Borge het een na die ander laat spaander en die publiek in twee duidelike groepe verdeel: dié wat onwrikbaar in sy onskuld glo en dié wat oortuig is daarvan hy het die sneller doelbewus getrek en so ’n einde aan Reeva se jong lewe vol belofte gemaak het.

Die vorige keer toe ’n atleet soveel opspraak gewek het ná ’n moord, was toe die Amerikaanse voetbalster en akteur OJ Simpson in 1994 aangekla is van die moord op sy eksvrou en ’n vriend. Dis egter nie net daar waar die ooreenkomste ophou nie... Ons het dié artikel, 'n skamele jaar nadat die tragedie plaasgevind het, gaan opdiep:

Die wêreld se oë op Oscar — deur Herman Scholtz (Huisgenoot, 13 Februarie 2014)

Dis ’n jaar vandat hy sy modelmeisie, Reeva Steenkamp, op Valentynsdag verlede jaar doodgeskiet het en die hofsaak begin eersdaags. Maar Oscar Pistorius huil nou nog oor haar, onthul ’n kennis van dié Paralimpiese blits.

En op 3 Maart draai die wêreld se oë na die Noord-Gautengse hooggeregshof in Pretoria vir ’n moordverhoor wat niemand gaan vergeet nie, met einste Oscar in die beskuldigdebank.

Oscar omring homself met foto’s van Reeva, vertel die kennis eksklusief aan Huisgenoot.

“Hy mis haar ongelooflik en vra dat mense vir haar ouers bid.”

Oscar kry deesdae “vertroosting en vreugde” in kinders, vertel die kennis.

“Wanneer daar kinders in die omtrek is, verkies hy om met hulle buite te speel vir ontvlugting pleks van in volwasse geselskap te sit.”

Sy suster, Aimée (24), is sy steunpilaar en hy is “geestelik sterk; sy geloof dra hom”.

Hy “lyk nou weer normaal”, eet goed en oefen baie nadat hy in die tyd ná die moord 15 kg verloor het. Hy bring tyd deur saam met sy familie en ’n paar goeie vriende en kyk graag flieks.

Maar volgens die kennis volg Oscar nie die mediadekking oor sy saak nie; dis byna asof hy nie besef hoe dit die wêreld aangryp nie.

Daar word bespiegel dat sy verhoor ’n groter internasionale gehoor vasgenael kan hou as dié van die Amerikaanse voetbalster OJ Simpson in 1994 weens die moord op sy blonde eksvrou, Nicole Brown Simpson (35), en haar vriend, die kelner Ronald Lyle Goldman (26).

Hulle is doodgesteek by Nicole se huis in Los Angeles. OJ en Nicole was sewe jaar getroud en sy het tydens hul egskeiding in 1992 aangevoer hy het haar mishandel.

Orenthal James (OJ) Simpson (66) is ná die lang en sensasionele verhoor vrygespreek van die moorde, maar is deesdae net ’n nommer in ’n tronk in die Amerikaanse deelstaat Nevada.

Hy is agter tralies weens ’n rooftog in 2007 in Las Vegas.

Dit gons nou oor die ooreenkoms tussen dié twee verhore en die moontlikheid dat Oscar se verhoor selfs meer TV-kykers wêreldwyd gaan lok as OJ s’n. Laasgenoemde het 100 miljoen kykers gelok, die hoogste TV-kykertal vir enige verhoor.

Wêreld-TV-spanne wat stoei om uitsaairegte, boeke wat blitsig op die rakke beland . . .

Boonop gaan nuwe tegnologie en sosiale media soos Twitter nuus oor die Oscar-drama die wêreld in stuur sodra dit in die hofsaal ontvou.

En nes in die OJ-moordverhoor sal forensiese getuienis ’n sleutelrol speel in die staat se poging om te bewys dat Oscar Reeva met voorbedagte rade deur die toe badkamerdeur van sy huis in die woonbuurt Silver Lakes in die ooste van Pretoria doodgeskiet het.

Oscar verlaat die Boschkop-polisiekantoor op 14 Februarie 2013. Foto: James Oatway / Sunday Times / Gallo Images / Getty Images
Oscar verlaat die Boschkop-polisiekantoor op 14 Februarie 2013. Foto: James Oatway / Sunday Times / Gallo Images / Getty Images

En dis nog glad nie die einde van die ooreenkoms in OJ en Oscar se verhaal nie . . .

Ma se seun

Nes Oscar moes OJ kleintyd groot ongemak en pyn in sy bene verduur en was hy gehegter aan sy ma as aan sy pa.

