uitgeroei te kry, het ek net nooit daarin geslaag nie," het hy op sy 80ste verjaardag aan Jan-Jan Joubert vertel.

Donderdag, 27 September vanjaar, is die nuus in die sosiale media gedeel: Voormalige minister van buitelandse sake, Pik Botha, is siek en in die Unitas-hospitaal in Pretoria opgeneem. Sy familie wou nie meer besonderhede bekend maak nie. Sy vrou, Ina, het aan RSG gesê hy was wel die afgelope tyd ongesteld.

Maar Vrydag 12 Oktober het die nuus gebreek: Pik Botha is op 86 oorlede. Sy seun dr. Roelof Botha het aan Monitor en Spektrum gesê sy organe het vermoedelik ingegee. 


'n Meester van die woord - deur Hennie van Deventer (Huisgenoot, 27 April 2017)

Skryf jong mense nog liefdesbriewe vir mekaar? Ons generasie het. Maar ’n liefdesbrief van 90 foliovelle was selfs in ons era van pen en papier hoogs uitsonderlik.

In die borskas van ’n man wat vir sy nooi so ’n brief geskryf het, en ’n pak minnegedigte op die koop toe, het ’n romantiese, passievolle hart geklop.

Een skrywer van so ’n brief was die jong Tukkie-student Pikkewyn (Pik) Botha – in die vroeë 1950’s ’n “woelige, gewilde student, intervarsity-sangleier; wat in vakansies sakgeld verdien het as kelner op die treine”, in die woorde van sy skoonsuster, wyle prof. Elize Botha.

Die student en die diplomaat

Die ontvanger van die brief, opgemaak in ’n netjiese pakkie, was Helena Bosman, ’n Matie-student. Sy het in 1953 mev. Helena Botha geword terwyl haar man as kadetdiplomaat in die departement van buitelandse sake begin werk het.

Hulle was 43 jaar getroud toe sy op 29 April 1996 oorlede is.

Haar oë het geskitter toe ons in Maart 1978 in die ministersbuurt Bryntirion, Pretoria, vir my rubriek Onder Vier Oë in die dagblad Beeld gesels oor haar vurige eggenoot, wat kort tevore minister van buitelandse sake geword het.

Die diep spore wat die legendariese minister in sy loopbaan getrap het, is geskiedenis.

Hy was beroepsdiplomaat, ambassadeur en langs dienende minister van buitelandse sake ter wêreld, wie se plek in die geskiedenis onder meer oopgekerf is deur sy deurslaggewende rol as dryfveer in die proses wat tot Namibië se onafhanklikheid gelei het.

Min mense kan soos hy daarop aanspraak maak dat sy biografie,  bronnelys, eindnotas en register ingesluit, amper 1 000 bladsye beslaan; ’n ware magnum opus waarvoor die geskiedenis sy biograaf, Theresa Papenfus, volgens een resensent “ ’n guns verskuldig is”.

Ná daardie laatsomermiddag in die gesellige studeerkamer van hul groot wit ampswoning in die boomryke Bryntirion moes baie van dié geskiedenis nog geskryf word.

My gesprek met die sprankelende Helena was meer oor die mens Pik, die man wat sy liefhet: die terggees met die aansteeklike humorsin, die geesdriftige veerpyltjiespeler, die musiekliefhebber, die romantikus, die harde werker.

Die Pik met die klein hartjie wat homself amper verongeluk om ’n verkleurmannetjie te red; wat in die middel van die nag sou opstaan om hom na die sterfbed van ’n mindere amptenaar te haas; die een wat die gesin soggens lewenslustig wakker sing met: “Opstaan, opstaan, dis ’n lieflike dag.”

Geld was bra skraps

Oor hom – haar Pik – het sy met onverbloemde trots haar hart oopgemaak.

Ons het begin by die begin: by die studenteromanse wat tot ’n huwelik uitgeblom het.

Daarna lank stilgestaan by die dae as jong getroudes in Pretoria terwyl Pik ’n loopbaan begin bou het onderwyl hy buitemuurs vir die graad LL.B. studeer. Geld was bra skraps.

