Haar dogter Monique het twee maande lank beplan aan die uitstappie na die historiese dorpie Heidelberg om te gaan hamburgers eet by ’n gewilde restaurant.

So vertel ’n steeds geskokte Hannalie Hepburn (48), ma van Monique Hepburn (26). Die vier jong mense het saam gery: Monique en haar kêrel, Ruan Swarts (24), en Cornelius Nortjé (23) en sy meisie, Handri Krause. Cornelius is Monique se neef.  

Heidelberg met sy outydse sjarme is maar sowat 40 km van Kliprivier af. Maar die twee paartjies het nooit hul bestemming bereik nie. 

Monique Hepburn en haar kêrel, Ruan Swarts. Foto:
Monique Hepburn en haar kêrel, Ruan Swarts. Foto: Verskaf

Hulle was die afgelope Saterdagmiddag skaars 10 km van die huis af toe hul Ford Fiesta op die R550-pad na Heidelberg reg van voor teen 'n ander motor gebots het. Die ander motor was glo besig om ’n vragmotor in die reën verby te steek. 

Die paartjie Handri Krause en Cornelius Nortjé het
Die paartjie Handri Krause en Cornelius Nortjé het saam in die ongeluk gesterf. Foto: Facebook

Cornelius was agter die stuur van die Fiesta en het blykbaar probeer uitswaai, maar hy en Handri is in die ongeluk dood. Monique is ernstig beseer en word in die Vosloorus-hospitaal behandel. Ruan is vir kopbeserings behandel en weer ontslaan, maar kan niks van die ongeluk onthou nie.

Monique se been is op drie plekke gebreek en beentjies in haar gesig is vergruis, vertel haar ma. ’n Mediese verslag in Huisgenoot se besit beskryf die skade aan haar gesig as "omvangryk".

Bene in Monique se gesig is in die ongeluk vergrui
Bene in Monique se gesig is in die ongeluk vergruis. Foto: Verskaf

“Sy wag nou op ’n operasie, maar daar is ’n waglys van twee weke. Ek kan nie dink dat dit goed kan wees dat sy so lank moet wag nie,” het Hannalie Dinsdagoggend aan Huisgenoot gesê.

Volgens Hannalie is die man wat die ander motor bestuur het ook beseer, maar hy is reeds uit die hospitaal ontslaan.

’n Tragedie

Die vier jong mense het ontsettend uitgesien na hul uitstappie, vertel Hannalie. 

“As gevolg van die inperking het die vier van hulle nêrens heen gery nie. Hulle het gevra of ek na hul kinders sal kyk; hulle wil graag ’n bietjie gaan uiteet. Dit sou soos ’n double date wees.

“Hulle het seker twee maande aan die afspraak beplan. En hulle sou agtuur die aand terug wees by die huis.”

"Dit sou soos ’n double date wees. Hulle het seker twee maande aan die afspraak beplan. En hulle sou agtuur die aand terug wees by die huis.”

Monique se twee kinders is twee en sewe jaar oud.

“Hulle het skaars gery toe bel Ruan: 'Tannie, ek dink ons was in ’n ongeluk'. Ek het gevra: Was julle nou in ’n ongeluk, of was julle nie?”

Monique Hepburn en wyle Handri Krause. Foto: Versk
Handri Krause (links), wat in die ongeluk dood is, en Monique Hepburn. Foto: Verskaf

Hannalie sou eers later besef Ruan het ’n harde hou teen die kop gehad en was op daardie oomblik nog baie deurmekaar. 

“Hy het gesê: ‘Monique lê net hier.' My moed het net daar in my skoene gesak, maar toe hoor ek haar stem.”

"Hy het gesê: ‘Monique lê net hier.’ My moed het net daar in my skoene gesak, maar toe hoor ek haar stem.”

Maar vir Hannalie se suster, Jofina, was die tyding baie sleg.

“My sussie se hart is stukkend. Cornelius was haar enigste kind.”

Jofina is ewe bedroef oor die dood van Handri, wat saam met Cornelius op Kliprivier gewoon het. 

Monique Hepburn en haar neef Cornelius Nortjé was
Monique Hepburn en haar neef Cornelius Nortjé was baie geheg aan mekaar. Foto: Verskaf

Hannalie vertel Jofina het voor die paartjie se dood ’n slegte droom oor hulle gehad. 

“My sussie het vertel sy droom dat hulle iewers heen gaan, maar dat hulle in die droom nie weer terugkom nie. In die droom het Handri gesê sy moet vir haar ma sê alles sal oukei wees.”

Operasies wag

Hannalie het ’n ondersteuningsgroep op Facebook, Help Monique, vir haar dogter gestig. Sy sal verskeie operasies moet ondergaan om onder meer die skade aan haar gesig te herstel. 

Monique Hepburn is ernstig in die ongeluk beseer.
Monique Hepburn is ernstig in die ongeluk beseer. Foto: Verskaf

Monique is angstig, en Ruan en die twee kinders trek swaar. 

“Veral die oudste een is baie bang. Ruan is soos sy eie pa, en toe hy tuis kom met die steke en alles in sy kop was hy baie onsteld.”

Volgens Hannalie worstel Ruan baie om die ongeluk te verwerk. Hy voel skuldig omdat hy dit oorleef het, maar Cornelius en Handri nie.

Hannalie hoop dat Monique dringend die chirurgie en hulp sal kry wat sy benodig. “Ek wil net hê sy moet oukei wees.”

  • Kobeli Mokheseng, woordvoerder van die Ekurhuleni Metropolisiediens, sê die ongeluk word steeds ondersoek.
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe