Die 50-jarige vrou se stem klink broos wanneer sy haar selfoon antwoord.

“Jong, ek moet sê dit gaan net met die genade van my Skepper elke dag ’n bietjie beter.”

Karin van Straaten se verwonde ledemate is almal in verbande toegedraai nadat sy sowat twee weke gelede op Dinsdagmiddag 2 Junie haar twee kleinkinders, Leonard (3) en Lambert (9) van ’n gewisse dood deur haar en haar man, Lammie sr. (55) se rottweiler, gered het.

Sy is kort voor die naweek uit die plaaslike Cuyler-hospitaal ontslaan.

Klein Lambert van Straaten (7) Foto: Facebook
Klein Lambert van Straaten (7) Foto: Facebook
Klein Leonard van Straaten. Foto: Facebook
Klein Leonard van Straaten. Foto: Facebook

“Al wat ek kan sê is: ek wens dit wat gebeur het niemand toe nie. Ek het daardie dag die geveg van my lewe opgesit.”

Huisgenoot het vroeër berig Karin was besig om wasgoed op te hang toe die rottweiler, wat sy kort tevore in die swembadarea toegemaak het, eerste op klein Leonard toeslaan.

“Die seuntjies se mamma moes dorp toe. Ek het nog binne saam met hulle in die sitkamer gesit en hekel toe ek hoor die wasgoed is klaar. Ek is seker paranoïes, maar ek wou juis vir veiligheid hulle nie alleen binne los nie. Dis hoekom ek gesê het hulle moet saam kom buite toe.”

Toe die ses jaar oue rottweiler, Chop, skielik te voorskyn kom en dit wou lyk asof hy wil aanval, het klein Leonard vir die hond geskrik.

Wat daarna gebeur het, voel nou vir Karin onwerklik.

Sy moes vir haar en haar kleinkinders se lewens veg toe die hond, wat al die jare net beskermend en liefdevol was, teen hulle draai.

Weer en weer het die hond hulle aangeval terwyl sy in ’n stadium bo op Leonard moes gaan lê het om sy lewe te red.

Lammie van Straaten sr. en sy vrou, Karin. Foto: F
Lammie van Straaten sr. en sy vrou, Karin. Foto: Facebook
Lammie van Straaten sr. en sy vrou, Karin, op hul
Lammie van Straaten sr. en sy vrou, Karin, op hul troudag in 2016. Foto: Facebook

“Ek het vir klein Lambert dadelik gesê om die kraan te gaan oopdraai, want ek weet die hond is bang vir water. Ek dink dit het tog tot ’n mate gehelp, want Lambert is nie so erg soos ons gebyt nie. Ek onthou ek het in ’n stadium gesien klein Leonard se ogie lyk sleg. By tye het hy sy bewussyn verloor.

“Maar ek het net kalm gebly ek het net aanhou sê: ‘Boetie, moenie nou slaap nie. Die oom gaan nou kom help’. Ek het nie toe geweet of enigiemand ons ooit gaan kom help nie.” Ook klein Lambert het met sy blou ogies en sy hele gesiggie vol modder en bloed aanhou sê: ‘Luister vir ouma, boetie, moenie slaap nie.”

Vir wat soos ’n ewigheid gevoel het, het die hond Karin onverpoos geruk, gepluk en gebyt.

“Ek het net aanhou keer vir Leonard se koppie. Dit het net aanhou in my kop bly maal as die hond nou hom aan sy kop hier gryp, is dit verby. En hy hét hom aan sy kop gegryp. Ek het net vir die Here gebid: “Here, gee my krag!’

Sy het gebid dat as dit die Here se wil is, kan hy haar kom haal. “Ek het net gebid hy moet my kleinkinders se lewens spaar.”

Daar het ’n stadium gekom wat sy met alles wat in haar oor was geskree het om hulp.

“Teen daai tyd was ek gedaan. Ek het gedink: ek gaan net ’n laaste keer skree. Ek het kliphard by die Here gepleit: ‘Here, stort U bloed oor ons uit en dryf die duiwels uit hierdie hond!”

Klein Lambert (links) en sy boetie, Leonard van St
Klein Lambert (links) en sy boetie, Leonard van Straaten. Foto: Facebook
Klein Lambert (links) en sy boetie, Leonard van St
Klein Lambert (links) en sy boetie, Leonard van Straaten. Foto: Facebook

Dit was op daardie oomblik dat hul buurman wat van die huis af werk, besluit het om vir geen spesifieke rede nie, om sy erf te stap. Hy het Karin se noodkreet gehoor.

