Wat vir talle net nog 'n skooldag was, het 'n gru-nadraai gehad toe Morné Harmse (toe 18) op 17 Augustus 2008 met 'n swaard by die Hoër Tegniese Skool Nic Diederichs opdaag.

Net voor halfagt die oggend het hy 'n samoerai-swaard van 60 cm lank uitgepluk en Jacques Pretorius (16) in die nek gekap. Jacques is op slag dood. Stefan Bouwer (17) het 'n kaphou teen die kop gekry.

Joseph Kodiseng en Simon Manamela wat op die skoolterrein gewerk het, het Morné probeer keer, maar hulle het ook onder sy swaard deurgeloop.

Gespot, geboelie — en toe moor hy — deur Danél Blaauw, Hannelie Booyens en Michelle Pieters (Huisgenoot 28 Augustus 2011)

Die twee broers was onafskeidbaar. Elke skoologgend het hulle saam na die Hoër Tegniese Skool Nic Diederichs in Krugersdorp gestap. Smiddae het die twee teruggestap huis toe, alleen, sonder maats.

Maar Corné Harmse (15) vat nou alleen die pad skool toe nadat Morné ’n paar dae gelede ’n sinlose bloedspoor op die skoolterrein gelaat het in ’n aanval wat die land geruk het, met makabere bewerings van satanisme en ’n nabootsery van die metal-musiekgroep Slipknot.

Dit was Corné wat eerste by sy ouboet was om ’n bebloede samoerai-swaard by hom af te vat nadat die matriekseun Maandagoggend voor skool sy gesig vol swart skoenpolitoer gesmeer, ’n gesigmasker van Slipknot opgesit en Jacques Pretorius (16) ’n noodlottige nekwond met die swaard toegedien het.

Jacques Pretorius. Foto verskaf.

In sy moordtog het Morné ’n tweede leerling met die swaard teen die skedel bygekom en twee tuinwerkers beseer.

Stephan is tydens die aanval teen die kop getref. Foto: Gallo Images/Getty Images.
Joseph wys die wond aan sy wang waar Morné hom met die swaard getref het. Hy moes 16 steke daarvoor ontvang. Sam het voor Stephan Bouwer ingespring om hom van die aanval te red. Foto: Gallo Images/Getty Images.

In Figulusstraat, waar die twee seuns so 800 m van die skool af saam met hul ouers woon, is die bure steeds verbyster oor wat gebeur het.

Hulle beskryf die Harmses as ’n rustige, gelukkige gesin waarin die ouers tyd vir hul kinders maak.

Net nou die dag nog het Morné agter die stuurwiel van sy pa se wit Nissan Langley ingeskuif en het die twee straatop en -af gery terwyl Morné leer bestuur het, vertel ’n buurman.

Maar dié oënskynlike stil kind was ook een wat op skool verstoot en deur sy maats gespot en afgeknou is, blyk dit nou. En wat die bure nie kon sien nie, was hoe die seun hom van sy ouers onttrek en dag ná dag in sy kamer gekluister gebly het.

Toe polisiebeamptes Morné se kamerdeur oopmaak en sy ouers die vertrek vir die eerste keer in agt maande betree, was die ontdekking van satanistiese bordspeletjies en kaarte vir hulle ’n openbaring.

‘‘Sy ma was totaal geskok,’’ het iemand na aan die ondersoekspan gesê.

‘‘Hy het haar die plek belet. Sy het geweet hy steek dinge vir hulle weg, maar was nie bewus van die satanistiese speelgoed of Slipknot-CD’s wat daar gekry is nie.’’

Slipknot. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Morné is ’n fanatieke aanhanger van die metalgroep wat geweld in hul lirieke aanmoedig.

Die lede van die groep dra gesigmaskers wanneer hulle optree, en dit is met so ’n masker dat Morné op sy moordtog gegaan het.

Die gesin het net meer as ’n jaar gelede in die beige huis in Krugersdorp-Wes ingetrek.

‘‘Die ma, pa en kinders het Saterdae onkruid uitgetrek en saam die motors gewas,’’ sê Johan Swanepoel, ’n buurman.
Morné het altyd vriendelik ‘‘middag, oom’’ gegroet en gewaai, maar hy is ’n skugter kind wat nie geselsies aangeknoop het nie, sê Johan.

‘‘Daai kind was ’n alleenkind en klaar. Hier was nooit vriende nie.

‘‘Ek het net nou die dag vir my vrou gesê: ‘Hulle is behoeftige mense, maar hulle lyk na so ’n gelukkige gesin.’ ’’

Gespot

Maar op skool was Morné nie gewild nie. Sy klasmaats het hom gespot en afgeknou omdat hy kort en fyn gebou is.

Hy was ’n introvert wat gemiddeld presteer het, maar nooit aan gesprekke in die klas deelgeneem het nie. Hy was gedissiplineerd en op sy plek, hoewel hy satanistiese tekenings in sy boeke gemaak het, vertel past. Pierre Eksteen, ’n berader.

