Toe Christopher Stewart destyds 'n onderhoud met die huidige Amerikaanse president gevoer het, het Donald Trump reeds in die rigting van die Amerikaanse presidentskap gedink. Maar toe besluit hy hy wil eerder bou, nog groter en nog blinker en nog duurder . . .

Hy het selfs tydens die onderhoud verklap hoekom hy nooit sy haarstyl en -kleur sal aanpas nie! Meer nog, tydens die onderhoud word dit ook duidelik: Die Trumpster is baie goed met die “oordrywing van die waarheid”.

Deesdae boer Trump in die nuus, en dit het nie altyd te make met die resultate van sy presidentskap nie, maar veel eerder met die boodskappe wat hy sonder enige filter op Twitter deel.

Vir ’n man wat in 2004 nie eers aan 'n rekenaar geraak het nie, maak hy nou behoorlik sy stem dik in die sosiale media waar hy soms die waarheid effens aanhelp en ander oor die verspreiding van fopnuus takel.

Koning Donald van planeet Trump — deur Christopher Stewart (Huisgenoot, 11 November 2004)
  • Is Donald Trump regtig soveel werd as wat hy sê hy is?
  • Is sy werklikheidsprogram, The Apprentice, werklik die voorste program op televisie? En dis tog sekerlik nie sy eie hare nie?

Christopher Stewart het uitgevind Amerika se gewildste miljardêr is ook die land se beste voorbeeld van hoe die waarheid opgeblaas kan word.

Donald Trump lag. Die eiendomsmagnaat van New York sit in sy luukse kantoor op die 26ste verdieping van die Trump Tower met 'n uitsig op Central Park.

Hy praat sedert sy aankoms om 07:30 onophoudelik oor 'n koerantberig wat die oggend in The New York Times verskyn het.

Daarin word berig Donald se bewerings dat hy ’n miljardêr is, is “dalk baie oordrewe”.

Dit irriteer hom kennelik dat enigiemand oor sy rykdom kan twyfel.

'Wie weet beter as ek?'

“Dis eintlik ongelooflik,” sê hy en trek sy gesig. Dan neem hy ’n sluk uit ’n blikkie Diet Coke, een van ’n dosyn of so wat hy elke dag drink.

“Die ou probeer uitwerk wat ek het en nie het nie. Hulle probeer dit altyd doen. Ek is verreweg die grootste ontwikkelaar in New York. Ek het projekte oor die land heen. Uiters oordrewe? Asof hulle weet waarvan hulle praat. Wie weet beter as ek? Dis regtig malligheid waar die ou sy inligting vandaan kry.”

Donald, of The Trumpster soos hy soms na homself verwys, hou nie van kritici, teëpraters of skeptici nie.

Ons ontmoet in Augustus en hoewel byna elke ander ryk New Yorker mooi sonbruin is ná 'n tydjie in East Hampton of Newport, is Donald spierwit.

Hy is té besig om na nuwe eiendom te kyk, vir tydskrifvoorblaaie te poseer en nog 'n episode vir die hoogsverslawende The Apprentice te verfilm.

Hy dra ’n blou snyerspak, wit hemp met blink silwermansjetknope en 'n gestreepte blou das. Op 58 span sy swart gordel styf om die ekstra paar kilogramme.

Die Trump-haredos

Benewens gholf oefen hy nie eintlik nie, maar hy rook en drink ook nie. Hy het ’n hoë voorkop en blonde wenkbroue. Sy vreemde oranjerige hare is perfek gekam en word met haarsproei op hul plek gehou. En dit is sy regte hare, as jy gewonder het.

"Sien?" sê hy en lig sy kuif op om ’n verbasend stewige haarlyn te wys.

Het hy nog nooit daaraan gedink om sy haarstyl te verander as almal dan so 'n bohaai daaroor maak nie?

"Nee, dit werk. Hoekom iets verander wat werk?"

Hy wil wel die twyfel oor sy status as een van die rykste, magtigste mense ter wêreld besweer.

Die oggend se ondersoekende berig gaan oor die maatskappy Trump Hotels and Casino Resorts wat onlangs aansoek gedoen het om insolvensie in ’n poging om sy skuldlas van sowat R11 miljard te delg.