’n Woonstelletjie op die grondvlak van Victory Court in Kerkstraat was hul eerste woonplek, net enkele blokke van die Uniegebou, waar hy gewerk het.

Op die klein stoep, met diefwering toegemaak, het hy vir hom ’n studeer-en-werkplek ingerig. Sy “lessenaar” is sommer uit kissies en kasplanke opgetower. Daar het sy vir hom tikwerk gedoen.

Laataand, wanneer hy sien sy raak moeg, het hy die gewoonte gehad om vir haar ’n vleiende persoonlike boodskap boaan haar tikwerk te skryf. Iets soos: “Jy lyk vir my so mooi agter ’n tikmasjien.”

Tikwerk soos?

Briewe en so aan, het Helena geantwoord.

Die plakboek vol verrassings

“Maar wag.” Toe gaan haal sy ’n plakboek uit ’n donker eikehoutkas.

Binne-in is ’n onbekende literêre skat: haar eiesoortige man se eiesoortige kortverhale. Oor dié sy van Pik kon jy hierdie koerantman met ’n veertjie omtik.

Dit blyk by die deurblaai dat 21 kortverhale uit sy pen in Die Huisgenoot en die destydse Die Byvoegsel (gewilde naweekbylae van Nasionale Pers se dagblaaie) verskyn het – gemiddeld amper een per maand. Vir die Perskor-publikasie Avontuur en Liefde het hy vier bydraes gelewer en vir die koerant Die Nataller een.

Net een Pik Botha-storie het nie verskyn verskyn nie.

In die plakboek is verskeie briewe van verhaleredakteurs. Hulle pleit vir meer stories van die talentvolle jong skrywer.

Op 14 Julie 1955 skryf W.A. Boonzaaier van Die Huisgenoot byvoorbeeld namens die redakteur: “Hoekom was u so lank stil? Ons betaal deesdae beter vir goeie kortverhale en hoop om somaar binnekort weer van u te hoor.”

Net een Pik Botha-storie het nie verskyn verskyn nie – sy heel eerste. Daarin het hy die Russiese leier Josef Stalin ’n hartoorplanting laat ondergaan. Dit was in 1954.

Eers 13 jaar later, in 1967, het daardie verbeeldingsvlug werklikheid geword toe prof. Chris Barnard in die Groote Schuur-hospitaal, Kaapstad, die sterwende Louis Washkansky se siek, ou hart uitslag en met die springlewendige hart van ’n jong ongelukslagoffer, Denise Darvall, vervang.

“Darem te fantasties en onwerklik, ” was Die Byvoegsel se oordeel oor die verhaal Die Waarde van ’n Hart. As troos is darem bygevoeg: “U het ’n lekker styl . . . kan net ’n bietjie meer ter sake wees.”

Wonder wat die redakteur se kommentaar ná die hartoorplanting in 1967 sou gewees het. Of hy toe nog met ons was, dit weet ek nie.

Die kadetdiplomaat los toe maar die wetenskapsfiksie en wend sy “lekker styl” aan vir smeulende liefdesverhale, oorlogstories en moordrillers, almal uit te ken aan sy kort, kragtige verteltrant en die verrassende kinkels.

Pik hou nie van happy of onrealistiese eindes nie, het Helena opgemerk.

Pik se pennevrugte in Huisgenoot

“ ’n Bietjie O. Henry-rig” – met verwysing na daardie meesterlike kortverhaalskrywer se “grimmig-humoristiese manipulasie van die toeval”, om by prof. Elize Botha ’n uitdrukking te leen.

Een verhaal wat treurig eindig, is La Golondrina (Die Byvoegsel, 9 Oktober 1954) oor ’n terugkerende soldaat wie se gedagtes deur daardie mooi lied teruggevoer word na sy ontmoeting met ’n Italiaanse sangeres, Sideritta Pella, wat kort daarna in ’n bomaanval sterf.

Die verhaal wat die skrywer self, volgens Helena, uit ’n taaloogpunt as sy beste beskou het, is Oorsaak en Gevolg (Die Huisgenoot, 5 Maart 1956).