Karin het die buurman en sy seun by die hek gesien, maar hulle kon nie binnekom nie. Toe die hond na die hekkie hardloop, het sy geskree hulle moet die hond skiet.

Sy het gevrees die hond gaan onverpoos die aanval voortsit en klaar maak wat hy begin het.

“Ek het nie eens die skoot gehoor nie... God dank nie ek of die kinders het dit gesien nie,” sê sy nou.

Na die eerste berig het Karin van die lesers se kommentaar gelees, wat hulle hulle as eienaars, asook die skiet van die hond, veroordeel het.

“Ek het agterna vir die traumaberader gesê: ‘’n Mens voel: ek was lief vir daai hond, maar hy het my verraai! Ek het besluit ek steur my nie aan wat die mense sê nie, want al wat ek bid is dat die Here dit nooit met hulle moet laat gebeur nie.”

Sy vertel daar waar sy op die sopnat gras in modder en bloed gelê het, het sy gevoel asof sy in ’n motorongeluk was.

Karin van Straaten se toegedraaide wonde. Foto: Ve
Karin van Straaten se toegedraaide wonde. Foto: Verskaf

“Ons buurman is ’n oud-brandweerman; hy het dadelik die duvet van die draad afgetrek en dit gebruik om die ergste bloeding te stop. Hulle het die polisie en die ambulans ontbied. Ook die seuntjies se pa, Lambert.”

Karin en Lammie sr. is in 2016 getroud, maar sy vertel sy seun, Lambert (30) en sy vrou, Bianca (31) se kinders is soos haar eie bloed.

Karin is per ambulans na die plaaslike Cuyler-hospitaal gebring. Klein Leonard en Lambert en Leonard se pa het hulle hospitaal toe gejaag.

Karin van Straaten se toegedraaide wonde. Foto: Ve
Karin van Straaten se toegedraaide wonde. Foto: Verskaf
Karin van Straaten se toegedraaide wonde. Foto: Ve
Karin van Straaten se toegedraaide wonde. Foto: Verskaf

Karin is aanvanklik saam met Lambert dieselfde aand huis toe nadat hulle steke ontvang het, terwyl Leonard na die Netcare Greenacres-hospitaal oorgeplaas is vir ’n operasie aan sy gesig.

“Dit gaan nou baie beter met hom. Die dokter sê daar is nog ’n bietjie bloeding agter in die oog, maar dit sal regkom.”

Klein Lambert se steke is reeds uit waar hy oor sy lyf heen gebyt is.

Karin moes egter ná ’n terugslag daardie Donderdag in die hospitaal opgeneem word. Sy was tot die volgende Donderdag in die Cuyler-hospitaal, waar sy aan haar regterarm geopereer moes word. Sy verduur nog baie pyn, maar vertel sy glo alles sal oukei wees.

“Toe die seuntjies my die eerste keer in die hospitaal kom besoek was hulle so verbaas. Hulle het elkeen vir my ’n briefie geskryf. Klein Leonard het ’n prentjie van ’n leeu geteken en laat sy ma daarby skryf: ‘Ouma is so sterk soos ’n leeu!’ Dis vir my baie spesiaal en ek gaan dit raam. Ek sal my lewe vir hulle gegee.”

Klein Leonard (3) se briefie aan sy ouma. Foto: Ve
Klein Leonard (3) se briefie aan sy ouma. Foto: Verskaf
Klein Leonard (3) se prentjie van 'n leeu aan sy o
Klein Leonard (3) se prentjie van 'n leeu aan sy ouma. Foto: Verskaf
Klein Lambert (6) se briefie aan sy ouma. Foto: Ve
Klein Lambert (6) se briefie aan sy ouma. Foto: Verskaf

Die tyd in die hospitaal het Karin baie laat dink oor hoekom dié voorval, wat amper ’n baie erger tragedie kon gewees het as wat dit was, moes gebeur het.

“Ek voel net as die Here die insident kan gebruik vir ander om iets daaruit te leer, dan is dit vir my genoeg. Ek het myself eers verwyt, maar daar was niks wat ek gedoen het, wat ek anders moes gedoen het nie. Ek het gedoen wat ek kon. Die berader het vir my gesê ek is nie ’n slagoffer nie, ek is ’n survivor.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe