Die ongeluk het gebeur terwyl hy op 29 Junie 2018 aan ’n valskermsweefkompetisie op Barberton deelgeneem het.

“Dit was die enigste keer in my lewe dat ek gevoel het ek gaan doodgaan,” vertel die jong man van Johannesburg.

Valskermswewers benodig warm lug wat opstyg om die hoogte te bereik wat hulle nodig het. Op dié betrokke dag het Kelvin nie genoeg warm lug gehad nie.

Vliegongeluk
Kelvin hoop om binnekort weer sy vlerke te sprei. Foto: Verskaf

“As deel van die kompetisie moes ons oor ’n woudagtige gebied sweef en ek het agtergekom ek kry nie die nodige hoogte nie. Ek was bang ek vlieg in die bome vas.”

Kelvin het ’n pad tussen die ruigtes gesien en besluit om daar te land.

“Ek kon nie die kragdraad langs die pad sien nie. Ek dink dit was weens die hoek van waar ek gekom het. Ek kon ook nie die kragdrade se pale sien nie.”

Toe Kelvin besef hy is besig om op ’n kragdraad af te pyl het hy probeer wegswenk, maar dit was te laat.

“Die kragdraad het my teen my heup getref en skokgolwe het deur my linkerbeen gegaan en by my enkel uit.” 

Hy het weens dié trauma bewusteloos geword terwyl hy aan sy sweeftuig se harnas aan die drade gehang het.

“Die vonke van die elektrisiteit het daartoe gelei dat ’n brand onder op die gras ontstaan het. As ek nou terugdink is my enigste logiese verduideliking dat die nylontoue van my paraglider gesmelt het en ek so in die vlamme geval het.”

Kelvin sê hy weet nie hoe lank hy in die vlamme bewusteloos was nie, maar toe hy wakker word, het hy dadelik besef hy brand.

“Adrenalien het ingeskop. Ek het niks pyn ervaar nie; al wat ek gedink het, is dat ek vandag gaan doodgaan.”

Weens die skok kon hy nie loop nie en het hy uit die vlamme gerol en na ’n boom gekruip waar hy homself met sy arms opgehys het.

“Die ander vlieëniers het oor my gevlieg en ek het om hulp geroep. Een van die ander deelnemers het my gesien en ’n WhatsApp-pin gedrop.”

Die paramedici het Kelvin op die toneel gestabiliseer en hom per helikopter na die Milpark-hospitaal geneem waar hy meer as ’n jaar van sy lewe deurgebring het.

Hy het meer as 80% brandwonde oor sy hele lyf opgedoen.

“Ek kan nie veel van die 413 dae onthou nie. Dit is alles ’n blur. Ek onthou net klein gedeeltes. Soos my pa wat my gevoer het in my bed.”

Kelvin moes nog twee en ’n half maande in ’n rehabilitasiekliniek deurbring en ontvang tans twee keer per week fisioterapie by die huis.

Hy het in ­Junie 2018 ernstige brandwonde oor t
Hy het in ­Junie 2018 ernstige brandwonde oor twee derdes van sy liggaam opgedoen nadat hy tydens ’n valskerm­sweefkompetisie naby ­Barberton in kragdrade vasgevlieg het.

“Dit gaan al baie beter met my en ek glo ek sal ten volle herstel.”

Kelvin het nog heelwat prosedures om te ondergaan. Een van hulle is ’n veloorplanting aan sy heup waar hy elektriese brande van die kragdraad opgedoen het.

Die herstelproses is nog ’n lang pad.

Vliegongeluk
Kelvin het nog 'n lang pad van herstel voor hom. Foto: Verskaf

Kelvin kan tans nie op sy eie loop of homself aantrek nie. Hy is steeds in ’n rolstoel.

“Hy kort hulp om te stort of toilet toe gaan,” sê sy ma, Leigh.

“Ek hoop ek kan teen volgende jaar weer aan kompetisies deelneem,” sê hy.

Volgens Leigh beplan hulle op 13 Mei vir sy 23ste verjaardag ’n tandemvlug by Hartbeespoortdam.

“Ek dink ek gaan baie wyn vir my senuwees nodig hê,” skerts sy.