Klein OJ het ’n beensiekte ontwikkel en moes tot op die ouderdom van vyf stutte aan sy bene dra om misvorming en breuke te voorkom.

Sy pa, Jimmy, het die gesin in 1952 verlaat toe OJ vier jaar oud was. Hy het daarna by sy ma, Eunice, grootgeword.

Hy het later vir haar ’n huis gekoop, en sy het namens die verdediging getuig toe hy van Nicole se moord aangekla is. Sy was toe al in haar 70’s en in ’n rolstoel.

Sy het die jurie vertel van OJ se moeilike kinderjare en haar eie beproewings.

Oscar se bene is in 1987 geamputeer toe hy 11 maande oud was omdat hy sonder fibula, die smal bene tussen die enkels en knieë, gebore is. Hy het sy eerste stel prosteses ses maande later gekry.

Sy ouers is in 1992 geskei toe hy ses jaar oud was. Sy ma, Sheila, is in 2002 oorlede toe hy 15 was.

Oscar het al dikwels vertel hoe lief hy vir haar was en het selfs ’n tatoe met haar geboorte- en sterfdatum op sy arm laat aanbring.

“Sy het altyd gesê die verloorder is nie die mens wat betrokke raak en laaste kom nie; dis die een wat in die eerste plek nie betrokke raak nie,” het hy tydens die Olimpiese Spele van 2012 aan ’n verslaggewer van die Daily Mail gesê.

Hy en sy pa, Henke, het daarenteen min kontak en die lemnaeler beskou glo meer sy oom Arnold as ’n vaderfiguur.

Sportglorie

OJ en Oscar het albei naam gemaak as baanbrekers in die sportwêreld. OJ was die eerste Amerikaanse beroepsvoetbalspeler wat 2 000 treë (1 828,8 m) in een seisoen kon “rush”. (Dis die term wat gebruik word wanneer spelers met die bal vorentoe beur sonder dat hulle dit aangee of gestuit word.)

Hoewel ses ander spelers dié prestasie intussen kon ewenaar, is OJ nog al een wat dit binne net 14 wedstryde kon regkry. Hy is in 1985 in beroepsvoetbal se eregalery opgeneem.

Oscar het in 2012 in Londen die eerste Paralimpiese atleet met dubbel-amputasies geword wat aan die Olimpiese Spele deelneem. Hy het die agtste plek in die 400 m-halfeindronde gehaal en saam met die 400 m-aflosspan ’n agtste plek in die eindronde behaal.

Hy het kort daarna by die Paralimpiese Spele rekords in die Paralimpiese 400 m en 4 x 100 m-aflos opgestel en hiervoor twee goue medaljes gewen.

Albei sportsterre het miljoene rande in borgskappe verdien voor die dood van die blonde vroue in hul lewe . . . en dit daarna verloor.

Die motorverhuringsmaatskappy Hertz het hul borgskap van OJ in 1992 onttrek nadat Nicole beweer het hy mishandel haar, en sy ander borge het hulle ook later van hom gedistansieer.

Oscar is voor Reeva se dood geborg deur onder meer die skoenreus Nike, die sonbrilvervaardiger Oakley, die telekommunikasiemaatskappy BT en die Franse ontwerper Thierry Mugler, maar dié borgskappe is ná die skietery opgeskort.

M-Net het ’n bemarkingsplakkaat met sy gesig daarop ook op die dag van Reeva se dood van ’n snelweg in Johannesburg verwyder.

Oscar het al voor Reeva se dood in ’n onderhoud met die CNN-aanbieder Piers Morgan laat blyk hy weet die voorreg en geldelike voordele van roem kom nie sonder ’n prys nie.

“Ek dink dis ’n massiewe seën. En, natuurlik, as ’n internasionale sportman is daar groot verantwoordelikhede wat daarmee gepaardgaan.”

Verhoor van die eeu

Amerikaanse joernaliste het die OJ Simpsonverhoor destyds beskryf as die grootste nuusstorie waaraan hulle in hul loopbaan gewerk het. Dis gou beskryf as “die verhoor van die eeu” en was weke lank hoofnuus.

OJ het verskeie kere op die voorblad van die nuustydskrif Time verskyn, onder meer met die opskrif “An American Tragedy”.

OJ se verhoor is regstreeks na verskeie lande uitgesaai. In sy boek America on Trial skryf die regsgeleerde Alan Dershowitz ’n geraamde 100 miljoen mense het wêreldwyd tot stilstand gekom om die uitspraak op TV en radio te volg.