'Donald is ’n windlawaai'

Hy is hoof van die maatskappy en as hy sy aandeel van 25% wou behou, moes hy voor einde September sowat R350 miljoen in die hande kry. The New York Times, onder meer, twyfel of hy dit kan regkry.

“Dis niks,” sê hy terwyl hy die laaste van sy Diet Coke drink.

“Dit was ’n lelike berig. Kan jy daardeur sien? Hulle hou nie van my nie. Daar is geen twyfel nie. Die vreemde ding van die Times is hulle weet niks van my nie. Hulle weet *** niks van my nie."

Die kantoor van die Trump-organisasie is ’n huldeblyk aan Donald Trump, die magnaat.

Tydskrifvoorblaaie van Donald in goue rame versier byna elke sentimeter van die mure. Donald is ’n windlawaai wat van vertoon hou en sy eie geskiedenis skryf en herskryf.

Hy laat geen kans in ’n gesprek verbygaan om te vertel presies wie hy is en wat hy al vermag het nie.

Hy besit alles van skoonheidskompetisies en buiteklubs tot casino's en woonkomplekse. Hy hou daarvan om op te gaar. Hy gee vir my ’n pak mediaknipsels van sy projekte asof hy daarmee wil bewys presies wat hy werd is.

'Die beste, die beste, die beste . . .'

Daar is die wolkekrabber van 65 verdiepings in Las Vegas wat “die beste ooit sal wees”, ’n gholfbaan in Los Angeles, ook natuurlik “die beste”, ’n gebou in Chicago wat “die grootste sedert die Sears Tower en van die beste gehalte is”.

Maar die oomblik dat ’n mens Donald se rykdom probeer bereken — wat sy bates is en wat hy in harde kontant in die bank het — is alles skielik baie vaag.

Hy het in die 1990's bankrotskap net-net vermy. Die meeste van sy geld is nog altyd deel van vennootskappe en persoonlike eiendomsbates wat nie bekendgemaak hoef te word soos met ’n openbare maatskappy nie.

As jy onder die privaat sambreel van die Trump-organisasie inloer, kom jy op tientalle ander maatskappye met verskillende name af.

Die casino's in openbare besit, wat allerhande probleme het, verteenwoordig ’n baie klein deel van sy bates — 2%, as jy Donald kan glo.

Die tydskrif Forbes het Donald se fortuin onlangs op sowat R16 miljard geraam, wat hom 71ste plaas op die lys van die wêreld se rykste mense.

Enigiemand anders sal net te dankbaar wees om dié plek te beklee. Nie Donald nie. Volgens hom is Forbes se som verkeerd, ver verkeerd.

'Donald Trump is lewensgroot'

“Hulle het my onderskat,” sê hy verontwaardig en voeg by hy is waarskynlik dubbel soveel werd.

Hoe meer tyd jy saam met Donald deurbring, hoe duideliker word dit dat hy in heeltemal 'n ander wêreld leef — ’n mens kan dit dalk selfs die planeet Trump noem.

Hy is lewensgroot en doen dinge waarvan ander maatskappyleiers net kan droom — om van gewone mense nie eens te praat nie.

Hy kuier saam met bekende sterre. Hy praat van TV-werk “saam met Jennifer Aniston, Rob Lowe en baie ander akteurs en aktrises. En dan dink ek: Hoe die f** het ek hier gekom?”

Hy vlieg rond in ’n private Boeing 727, verskyn in Visa-advertensies en sy boeke oor die sakewêreld verkoop soos soetkoek.

Hy bied Saturday Night Live aan en oorweeg dit om aan die Amerikaanse presidentsverkiesing deel te neem.

Asof dit nie genoeg is nie, word hy in die geselskap van die mooiste vroue gesien, van wie een die 33-jarige model Melania Knauss van Slowenië is. Sy is ook sy verloofde.

Met sy nuwe werklikheidsprogram, The Apprentice (“die beste op TV”), dreig die planeet Trump om enige oomblik te ontplof.

“Ek is uniek,” sê hy wanneer hy eers goed op dreef is.

“En party mense verstaan dit eenvoudig nie.”

TV is 'n natuurlike omgewing vir die superster-miljardêr.

Mark Burnett, die Britse skepper en vervaardiger van The Apprentice (en die Survivor-reeks wat die geld laat inrol), verduidelik: “Ek het na iemand gesoek wat in beheer van nuwelinge kan wees. Iemand interessants met 'n groot teenwoordigheid in die Amerikaanse sakewêreld.

