Van die huis se stoep hoor jy die voëls tjirp. Plek-plek kan jy sien die lente het vanjaar sommer vroeg in die boomryke tuin hier in Orange Grove, Johannesburg, kom nestel.

Voor die ongeluk was dit haar gunstelingseisoen, vertel die vrou met die bruin krullebol en steek met bewende hande ’n sigaret aan.

Maar nie vanjaar nie. Want terwyl die lentevoëltjies vrolik kwetter, veg Leigh van Baalen (46) se seun nou al byna drie maande om sy lewe ná ’n skrikwekkende ongeluk.

Kelvin tydens ’n valskermkompetisie in Barberton, 2015

Elf weke sedert Kelvin (21) tydens ’n valskermsweefkompetisie by Barberton in kragdade vasgevlieg en derdegraadse brandwonde oor twee derdes van sy liggaam opgedoen het, word hy steeds in die hoësorgeenheid van die Milparkhospitaal in Johannesburg behandel.

Vandeesweek is haar kind vir ’n tweede keer – dié keer vir amper ’n week –  in ’n geïnduseerde koma geplaas om druk op sy verrinneweerde organe te verlig en sy liggaam te laat rus, sê Leigh terwyl haar stem kraak.

Dokters waarsku daar lê nog ’n lang pad voor, en sy weet haar kind sal dalk nooit weer dieselfde wees nie.

Dit was Kelvin se groot liefde, dié sport wat die adrenalien deur sy are laat bruis het. Dit breek haar hart dat die einste liefde nou byna sy lewe geëis het, sê Leigh.

Kelvin (links) saam met een van sy valskerm­sweefvriende, Mark Aldridge. Foto: Verskaf

Hy het boonop die aand voor die byeenkoms in ’n boodskap aan haar vanaf die kampterrein naby aan waar die kompetisie gehou word, gesê hy gaan nie deelneem nie, want die weer was nie reg nie. Tog het hy daardie oggend gegaan.

“Ek weet steeds nie hoekom hy gaan deelneem het nie, want nou kan niks ooit weer dieselfde wees nie . . .”

Haar seun was altyd lief vir sport, sê Leigh, met die spore van die afgelope tyd se trauma duidelik op haar gesig.

Haar eksman, Douglas, het in sy 20’s begin valmskermsweef. Kelvin was maar pas in die hoërskool toe hy naweke saam met sy pa gegaan en in verwondering gekyk het hoe die volwassenes hoog bo in die lug sweef.

Kort ná sy 16de verjaardag het hy ’n lisensie gekry en die eerste keer saam met sy pa gaan sweef. Hy was dadelik versot op die sport, onthou sy ma.

Hy het deur die jare gereeld teen ’n berg afgespring en deur die lug gesweef, maar sy ma het nooit gaan kyk nie.

“Ek het hom nog nooit sien valskermsweef nie,” se Leigh byna ongelowig. Sy het gemeen dis gevaarlik en wou hom nie in sy stokperdjie ondersteun nie.

“Ek was vreesbevange dat iets verkeerd sou loop, en nou beleef ek my donkerste nagmerrie.”

Kelvin sou later vanjaar ’n B.A.-graad met sielkunde as hoofvak aan die Universiteit van die Witwatersrand voltooi het en was een van Suid-Afrika se belowendste valskermswewers, sê Leigh.

Hy het honderde kere gesweef, aan tientalle kompetisies deelgeneem en die een prys ná die ander gewen, alles sonder ’n enkele voorval.

“Hy kon die ongelooflike vryheid doer bo in die lug nie beskryf nie. Daarom het hy elke liewe geleentheid aangegryp om te sweef, en soms sommer van sy klasse misgeloop.”

En toe kom daardie noodlottige dag toe Kelvin en Douglas op 29 Junie aan die laaste dag van die Barbertonse Valskermsweef-ope gaan deelneem het.

“Hulle was bewus van die risiko omdat die windspoed en -rigting verkeerd was vir sweef,” sê Leigh.

“Maar as jy ’n adrenalienverslaafde is, is jy altyd op soek na ’n uitdaging.”

Kelvin was skaars ’n halfuur in die lug toe die ongeluk bo ’n oop plaasveld gebeur.

Later, in die tye dat hy in die hospitaal by sy bewussyn was, het hy vir sy ma vertel hoe die grugebeure ontvou het.

“Hy het die kragdrade een minuut voor die ongeluk gesien,” verduidelik sy.

“Hy het geskrik en paniekerig geraak. Hy het van rigting probeer verander, maar te hard aan die toue geruk en toe begin tol.”

En toe tref haar seun die drade.

