Die heldergeel jas en rooi haarband was al genoeg om seker te maak Amanda Gorman tref die oog toe sy op die verhoog verskyn.

Maar dit was haar aangrypende gedig – die woorde én hoe vloeiend sy dit voorgedra het – wat aan haar sterstatus besorg het ná haar optrede by die Amerikaanse president, Joe Biden, se inhuldigingseremonie.


In haar gedig “The Hill We Climb” stel sy haarself voor as “ ’n maer swart meisie, ’n afstammeling van slawe en grootgemaak deur ’n enkelma” wat nou daarvan kan “droom om eendag president te wees”.

Haar voordrag was so onvergeetlik dat ’n mens skaars kan glo ’n spraakprobleem het Amanda kleintyd lamgelê.

Sy en haar tweelingsuster, Gabrielle, is vroeggebore, wat daartoe gelei het dat Amanda chroniese oorinfeksie ontwikkel het en eindelik sekere klanke nie kon uitspreek nie.

Maar as kind het ’n onderwyser wat poësie in die klas voorgelees het haar geïnspireer om haar eie gedigte te begin skryf en dit ook voor te dra.

Sy en Gabrielle en hul ouer broer, Spencer, is in Los Angeles deur hul ma, Joan Wicks, grootgemaak.

Joan was ’n Engelsonderwyseres wat ook haar dogter se liefde vir poësie help kweek het.

Amanda onthou hoe sy pouses gedigte op die speelterrein sit en skryf het en beskryf haarself terugskouend as ’n “vreemde kind”.

Maar in poësie het sy haar passie gevind. Op 17 het sy al ’n organisasie gestig wat poësieslypskole aanbied en leierskapsvaardighede onder jong mense ontwikkel. Sy het Amerika se eerste nasionale jeugdigter geword, was ’n jeugafgevaardigde by die Verenigde Nasies én het ’n beurs losgeslaan om sosiologie aan die Harvard-universiteit te studeer.

Intussen het sy in advertensies vir die ontwerper Helmut Lang verskyn; daarom het sy nie getwyfel toe die agentskap IMG Models haar kort ná haar inhuldigingsoptrede ’n modelkontrak aanbied nie.

“Daar’s hierdie idee van die arme, lydende digter; en ek probeer wys dat die digter ook stylvol kan wees – en dat dit geensins afbreuk doen aan hul poësie nie,” sê sy.

As Amerika se jeugdigter lewer Amanda al sedert 2017 voordragte reg oor die land. Pres. Biden se vrou, Jill, het ’n opname van een optrede gesien wat haar so ontroer het dat sy die jong digter drie jaar later genooi het om by die inhuldiging op te tree – en so in die voetspore van groot digters soos Maya Angelou te volg.

“Sy het gesê: ‘Ek het hierdie video van jou gesien waarin jy geel gedra het, en ek was mal daaroor,’ ” onthou Amanda.

Amanda Gorman dra haar gedig “The Hill We Climb” b
Amanda Gorman dra haar gedig “The Hill We Climb” by Joe Biden se inhuldiging voor.

Dié keer het sy dus weer geel gekies en haar uitrusting met juweliersware afgerond wat Oprah Winfrey aan haar geskenk het.

“Sy het gesê: ‘Ek het die jas en handskoene gekoop wat Maya Angelou gedra het toe sy haar inhuldigingsgedig in 1993 voorgedra het. Ek wil graag die tradisie voortsit en iets tot jou uitrusting bydra.’ ”

Dié bydrae was toe ’n paar goue hoepeloorbelle en ’n ring met ’n voël in ’n koutjie daarop.

Dit simboliseer Maya se nalatenskap, want dié befaamde Amerikaanse digter se outobiografie is getiteld I Know Why the Caged Bird Sings.

Amanda Gorman by haar ma, Joan Wicks. Foto: Getty
Amanda Gorman met haar tweelingsuster, Gabrielle. Foto: Instagram/amandagorman

Amanda erken sy was ’n bondel senuwees toe sy die inhuldigingsgedig in Desember begin skryf het.

“Dit was waarskynlik een van die belangrikste dinge wat ek ooit in my loopbaan gaan doen,” sê sy.

Sy was omtrent halfpad met die skryf van die gedig toe Trump-ondersteuners die Kongresgebou in Januarie binnegestorm het.

Daarna het sy deur die nag wakker gebly om die gedig klaar te maak.

“Ek het dit geskryf met die idee dat dit nie die oomblik was om op Trump se graf te dans nie. Dis ’n werklike geleentheid om die mense van die Verenigde State te verenig,” verduidelik sy.

Sy het die voordrag oor en oor geoefen tot sy seker was sy sou nie oor die woorde struikel nie.

WASHINGTON, DC - JANUARY 20: Amanda Gorman speaks
Amanda Gorman by haar ma, Joan Wicks. Foto: Instagram/amandagorman

“Vir my kos dit baie energie en werk,” sê sy.

“Vir iemand met ’n spraakprobleem hou praat voor miljoene mense sy eie soort angs in.”

Nou lê dié optrede agter haar, en die toekoms wink. Vanjaar verskyn twee boeke uit haar pen – ’n geïllustreerde kinderboek en ’n digbundel.

En die versreël oor ’n meisie wat president wil word, was nie net leë woorde nie. Sy het in ’n onderhoud vertel dat dit al sedert haar kinderjare ’n droom is, en sy beplan om vir president te staan sodra sy in 2036 verkiesbaar is.

Haar ma, broer en suster ondersteun haar voluit. “Dis iets wat my familie baie ernstig opneem, want hulle weet as ek iets sê, bedoel ek dit.” 

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.