“Daar was net een ideale kandidaat. Donald Trump is Amerika se grootste, kleurrykste magnaat. Daar is nie nog iemand soos hy nie.”

In The Apprentice ding 16 deelnemers mee om die president van een van Donald se maatskappye te word. ’n Salaris van sowat R1,6 miljoen is op die spel en elke week gee Donald iemand met ’n vinnige swaai van die hand die trekpas.

Donald gebruik dié beweging gereeld om skynbaar geen rede nie. Amper soos ’n kind wat pas sy grootste talent ontdek het.

“Jy is afgedank!” roep hy ’n paar keer in die onderhoud agter sy lessenaar uit en laat my elke keer skrik wanneer hy skielik die vorm van ’n rewolwer met sy kort, dik vingers maak.

“Mense is mal daaroor,” lag hy. Maar Donald sê hy sal in die werklike lewe nooit 'n werknemer so afdank nie. Dit is net toneelspel, iets wat hy spontaan uitgedink het toe hulle aan ’n dramatiese manier gedink het om ’n deelnemer van die program af te stem.

Die dollars rol in

Donald word sowat R650 000 per episode betaal en sowat R6,5 miljoen as medevervaardiger saam met Mark. Hy sal nog meer vir die tweede reeks verdien.

Sowat 21 miljoen Amerikaners het elke Donderdag voor die TV gaan sit om Donald dop te hou saam met sy jong vakleerlinge, wat na die eerste reeks uit eie reg vir ’n rukkie bekend was.

’n Stewige 28 miljoen mense het na die laaste episode gekyk en die Britse televisiemaatskappy Talkback gebruik nou die konsep vir Brittanje. Alan Sugar speel Donald se rol.

“Voor die program het niemand my baie goed geken nie,” sê Donald. “Hulle het my as die slegte ou beskou - as 'n vuurvreter, wat ek nie is nie.”

Die een ding van so 'n groot program, wat bygesê nommer een op TV was, is dat jy nie eintlik iets kan wegsteek nie.

“Eindelik word jy blootgelê. Ek dink mense weet nou baie beter wie ek is. En hulle hou baie meer van my.”

The Apprentice was natuurlik nie die seisoen se gewildste reeks nie, dit was nommer ses.

Maar wie tel tog?

Donald is baie goed met wat hy “oordrywing van die waarheid” noem. Hy maak stellings wat nie heeltemal waar is nie, maar wat tog elemente van die waarheid bevat.

Die waarheid is volgens hom “plooibaar”. Soos wanneer hy oor aanhangers van The Apprentice praat wat buite sy kantoor saamdrom. Hy beweer hy kan nie meer by die deur uitgaan sonder om oorval te word deur honderde mense wat vir hom skree “jy is afgedank!” nie.

“Gister was ongelooflik,” sê hy. “Ek het uitgestap. Die limo het nader gekom en daar was meer as 2 000 mense. Jy het geen benul nie. ’n Malhuis.”

Ek gaan gesels toe met die deurwag by die ingang net om die storie te bevestig.

“Tweeduisend?” sê hy en rol sy oë. “Ek weet darem nie so mooi nie. Hier was dalk ’n paar honderd.”

Fantasie is Donald se werk. Hy is ’n skepper, kulkunstenaar, dromer en misleier. Hy vra vir niks verskoning nie. Nie vir sy flambojante houding, uitgesprokenheid of al die leuens nie.

“Trump is die skouspel wat oral uitverkoop is,” het hy eenkeer gesê.

Dit is nie noodwendig ’n leuen nie.

Trump, Madonna en Melania

Duisende, selfs miljoene mense wil ’n deel van die stermagnaat hê; van aanhangers van The Apprentice tot die ou tannies wat hul geld by sy dobbelmasjiene uitgee: van die mense wat miljoene vir een van sy eiendomme betaal tot die lede van sy eksklusiewe Mar-a-Lago-klub in Palm Beach, Florida.

’n Aandele-ontleder het eenkeer gespot dat “Trump eintlik Madonna wil wees”.

“Ek is seker maar net van nature 'n akteur,” sê hy en krap sy ken.

“Maar ek dink nie ek wil Madonna wees nie, en ek dink ook nie sy wil ek wees nie. Maar ek is 'n goeie akteur. Ek hoef nooit 'n toneel oor te doen nie. Ek sê net wat in my gedagtes opkom en dit werk.”