“Die kragstroom wat deur Kelvin se lyf geskiet het, het veroorsaak dat hy sy bewussyn vir enkele oomblikke verloor het. Sy klere en die valskerm het onmiddellik aan die brand geslaan en hy het op die grond neergestort.”

“Toe hy sy bewussyn herwin, was hy besig om te brand. ’n Oomblik lank het hy gedink hy gaan dood en was hy bang. Toe skop die adrenalien in.

“Hy het op die grond rondgerol in ’n poging om die vlamme aan sy lyf te blus. Dít, tesame met die vonke van die kragdrade, het ’n veldbrand veroorsaak.”

Erg verbrand en poedelnaak nadat die klere van sy lyf afgebrand het, het haar seun in ’n boom geklim om van die veldbrand te probeer ontsnap.

Intussen het ’n medeswewer wat die ongeluk sien gebeur het op ’n tweerigtingradio hulp ontbied.

Toe Douglas en die nooddienste sowat 10 minute ná die ongeluk op Kelvin afkom, het Douglas sy seun in sy arms opgetel en met hom na die ambulans gehardloop.

“Jy kan jou nie voorstel hoe ’n pa moet voel terwyl sy volwasse seun in sy arms ophou asemhaal nie,” sê Leigh.

Die ambulans het hom na die Kruger Mpumalanga Internasionale Lughawe geneem, waarna ’n helikopter hom na die Milparkhospitaal vervoer het.

Leigh was teen middagete besig om inkopies te doen toe sy die oproep kry. Dit was Douglas: “Daar was ’n ongeluk. Kom gou!”

Weer is daar trane in haar oë.

“My hart het gaan staan. Ek het inmekaargesak en die selfoon vir my jongste seun, Tyrin (18), gegee.

“Hy het geskok geprewel: ‘Ek het hom nie gegroet toe ek hom die laaste keer gesien het nie . . .’ ”

Leigh het na die hospitaal gejaag en was reeds daar toe die helikopter land. Sy sal die geluid nooit vergeet nie: “Jy weet jou kind is binne, maar jy weet nie of hy gaan lewe of dood wees wanneer hulle die deur oopmaak nie.”

Ure lank het sy in die hospitaalgange op en af gestap terwyl sy en Douglas op die traumachirurg se diagnose gewag het.

Die nuus het hulle verpletter: Kelvin het derde- en vierdegraadse brandwonde oor 62% van sy liggaam opgedoen. Boonop het die kragstroom groot skade aan sy ingewande aangerig.

“Die chirurg het dadelik vir ons gesê daar lê ’n lang pad voor. Ek het geweet dinge sal nooit weer soos voorheen wees nie. Hy sal nooit weer die ou Kelvin wees nie.”

Leigh van Baalen sê dit breek haar hart om te sien hoeveel seer haar kind het. Foto: Onkgopotse Koloti

Weens die trauma aan sy liggaam is Kelvin vir ’n maand in ’n geïnduseerde koma geplaas. Hy het al 17 veloorplantings ondergaan en dokters vrees sy linkerbeen sal dalk geamputeer moet word.

“Wat my die meeste onderkry, is die onsekerheid oor wat die toekoms inhou. Ek is ’n ma. Ek wil my kind by my hê, ongeag hoe hy óf die toekoms lyk.”

Noudat Kelvin weer in ’n koma is, spook Leigh in stilte met haar vrese.

In die oomblikke dat hy by sy bewussyn was, het Kelvin dikwels die trauma herleef en in die hospitaalbed gedink hy is weer aan die brand. Sy ma het hom telkens probeer troos.

“Tot nou toe kon ek elke dag met hom praat; hom moed inpraat, vir hom sê dinge gaan weer regkom. Maar wanneer hy nie by sy bewussyn is nie, het ek net my vrese.”

Hy het in ­Junie vanjaar ernstige brandwonde oor twee derdes van sy liggaam opgedoen nadat hy tydens ’n valskerm­sweefkompetisie naby ­Barberton in kragdrade vasgevlieg het.

Sy kyk ’n oomblik uit op haar tuin. Bokant die bome is die lug blouselblou. As haar seun wel sy been verloor, sal hy wel weer eendag kan valskermsweef, sê Leigh. Of hy sal wíl, weet sy nie.

“Wanneer dit die dag met hom goed gaan, wil hy die hele hospitaal se personeellede leer sweef. Maar wanneer dit goor gaan, wil hy niks daarvan weet nie.”

Dan skud sy haar kop. “Niks daarvan maak saak nie. Ek is net dankbaar hy leef.

“Wat ek wél weet, is dit: As hy eendag uit daardie hospitaalbed opstaan en weer wil gaan sweef, sal ek vir die eerste keer daar wees en hom die hele pad aanmoedig.” 

FOTO'S: ONKGOPOTSE KOLOTI, VERSKAF