Ene "Hamada" van Egipte het glo met behulp van sy broer uitgevind waar die 13-jarige Amiera haar bevind. Hy het op Facebook met Kennodene kontak gemaak en toe begin hulle op Facebook gesels.

Dit was nadat haar pleidooi op Huisgenoot verskyn het.

Dit is agt jaar sedert Kennodene met haar dogter gepraat het. Kennodene wens sy kon net op ’n vliegtuig klim as sy die geld gehad het, maar sy het in elk geval nie geweet waar Amiera en haar pa, Alaa, hulle in Noord-Afrika bevind nie.

Amiera Shalwa,ontvoer,Egipte,pa
Kennodene Shalwa-Levendal. Foto: Facebook

Die tweejarige Amiera het in 2011 saam met Kennodene se man, Alaa, in Egipte by familie gaan kuier, maar het tot vandag toe nie na Suid-Afrika teruggekeer nie.

Die persoon wat homself "Hamada" noem, het vir haar ’n Google-kaart gestuur en beweer hy het vasgestel waar Amiera woon.

kaart,vermiste,Amiera,Egipte
Die kaart waar die vermiste Amiera glo is in Egipte. Verskaf

Kennodene was vol hoop dat sy eindelik gaan uitvind waar haar geliefde dogter is, maar toe voeg dié persoon by dat sy geld moet stuur. “Ons moet omkoopgeld betaal aan die siviele registrasie-offisier om die spesifieke adres te kry,” het hy haar probeer oortuig.

’n Paar dae later vertel "Hamada" verder op WhatsApp: “Dis die dorpie waar jou dogter woon. Dis die enigste staatskool in die gebied. As sy lewe, sal sy beslis daar skoolgaan.

“Ek het ook die rekening van Alaa nagegaan en inligting oor sy familie gekry. Hy woon in Tanta Algharbia in Egipte, maar hy is omtrent nooit tuis nie. Hy werk weg. Sy bly by haar ouma wat haar baie goed versorg, hoor ek.

“Alaa het het haar as Egiptiese burger geregistreer en sy leer in ’n Egiptiese skool. Hy laat sy vrou teken namens jou.”

Maar toe begin geld weer praat: “As ek jou help om jou dogter terug te kry, gaan ek ’n beloning kry?"


Amiera Shalwa,ontvoer,Egipte,pa
Amiera toe sy nog op Mosselbaai was. Foto: Verskaf

Kennodene se hoop dat dié Hamada haar gaan help om haar dogter op te spoor, is nou aan skerwe, maar sy is nog vuur en vlam om Amiera te gaan haal.

Haar fondse is egter beperk en sy ken nie Egiptiese wetgewing nie, maar is weer besig om met die Departement van Internasionale Betrekkinge te onderhandel om haar te help.

Op 6 Julie 2011 het sy die laaste keer met haar spruit oor die telefoon gepraat. “Sy het gelag van opgewondenheid toe sy my stem hoor,” onthou Kennodene hartseer.

“Haar laaste woorde aan my was nog in Arabies: 'Kom mammie, kom na my toe.' Ek koester dit sedertdien.”

Amiera,Egipte,ontvoer,pa
Die mees onlangse foto wat Kennodene Shalwa-Levendal van haar sewejarige dogter, Amiera, het. Foto: Verskaf
Die mees onlangse foto wat Kennodene Shalwa-Levend
Nog 'n onlangse foto van Amiera Shalwa.

Op 7 Julie 2011 kry sy die skokkende nuus van Alaa dat Amiera onder ’n vragmotor beland het en dood is. Hy het die vragmotorbestuurder glo gekonfronteer en met ’n mes doodgesteek, het Alaa glo vanuit 'n "tronk" aan Kennodene vertel.

'n Dag later, moes Kennodene nog ’n skok verwerk dat Amiera boonop, volgens die Moslem-gebruik, reeds begrawe is.

Maar dit was alles net leuens en Kennodene se familie het vasgestel Amiera lewe nog. ’n Familielid van Alaa het ’n paar maande gelede ’n onlangse foto van Amiera in ’n hijab gestuur.


Amiera,Egipte,ontvoer,pa
Dis een van die laaste foto's wat haar ma van Amiera het, voor sy saam met haar pa Egipte toe is en nooit weer teruggekeer het nie. Foto: Verskaf

’n Organisasie, Child Recovery Australia, wil ook betrokke raak. Hulle het glo al 100 kinders die afgelope 20 jaar oor die wêreld opgespoor – onder andere ’n meisie wie se pa haar Egipte toe gesmokkel het. Hulle het haar binne 53 dae terugbesorg, lui hul verklaring.

Kennodene gryp nou na elke grashalm, want sy sal nie rus voor sy ten minste haar dogter – nou 'n tiener – se stem gehoor het nie.