Katie se ma, Laura (38) vertel hulle bly op vriende se erf en haar drie dogters het “basies met hul boerboel grootgeword”.

Die voorval verlede Donderdag 11 Februarie toe die boerboel vir Katie (5) ten aanskoue van haar en haar sussies aangeval het, gee haar steeds koue rillings.

Klein Katie Crowley het erge pyn verduur nadat sy
Klein Katie Crowley het erge pyn verduur nadat sy deur 'n boerboel in die gesig gebyt is. Foto: Verskaf/Huisgenoot

“My kop is nie nou by my nie. Ek hou aan terugflitse kry. Ek voel soos ’n slegte ma oor wat met my kind gebeur het. Sy was nou veronderstel om gr. RR te begin, maar ek kan haar nie nou skool toe stuur nie. Ek weet nie wanneer sy gereed gaan wees nie,” het Laura Donderdagaand laat aan Huisgenoot vertel.

“Vanoggend was sy in my kamer en sy het rukkend gebewe. Ek het haar gevra wat fout is, en sy het net gesê sy voel koud. Ek het haar teen my vasgedruk. Ek weet nie of haar liggaam in skok ingegaan het en of sy net angstig is nie, maar ons is almal nou emosionele wrakke.”

Klein Katie Crowley voor die ongeluk. Foto: Verska
Klein Katie Crowley voor die ongeluk. Foto: Verskaf/Huisgenoot

Laura vertel dit was net ’n gewone dag.

Haar man, Samuel (34), ’n kontrakwerker, moet baie weg van die huis wees, en sy werk van die huis af. Sy sien ook na Katie se sussies Hannah (1) en Abigail (6) om.

“Ek was besig met die wasgoed. Katie en haar sussies het heeldag in die agterwerf gespeel, soos wat hulle altyd doen. Sy het geswem en terwyl ek besig was, het ek vir haar gevra om haar nat handdoek, wat sy op die grond gelos het, vir my te bring. Sy het my nie gehoor nie en nog gevra: ‘Wat sê Mamma?’ Ek sê toe weer sy moet asseblief die handdoek bring.

“Sy het weer gevra: ‘Wat sê Mamma?’ en agter die boerboel verbygestap. Skielik het die boerboel omgedraai en begin om haar in haar gesig aan te val. Hy het haar na die grond gestoot en weer aangeval. Dit het reg voor my gebeur. Die eienaar van die hond, wat ook hier bly, het om die hoek gekom, gelukkig. Hy het die hond van haar afgetrek.”

“Toe ons by haar kom, was die hele vel van haar skedel na haar voorkop, afgeruk. Ook op haar wang en haar wenkbrou. Dit was erg. Ons het met haar hospitaal toe gejaag.”

Klein Katie Crowley se gesig nadat sy weens die ho
Klein Katie Crowley se gesig nadat sy weens die hondaanval geopereer is. Foto: Verskaf/Huisgenoot

Sy vertel sy en haar man het nie ’n mediese fonds nie.

“Ons moes dit verlede jaar weens covid-19 kanselleer. Maar ons het haar steeds na die privaat hospitaal gejaag in die hoop dat ’n dokter haar dadelik kon help. ’n Dokter het haar daar gesien, maar gesê daar is geen manier wat hy haar daar in sy spreekkamer sal kan help nie. Hulle sal haar onder verdowing moet sit en opereer.” 

Hulle het besef hulle sou nie die onkoste kon bybring nie, en was op pad om haar na ’n staatshospitaal toe bring, toe ’n bestuurslid by die hospitaal uitkom en die bebloede jong meisie sien. 

“Hulle het gesê ons moet haar om na die noodafdeling bring, hulle sal haar eers daar help. Ek het op daardie oomblik in ’n angsaanval ingegaan. Ek ly reeds aan angs, maar ek kon die spanning toe net nie meer hanteer nie.”

Sy vertel sy het kans gekry om haar man te bel.

“Hy moes na ons hardloop van waar hy was, want hy het nie ’n kar nie.”

Die egpaar moes hoor nadat die rekening reeds meer as R30 000 beloop en hulle sou tot R100 000 moes betaal om haar daar te hou. Hulle het met die hulp van die hospitaal besluit om haar na die Chris Hani Baragwanath-hospitaal oor te plaas, waar ’n plastiese chirurg sou wag.

Katie is daar geopereer. 

“Die operasie het goed afgeloop. Sy was vir drie ure in teater. Sy is nou net in baie pyn. Sy slaap nie snags nie. Sy maak die bed nat. Sy skree haarself wakker: ‘Mamma, Mamma, vat die hond, vat die hond!’ So ja, dis rof. Die eienaar van die hond het aangebied om die rekeninge by die noodafdeling te betaal, maar hy is self ’n pensioenaris wat kontrakwerk doen.”

Sy vertel die eienaar het intussen die hond van kant gemaak.

Laura vertel sy sal Katie weer Maandag hospitaal toe neem vir die wondsuster om na haar wonde te kyk. Sy moet ook spesiale salf koop om aan te wend.

Katie Crowley Dog Attack Victim Katie is 5 years old,on 11 February 2021 she was attacked by a boerboel in front of her...

Posted by Angels Who Cares on Tuesday, 16 February 2021

Nadia Minnie van die organisasie Angels Who Care het intussen ingegryp om die gesin by te staan om die nodige geld in te samel.

Laura dink intussen aan alles wat nog kon gebeur het, ook met Katie se sussies, wat ook saam met haar was. Sy glo hulle gaan almal berading nodig hê na die trauma, maar sy soek nog na iemand.

“Alles is net ’n gemors. Ek kry nie geslaap nie.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe