Het die tiener besef hoe ingrypend haar lewe binne een dag sou verander in 'n nagmerrie van beskuldigings, verwyte en die verlies aan 'n normale tienerlewe toe sy in 1977 saam met Roman Polanski in 'n motor klim?

In haar opspraakwekkende boek, The Girl: A Life in The Shadow of Roman Polanski, vertel sy openhartig oor die verkragting en hoe sy vir hom "nee" gesê het. 

Met die tsoenami van #MeToo-slagoffers wat van 2017 geweldige momentum gekry het vanweë beskuldigings teen die fliekvervaardiger Harvey Weinstein, het Samantha se naam weer oral begin opduik. Sy word deur talle beskou as die eerste #MeToo-slagoffer wie se stem in die openbaar gehoor is. 

Maar Polanski se reaksie op die beweging sal jou hare laat orent staan.

Hy beskryf dit as "kollektiewe histerie oor iets wat soms in die gemeenskap plaasvind" en het diegene wat deel van die beweging vorm, vergelyk met die soort openbare rou in Noord-Korea wanneer leiers sterf. Almal gaan histeries aan die huil want "jy kan nie help om te lag nie".

Nou het nog vier vroue na vore gekom wat beweer hulle is ook as jong meisie deur Polanski verkrag. Hoe lank gaan hy nog lag? 

My verkragter, my bondgenoot — deur Rhys Blakely (Huisgenoot, 10 Oktober 2013)

Op die voorblad van haar memoires is ’n foto van Samantha Geimer (toe nog Gailey) op 13. ’n Goue hartjie hang aan ’n ketting om haar nek. Sy het die ronde wange van ’n kind en ’n veraf kyk in die oë. Sy lyk, soos sy self sê, “aangenaam maar doodgewoon”.

Polanski het dié foto in 1977 geneem. Die regisseur, toe 44 en ’n bekende in Hollywood, het vir Samantha se ma gesê Vogue Parys het hom gevra om jong Amerikaanse meisies vir ’n tydskrifartikel te soek.

Net ’n paar minute nadat die foto geneem is, het hy haar oorreed om bostukloos te poseer. Maar daarvan het sy haar ma niks vertel nie. “As ek het, sou my hele lewe anders gewees het,” sê Samantha (nou 50) in ’n hotelsuite in Las Vegas.

Ek wou dit nie doen nie; daarom was dit verkragting.

Drie weke later, nadat hy haar sjampanje en deel van ’n slaappil laat drink het, het hy nog foto’s van haar geneem en haar verkrag. Verlede maand  het die New York Times Samantha – betreurenswaardig – as “min of meer ’n gewillige deelnemer” beskryf.

Sy vertel ’n ander storie.

“Ek was 13; dus was dit statutêre verkragting. Ek wou dit nie doen nie; daarom was dit verkragting. Dit was verkragting op elke manier wat jy dit kan definieer. Ek het nee gesê.”

In 1978 het Polanski die wêreld se beroemdste voortvlugtige geword. Hy het uit Amerika na Europa gevlug om tronkstraf van tot 50 jaar te ontduik. Die saak het ’n donker Hollywood-verhaal van seks, roem, misdaad en straf geword.

Deur die jare is uiterste menings oor hom gehuldig.

Polanski is ’n pedofiel en as glansmens bo die wet verhewe. Of hy is ’n genie met probleme, uitgelewer aan ’n wispelturige en wrede regstelsel.

En die meisie?

“Ek is óf die patetiese slagoffer óf die jokkende klein slet,” sê Samantha.

Eintlik was dit ingewikkelder, en is dit steeds. Vir die eerste keer vertel Samantha nou die volle verhaal van haar verhouding met Polanski. Die afgelope paar jaar stuur hulle vir mekaar e-posse.

In een het Polanski, nou ’n pa van twee, gesê hy is bekommerd oor ’n gerug dat die woord “verkragting” in die titel van die Franse weergawe van haar boek voorkom. Sy het hom gerusgestel.


Vandag beskou Samantha die man wat haar misbruik het as ’n soort bondgenoot.

“Mense is steeds op ons spoor; ons word albei steeds onregverdig behandel,” sê sy.

“Dit maak sin om in dieselfde span te wees.”

'Nie 'n slagoffer nie'

Ons ontmoet mekaar in ’n luukse hotelsuite en Samantha lyk ’n bietjie oorweldig deur alles.

Toe ek daar aankom, neem die fotograaf haar nog af en ek gesels met haar man, Dave, ’n skrynwerker. Hy vertel hulle het twee dekades in Hawaii gewoon. Hulle het eiendom bestuur en hy het as ’n tuinargitek gewerk. Nadat hy verlede jaar afgelê is, het hulle Nevada toe getrek.

Dis Samantha se eerste onderhoud in jare. Sy is senuagtig, maar merkwaardig beheers. Sy wil nie as ’n slagoffer uitgebeeld word nie.

Mense raak gewoond daaraan dat niemand nee sê nie.

Houdings oor seks met minderjariges was anders in die 70’s, sê sy. Dink maar aan Jodie Foster, wat as ’n 12-jarige prostituut in Taxi Driver verskyn het, en Woody Allen, wat in Manhattan met ’n skoolmeisie uitgaan.

Soon Yi en Woody Allen. Hy was haar stiefpa toe hulle in 'n verhouding betrokke geraak het. Foto: Gallo Images/Getty Images.
Jodie (toe 12) en Robert de Niro op die filmstel van Taxi Driver. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Polanski was bevoorreg en gelief en het gemaak soos baie mense met daardie mag gemaak het.

“Mense raak gewoond daaraan dat niemand nee sê nie. Ek dink dis waar hy in daardie stadium was.”

Destyds in 1977 het die meisie op die foto feitlik niks geweet van die man wat haar lewe vir goed sou verander nie.

Samantha het grootgeword in York, Pennsilvanië. Sy was ’n rabbedoe met rotte as troeteldiere, en sy was dol oor Spider-Man-strokiesprente.

Sy het nooit haar biologiese pa geken nie. Haar ma, Susan, het in advertensies en af en toe TV-reekse gespeel. Sy het vir haar dogter haar eerste modelwerk (’n advertensie vir deurmatte) gekry toe sy 10 was.

Teen 1977 het hulle Kalifornië toe getrek waar Susan ’n verhouding met die aspirantakteur Bob Nesbitt aangeknoop het. Hy het advertensies vir die tydskrif Marijuana Monthly verkoop om die pot aan die kook te hou.

'n Mens kan jou voorstel hoe opgewonde hulle was toe hul pad met dié van Polanski kruis. Hy het rolprente gemaak wat die 1960’s vasgevang het: Knife in the Water, Repulsion, Cul-de-sac.

In 1968 is hy met die Amerikaanse aktrise Sharon Tate getroud en het hy die trefferriller Rosemary’s Baby gemaak.

Hy het die wêreld aan sy voete gehad.

Roman Polanski en sy vrou, Sharon Tate, by die première van Cul-de-Sac in 1966. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Toe tref ’n riller hom in die regte lewe: Dissipels van Charles Manson se “familie” vermoor die hoogswanger Sharon in 1969. Hulle het by haar huis in Los Angeles ingebreek terwyl Polanski in Londen was.

Die woord “vark” is met haar bloed op die voordeur geskryf.

'Ek wou nie naïef lyk nie'

Merkwaardig genoeg het Polanski deurgedruk. In 1974 het hy die fliek Chinatown gemaak, ’n verhaal oor die verderf in Los Angeles. Dit is vir 11 Oscars benoem. Drie jaar later het hy op Samantha se voorstoep opgedaag.

’n Voormalige kêrel van haar ouer suster het hom aan die gesin voorgestel.

“Ek het geweet hy is belangrik,” sê Samantha. “Ek het geweet hy het baie invloed; as hy my gaan afneem, sal dit ’n groot ding wees.”

Polanski het Samantha op 20 Februarie 1977 by haar huis kom haal vir wat hy gesê het ’n proeflopie voor die kamera sou wees.

“My ma het voorgestel dat sy saamkom. Daar was ’n lang stilte. Nee, het Polanski gesê, haar teenwoordigheid kan my ongemaklik laat voel en dan sal ek nie voor die kamera kan ontspan nie.”

Dit was ’n warm agtermiddag. Hulle het ’n kort entjie by ’n voetheuwel opgestap, tot in die ruigte bo haar huis in die San Fernando-vallei. Toe Polanski haar vra om kaalbors te poseer, het sy gevoel sy “moet opgewasse wees vir die uitdaging”.

Roman se riskante foto van Samantha (toe 13). Hy het haar enkele weke daarna verkrag. Foto: Argief.

Drie weke later het hy weer sy opwagting by haar huis gemaak. Hy het haar na die aktrise Jacqueline Bisset se huis geneem. Hulle het ’n paar foto’s geneem; dit was “oulik, vroulik, dalk net effens gewaag”.

Toe neem hy haar na die akteur Jack Nicholson se huis in Mullholland-rylaan in Los Angeles. Op pad daarheen het hy gevra of sy al seks gehad het. Sy het ja gesê. Maar sy het gejok oor hoeveel keer en gesê dit was twee keer, al het sy net een keer by ’n voormalige kêrel geslaap.

“Ek wou nie naïef lyk nie.”

Vonkelwyn en 'n pil . . .

Nadat die huishoudster hulle binnegelaat het, het Polanski ’n bottel Cristal-sjampanje oopgemaak. Hy het vir Samantha ’n hele paar glase geskink. Hy het ook vir haar ’n Quaalude-pil gewys wat in drie stukkies gebreek was.

“Wil jy ’n stukkie hê?” het hy gevra.

Sy het nee gesê. Hy het weer gevra.

“En toe, ag, ek weet nie . . . hoe kon ek nee sê?”

Hulle is buitentoe en hy het gesê sy moet in die borrelbad klim. Hy het ’n paar foto’s geneem en toe gesê: “Jy moet jou broekie uittrek.”

Samantha het gedink aan haar heldin, Marilyn Monroe.

“Wat sou sy doen? Sy sou pragtig en vry in die borrels wees.”

Gedagtes het deur haar kop bly flits. Ná die pil en die alkohol was sy “smoordronk. Ek was nog klein, onthou.”
Polanski, ook nou kaal, het in die bad geklim.

Samantha het gejok en gesê sy ly aan asma en moet huis toe gaan om medisyne te kry. Pleks van haar huis toe neem, het Polanski haar binnetoe gevolg en haar in Jack se TV-kamer verkrag. Hy het gevra of Samantha die Pil gebruik en haar toe gesodomiseer, al het sy geprotesteer.

Polanski het later gesê hy was van ’n “sekere erotiese spanning” tussen hom en die jong tiener bewus. ’n Proefbeampte sou die verkragting as ’n “spontane” daad van “swak oordeel” bestempel; ’n tronkpsigiater het dit as “speelse wedersydse erotika” beskryf.

Samantha verskil van hulle.

“Ek het vir hom ‘nee’ gesê.”

'Dis ons geheim'

Op pad na haar huis het Polanski vir haar gesê: “Moenie jou ma vertel nie. Dit sal net ons geheim wees.”

By die huis het sy reguit na haar kamer gehardloop; hy het ’n zol saam met Bob en haar ma gerook. Toe Polanski vir hulle die kaalborsfoto’s van hul eerste fotosessie wys, het hulle hom gevra om te loop.

Daarna het hy Robert de Niro ontmoet om ’n rolprentprojek te bespreek.



Toe hy die volgende aand in hegtenis geneem is, het hy gevra of dit lank sou neem – moet hy sy planne vir aandete verander?

Toe hoor hy hy word deur ses aanklagte in die gesig gestaar, waaronder verleiding, sodomie en verkragting deur die gebruik van dwelms.

Vandag nog kom hy verstommend onverskillig daaroor voor. Nadat hy uit Amerika gevlug het, is hy in 1984 in ’n TV-dokumentêr oor sy verhouding met “jong meisies” gepols.

“Ek hou van jong vroue,” het Roman gesê. “Ek dink die meeste mans hou van hulle. Wat presies wil jy hê moet ek vir jou sê?”

In ’n onderhoud twee jaar ná die verkragting was hy nog astranter. “Regters wil jong meisies ****. Jurielede wil jong meisies ****. Almal wil jong meisies ****!”

In ’n onlangse onderhoud met Vanity Fair het Roman van homself as ’n slagoffer gepraat en is hy met ’n kamera om die nek afgeneem, wat hom nie juis berouvol laat lyk nie.

Dis selfs vreemder dat Samantha skynbaar nou aan sy kant is.

“Ons is albei gestraf. Ons wil albei met die lewe aangaan. Ons kan dalk albei as slagoffers beskou word,” sê sy.

Die 1970’s, sê sy weer, was ’n ander tyd.

'Toegeeflike' regter van die sterre

Maar bowenal, sê sy, om die skandaal volkome te verstaan, moet jy die regter, Laurence J. Rittenband, se rol daarin verstaan.

Rittenband, wat in 1993 dood is, het Cary Grant se vaderskapsaak, Elvis Presley se egskeiding en Marlon Brando se kindertoesigstryd hanteer.

Hy was ’n publisiteitsoeker wat graag met Hollywood-sterre bevriend geraak het. Hy was behep met sy beeld in die media en het sy hofsaal gechoreografeer soos ’n regisseur ’n rolprentstel.

Samantha voel sy het die hoofrol in sy grootste produksie vertolk.

Nadat hy eers volgehou het hy is onskuldig, het Polanski ingestem om skuld te beken op ’n minder ernstige aanklag: seks met ’n minderjarige met toestemming, ’n oortreding voorheen bekend as statutêre verkragting.

Hy het van besluit verander net toe sy prokureur die uitslae van ’n forensiese ondersoek na Samantha se broekie ontvang.

Een deel van die verslag is na die verdediging en ’n ander deel na die aanklaer gestuur. Die bevindings is vandag nog onbekend.

Rittenband het besluit voorwaardelike vrylating sou as te toegeeflik beskou word en het ’n ander, hoogs onwaarskynlike, oplossing bedink.

Polanski sou aangesê word om vir 90 dae tronk toe te gaan vir sielkundige waarneming, maar sou eers 90 dae grasie kry om die fliek klaar te maak waaraan hy toe gewerk het.

Wanneer die evaluering eindelik klaar was, sou dit ook die einde van die saak wees, het Rittenband Polanski se prokureur beloof. Op die regter se aandrang is die ooreenkoms geheim gehou.

Polanski was vry om te reis en hy het in Duitsland aan ’n fliek gaan werk. By ’n Oktoberfest-partytjie het hy dalk die grootste flater van sy lewe begaan: Hy is afgeneem met ’n sigaar en ’n groot beker bier, omring deur jong vroue.

Daardie een foto het alles verander.

’n Woedende Rittenband het Polanski aangesê om by die tronk in Kalifornië vir sy 90 dae lange evaluasie aan te meld. Ná net 42 dae is hy vrygelaat. Die media, reeds gegrief oor Polanski se eskapades in Duitsland, het te velde getrek: Ses weke vir die verkragting van ’n kind?

Verbreekte belofte, geheime en die laaste sitplek

Die regter het sy belofte verbreek om Polanski ná die evaluasie skotvry te laat gaan. Voorwaardelike vrylating is aanbeveel, maar pleks daarvan het Rittenband gesê hy sal die regisseur ’n onbepaalde vonnis oplê. Dit beteken hy kon tot 50 jaar agter tralies sit.

Weer is ’n geheime ooreenkoms aangegaan: In ruil vir die verdediging se samewerking het Rittenband beloof om sodra die saak minder aandag kry, Polanski se vonnis te verander na die tronkstraf wat hy reeds sou uitgedien het en om hom dan vry te laat.

Polanski moes ’n regter vertrou wat reeds nie sy woord gehou het nie.

Die aand voor hy gevonnis sou word, was net een sitplek oor op British Airways se middagvlug na Heathrow.

Polanski het die kaartjie gekoop. Selfs Roger Gunson, die aanklaer in die saak, het later gesê hy was nie verras dat hy “in daardie omstandighede” gevlug het nie. Samantha stem saam.

Vandag is sy oortuig dit wat op die verkragting gevolg het (die distriksprokureur se kantoor, die polisie, die hospitaal, die verslaggewers, die fotograwe, die eindelose oproepe, die geheimhouding, die vernedering), was baie erger as die aanval self.

Sy moes voor 23 vreemdelinge in ’n groot jurie getuig.

“As ek moes kies om weer die verkragting te beleef of (daardie getuienis), sou ek die verkragting kies,” sê sy.

Sy het al dikwels gewens haar ma het nooit die polisie gebel nie. Voor die saak die wêreld geboei het, was daar sang, dans, akrobatiese vertonings en gimnastiek, en sy het vir oudisies en op uitstappies gegaan.

Woede en vergifnis

“Die dag daarna het ons skaars ’n voet uit die huis gesit; ons het weggekruip. Dit het ons almal verander. Almal het so sleg gevoel. Ek was kwaad vir die wêreld.”

Haar lewe het gedreig om handuit te ruk. Sy het haar gesny.

“Nie genoeg om werklik skade aan te rig nie, net genoeg om seer te kry. Daardie stippeltjies bloed het my beter laat voel.”

Maar wat haar betref, het Polanski sy vonnis uitgedien: die 42 dae.

“Hy het skuld beken en tronk toe gegaan,” sê sy.

In die afgelope dekade het die saak bly kop uitsteek.

Toe Polanski in 2003 vir ’n Oscar vir die regie van die fliek The Pianist benoem is, het Samantha skok ontlok toe sy die beoordelaars vra om “die fliek en nie die man nie te beoordeel”.

Sy sê sy was “stilweg bly” toe hy wen.

“Op ’n manier was dit deel van my wêreld waar alles altyd sleg verloop. So ja, ek was gelukkig.”


In 2009 het die Switserse polisie Polanski op versoek van Steve Cooley, die distriksprokureur van Los Angeles, in hegtenis geneem. Dié was toe met ’n veldtog besig om prokureur-generaal van Kalifornië te word.

Polanski, wat in Frankryk woon, het jare lank openlik na Switserland gereis. Hy was 67 dae in ’n aanhoudingsentrum in Zürich en daarna ’n paar maande onder huisarres in Gstaad.

Samantha beskou Steve as nog ’n ambisieuse man wat haar lewe gekaap het vir sy eie gewin. Weer het die media haar lastig geval.

Toe Switserland weier om Polanski aan Amerika uit te lewer, het sy dit gevier.

Polanski het in 2009 vir Samantha ’n nota geskryf nadat hy Wanted and Desired, ’n dokumentêr oor sy lewe deur die rolprentmaker Marina Zenovich, gesien het.

Samantha het met haar saamgewerk. Hy het gesê hy is beïndruk met Samantha se "integriteit en intelligensie” en het bygevoeg: “Ek wil hê jy moet weet hoe jammer ek is oor hoe ek jou lewe geraak het.”