In sy boek America on Trial skryf die regsgeleerde
In sy boek America on Trial skryf die regsgeleerde Alan Dershowitz ’n geraamde 100 miljoen mense het wêreldwyd tot stilstand gekom om die uitspraak op die TV en radio te volg. Foto: takealot.com

Hooflynoproepe het met 58% afgeneem en selfs verhandeling op die New Yorkse aandelebeurs was 41% minder.

Volgens die Chicago Tribune het Domino’s Pizza, ’n Amerikaanse kettinggroep, landwyd ’n reusetoename in pizzabestellings beleef skaars ’n kwartier voor die juriebevinding.

Maar in die eerste vyf minute daarna is nie ’n enkele pizza bestel nie.

Volgens die Amerikaanse regering het waterverbruik selfs afgeneem omdat mense nie toilet toe wou gaan nie.

Die tydelike afname in produktiwiteit het die Amerikaanse ekonomie glo $480 miljoen (destyds R1,75 biljoen) gekos.

Die eerste boek oor die moord het ’n paar weke ná Nicole se dood verskyn, en talle het daarna gevolg. OJ het in November 2006 aangekondig hy skryf ’n boek oor die moorde, If I Did It. Die publikasie daarvan is die volgende jaar gekanselleer.

OJ het in November 2006 aangekondig hy skryf ’n bo
OJ het in November 2006 aangekondig hy skryf ’n boek oor die moorde, If I Did It. Foto: takealot.com

’n Hof het die regte van die boek later aan die Goldman-familie toegestaan om die skuld te help delg wat OJ teenoor hulle het. Hulle het dit gepubliseer onder die titel If I Did It: Confessions of the Killer.

Dit bevat bykomende aantekeninge van die familie en die woord “if ” is so klein op die voorblad dat dit maklik lyk asof die titel I Did It is.

Die Goldman-familie se weergawe met daardie klein
Die Goldman-familie se weergawe met daardie klein 'if'. Foto: takealot.com

Oscar se verhoor word reeds as een van die grootste hofsake van ons tyd bestempel en honderde joernaliste uit alle wêrelddele gaan die verhoor na verwagting dek.

Toe hy verlede jaar kort ná die skietery sonder ’n hemp op Time se voorblad verskyn, het die opskrif dit uitbasuin: “Man Superman Gunman.

Die verslaggewer Laurie Claase se boek oor die tragedie, Pieces of the Puzzle, het onlangs verskyn; nog drie plaaslike uitgewers het reeds aangedui dat hulle boeke oor die saak gaan publiseer.

Laurie Claase se boek Pieces of a Puzzle. Foto: ta
Laurie Claase se boek Pieces of a Puzzle. Foto: takealot.com

Verskeie nasionale en internasionale uitsaaiers wil die verrigtings regstreeks uitsaai, maar die regter het nog nie besluit of sy dit sal toelaat nie, sê Lulama Luti, ’n woordvoerder in die hoofregter se kantoor.

“Selfs die regter in die OJ-verhoor het ná die tyd gesê dit was ’n fout om dit toe te laat,” het ’n advokaat opgemerk.

’n Uitsaaier wou ’n balkon van die Paleis van Justisie, oorkant die nuwe hofgebou in Pretoria, by die regering huur om ’n arendsoog oor verrigtings te hou, terwyl verskeie internasionale uitsaaiers reeds kantoorruimte vir die duur van die verhoor huur.
 
MultiChoice gaan boonop dag en nag ononderbroke Oscar-nuus op ’n nuuskanaal op DStv uitsaai.

Die forensiese getuienis

In die OJ-verhoor was dit die forensiese getuienis wat sy regspan in staat gestel het om die jurie aan sy skuld te laat twyfel.

Die staat het aangevoer die bloed wat op Simpson se kouse in sy kamer gekry is, was sy eksvrou s’n.

Albei slagoffers se bloed is in sy huis gekry.

Maar die verdediging se forensiese deskundiges het die staat se gevolgtrekkings suksesvol bevraagteken.

Daar was onder meer die leerhandskoen, ’n geskenk van Nicole aan OJ, wat in ’n gastehuis naby OJ se huis gekry is. Die staat het gesê op dié handskoen was daar DNS van OJ, Nicole en die vermoorde kelner Ronald.

Maar Johnnie Cochran, van die verdedigingspan, het OJ die handskoen in die hof laat aanpas en dit het baie styf gesit. Hy het toe herhaaldelik gesê: “If it doesn’t fit, you must acquit.”

Dan was daar die bloed.

