Shane Pretorius
Shane Pretorius van Vanderbijlpark sê hy is nie ’n held nie en “wou maar net help” toe minstens 16 insittendes van ’n minibustaxi in stormsterkwaters vasgekeer was. Foto: Verskaf

Dis die angsgille wat hom genoop het om sy eie lewe te waag en ’n groep insittendes van ’n minibus te bevry nadat dié voertuig deur stormwaters meegesleur is, vertel ’n inwoner van Vanderbijlpark, Gauteng, oor sy vinnige optrede wat nou van hom ’n plaaslike held gemaak het.

Shane Pretorius (25), wat werk vir ’n onderneming wat spesialiseer in hidrolika, sê hy is oor die naweek – toe swaar reën weer gevaarlike oorstromings in die noorde veroorsaak het – opnuut herinner aan die toneel wat hom op 14 Januarie by Andries Pretorius Boulevard in dié nywerheidstad afgespeel het.

Dit was soos iets uit ’n rillerverhaal: ’n minibustaxi met minstens 16 insittendes is meegesleur deur stormsterkwaters, wat deur swaar reën en swak dreinering meegebring is. Die minibus het in die middel van die pad in ’n slaggat tot stilstand gekom en duisende liters water het binne oomblikke die bodem van die voertuig bedek.

“Ek onthou nog die angsgille: ‘Help us, please! We can’t get out, somebody, please help!’ Dis nie sommer net ’n motor wat per ongeluk in die water beland het en nou sukkel om daar uit te kom nie. Ek kon dadelik hoor hulle is angsbevange en dat hulle vrees vir hul lewe,” vertel Shane Dinsdag aan Huisgenoot.

Shane Pretorius
Foto’s van Andries Pretorius Boulevard wys hoe oorstroom die pad was. Foto: Verskaf

Hy was op pad om ’n sleepwa net om die draai daarvandaan te gaan aflaai toe hy op die toneel afgekom het, vertel Shane. Hy het dadelik kontak gemaak met Johan Strydom, ’n insleepdiensbestuurder van QA Towing, en dié het nog ’n vriend wat met insleepdienste werk, Nico Radebe, gekontak.

“Ons het dadelik aan die werk gespring om die pad af te blokkeer sodat daar nie meer voertuie in die sterk stroom beland nie,” vertel Shane. 

“Kyk, dit was nie net ’n bietjie water nie. Die dreinering is swak en daar is verskriklik baie slaggate. ’n Voertuig kan maklik binne die water vasgekeer word.” 

Die minibus was al so ver onder die water dat die bodem van die voertuig nie meer sigbaar was nie, vertel hy. 

Shane Pretorius
Die Vanderbijlse ‘helde’: Van links is Johan Strydom, Nico Radebe en Shane. Foto: Verskaf

“Die insittendes was doodbang om uit die motor te klim – hulle het nie geweet hoe diep die water is of hoe sterk die stroom is nie,” sê hy.

Die enigste manier om die insittendes te bevry, was om die minibus uit die water te sleep, vertel hy. Die voertuig kon teen hierdie tyd lankal nie meer aanskakel nie omdat ook die enjin onder die water verswelg is.

“Ek het ’n stywe greep gekry op die kabel, waarmee ons die minibus moes uitsleep, en toe die water binnegegaan. Die stroom was baie sterk en die water was redelik diep – ek moes daarom deurgaans teen die water stoei om nie ook meegesleur te word nie.

“Toe ek eindelik by die minibus aankom, het ons die kabel aan die onderstel van die voertuig vasgemaak en die minibus met al die insittendes nog binne uitgesleep.” 

Hy sê hy is omtrent oorval deur die dankbare insittendes van die voertuig.

Shane Pretorius
Foto’s van Andries Pretorius Boulevard wys hoe oorstroom die pad was. Foto: Verskaf

“Almal was ontsettend dankbaar. ’n Mens kon op hul gesigte sien dit was nie sommer net ’n grappie vir hulle nie. Hulle was régtig, soos hulle self vertel, vreesbevange dat hulle nie lewendig uit die bussie sou kom nie,” vertel Shane.

Omdat die minibus steeds nie kon aansluit nie, het Johan die voertuig sommer self al die pad na die bestuurder se huis in Sebokeng, in die suide van Gauteng, gesleep.

Nadat die reddingspoging afgehandel is, het inwoners van dié stad Shane, Johan en Nico lof toegeswaai vir hul “heldedaad”. “Julle is voorwaar helde,” het een inwoner laat hoor. Nog een het geskryf: “Shane, jy is ’n man met ’n omgeehart en ’n held in ons almal se oë.”

Hoe voel Shane oor sy skielike heldestatus?

Hy lag skaam. “Ek is dankbaar ons kon hulle help en hulle almal veilig tuis kry, maar ek is grootgemaak om te kan help omdat ek kan – nie omdat ek eer of erkenning soek nie.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe.