Dit het dekades lank gegons. Mense was hoofsaaklik in twee kampe verdeel: dié wat geglo het ’n dingo het klein Azaria uit die gesin se tent gesteel en dié wat geglo het haar ma was vir haar verdwyning verantwoordelik.

Maar 24 jaar later begin ’n man se gewete hom pla en hy bieg oor wat hy daardie aand gesien en gedoen het.

Huisgenoot, 22 Julie 2004 deur Frank Thorne/Daily Express

Die dood van baba Azaria Chamberlain het destyds ’n groot opskudding veroorsaak en haar ma is skuldig bevind aan moord. Nou het ’n ou man se storie die wêreld opnuut geskok. Hy het ’n onskuldige ma in die tronk laat sit — omdat hy jare lank geswyg het.

Net mooi 24 jaar ná een van die raaiselagtigste verhale wat nog uit die Australiese agterveld gekom het, het ’n man nou na vore getree met ’n bisarre nuwe bewering: Dit was toe die dingo.

Hy weet, want hy het hom gesien.

Die onverklaarbare verdwyning van die tien weke oue baba Azaria Chamberlain destyds uit ’n kampeerterrein by Uluru, voorheen bekend as Ayers Rock, het die wêreld maande lank aan die praat gehou.

Was dit moord — of het ’n dingo dit inderdaad gedoen?

'Die baba in die dingo se kake'

Lindy Chamberlain, ma van Azaria, het volgehou ’n dingo het haar dogter uit hul tent weggedra, maar ’n Australiese hof het anders bevind en haar tronk toe gestuur vir moord op haar baba.

En nou, meer as twee dekades later, sê die 78-jarige Frank Cole dit was beslis die dingo. Hy weet waarvan hy praat, sê hy, want hy het die dier doodgeskiet met die baba nog in sy kake vasgeklem.

Dié afgetrede vragmotorbestuurder leef al so lank met sy geheim saam omdat hy die drie vriende wou beskerm wat daardie nag by hom was en homself ook uit die moeilikheid wou hou.

Dié vriende van die gryskop pensionaris is nou almal dood, en Frank het besluit hy wil met ’n skoon gewete graf toe gaan. Daarom vertel hy nou sy ongelooflike verhaal — en kundiges glo hy praat die waarheid.

Hy is jammer Lindy moes tronk toe gaan, sê hy.

"Maar hoe kan ’n mens iets ongedaan maak as dit reeds gebeur het?"

Lindy het intussen met Frank gepraat en hom vergewe dat hy al die jare stilgebly het. Haar tronkstraf is immers agter die rug­ en niks en niemand sal Azaria ooit kan terugbring nie . . .

’n Gesinsvakansie

Lindy en Michael was verheug oor klein Azaria se geboorte. Hulle het reeds twee seuns gehad, Aidan (toe 6) en Reagan (toe 4), en ’n dogter het hul gesin mooi afgerond.

ln Augustus 1980 is die gesin saam met vriende na Uluru op ’n vakansie. Die nag van 17 Augustus het Lindy vir Reagan en Azaria in die tent gaan neerlê en toe saam met die res van die geselskap by die braaivuur gaan staan.

Infografika van waar die Chamberlains kampeer het en waar Azaria se baadjie gevind is. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Kort daarna het Michael gedink hy hoor die baba huil, en Lindy het gaan kyk. Toe sy die tent nader, het sy later vertel, het sy ’n dingo sien uitkom. Hy het sy kop geskud asof hy iets probeer sleep.

Sy het eers gekyk of alles nog reg is met Reagan. Hy was vas aan die slaap. Toe gaan sy na die baba se mandjie. Dit was leeg.

Sy het waan­sinnig aan die komberse gepluk en toe die tent deursoek omdat sy ge­dink het die dingo het Azaria dalk uit die mandjie gestamp.

Michael en Lindy met 'n foto van Azaria voor die hof in Alice Springs. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Oomblikke later het sy by die tent uitgehardloop en die woorde geskree wat oor die wêreld heen sou weerklink en die inspirasie geword het vir die fliek A Cry In the Dark: "’n Dingo het my baba gesteel!"

Die kampeerders het die gebied gefynkam, maar niks gekry nie. Die polisie is ontbied en die soektog is hervat, maar vergeefs.

Die polisie het nie Lindy se storie oor die dingo geglo nie. Twee nadoodse ondersoeke het gevolg, en toe ’n moordsaak. In 1982 is sy lewenslank tronk toe gestuur.