Donald Trump se ma, Mary Trump, en haar skoondogter, Melania Trump, in 'n gedeelte van Donald se Mar-a-Lago-klub, Palm Beach, Florida, 27 Februarie 2000. Foto: Davidoff Studios/Getty Images

Al is The Apprentice groot nuus in Donald se lewe, verseker hy my oor en oor die grootste nuus is dat hy ’n meesterbouer is.

“Een ding wat mense nie van my weet nie, is dat ek die grootste ontwikkelaar in New York is. Ek is nie ’n oprigter nie. Ek bou geboue. Hulle sien my op TV, maar hulle weet nie dat ek eintlik groot geboue bou nie. Dit is die eintlike storie.”

’n Mens moet dalk eers noem dat Donald ’n groot ontwikkelaar is, maar nie die grootste in New York nie. Dit is nou as jy die grootste ontwikkelaar sien as die mens wat die meeste geboue bou en besit.

Maar in Donald se wêreld geld gewone definisies nie.

Hy bedoel met “grootste ontwikkelaar” dat sy naam op die meeste geboue in New York pryk. Volgens sy logika is Trump dan koning.

Maar Donald was nie altyd ’n meesterbouer nie. Soos alle groot dromers was hy eers ’n vakleerling. Hy het sy talent as bouer van sy pa gekry, wat eens self ’n magnaat was en sy aandag op geboue in Brooklyn en Queens toegespits het.

Bewerings word gemaak dat Donald nie self sy rykdom opgebou het nie, maar dat hy van sy pa ’n groot erfporsie gekry het. Donald vee hierdie bewering natuurlik van die tafel af.

“Dit was lank gelede,” sê hy.

Fred Trump, Donald se pa, in New Jersey, 22 Januarie 1988. Foto: Jeffrey Asher/ Getty Images

Op kollege aan die Whartonsakeskool in Philadelphia het Trump Jr. vervalle huise gekoop, opgeknap en teen ’n wins verkoop.

Mettertyd het hy outomaties die potensiaal van leë erwe of vervalle geboue raakgesien en dat dit met dinamiet, drilbore en staal omskep kon word in wat hy wil hê.

In die 1980's het dinge vir Donald gebeur. Hy het wonderbaarlik The Trumpster geword. Hy kon danksy sy ekstragroot persoonlikheid en vreemde idees miljarde dollars leen.

In 1984 is die Trump Tower voltooi. Dit was sy eerste groot huldeblyk aan homself. Die reusagtige, blink goue gebou van 68 verdiepings in Fifth Avenue met sy salmkleurige atrium van marmer en waterval van 24 m hoog is gewild onder toeriste.

Trump Tower in New York City is as moderne argitektuur beskryf. Foto: Gallo Images/Getty Images

En die luukse dakwoonstel is Donald se hoofblyplek.

Hy onderskei hom van ander ontwikkelaars deur skaamteloos sy naam op alles te sit.

Donald noem dit "beeldeienaarskap".

Agente beweer selfs dat Trump se naam waarde met tot 30% laat styg. Een joernalis verwys daarna as die Trump-faktor.

Die Trump-faktor het sakke vol geld ingebring. Hy het uitspattig begin leef soos iemand wat die lotery gewen het, die wêreld vol gereis, met bekendes omgegaan en geld uitgegee op duur bote, karre en herehuise.

Hy is later getroud met Ivana Winkelmayr, 'n model en internasionale skiër wat in Tsjeggië gebore is. Hy het drie kinders by haar: Donald Jr. (26), wat nou vir sy pa werk, lvanka (22) en Eric (19), wat nog albei studente is.

Ivana Trump en Donald Trump in New York City, Desember 1982. Foto: Sonia Moskowitz/Getty Images
Donald Trump Jr. en Ivanka Trump. Foto: Shawn Ehlers/WireImage for CHANEL

Die geld het regtig begin inrol toe hy casino's soos die Trump Taj Mahal en Trump Castle in Atlantic City gebou het.

Maar die glans het stadig vervaag. Donald se egskeiding van Ivana het die wêreld se aandag getrek toe sy hom van 'n string buite-egtelike verhoudings beskuldig het.

Hulle het nie ’n voorhuwelikse kontrak gehad nie en Donald moes tot ’n skikking van tussen R97 miljoen en R162 miljoen instem.

