Gedink verlede jaar was vol politieke drama, ekonomiese kopsere en klimaatsvrese? Maak jou sitplekgordel vas, want 2020 sal waarskynlik ook ’n wipwarit wees. Die nuwe jaar hou groot uitdagings in, voorspel die kenners.

Dít is wat vanjaar in die wêreldnuus en plaaslik voorlê. 

Wêreldpolitiek

Amerika se leierskapstryd

Volg Huisgenoot op Instagram, Twitter, Facebook, W
Amerikaanse president Donald Trump. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Kort voor ons saktyd is pres. Donald Trump in 'n staat van beskuldiging geplaas deur die Amerikaanse huis van verteenwoordigers, maar kenners voorspel die senaat sal hom onskuldig vind.

Trump se teenstanders wil hom laat vervolg omdat hy Oekraïne probeer beïnvloed het om Joe Biden, sy voorste teenstander in November se Amerikaanse presidentsverkiesing, te ondersoek.

Hoe sal Trump in die verkiesing vaar gegewe die moeilikheid waarin hy hom bevind?

Die hele sage “kan sy kans om herverkies te word benadeel”, meen prof. Dirk Kotzé, 'n politieke ontleder aan Unisa. 

Maar prof. Theo Neethling, hoof van die departement politieke studie en regeer­kunde aan die Universiteit van die Vrystaat, meen die Demokrate se poging om Trump te laat vervolg kan boemerang as “hy sy ondersteuners kan oortuig hy’s die slagoffer van 'n heksejag en fopnuus”.

Teen Desember was die voorlopers onder die Demokrate se presidentskandidate Joe Biden, Elizabeth Warren, Bernie Sanders en die voormalige burgemeester van New York Michael Bloomberg.

Prof. André Duvenhage, 'n politieke wetenskaplike aan die Noordwes-universiteit, sê Trump het sterk steun onder die Republikeine en baie Amerikaanse kiesers. Hy het 'n “billike kans op 'n tweede termyn”, sê hy.

China vry na Afrika

Chinese president Xi Jinping. Foto: Gallo Images/
Chinese president Xi Jinping. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Dié Asiese reus ervaar sy laagste ekonomiese groei in amper drie dekades, en dít sal die land aanspoor om sy internasionale handelsnetwerk verder te probeer uitbrei, sê Theo.

Hy sê hoewel China, met Xi Jinping aan die stuur, sy verbruikersprodukte reeds na Afrika, die Midde-Ooste, Asië en Europa uitvoer, sal die land sy voetspoor selfs meer in dié wêrelddele wil vergroot. 

Om hul handelsbande met veral Afrika en die Midde-Ooste te ondersteun en beskerm, sal hul diplomatieke verhoudings met dié streke heeltyd uitbrei.

Nog 'n rede vir dié fokus is Amerika se handelsoorlog teen China. Trump het invoertariewe op Chinese produkte verhoog en China het dieselfde met Amerikaanse invoer gedoen.

Of Trump hierdie ekonomiese konflik veel langer sal kan volhou, is onseker, want China soek bloot ander verskaffers om Amerikaanse invoer mee te vervang.

Dis Brexit en basta

Die Britse premier Boris Johnson. Foto: Gallo Imag
Die Britse premier Boris Johnson. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Drie jaar lank kon 'n verdeelde Britse parlement nie saamstem oor 'n plan om Brexit – Brittanje se uittog uit die Europese Unie (EU) – uit te voer nie.

Die afgelope Desember het alles verander toe die premier, Boris Johnson, en sy Tory-party die jongste verkiesing gewen het.

Johnson het nou 'n meerderheid in die Britse parlement, wat beteken hy kan sy Brexit-planne deurdruk sonder dat die Britse opposisie hom kan keer.

Oorspronklik sou Brittanje en die EU ná 31 Januarie vanjaar 'n oorgangstydperk van tot drie jaar binnegaan waartydens Brittanje steeds ’n EU-lid bly terwyl hulle oor hul handelsverhoudings onderhandel.

