Tydens dié byna 3 minute van vryheid vergeet jy selfs dat jou 80-jarige liggaam deurtrek is van kanker. So beskryf Ampie Reinecke die gevoel wat hy ervaar het nadat hy aan die einde van Junie 'n tandemsprong by die Mosselbaai Valskermklub uitgevoer het.

Nie net het hy hiermee een van sy grootste drome bewaarheid nie; die geleentheid was ook 'n geldinsameling vir sy liefdadigheidsorganisasie, Skydive Kiddie’s Cancer Drive.

Hy het vroeër vanjaar dié projek in samewerking met die Kankervereniging begin om kinders wat direk of indirek deur kanker geraak word, finansieel te steun.

Self weet hy ook nie “hoe lank hy nog gespaar sal bly nie”, want sy kanker is al in 'n gevorderde stadium.

“Ek weet ek het nie meer baie tyd oor nie; ek weet dit. Maar darem kan ek nou skydive van my bucket list afmerk,” vertel hy.

Ampie was in sy jong dae in die 1960's 'n ywerige valskermspringer wat byna 200 spronge uitgevoer het. Hy het onder meer twee Suid-Afrikaanse kampioenskappe gewen, maar later het Dot, die liefde van sy lewe, met wie hy in 1960 getroud is, 'n stokkie daarvoor gesteek.

“Jong, haar senuwees was kláár elke keer as ek in daai vliegtuig klim. As 'n man se vrou praat, moet jy mos maar luister,” terg hy.

“In 1967 het ek vir die laaste keer 'n valskermpak aangetrek.”

Maar die begeerte om weer te kan spring, het nooit minder geword nie, bieg hy.

Ampie en Dot woon al die afgelope 18 jaar op Mosselbaai. Die egpaar is kinderloos; dis waarom hy nou uitreik na ander kinders wat deur kanker geraak word, verduidelik hy.

Ampie en sy vrou, Dot. Foto verskaf.
Ampie en sy vrou, Dot. Foto: Verskaf.

Ampie stap sy eie pad met kanker al van 1979 toe velkanker by hom gediagnoseer is. In 1983 is Guillain-Barre-sindroom by hom gediagnoseer wat hom ongeveer vier dae lank verlam het.

“Daar is vandag nog nagevolge,” vertel hy. “My linkerhand is effens bewerig, asof ek 'n drinker is.”

Vier jaar gelede is prostaatkanker ook ontdek wat nou sy hele beenstruktuur aangetas het.

“Ek loop swaar, maar ek troos myself daaraan dat 'n mens nooit uit 'n aerie hoef te loop nie; jy spring sommer net!”

Ampie vertel een van die dokters het onlangs vir hom gesê hy dink “ek sal 82 kan haal”.

Nou het hy gespring om kinders met kanker te steun.