Die skokkende voorval het die land geruk: Dokters het maande lank vir die jong swewer se lewe gevrees nadat hy op 29 Junie verlede jaar – op die laaste dag van die Barbertonse Valskermsweef-ope – derde- en vierdegraadse brandwonde oor twee derdes van sy liggaam opgedoen het nadat hy in kragdrade vasgesweef het.

Kelvin, ’n kranige deelnemer aan sulke toernooie, het op dáárdie dag oomblikke voor die voorval eers die kragdrade opgemerk; paniekerig geraak en toe beheer verloor. Die kragstroom wat deur sy liggaam geskiet het, het die klere van sy liggaam afgebrand en ernstige skade aan sy ingewande aangerig.

Ná meer as een jaar in die hospitaal is die jong man al nege keer bygebring nadat sy hart gaan staan het. Hy het al meer as 17 veloorplantings ondergaan, orgaanversaking opgedoen en verskeie septiese skokvoorvalle, veelvoudige infeksies, ’n hartaanval en suurstoftekort (hipoksie) oorleef.

Haar seun het teen alle verwagtinge oorleef, sê Leigh van Baalen (47). En vandag het sy byna nie woorde om van haar “vreugde, liefde en dankbaarheid” te getuig nie.

Kelvin
Kelvin en Robyn. Foto: Verskaf

“Daar is niks wat ek kan sê wat genoeg kan verduidelik hoe dankbaar ek was om my seun oplaas huis toe te bring nie,” vertel Leigh oor die oomblik toe Kelvin op 24 Oktober uit die hospitaal ontslaan is.

“Dis ’n wonderwerk – dis die enigste manier om dit te beskryf. As ’n mens net dink aan al die kere dat ons gedink het hy gaan dit nie maak nie . . . Aan al die aande vol bekommernis en ure langs sy hospitaalbed. In een stadium het ek nie geweet of hy ooit weer sal huis toe kom nie. En hier is ons nou. Wat ’n ontsettende groot voorreg.”

Dit het vir Kelvin groot vreugde gebring om na só lang tyd weer tussen sy mense te wees, sê sy. 

“Hy was verheug – maar het nie die huis geken nie. Ons het aan begin om ’n huis te bou net toe die ongeluk gebeur het. En ná so lank kan hy nou vir die eerste keer sy eie, nuwe huis sien. Dit was vir hom ’n groot lekkerte.”

Terwyl daar nou in die Van Baalen-huis groot opgewondenheid heers oor Kelvin se tuiskoms, lê ’n lang en uitmergelende rehabilitasieproses nog voor, verduidelik Leigh. Die swewer het kwaai skade aan sy spiere opgedoen – veral in sy een kuit en een heup.

“Hy gaan weer heeltemal van voor af moet leer loop en selfs net om ’n pen vas te hou en te skryf. Hy bewe nog baie. Anderdag, toe ek sy ontslagvorms in die hospitaal invul, sê Kelvin so ewe tergend: ‘Ek hoef nie van voor te leer skryf nie – alles is mos digitaal’. Maar ek sê toe vir hom ek is dan nou besig om vorms in te vul – daar is nie ’n rekenaar daarvoor nie. Hy word weer sy ou self.”

Kelvin sou verlede jaar ’n B.A.-graad met sielkunde as hoofvak aan die Universiteit van Witwatersrand voltooi het. Sy studie is intussen gestaak tot bepaal kan word hoe lank sy herstelpad nog gaan duur.

Kelvin van Baalen
Leigh saam met Kelvin. Foto: Verskaf

Leigh is vol lof vir Kelvin se meisie, Robyn, wat sedert daardie voorval nog elke dag langs Kelvin se hospitaalbed is. Robyn is ’n derdejaarhomeopaatstudent. Die twee het mekaar maar net meer as ’n maand voor die voorval geken.

“Sjoe, ek weet nie hoe ons dit sonder haar sou doen nie. Daar is baie mense vir wie ons moet dankbaar wees: familielede; dokters; verpleërs; ondersteuners. Maar vir haar veral – sy was daar met elke terugslag, elke traan en elke oorwinning. Dis ongelooflik om te sien hoe sy by hom staan.”

Sy is ondanks talle uitdagings nou gereed vir die volgende hoofstuk: Om Kelvin by te staan in elke tree van sy rehabilitasie.

“Ons kan nie ontken dat daar nog ’n epiese reis voorlê nie. Kelvin sal nog maande lank rehabilitasie, chirurgie, sielkundige hulp en besoeke by neuroloë moet ontvang. Hy het nog steeds oop wonde wat skoongemaak en versorg moet word. Hy is ongelooflik swak. Hy word maklik moeg en het konstant pyn. 

“Maar vir nou wil ons eers die goeie nuus vier – want hy is eindelik by die huis en dis waarvoor ons vir soveel maande gehoop het.”