“Dit het niks vir my verander nie,” sê Samantha, “maar dit het my ma beter laat voel.”

Die 'goeie' slagoffer

Susan, nou 74, is omtrent beswadder toe die skandaal op die lappe kom. Wat op aarde het sy gedink toe sy haar dogter alleen by Polanski laat, ’n man wat bekend is vir sy voorliefde vir jong vroue, wat kort tevore met Nastassja Kinski (toe net 15) uitgegaan het? (Nastassja was 18 tydens die vervaardiging van Tess.)

Volgens Samantha is vroeg al druk op haar uitgeoefen om ’n “goeie slagoffer” te wees. As kind het sy ’n gesprek gehoor oor hoe jammer dit is dat daar geen fisieke besering aan haar was nie.

“As hy my net erger seergemaak het, sou alles beter gewees het.”

Later sê sy: “Die moeilikste ding vir my is om te sien dat my gesin pyn verduur. En dit lyk nie of dit weggaan nie, al sê ek ook vir hulle ek is oukei.”

Samantha Geimer in die hof, 9 Junie 2017. Foto: Gallo Images/Getty Images.

'As ek maar net . . . '

Maar haar kommerwekkendste woorde is toe sy terugdink aan 1977 en sê as sy net “ ’n bietjie slimmer was, kon ek dit in ’n ander rigting gestuur het. Ek weet dit het my verander: Ek was baie haatdraend en kwaad (ná die verkragting). Ek het niks verkeerds gedoen nie; waarom moes ek dan al hierdie aaklige dinge deurmaak?”

Sy bly ’n oomblik stil en sê dan: “Goed, ek het iets verkeerds gedoen: Ek was dom, om kaalbors te poseer, om te drink en die pil te drink. Ek weet nie wat ek gedink het nie . . .”

Wag ’n bietjie, sê ek, jy was net 13.

“Maar daar is ander 13-jariges en hulle het nie daardie dom dinge aangevang nie,” antwoord sy.

“Ek het geweet ek gedra my sleg; dis dwaas. Ek was nie so naïef nie. Ek het dadelik geweet ek moes beter geweet het. Ek kon my ma van daardie (eerste) kaalborsfoto’s vertel het. Ek weet nie hoekom ek dit nie gedoen het nie. Ek dink ek het gedink hy sou nie terugkom nie.”

Maar natuurlik het hy teruggekom. En dit was sy besluit, nie hare nie.  

The girl: A Life in The Shadow of Roman Polanski deur Samantha Geimer
Foto: Wikipedia (WP:NFCC#4)
  • Uitgegee deur Simon & Shuster.
  • Beskikbaar by amazon.com

Roman Polanski en Samantha Geimer in 2018 - Annelene Oberholzer (saamgestel)
  • Sy eerste vrou was Barbara Kwiatkowska-Lass, 'n Poolse aktrise. Hul huwelik het net drie jaar geduur (van 1959-1962).
  • Hy het in 1968 met Sharon Tate getrou, maar sy is in 1969 grusaam deur Charles Manson se volgelinge vermoor.
  • Polanski het in 1989 met die Franse aktrise Emmanuelle Seigner getroud. Sy is 33 jaar jonger as hy en hulle het twee kinders: Morgane (25) en Elvis Polanski (20).

Samantha Geimer (toe Gailey) het in 1988 'n siviele saak teen Polanski aanhangig gemaak. In 1993 het Polanski geskik en haar $500 000 betaal. Samantha, 'n ma van drie seuns, het in 2007 formeel aansoek gedoen by die Los Angeles-polisie om alle aanklagte teen Polanski te laat vaar.

Op 3 Mei vanjaar het die Academy of Motion Picture Arts and Sciences, die organisasie wat onder meer jaarliks die Oscars uitloof, besluit om Polanski (nou 85) se lidmaatskap (en terselfdertyd ook dié van Bill Cosby) te herroep. In hul besluit word verwys na sy skulderkenning en skuldigbevinding op die aanklag van onregmatige seks met 'n minderjarige in 1977.