‘‘Van die kinders het met hom daaroor gepraat, maar hy het net gesê dit is sy eie keuse.’’

Dit het hom ook min geskeel wat die toekoms vir hom inhou.

In sy toekomsgesprek met ’n onderwyser het hy ‘‘lawwe’’ antwoorde gegee en dit was duidelik dat hy geen hoop of toekomsverwagting het nie, vertel ds. Pieter Fourie, wat ná die aanval vir sy klasmaats berading gegee het.

‘‘Hierdie kind het met seer in sy lewe geloop. Hy kom dalk op ’n pad van verwerping, vernedering en afkraking omdat hy klein en fyn is en almal hom beledig.’’

Kort nadat iets in hom geknak en hy sy aanval glo in die naam van Satan uitgevoer het, het hy ’n verklaring by die polisie afgelê.

‘‘Hy het gesê hy is sy hele lewe lank geboelie en hy wil nou die macho ou wees,’’ vertel die ingeligte.

Die arsenaal wapens en maskers waarmee Morné op 17 Augustus 2008 by die skool aangekom het. Foto: Gallo Images/Getty Images.

‘‘Hierdie kind het nie vir die eerste rugbyspan uitgedraf nie. Hy was nie ’n prefek nie, maar hy was ook nie ’n moeilikheidmaker nie. Hy wou bewys hy is nie een op wie getrap kan word nie.’’

Kan musiek met gewelddadige boodskappe jou kind ontspoor?

Dit is eerder die kind wat reeds emosioneel die spoor begin byster raak het, wat deur dinge soos metal- of rockmusiek met opruiende lirieke, gewelddadige videospeletjies en satanistiese kleredrag en simbole aangegryp en tot uiterstes gevoer kan word, sê die kenners.

Sekere kultusse en musiekgroepe kan veral jong mense wat soekend is, maklik beïnvloed met destruktiewe boodskappe soos dié van die groep Slipknot, sê dr. Lourens Schlebusch, ’n internasionaal gerekende kenner van destruktiewe gedrag, wat aan die Universiteit van KwaZulu-Natal verbonde is.

‘‘Jy kan sonder geweld iemand se psige doodmaak – ook deur musiek. Jy vervang dan ’n bestaande ideologiese of morele raamwerk met iets anders.’’

Lourens sê dit is vir hom baie kommerwekkend om te sien hoe tieners en emosioneel onvolwasse mense kommersieel uitgebuit word, veral deur die musiekbedryf.

Dikwels lei die mense wat hulle met alternatiewe musiekgroepe vereenselwig, ’n onnatuurlike lewe soos om deur die nag wakker te bly en bedags te slaap. Sulke kwesbare tieners sal elke aspek van hul helde se lewe naboots en as ’t ware ‘‘ondergronds’’ begin leef.

Ouers se geestestoestand kan ook bydra tot kinders se gevoel van wanhoop, glo dr. Anthony Costandius van Durbanville. In Suid-Afrika voel baie ouers negatief of verslaan en voer ’n oorlewingstryd.

Ouers moet seker maak dat hulle hul kinders positief beïnvloed en altyd ’n goeie voorbeeld stel.

Groepsdruk speel volgens Joan van Niekerk, nasionale koördineerder van Childline, ’n groot rol in antisosiale gedrag by tieners.

‘‘Kinders wat verstoot voel, ly ontsettend baie. Vir ’n kind met gedragsprobleme en min ondersteuning tuis en by die skool kan groepsdruk en verwerping ’n sterk behoefte skep om ander te straf en hulle te wys hoe ‘sterk’ of ‘magtig’ hulle eintlik is.’’

Moet jou nie laat flous deur jou kind wat stil en op sy plek is nie, sê die beradingsielkundige Janine Taylor van Kaapstad.

Kinders kan ooglopend moeilik en aggressief wees en daardeur waarskuwingstekens uitstuur, maar hulle kan ook stil en teruggetrokke wees en steeds innerlik van aggressie kook.

Laasgenoemde kinders – dikwels ook skames wat selfvertroue kort – verberg hul frustrasie in hulle en een sneller, soos ’n vriend wat ’n dwars aanmerking maak, kan ’n uitbarsting veroorsaak en tot ’n pad van verwoesting aanleiding gee.

Moedig dus jou kind aan om openlik te gesels en prys jou kind om sy of haar selfvertroue te bou, raai Janine aan. En wees hiper-waaksaam wanneer veranderings in ’n kind se gedrag bespeur word.