Dit is die storie van ’n prokureur wat boemelaar word nadat sy jong vrou met haar baas ’n verhouding aangeknoop het.

Sy langste storie, Loftus Versfeld en Daarna (Die Huisgenoot, 14 November 1955), is ’n speurverhaal oor ’n Tukkie-dosent se betrokkenheid by ’n sinistere uraanprojek en die dood van ’n knap jong student wat daarby ingesleep word.

Iemand wat in die verhaal sterf, is Madelein Hechter, ’n pragtige studentenooi en vriendin van die skurk, wat die speurder uitlok tot hy op haar verlief raak.

’n Romantiese oomblik tussen haar en die speurder word soos volg beskryf: “Sy het op my skouer geleun. Haar liggaam was warm tussen my hande, en ek het verlore gevoel toe ek in haar oë die sterre sien wat nog altyd vir my onbereikbare spikkels was, ver teen die donker, vreemde ewigheid van die nag, en toe was haar lippe voor my, vol diep geheimenisse, soos ’n verre see wat al die leemtes in my lewe, al die verlange vir ewig sou stilmaak.”

Vintage Pik Botha . . .

W.A. Boonzaaier van Die Huisgenoot skryf daaroor terug: “As dit ’n kortverhaal was, sou ons u die maandelikse prys daarvoor toegeken het. Maar ons las die vyf pond maar by die gewone betaling vir die verhaal. Ook nie om dowe neute nie . . . dit besit alles wat goed is.”

Van geld gepraat: In twee verhale verwys die aspirantdiplomaat half-skertsend na die inkomste van ’n staatsamptenaar.

In Geld Is Rond (Die Huisgenoot, 24 September 1954) skryf hy: “As staatsamptenaar (en getroud ook nog daarby) moes ek my ontspanning en plesier altyd baie sorgvuldig kies om te kon pas by die fooitjie wat ek elke maand van die staat ontvang het as erkenning van my dienste.”

Ek is die middag na Bryntirion vir my rubriek. Ek is daar weg met ’n voorbladstorie op die koop toe. Die gedugte min. Pik Botha se skrywery in sy jong dae was vir baie mense nuus.

In 1997 het ’n boek met sy kortverhale by J.L. van Schaik verskyn. Die titel was kort en kragtig: Kortverhale. Waarskynlik het die tantième daaruit darem sy vorige “fooitjies” ietwat aangevul.

Hennie van Deventer

Hennie is oudredakteur van Volksblad en voormalige uitvoerende hoof van Naspers se koerantegroep. Die uittreksel kom uit ’n manuskrip met geleentheidstukke wat hy ná sy aftrede in 1998 geskryf het.

Hennie van Deventer, die skrywer van die artikel, en Pik, toe minister van buitelandse sake, op ’n geselligheid in 1989.
'Ek sou meer stories wou geskryf het' - deur Hilda van Dyk (Huisgenoot, 27 April 2017)

Hy is oor niks spyt nie. En niks gee hom slapelose nagte nie. Tog is daar een ding wat oudmin. Pik Botha bang maak. Ná byna 85 jaar op die aarde “weet ek nog nie wie ek is nie. Ek het myself nog nie ontdek nie.”

Ondanks hierdie vrees is hy rustig. Hy geniet nog sy boeke en skilderye en om na Mozart en Beethoven te luister. Hy gesels graag oor die politiek en sy kommer oor klimaatsverandering.

Al vier hy op 27 April 2017 sy 85ste verjaardag, is hy nog nie te oud vir nog ’n eerste ervaring in die lewe nie – om sy eie digbundel vas te hou. Sy debuutbundel, wat nog ’n titel moet kry, sal hopelik later vanjaar verskyn.

Toe Pik in sy jong dae kadet in die diplomatieke diens was, het hy talle verhale vir tydskrifte – ook vir Die Huisgenoot – geskryf. Toe hy daarna begin werk, het hy ál minder tyd daarvoor gehad.

Maar hy het nooit ophou gedigte skryf nie. En hy het ’n romantiese man gebly.