Samantha (55) het dit as 'n wrede en lelike daad beskryf wat net een doel dien en dis om die skyn te handhaaf, want dit doen net mooi niks om die seksistiese kultuur van Hollywood vandag te verander nie.

Polanski se regsverteenwoordiger, Jan Olszewski, noem die besluit "die sielkundige mishandeling van 'n bejaarde mens".

Polanski het op sy beurt weer die organisasie gedagvaar omdat hulle hom nie die geleentheid gebied het om homself te verdedig nie.

Roman Polanski met sy regspan, Jerzy Stachowicz (links) en Jan Olszewski (regs) praat op 30 Oktober 2015 met die media in Krakow, Pole, nadat hy deur Renate Langer van verkragting aangekla is. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Maar nog vier vroue het na vore gekom wat beweer die einste "bejaarde" mens, wat in Augustus vanjaar 85 geword het, het hulle as jong meisies verkrag.

Vier vroue

Renate Langer (62)

Renate is 'n gewese model en aktrise van Duitsland. Sy beweer sy was 15 jaar oud toe Polanski haar in 1972 verskeie kere in Gstaad, Switserland, verkrag het. In daardie stadium het sy 'n klein rolletjie (as die kaal meisie met 'n hoed) in Polanski se fliek What? vertolk.

Sy was destyds te skaam en ook te verleë om haar ouers te vertel uit vrees dat haar ma 'n hartaanval sou kry. Maar sedert haar ouers die afgelope twee jaar gesterf het, voel sy vrymoedig genoeg om daaroor te praat.

Charlotte Lewis (51)

Sy was 'n Britse model wat in 1986 deur People as Polanski se nuwe beskermling beskryf is. Sy het glo ook vanweë 'n oorweldigende gevoel van skaamte en vrees nie voorvalle van seksuele aanranding in 1983 deur Polanski aan die owerhede gerapporteer nie.

"Hy het my op die ergste moontlike manier misbruik toe ek net 16 jaar oud was," het sy aan CNN gesê. Volgens haar het dit in sy woonstel in Parys gebeur.

"Hy het my misbruik en ek moet elke dag met die nagevolg van sy gedrag saamleef."

Maar hoekom eers in 2010 daaroor praat?

Volgens haar het Polanski se regspan sy vorige oortreding teenoor 'n minderjarige as 'n geïsoleerde voorval probeer afmaak, en sy wou dit regstel.

Robin M

In Augustus 2017 het ene Robin M na vore gekom en beweer die befaamde regisseur het haar as kind aangerand. Sy het een van haar vriende daarvan vertel. Sy kon nie vir haar ouers vertel nie uit vrees dat haar pa iets sou aanvang wat hom vir die res van sy lewe in die tronk sou laat beland het. En vir haar bly die voorval steeds deel van haar lewe.

Marianne Barnard (53)

Die kunstenaar het in Oktober 2017 haar stem by die ander beweerde slagoffers gevoeg. Sy sê sy was net 10 jaar oud toe Polanski haar in 1975 gemolesteer het. Haar ma het haar vergesel na die strand waar sy haar versoek het om 'n pelsjas aan te trek sodat die man foto's van haar kan neem.

Marianne sê sy het moed geskep om na vore te kom ná die #MeToo-beweging wat deur Rose McGowan en verskeie ander aktrises geïnspireer is.

Dit sou juis Marianne gewees het wat die petisie begin het om Polanski se Academy-lidmaatskap op te skort.

"Dit is 'n geringe nasleep vir hom ná sy misdade en die groot hoeveelheid skade wat hy my en sy ander slagoffers berokken het."

© The Times magazine/newssyndication.com

Bykomende bronne: thedailybeast.com, rollingstone.com, theguardian.com, cnn.com, dailymail.co.uk