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Maar ná sy verkie­singstriomf het Johnson, 'n geharde “Brexiteer”, laat weet hy wil die oorgangstydperk van 'n moontlike drie jaar tot net 11 maande verkort. 

Brittanje sal nuwe, afsonderlike handels­ooreenkomste met Europese lande moet sluit en die EU sal maniere moet kry om Brittanje se jaarlikse bydrae tot die EU-begroting te vervang.

Intussen het talle internasionale firmas aangedui hulle sal hul Britse takke ná Brexit sluit. 

Klimaatskrisis in die kollig

Die klimaatsaktivis Gretha Thunberg
Die klimaatsaktivis Gretha Thunberg. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Nadat die 17-jarige Sweedse klimaataktivis Greta Thunberg verlede jaar die verbeelding aangegryp het met haar protes teen wêreldleiers se houding oor die klimaatskrisis, sal vrese oor die uitwerking van aardverwarming vanjaar pal in die nuus boer.

Die Verenigde Nasies het einde verlede jaar 'n dringender internasionale spanpoging gevra om die vrystelling van aardverwarmende kweekhuisgasse teen 2030 met 45% te sny.

Maar Amerika, China en Indië, die grootste kweekhuisgasprodusente – bly teen die voorgestelde riglyne vasskop.

Intussen waarsku kenners en ’n generasie jong mense wat hul stem dik maak oor hul toekomsvrese dat die klimaatskrisis die planeet toenemend bedreig. 

Afrikalande “voel reeds die effek van die ontkenning van die verskynsel”, sê John Stremlau, 'n professor in internasionale betrekkings aan die Universiteit van die Witwatersrand. 

Suider-Afrika ervaar “een van die ergste droogtes in sy geskiedenis”, sê André. Kenners waarsku dit gaan 'n verwoestende uitwerking op die landboubedryf en die ekonomie hê. 

Elders op die planeet word katastrofiese brande en vloede ook aan die invloed van aardverwarming toegeskryf – en daar word verwag dat ons dit toenemend sal sien as dringende ingrypings dit nie stuit nie.

Op eie bodem

'n Leierskapstryd in die politiek

Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Gallo Images/Getty Im
Pres. Cyril Ramaphosa. Foto: Gallo Images/Getty Images

Die ANC is steeds verdeeld “met pres. Cyril Ramaphosa aan die een kant en sekretaris-­generaal Ace Magashule aan die ander kant”, sê Theo. “Daar is ook diep ideologiese verskille in die alliansie oor hoe die ekonomie bestuur moet word.”

Die uitkoms van die party se algemene raadsvergadering later vanjaar sal toonaangewend wees.

“Ek vermoed John Steenhuisen sal in April as die DA-leier verkies word en dat hy 'n duideliker pad vir die opposisieparty sal uitstippel,” sê dr. Theuns Eloff, voorsitter van die FW de Klerk-stigting se adviesraad. 

Helen Zille sal ook as die nuwe federale raadvoorsitter van die DA agter die skerms 'n groot rol speel, meen Theuns. Dié party sal probeer om met “ 'n konserwatiewer benadering” verlore steun as amptelike opposisie terug te wen, sê André.

Die ekonomie wankel

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

“Suid-Afrika se hoë staat-skuld het hom ingehaal en dis die regering se grootste onmiddellike uitdaging,” sê Theo.

Eskom, die Suid-Afrikaanse Lugdiens en ander staatsondernemings is diep in die moeilikheid weens uitermate hoë skuld, en “as die regering die land se skuldlas nie reg bestuur nie, kan die ekonomie ontspoor”, waarsku hy.

“Dis soos 'n individu wat op sy oortrokke rekeninge lewe, maar sukkel om sy skuld terug te betaal – die rente daarop ruk totaal handuit,” beaam die ekonoom Dawie Roodt.

Dawie reken dat inflasie in 2020 aan die lae kant sal bly en rentekoerse ook nie veel sal verander nie, maar waarsku gewone verbruikers moet hul persoonlike geldsake met omsigtigheid bestuur. “Die algemene verbruikersomgewing sal nog moeiliker raak.”