Wanneer hy tussen ons gesels deur sy tweede vrou, Ina (65), nader roep, noem hy haar “darlingtjie”.

By sy 'darlingtjie', sy tweede vrou, Ina, ’n gewese SAUK-joernalis.

Waar hy op die stoep van sy huis in Akasia in die noorde van Pretoria sit, na die bome kyk en die voëls dophou, is daar niks wat Pik hinder nie, behalwe die “vervlakste motorkargeluide wat ek hoor”.

Hy moes eintlik al ’n paar keer dood gewees het, vertel hy.

As kind het hy byna op Parys in die Vrystaat verdrink. Hy het ook by die dood omgedraai toe hy in sy jeugjare breinvliesontsteking kry.

En dit was so amper of hy was ’n passasier op die Pan Am-vlug tussen Londen en New York wat in Desember 1988 ná ’n bomontploffing aan boord op Lockerbie in Skotland neergestort het. Al 259 insittendes is in dié lugramp dood.

“Ek moes op daardie vliegtuig gewees het,” onthou Pik.

“Maar om die een of ander rede het ek op ’n vroeër vlug geklim. Ek leef nou in geleende tyd wat ek nooit verdien het nie. Ek is diep dankbaar oor elke dag wat ek leef, want vir my is elke dag ’n geskenk.”


Op sy 85ste verjaardag sal sy grootste geskenk wees om dit op hierdie selfde stoep saam met sy vier kinders, agt kleinkinders en sewe agterkleinkinders te vier.

“My kinders, kleinkinders en agterkleinkinders moet my die geleentheid gee om hulle te bedank dat hulle bestaan. Want ek dank die Here dat hulle bestaan omdat ek bestaan.

Pik (middel) saam met sy kinders (van links) die ekonoom dr. Roelof Botha, die fotograaf Lien Smith, die kunstenaar Ann Hertzog en die sanger Piet Botha.

“My gebed is dat geen van hulle ooit moet wens dat ek nie moes bestaan het nie.

“As dit nie vir die liefde van vriende en familie was nie, het ek verval in vereensaming wat die dood aantreklik sou gemaak het,” erken Pik.

Hy verwoord sy gevoelens met die gemak van ’n digter en skrywer. Hy skryf al sedert hy in sy 20’s was.

“Ek het net hierdie behoefte gehad om iets in woorde aan die leser oor te dra wat ’n mens as diepsinnig beskou,” verduidelik hy.

Wat is sy wenresep vir ’n kortverhaal?

Jy moet jou leser se aandag in die eerste paar reëls vasgryp sodat hy nie wil ophou lees nie, jy moet sy nuuskierigheid prikkel en jou einde moet so wees dat ’n mens dit nooit sou verwag nie, antwoord hy.

“Daar is soveel onverklaarbare dinge in die lewe. Ons moet net ons lesers daaraan laat dink.”

Hy bly ’n oomblik stil. Dan sê hy: “As ek nou terugkyk, sou ek graag meer stories wou geskryf het.” 

'Ek sou meer stories wou geskryf het,' vertel Pik aan Huisgenoot-joernalis Hilda van Dyk.
Oorsaak en gevolg — deur Pik Botha

Dié kortverhaal deur Pik Botha oor ’n prokureur wat ’n boemelaar word nadat sy vrou hom verlaat het, het op 5 Maart 1956 in Die Huisgenoot verskyn.

Dié kortverhaal deur Pik Botha oor ’n prokureur wat ’n boemelaar word nadat sy vrou hom verlaat het, het op 5 Maart 1956 in Die Huisgenoot verskyn.

Hy het in die park onder ’n boom gelê. Op sy sy, met sy vuil hoed skuins oor sy oor, soos ’n stroois se vervalle dak. Sy hare was vaal, soos droë kakiebos, maar sag soos vlas wat in wind en son verweer het.

Eers teen sononder se kant kom daar lewe in hom. Dis die brandkol op sy maag wat hom wakker gemaak het. Hy sal weer iets moet eet. As die pyn kom, moet hy iets eet om dit te verdryf.