Die staat het gesê OJ moes ’n sny aan sy hand gehad het, maar nie een van die handskoene het ’n sny gehad nie en geen getuie kon sê hy het ná die aanval ’n wond gehad nie.

Die verdediging het aangevoer dat die ontleding van menslike hare nie akkuraat was nie, dat die misdaadtoneel vertrap is en dat bewysstukke geplant is.

In die Oscar-verhoor staan forensiese kundiges ook gereed om te getuig.

Die staat gaan deur ballistiese getuienis aanvoer Oscar het sy prosteses aangetrek om na die badkamerdeur te loop en te skiet; dus was daar voorbedagte rade.

Maar die verdediging hou vol hy was op sy beenstompies en het geskiet omdat hy gedink het daar is ’n inbreker en hy weerloos gevoel het.

Van sleutelbelang is of Reeva kon skree sodat hy sou besef het dis nie ’n inbreker nie. Die staat en verdediging kibbel oor die inhoud van haar blaas, wat glo kan help bepaal of sy badkamer toe gegaan het om te urineer of om daar te skuil.

Die verdediging het in die borgtogaansoek aangevoer die polisie het die toneel besmet en verkeerd hanteer. ’n Koeëlpunt is misgekyk en die ondersoekers het nie voetbeskermers gedra nie.

Die vorige ondersoekbeampte, Hilton Botha, is gelooi oor beweerde foute wat hy begaan het. Hy is van die saak afgehaal en het toe bedank.

In Desember verlede jaar het kol. Schoobe van Rensburg, die bevelvoerder van die Boschkop-polisiekantoor in Pretoria, ook bedank, volgens die Sunday Times onder druk weens sy kantoor se ondersoekwerk.

Die badkamerdeur waardeur Oscar geskiet het, het glo ’n week lank in sy kantoor gelê.

Die polisie ontken sy bedanking hou verband met die ondersoek. Die polisie het toe kapt. Mike van Aardt as ondersoekbeampte aangestel.

Huisgenoot verneem die polisie sukkel om die wagwoord vir Oscar se iPhone in die hande te kry. Hulle hoop dit kan lig werp op wat gebeur het in die tyd voor die skietery.

Oscar sê hy het die wagwoord vir sy foon vergeet en die polisie spook met regsprosesse om Apple in Amerika se samewerking te verkry.

Die verdediging het hul eie deskundiges aangestel.

Die patoloog dr. Reggie Perumal was teenwoordig met Reeva se lykskouing. ’n Bloedspatselkenner, Jannie van der Westhuisen, en ’n ballistiese kenner, Tom (Wollie) Wolmarans, is ook gekonsulteer.

Dr. Reggie Perumal sou later ook by ander opspraak
Dr. Reggie Perumal sou later ook by ander opspraakwekkende moordsake as kenner ingeroep word waaronder dié van die bylmoordenaar Henri van Breda en Jason Rohde. Foto: YouTube-skermgreep (Multimedia LIVE)

Wolmarans is ’n afgetrede polisieman met 34 jaar ondervinding. Hy was betrokke by die wêreldstrafhof se verhore oor vergrype in die voormalige Joego-Slawië.

Amerikaanse kenners wat spesialiseer in visuele voorstellings van misdaadtonele, soos animasies en 3D-voorstellings, is ook betrek.

Die mense wat die oordeel vel

Die Amerikaanse juriestelsel het destyds vir groot omstredenheid gesorg nadat die eerste jurie moes ontbind weens moontlike beïnvloeding deur die mediaberigte.

Prof. Pierre de Vos, ’n grondwetkenner van die Universiteit van Kaapstad, skryf op sy blog regulasies oor wat die media tydens ’n verhoor berig, is belangrik in stelsels waar juries, gewone landsburgers sonder spesialisopleiding in die regte, die oordeel vel.

 In Suid-Afrika het regters die enigste sê en hulle is opgelei om hulself by die feite van die saak te bepaal.

Die OJ-verhoor het agt maande geduur, en eindelik het die jurie hom vrygespreek. Oscar se verhoor is tot dusver net van 3 tot 20 Maart op die rol. As dit dan nog nie klaar is nie, sal dit uitgestel moet word na ’n nuwe datum.

In Oscar se geval is sy toekoms uitsluitlik in die hande van regter Matilda Masipa. Sy word in regskringe as uiters bekwaam beskou en is ingesluit in ’n boek van die Raad vir Geesteswetenskaplike Navorsing oor vroue wat in die 20ste eeu daadwerklik ’n verskil in Suid-Afrika maak.