Boonop moet die kredietgraderingsinstansie Moody’s binnekort weer besluit oor moontlike rommelstatus vir Suid-Afrika, sê Theo. Rommelstatus sal beteken dat Suid-­Afrika as ’n ongeskikte beleggingsomgewing beskou word.

Gebeur dit, “sal internasionale beleggers hul Suid-Afrikaanse staatseffekte moet verkoop (miljarde rande sal landuit vloei) en die rand kan verswak”, sê Theo.

Dawie sê dit kan “groter wisselvalligheid in die randwisselkoers en hoër rentekoerse beteken”.

Hy sê onsekerheid oor internasionale ekonomiese vooruitsigte kan ook 'n invloed op Suid-Afrika se ekonomie hê. “Die groot vraag is of die Amerikaanse ekonomie, dus die wêreldekonomie, op 'n resessie afstuur. Ek vermoed die wêreldekonomie gaan vanjaar verswak – en dis slegte nuus vir Suid-Afrika.”

Lig in die donker?

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Kenners waarsku beurtkrag is nog lank nie verby nie en die voortdurende onsekerheid oor Eskom se gebrekkige kragvoorsiening kan ons ekonomie verder knou.

Terwyl Eskom se nuwe uitvoerende hoof, André de Ruyter, die bedryfshoof, Jan Oberholzer, en Eskom se regrukspan die kragvoorsiener se vele probleme moet uitstryk, het pleidooie opnuut opgeklink om die kragnetwerk aan privaat mededingers oop te stel om so tekorte aan te vul. 

'n Energiesektor-ontleder, Chris Yelland, beklemtoon Suid-Afrika moet sy afhanklikheid van Eskom verminder en sy opwekkingsbronne diversifiseer: weg van vuil, beperkte steenkoolkrag na hernubare, skoon energiebronne soos son- en windkrag.

Ramaphosa het laat hoor die regering sal dalk die deur begin oopmaak vir privaat vervaardigers van krag, en dit kan lig in die donker, maar ook verligting in die land bring.

“Privaat ondernemings moet hul eie krag kan opwek en die oortollige elektrisiteit aan die nasionale netwerk kan verkoop. Dit beteken ook ekonomiese en werkskeppingsgeleenthede,” sê die ekonoom Ulrich Joubert.

Hof toe oor grond en gesondheid?

Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images
Ter illustrasie. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Die kwessie van moontlike grondonteiening sonder vergoeding sal 'n warm patat bly, en Theuns meen die voorgestelde wysiging aan die Grondwet se Artikel 25 – wat dit moontlik sal maak – sal deur die parlement aanvaar word.

Maar hy meen hofsake sal volg om dit uit te daag, en die wetgewing sal waar­skyn­lik nie binne die volgende drie jaar toegepas kan word nie.

André meen die regering se omstrede voorgestelde plan vir nasionale gesondheidsversekering (NGV) – wat privaat mediese skemas kan benadeel – sal ook teenspoed kry weens regsgronde en die regering se oënskynlike onvermoë om dit prakties uit te voer.

Dawie beaam die staat het nie die vermoë om dit te administreer nie en dat dit in die howe beveg sal word. “Ek sal verbaas wees as die NGV ooit geïmplementeer word.”

Die vervolging van staatskapers

Ace Magashule, ANC-sekretaris-generaal, op ’n perskonferensie. Foto: Thulani Mbele/Sowetan/Gallo Images/Getty Images

Die ondersoek na staatskaping voor regter Raymond Zondo sal na verwagting teen Augustus afgehandel word, en kenners verwag dat amptenare wat wel uit korrupsie voordeel getrek het daarna vervolg sal word. 

“Ek verwag optrede teen van die staatskapingsbelhamels, en dit kan invloedrykes soos Ace Magashule insluit,” sê André.

“ 'n Paar hoë bome kan val,” beaam Theuns, en benadruk middelvlak-amptenare kan ook aangekla word.

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.