Hy het nog ’n stuk brood oor. Hy haal die bondel vuil koerantpapier uit sy rugsak en begin dit oopvou.

Dan sien hy die foto. Dis met vetkolle besmeer. Hy vou die flenterkoerant verder oop, stryk met sy growwe duim die kreukels weg. Hy kan nou die onderskrif lees: “Dr. en mev. Derek Kohler van Pretoria vertrek eersdaags op ’n uitgebreide oorsese vakansiereis na
die Vasteland.”

Droeë brood en 'n ou koerant

Die foto toon die Kohlers op ’n onthaal wat hulle by geleentheid van hul silwerbruilof aan hul huis in Waterpoort gegee het. Kabinetslede, diplomatieke verteenwoordigers en ander hooggeplaastes het die feesviering bygewoon.

Die brood was al halfdroog. Hy moes dit liewer in vaalpapier toegedraai het. Koerantpapier is nie so dig nie. Die brood smaak soos kleierige modder in sy mond. Hy kan dit nie afsluk nie.

Hy sien weer die foto. Haar hare word al grys. Vyf-en-twintig jaar is ’n lang tyd. Sy was destyds 24. Hulle was drie jaar getroud . . .

Die hoë sipresbome is ’n kerker om hom. Hoë mure wat hom inperk en dwing om in die kleinlikheid van sy walglike bestaan in te kruip.

Hy gaan lê op sy rug en kyk na die grys wasigheid van die lug. Dan is die heelal weer rondom hom. Hy is tussen die niks, deel van niks. Sy denke warrel in verwardheid.

Eindelik sal net die dood oorbly. Die dood. Al rede waarom die lewe nog die moeite werd is, is dat hy sal kan doodgaan.

Hy het nooit kon dink dat dit al 25 jaar is nie. Hy het die jare nie getel nie. ’n Mens meet net die tyd as jy iets verwag.

Die brood koek nog in sy keel. Hy moet dit inkry, want die pyn sal erger word. Hy sukkel op en gaan drink water by ’n kraan. Eers wil hy sy hande met die stuk koerant afvee, maar dan sien hy weer die foto.

Hy skeur dit uit en steek dit in sy flentersak. Sy was tog eenmaal sy vrou, al was dit 25 jaar gelede. Sy het haar silwerbruilof gevier. Sy en Derek Kohler.

Hy wil ook iets gaan vier.

Sopies laat die jare verdwyn

Hy het nog sewe-en-ses van die 10 sjielings wat die predikant hom gegee het. In die Melody sal hy vir sewe-en-ses lekker kan kuier, ter viering van ’n geleentheid soos dié.

Die derde wyn het sy maag stilgemaak. Sy brein helderder. Naderhand het ou Porrelwater en Kokkelol hom gehaak. Die jare het minder geword soos die sopies vermeerder het.

Dit was ’n groot bruilof. Haar ouers was gesiene mense. ’n Groot dag. Hy het pas sy graad in die regte gekry en sou by Jansen en Van den Berg in Johannesburg begin.

Dit was een van die bekendste prokureursfirmas in die stad. Sy beginsalaris sou nie watwonders wees nie, maar Hilda sou aanhou werk as tikster by ’n maatskappy, en sy het ’n vet salaris gekry. Daarmee sou hulle kon deurkom totdat hy sy prokureurseksamens agter die rug het.

Die lewe was voor hulle. Alles was so seker soos ’n breë rivier wat in die see moet vloei. Ongelukkig is die grootste watervalle ook op plekke waar riviere breed is.

Dit was drie goeie jare . . .

“Nog ’n sjerrie, ou pel!”

Porrelwater gee vanaand niks om hoeveel hy op sy vriende bestee nie. Ja, dit was goeie jare. Maar alles het vergly in die 25 jaar. Op die foto is daar niks meer oor nie.

Hy vat sy glasie en gaan sit eenkant by die windskewe ou tafeltjie in die hoek. Hy kyk weer na die foto. Dis die vrou wat eenmaal saam met hom geleef en geslaap het.