Matilda, ’n opgeleide maatskaplike werker, was ’n joernalis by twee koerante en redakteur van ’n tydskrif voor sy in die regte studeer het.

Sy het volgens die Balieraad se tydskrif in 1991 ’n advokaat geword en in 1998 ’n regter. Dié ma van een seun het ’n lewendige belangstelling in die rehabilitasie van misdadigers en het haar al sterk uitgespreek oor vroueregte.

Skuldig 'bo redelike twyfel' of 'waarskynlik'

Nadat OJ vryspreek is, het die oorledenes se familie hom vir vergoeding gedagvaar. Die hof het gelas hy moet R368,5 miljoen betaal, maar volgens CNN het die families min daarvan gesien.

Anders as in strafsake wanneer die staat skuld bo alle redelike twyfel moet bewys, het die jurie in die siviele verhoor eenparig beslis dit is waarskynlik waar dat hy sy eksvrou en haar vriend doodgemaak het.

Oscar kan dieselfde paadjie loop. Barry en June Steenkamp, Reeva se ouers, het kort ná die skietery aan Huisgenoot gesê hulle gaan ’n siviele eis teen Oscar instel. Hulle beweer hy het haar dood onregmatig veroorsaak.

Luidens koerantberigte is hul regspanne aan die onderhandel.

Prof. Wium de Villiers, ’n strafregkenner aan die Universiteit van Pretoria, het aan Huisgenoot verduidelik dieselfde beginsels sal hier geld.

Terwyl die staat bo alle redelike twyfel moet bewys Oscar het moord of strafbare manslag gepleeg, sal die Steenkamps in ’n siviele saak net hoef te bewys dat dit die waarskynlikste weergawe is.  

Ekstra bronne: DailyMail.co.uk, nytimes.com, Guardian.co.uk, Wikipedia.org, Time.com
OJ Simpson - van held tot skurk
  • In 1968 het hy die Heisman-prys, die hoogste eer vir kollege-voetbal, ontvang.
  • Elf jaar later het hy afgetree met die tweede hoogste “rush”-meters in die geskiedenis van die nasionale voetballiga (NFL) agter sy naam.
  • In 1988 het OJ sy verskyning op die silwerdoek gemaak in die eerste van die Naked Gun-komediereeks.
  • Op 17 Junie 1994 het OJ saam met ’n vriend in ’n wit Ford Bronco gevlug toe hy versoek word om homself oor te gee in verband met die moorde op sy eksvrou, Nicole, en haar vriend Ronald Goldman.
  • OJ is op 3 Oktober 1995 vrygespreek op aanklagte van moord, maar Nicole en Ronald se families het nie bes gegee nie en het ’n siviele saak teen hom aanhangig gemaak.
  • In Februarie 1997 is bevind OJ is verantwoordelik vir hul dood en hy moes die agtergeblewenes $33,5 miljoen betaal. Dis onduidelik of die volle bedrag ooit betaal is.
  • Tien jaar later is hy in hegtenis geneem op aanklagte van ontvoering, gewapende roof, inbraak en samesweringsklagtes en sowat ’n jaar later, in Desember 2008, is hy 9 tot 33 jaar tronkstraf opgelê.
  • Op 20 Julie 2017 is OJ op parool vrygelaat met ingang van 1 Oktober.

Oscar Pistorius deur die jare
  • In Desember 2007 is Oscar (toe 21) met die BBC Sportpersoonlikheid van die Jaar Helen Rollason-prys vereer.
  • Die jaar daarop het sy aansoek geslaag om teen atlete sonder gestremdhede mee te ding.
  • In Augustus 2012 was Oscar die eerste gestremde atleet wat aan die Olimpiese Spele deelgeneem het en in September het hy 'n silwermedalje in die 200 m by die Paralimpiese Spele gewen.
  • Op 14 Februarie 2013 is Oscar by sy huis op die Silver Lakes-landgoed, Pretoria, in hegtenis geneem nadat Reeva in sy huis doodgeskiet is.
  • Op 12 September 2014 is Oscar aan strafbare manslag skuldig bevind en vyf jaar tronkstraf opgelê.
  • In 2016 het die appèlhof die klag van manslag na moord verander. Regter Masipa het sy vonnis aangepas met een jaar meer, iets wat as  “skokkend toegeeflik” deur staatsaanklaers bestempel is.
  • In Maart 2018 het die appèlhof Oscar se vonnis na 13 jaar en vyf maande aangepas en in April 2018 is sy aansoek verwerp om teen die vonnis te appelleer.

Bykomende bronne: denverpost.com, telegraph.co.uk, theguardian.com