Dinge het erger geraak. Donald se wêreld het in 1991 te midde van die Amerikaanse spaar-en-leningskandaal in duie gestort. Die eiendomsmark het ten gronde gegaan en binne enkele maande is Donald deur skuld verswelg.

Hy het teësinnig van die luukshede verkoop wat sy kenmerk was: die seiljag Trump Princess, die Plaza Hotel in New York en sy Boeing 727.

Die Trump Princess, 1988. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die storie word vertel dat Donald een dag saam met sy nuwe vrou, die model Marla Maples, in Manhattan gaan stap het. Hy wou vir haar verduidelik hoe benard sy situasie werklik is en het na ’n hawelose man gewys.

“Kom ons aanvaar hy het niks op sy naam nie," het hy glo moedeloos vir haar gesê. “Dit beteken hy het $900 miljoen meer as ek.”

Donald Trump en sy tweede vrou, Marla Maples, in die 1990s. Foto: Raoul/IMAGES/Getty Images

En tog het hy op die een of ander manier kop bo water gehou. Sy redding was dat hy al sy casinobelange in die openbare maatskappy Trump Hotels and Casino Resorts saamgevoeg en baie van sy skuld daarop afgeskuif het.

“Baie van my ryk vriende was bankrot en jy het nooit weer van hulle gehoor nie,” sê hy. “Bygesê, ek was nooit bankrot nie. Ek het oorleef. Ek het die vermoë om geld te maak. Ek weet hoe om dit goed te doen. Daar is altyd 'n manier. En nou is my maatskappy groter as ooit tevore.”

Donald sê deesdae gereeld die Trump-organisasie is groter as ooit tevore. En sy volgehoue geloof daarin is die rede waarom hy so stomgeslaan en kwaad is oor die Times se berig.

“Hulle het my hul teiken gemaak,” kla hy.

Dié dat hy gereeld in sy kantoor oor sy deurmekaar lessenaar buk en tussen memorandums, fakse, kontrakte en leë Diet Coke-blikkies soek na ou artikels en berigte wat positief is en hy uitgeknip het — dalk om later te raam.

Daar was net die vorige week een in die New York Post. Nog een in The Wall Street Journal. En, o ja, die een in die tydskrif Crain's New York Business wat oor die stad se grootste privaat maatskappye berig.

En natuurlik is Donald se maatskappy boaan die lys.

“Dit is een van die beste sakepublikasies in die stad,” sê hy triomfantlik. Hy waai die artikels oor die tafel en dan, asof hy van ’n geskenk afstand doen, sê hy: “Jy kan dit maar hou.”

Stephanie Myers, 'n deelnemer aan The Apprentice, besorg pizza aan Donald Trump in sy chaotiese kantoor. Foto: Evan Agostini/Getty Images

Die telefoon lui onophoudelik terwyl hy dit doen. Donald kyk gewoonlik net daarna, sy oë op skrefies getrek asof ’n padda op sy lessenaar verskyn het.

Wanneer hy besluit om dit wel te antwoord, hou hy eenvoudig op praat en skree deur die reusevertrek en oop deur na sy sekretaresse: “Robyn, wie is dit?”

'n Rekenaar in onbruik

Donald gebruik nooit die interkom nie. Hy gebruik ook nooit ’n rekenaar nie. Die een in sy kantoor is nie eers by die muur ingeprop nie.

En asof dit die normaalste ding is, staan Robyn by die deur om te sê wie bel.

Donald tel die telefoon sonder enige tradisionele groetvorms soos “Hallo” of “Hoe gaan dit?” op en begin praat oor “die storie”, soos hy met minagting daarna verwys.

“Man, dit was ongelooflik,” sê hy terwyl hy wild beduie asof hy vliegtuig wys waar hulle by die lughawegebou moet stilhou.

"Daardie ou van die Times weet niks van my of die eiendomsmark nie. Ek het vir hom gevra: ‘Wat weet jy van die eiendomsmark?’ En hy sê: ‘Ek weet niks van die eiendomsmark nie. Ek wil net, jy weet, die storie skryf . . . bla bla bla.' En toe lees ek die stories en dit was 'n skande.”