Nou voel dit vreemd, onwerklik.

'Die duiwel'

Derek Kohler se gesig lyk soos die duiwel s’n langs hare. Miskien is hy die duiwel.

Hy onthou nog hoe die dominee by hul katkisasie gesê het dat die duiwel soms in menslike gedaante voorkom. Dan is die opskrif in die koerant eintlik verkeerd: Dit moes “Dr. en mev. Duiwel” gewees het.

Dit pas goed. Hulle het ’n hel gestig en nou brand hy daarin; en miskien sal hy in die dood nog verder moet brand omdat die duiwel sy vrou gevat het. Hier op aarde moes hy twee jaar tronk toe daarvoor.

Sy was ’n goeie tikster. Totdat Derek Kohler met ’n doktorsgraad van Amerika af teruggekom en besturende direkteur van die maatskappy geword het.

Hy was al amper klaar met sy eksamens en Hilda het nie veel langer nodig gehad om te help verdien nie. Maar hy was tog bly toe Kohler haar ’n verhoging van £10 per maand gee. Die man het bepaald haar talente waardeer.

Alles het so onskuldig gelyk.

Die begin van die einde

En toe het daardie konferensie in Bloemfontein plaasgevind. Hilda het hom met trane in haar oë kom vertel van die arme ou tikstertjie wat haar verlof sou moes kanselleer omdat dr. Kohler gesê het sy sal moet saamgaan om die notule van die konferensie te gaan tik.

“En haar moeder lê op sterwe,” het Hilda haar treurmare afgesluit.

Hy het voorgestel dat Hilda dan maar moet inwillig om in haar plek te gaan.

Dit was ’n fyn set! Hilda het eers geweier. Maar dit was deel van haar spel. Later het sy toegestem toe hy daarop begin aandring. Min het hy geweet dat dit die begin van die einde sou wees!

Toe Hilda ná twee weke terug was, was sy nie meer sy vrou nie. Hy het dit geweet die oomblik toe sy hom soen. Sy het eers ’n week later beken dat sy hom nie meer liefhet nie. Hulle is geskei.

Hy het ’n toekoms gehad. Nou het hy nie eens ’n verlede nie.

Kohler het vir die hele besigheid betaal. Nie lank daarna nie is hy en Hilda getroud.

Dis nou 25 jaar gelede.

Porrelwater se gebrul laat hom opskrik.

“Ek sjê, ou pel, djy daa’ doer, wa’s dan nou de mêrrie met die sjees? Kom weg uit die satanshoek en kom vat sjees? Hier’s nog sjerrie.”

Die kroegkoor het in sy ore gefluit. Selfs Porrelwater het heeltemal normaal gelyk. ’n Gentleman. Maar iets het verkeerd gegaan met sy feesviering. Een deel van sy herinnering was dronk en een deel nugter.

Hy was nooit dié soort nie. Hy het ’n toekoms gehad. Nou het hy nie eens ’n verlede nie.

Hy het hulle nooit genoeg gehaat nie. Selfs nou haat hy hulle nie genoeg nie, omdat hy homself die meeste haat. Hy was op universiteit. Hy het ’n graad.

Porrelwater is ’n dronklap en ’n rondloper, en as hy nugter is, is hy ’n vark. Kokkelol se ma was ’n straatvrou. Dis nie sy klas nie. Sy ouers was mense met beginsels. Hy kon parlementslid gewees het.

Binne-in hom brand dit erger. Die pyn dring deur sy brein. Hy sluk dit weg.

Miskien, as Kohler nie daardie aand so astrant was nie, sou dit anders gewees het. Maar die twee jaar in die tronk . . .

Hy het daardie nag te bitter gevoel. Die egskeidingsaak was net verby toe Kohler by sy woonstel opdaag en Hilda se goed kom haal. Hy het alles gevat, ook die ring en oorbelle wat hy die vorige Kersfees vir haar gekoop het.

Dit was te veel. Die regter kon nie verstaan dat ’n man onder sulke omstandighede sy humeur so kon verloor dat hy ’n ander man bewusteloos slaan en dan nog aanhou slaan nie.