Speletjies, musiek en moord

Is daar ’n verband? So het jong mense in die laaste jare geskiet en gemoor:

  • Die metalgroep Slipknot se liedjie Disasterpiece was in 2003 twee Kaliforniërs se ‘‘inspirasie’’ vir die moord op Terry Ray Taylor (22). Jason Lamar Harris (25) en Amber Riley (21) het vooraf na die liedjie geluister, en ook na die fliek Satan’s School for Girls gekyk.
  • ’n Duitse leerling, Sebastian B, het in 2006 altesaam 37 leerlinge by ’n skool in Emsdetten, Duitsland, gewond en homself toe doodgeskiet. Sebastian het glo die moorddadige videospeletjie Counter-Strike obsessief gespeel en wou wraak neem teen mense wat hom verneder het.
  • Op 4 Augustus 2008 wou Polwat Chino (19) glo iets uit die gewelddadige videospeletjie Grand Theft Auto 4 naboots toe hy ’n taxibestuurder in Bangkok met ’n mes vermoor het.
  • Heather Trujillo (16) en haar kêrel, Lamar Roberts (17), van Colorado het Heather se sewejarige sussie verlede Desember vermoor toe hulle ’n toneel uit die videospeletjie Mortal Kombat nageboots het.
  • Luke Woodham (16) van Mississippi het in 1997 sy ma met ’n mes doodgesteek en toe sy gewese vriendin en haar maat by die skool doodgeskiet omdat hy glo altyd gespot is.
Morné Harmse - deur Annelene Oberholzer (saamgestel)

Satan en die spook

Volgens Molefi Listheko, die psigiater wat Harmse moes evalueer terwyl hy in die gevangenis in Krugersdorp aangehou is, het Harmse geglo 'n spook het hom na Satan gelei en hom aangesê om 'n satanis te word.

Morné Harmse en Slipknot

Corey Taylor van Slipknot het op die bloedspoor wat Harmse agtergelaat het, reageer nadat die groep aanvanklik nie wou kommentaar lewer nie.

'Aan die einde van die dag is daar altyd geestesversteurings en mense wat gewelddadig optree vir geen ander rede dat hulle verlore en opgef*k is nie,' - Corey Taylor, Slipknot

"Natuurlik is ek ontstig omdat mense seergekry het en iemand dood is, maar my verantwoordelikheid stop daar, want ek weet ons boodskap is eintlik baie positief.

"Ek moedig niemand aan om iemand anders dood te maak nie. Ek moedig ons bewonderaars aan om hulself uit te druk, saam te staan en mekaar te help."

'Hy het dit beplan'

"Hy  het die woord 'slagting' gebruik; ek het verstaan hy bedoel 'n bloedbad," het Shaun Collins (toe 17), 'n vriend van Harmse, gesê.

Shaun Collins het van die maskers gemaak. Foto: Gallo Images/Getty Images.

Hy en sy vriende het gesien hoe Harmse "dit verloor" toe hulle sien hy het 'n masker aan en hy was besig om drie swaarde in sy gordel te rangskik.

Harmse het glo ook vir Max Brechlin (toe 18) aangesê om 'n masker op te sit. Met die retoriese vraag of Shaun "iets koel" wil sien, het Harmse glo sy (stomp) swaard uitgepluk en Jacques doodgekap.

Vriendelike ou

Op 10 September 2009 het dit die regter Phillip Hattingh net sowat 20 minute geneem om Harmse 20 jaar tronkstraf op te lê vir sy dade. 

Leonie Pretorius, Jacques se tannie, het na afloop van die uitspraak gesê dit voel of hulle Jacques nou begrawe. 

'n Jaar nadat Harmse tronkstraf opgelê is, het Lawrence Ncineni (19), 'n medegevangene van Harmse, aan The Witness vertel bewaarders het 'n sagte plekkie vir die swaardmoordenaar.

"Hy's 'n vriendelike ou met 'n goeie hart".

Verbintenis met die Krugersdorp-'afspraakmoordenaars'

Mara Brand is in 2008 na die Krugersdorpse polisiekantoor ontbied omdat haar dogter, Cecelia Steyn, se telefoonnommer op Harmse se selfoon geberg is.

Cecelia was sy berader voor daardie oggend van 17 Augustus en sy was 'n medestigter van die Overcomers Through Christ (OTC), 'n groep wat daarop gemik was om satanisme te beveg (Huisgenoot, 29 September 0216: Moordleier? Nie My Poppie).

Cecelia Steyn is dieselfde mens wat saam met haar vriendin, Marinda Steyn (geen familieverwantskap), en dié se twee kinders, Leroux en Marcel, en Zak Valentine aangekla is van minstens 13 moorde, waaronder die opspraakwekkende afspraakmoorde waar minstens ses mense met hul lewe geboet het.

Marinda is vroeër vanjaar 11 keer lewenslank tronk toe gestuur vir haar aandeel in dié moorde terwyl Cecelia se saak tot Oktober uitgestel is.

Cecelia Steyn (regs) en haar vriendin, Marinda Steyn, tydens hul hofverskyning in verband met 13 moorde. Foto: Huisgenoot

Bronne: mg.co.za, theguardian.com, femailefirst.co.uk, news24.com

FOTO’S: AP PHOTO/RENE MACURA/PICTURENET/ER LOMBARD, NARDUS ENGELBRECHT