Die baba in ’n plastieksak

Frank, ’n bobaasskut, sê hy en sy drie vriende was net ’n uur in die nasionale park naby Uluru toe hy besluit om alleen konyne te gaan skiet vir kos vir sy hond – al is dit onwettig om in nasionale parke te jag.

Hy het ’n dier deur die donker sien beweeg en gedink dis ’n groot konyn of haas. Hy het gekorrel en geskiet. Maar toe hy naby kom, is hy met afgryse vervul toe hy sien dis ’n dingo met ’n baba in sy bek.

Onbewus van die pandemonium wat by die vol kampeerterrein ’n paar kilometer daarvandaan losgebreek het, het hy die baba en die dooie hond in sy vragmotor gelaai en na sy eie kampeerterrein teruggery.

Later het hy die dingo se karkas in ’n droë spruit gegooi en is hy huis toe. Sy vriende het met die babalyk weggery om daarvan ontslae te raak.

"Die laaste keer toe ek die lykie sien, was dit gewas en skoon­gemaak en alles," sê hy.

"Hulle het die baba in ’n plastieksak gesit, dit toegebind en op die vloer voor in my vriend se vragmotor neergesit. En dis die laaste wat ek gesien het."

Hy het geen benul waar hulle die baba begrawe het nie, maar glo dit was iewers in die agterveld.

"Ek het later probeer vasstel wat met die baba gebeur het, maar my vriend het vir my gesê: 'Jy wil nie weet nie.' Ek het gesê: 'Ja, ek wil,' en hy het gesê: 'Ek sal jou later vertel.' Maar later het nooit gekom nie."

Dit beteken die baba kan vir ewig in haar geheime woestyngraf lê.

Die Australiese leuenverklikker-deskundige Steve van Aperen het vir Frank 'n leuenverklikker-toets laat aflê en wat hom betref, praat die ou man die waarheid.

"Ek twyfel hoe­genaamd nie," sê hy.

Frank se weergawe

Lindy is wel onseker oor een of twee besonderhede van Frank se weergawe van die gebeure. Soos hoekom nie een van die sowat 2 000 mense by die kampeerterrein sy geweerskoot gehoor het nie.

Frank verduidelik dat die geweer feitlik geluidloos geskiet het. Tog onthou Michael dat hy ’n skoot gehoor het, al kon hy nie seker wees wat dit was nie.

Het Frank Cole werklik die volle waarheid gepraat?

Tog bid Lindy — wat intussen van Michael geskei en weer getroud is — dat dit die waarheid is.

"Dit sal goed wees as hy reg is, want dit sal alles afsluit. Hierdie man klink geloofwaardig en lyk soos enigiemand se oupa. Hy lyk nie na ’n mal mens nie.

Ek het geweet haar ma is nie ’n moordenaar nie, maar moes myself beskerm.

"Ek dink die grootste deel van die gewig is van my skouers af, want mense weet nou ek het nie my dogter doodgemaak nie. ’n Din­go het Azaria weggedra. Klaar."

Frank sê daardie nag het sy lewe verwoes.

"Nag ná nag het ek wakker gelê en daaroor gedink. Die arme baba. Ek het geweet haar ma is nie ’n moordenaar nie, maar moes myself beskerm. My vriende het gesê ek sou lewenslank tronk toe gaan."

Die Australiese polisie beplan nou om Frank te ondervra.

Azaria Chamberlain — saamgestel deur Annelene Oberholzer

Kort ná Frank se skokkende openbaring in 2004 het Michael en Lindy gesê hulle koester nie kwade gevoelens jeens hom nie.

Lindy, nou Chamberlain-Creighton se reaksie was: "Dit dien geen doel om ’n wrok te koester nie. Die enigste persoon wat daardeur seerkry, is jyself."

Michael het ook gesê hy moet in ’n mate vir Frank vergewe as hy met die waarheid vorendag gekom het.

Maar tot so onlangs as 2012 het Denver Marchant, ’n afgetrede polisieman, steeds nie vrede met Frank se verduideliking nie.

Volgens hom was daar geen teken van ’n dier se tande op Azaria se bebloede baadjie wat op 2 Februarie 1986 half begrawe in ’n lêplek vir dingo’s gevind is nie. Dié vonds is gemaak toe daar na David Brett, ’n Britse toeris, gesoek is wat by Uluru verdwyn het.