Donald praat geweldig vinnig (mense in sy kantoor noem hom die masjien). Mense wat hom bel, kry selde ’n woord in. Die oproepe duur ongeveer ’n minuut en wanneer hy die telefoon neersit, verwys hy na wie ookal gebel het, in tipes: “die beste eiendomsagent” of “’n beroemde filmvervaardiger”.

Toe hy dié keer die telefoon neersit, sê hy: “Dit was een van die beste bankiers in New York. Die beste. Hy sê daai storie is f**** pateties. En hy weet hoeveel geld ek het.”

Donald, die kapitalis

In talle opsigte is Donald nog net so skaamteloos lief vir geld soos hy twintig jaar gelede was. Hy praat steeds van geld en gee dit uit asof dit vir hom vreemd is. Hy gebruik selde kontant. Hy gebruik ook nie soos die res van die wêreld ’n OTM-kaart nie. Hy het wel ’n American Express-kredietkaart.

Donald is ’n opperste kapitalis. Sy ideale was en is die afgelope 20 jaar om ryker as enigiemand anders te wees.

“Geld is my puntekaart. En om baie daarvan te hê laat my toe om meer geboue te bou.” Inderdaad.

Donald put genot daaruit om die hoogste, blinkste geboue in die wêreld te bou. Hy kan blitsvinnig die verskil verklaar tussen superluuks en super-super-luuks.

Hy is ’n man vir eindelose detail en hy is nóú betrokke by elke projek, van die kies van teëls vir die badkamervloere tot die uniform van ’n deurwag lot die uitsoek van deelnemers aan The Apprentice.

Dit is natuurlik maklik om The Trumpster te haat vir sy openlike selfverryking, sy uitspattigheid en sy byna patologiese drang na meer en nog meer.

Maar soos met baie miljardêrs hou mense van hom. In ’n tyd van politieke speletjies en frustrerende hiperbewustheid van die openbare mening kruip Donald nie agter skakelmense en lyfwagte weg nie. Die deurwagte van Trump Tower is die naaste wat hy aan die soort beskerming kom. Hy is ’n arbeider-miljardêr, as daar so iets kan wees.

Trump vir president?

Destyds in 1996 het Donald openlik gepraat oor die moontlikheid om aan die Amerikaanse presidentsverkiesing deel te neem, wat hy toe nie gedoen het nie.

Met die jare het hy heen en weer van die Republikeine na Demokrate geskuif en groot bedrae aan albei geskenk. Vandag is hy meer Demokraties en beslis teen oorlog.

En hy het nie meer politieke ideale nie.

“Mense wil hê ek moet tot die politiek toetree omdat ek so gewild is, maar ek is nie lus nie. Ek hou té veel van bou. En ek maak ’n sukses daarvan.”

Donald het onlangs sy eie gebottelde water bekendgestel. Daar is ook ’n klerereeks, ’n glanstydskrif, Trump World, wat aan sy sake-idees gewy word, en ’n reeks Donald Trump-poppe.

Donald Trump poseer by die pratende Donald Trump-pop wat op 29 September 2004 bekend gestel is. Foto: Spencer Platt/Getty Images

Volgende jaar trou hy vir die derde keer. Hoewel hy ander mense aanraai om ’n voorhuwelikse kontrak op te stel, is sy eie nog nie reg nie.

“Dit sal gebeur,” verseker hy my. “Dit is net aaklig om vir die vrou vir wie jy lief is, te sê: ‘Liefie, as die huwelik misluk, moet ons ’n ooreenkoms hê.’ Maar dit is nodig.”

Hy lag toe ek hom oor die toekoms vra.

'Die grootste naam in Hollywood'

“Seker meer van dieselfde,” sê en hy en strek sy arms bo sy kop uit soos Atlas wat die aarde vashou.

Teen die einde van die dag sê hy vir my: “Weet jy, 'n goeie vriend van my, 'n groot vervaardiger van Hollywood wat ’n wooneenheid in een van my geboue het, het onlangs vir my gesê: 'Jy is die grootste naam in Hollywood.’

“Ek sê toe: ‘Wat bedoel jy?’ ‘Jy is die grootste ster in Hollywood. Jou program is nommer een.’ En ek sê toe weer: ‘Ek het tot nou toe nog nooit so daaraan gedink nie.’ Maar hy is seker reg. As jy daaroor dink. Die mens met die gewildste program is die grootste ster.

“Trump is regtig 'n baie goeie naam om te hê.”