Twee jaar moes Bob daaroor gaan nadink tussen mense soos Porrelwater en Kokkelol. Jy word nooit weer dieselfde nie. Jy probeer, maar jy kom altyd terug, soos ’n hond na die vullisblik waar hy eenmaal ’n stukkie oorskietkos gekry het.

Porrelwater skreeu in sy oor dat hy liewer moet loop lê en vrek soos ’n brandsiek hond as hy nie saam wil jol nie. Miskien is hy reg. Hy is nie deel van die fuif nie, nie vanaand nie. Of dalk is hulle nie deel van sy fuif nie.

Buite laat die vars lug hom steier. Sy maag brand soos vuur. Hy moet by die park uitkom. Sy bene is styf en moeg, weier om hom reguit te dra.

Die standbeeld

Stringe motors jaag op en af in die straat. Die ligte verblind hom. Hy wil oorkant kom, in die park, by Louis Botha se standbeeld.

Miskien verbeel hy hom dat die motors so vinnig ry. Hulle mag nie in die stad vinnig ry nie. Hy onthou dat hy jare gelede toe hy self ’n motor besit het, dikwels spoedboetes moes betaal as hy vinniger as 30 myl per uur gery het.

Hy strompel oor die straat. ’n Groot, luukse motor se bande skreeu op die teer soos die bestuurder die rem trap om hom mis te ry. Die motor swaai regs uit en bots van voor teen ’n aankomende motor.

Hy hoor nie die slag nie en voel verlig toe die verkeer aan albei kante van die straat met ’n helse lawaai van skurende bande en toeters tot stilstand kom.

Nou kan hy veilig oorstap.

In die park gaan lê hy op die gras in die donker skaduwee wat die standbeeld gooi. Hy maak sy oë oop. Dit lyk asof die standbeeld op hom gaan val. Hy maak sy oë toe.

Die pyn kruip op in sy bene, oor sy knieë tot by sy maag. Al die pyn spoel daar saam soos die reën in ’n plaasdam. Miljoene vrese pak hom beet. Die pyn is al in sy kop. Agter sy oë druk dit soos warm, lopende lood, druk die sterre voor sy oë dood.

Derek Kohler dans voor hom met ’n vlymskerp stert en ’n drietandvurk, gereed om hom te braai tot as. Hy hoor ’n ambulans se driftige sirene. Dan verdof sy denke. Die pyn word minder. ’n Magtige iets het hom beet en voer hom weg, verder en verder . . .

’n Ster verskiet – ’n blink boog. ’n Wens is vervul.

Die man wat die gras in die park sny, wonder al die hele oggend wanneer die boemelaar wat langs die standbeeld lê, gaan opstaan. Met die volgende baan wat hy moet sny, gaan die kêrel se skoene in die pad wees.

Hy stop duime duskant die verslete skoensole. Hy rol die man om. Sy oë is star en oop en dood. Hy hardloop na die opsigter. Die opsigter kom kyk.

Die man is dood, sê hy. Hy is al styf.

Hy wonder of dit nie die vent is wat gisteraand voor die Melody-kroeg roekeloos oor die straat gewaggel en die ongeluk veroorsaak het waaroor al die koerante vandag berig nie.

Almal soek sy bloed, want ’n bekende sakeman en sy vrou, dr. en mev. Derek Kohler, is op slag dood toe hul voertuig uitswaai vir ’n man wat uit die kroeg gekom het en nog nie opgespoor kon word nie.


Kortverhale is in 1997 deur J.L. van Schaik uitgegee. Foto: bidorbuy.co.za

Hierdie kortverhaal is ook opgeneem in ’n bundel getiteld Kortverhale deur Pik Botha, uitgegee deur J.L. van Schaik, 1997.

FOTO'S: DANA SNYMAN, GALLO IMAGES/FOTO24/LISA HNATOWICZ, GALLO IMAGES/FOTO24/HERMAN VERWEY, GALLO IMAGES/GETTY IMAGES, MAGAZINE FEATURES, VERSKAF