"Daar was nie skeure of presiese dingo-tandmerke daarop nie, net stiksels wat losgekom het."

Vir hom was die knoop wat nog in die knoopsgat was, veel eerder ’n aanduiding dat ’n mens betrokke moes wees. Boonop was Azaria se bababaadjie binnestebuite met geen skade wat enigsins op ’n aanval deur ’n dier gedui het nie.

"Miskien het die dingo, terwyl hy met die kind weggehardloop het, gestop, haar baadjie losgeknoop, uitgetrek, weer vasgeknoop en dit binnestebuite gedraai, dit begrawe en toe spore gemaak . . . met die kind,” het hy met tipiese Australiese satiriese humor kwytgeraak.

Hy het ook beweer Dinny Barret, die eerste lykskouer, het destyds ook bevind dat ’n mense by Azaria se verdwyning betrokke was.

Azaria se klere

Volgens Lindy het Azaria op die dag van haar verdwyning ’n frokkie, ’n eenstukpakkie en ’n bababaadjie aangehad.

’n Uitgebreide soektog deur die polisie het in daardie stadium net Azaria se eenstukpakkie, haar frokkie en doek naby ’n dingo se lêplek gevind.

Van die baadjie was daar geen teken nie. Tot in 1986.


'Die hele ding is buitengewoon'

Maar Frank hou met sy weergawe vol. In ’n onderhoud met die Sunday Herald Sun het hy grusame besonderhede van daardie aand bekend gemaak. Nadat hy na bewering eers gedink het dis ’n konyn wat hy geskiet het, het hy by nadere ondersoek gesien die konyn is eintlik ’n babatjie en sy skoot het die dingo in die kop getref.

Volgens hom was een van die baba se ore weg en die gesiggie bloedbevlek. Hy het haar na hul ruwe kampplek geneem, waar hulle haar probeer skoonmaak het.

"Een van my maats het haar klere met ’n mes begin sny terwyl ’n ander een voorgestel het ons moet die baadjie se knope losmaak.

"Ons het gesukkel met die knope. Toe haal ek ’n klein bliksnyertjie uit my gereedskapkas en sny dit af."

Graeme Charlwood, wat destyds die hoof van die ondersoekspan was, wil net bitter graag weet hoekom "een van die ander mense Azaria se liggaam na Melbourne sou neem en daar in ’n agterplaas begrawe – die hele ding is buitengewoon”.

Wat Frank se storie nog vreemder maak, is dat hy beweer hy het die strikkies van Azaria se baadjie gehou as bewys van sy betrokkenheid. Lindy het dit as bog afgemaak omdat die baadjie nie lintjies gehad het nie.

Boonop het Frank al vantevore kluitjies gebak toe hy in November 1997 beweer hy het geweet wie Mersina Halvagis brutaal vermoor het. Daar was ’n beloning van sowat R150 000 ter sprake.

Tronkstraf en ’n nuwe baba

Lindy (nou 70) is in 1982 lewenslange tronkstraf vir moord opgelê en Michael het ’n opgeskorte vonnis ontvang. Op 17 November 1982, terwyl sy in die tronk was, het sy die lewe geskenk aan ’n dogter, Kahlia (nou 35).

Lindy is in 1986 vrygelaat ná die vonds van Azaria se bababaadjie en in 1988 is alle klagte teen die paartjie laat vaar.

’n Nuwe begin

Sy het in 1992 met Rick Creighton getrou nadat sy en Michael die jaar vantevore geskei het.

Michael het in 1994 met Ingrid Bergner getrou. Hy het op 9 Januarie 2017 onverwags weens komplikasies van leukemie gesterf. Hy was 72 jaar oud.


Reagan Chamberlain was vier toe Azaria verdwyn het. Sover bekend het hy as ’n versorger gekwalifiseer en homself iewers in Wes-Australië gevestig.

By dié Facebook-plasing ses jaar gelede het Kahlia geskryf dit was die laaste keer dat die drie kinders by hul pa was.

Aidan Chamberlain, wat ses was toe sy suster verdwyn het, het in 2008 die Holden Torana, wat sy ouers tydens haar verdwyning besit het en wat talle forensiese ondersoeke moes ondergaan, as ’n troumotor ingespan toe hy met Amber Martin in die huwelik tree.

Die nommerplaat van die motor? 4ENSIC . . .

Bronne: nzherald.co.nz, abc.net.au, dailytelegraph.com, dailymail.co.uk, sunshinecoastdaily.com