Stefan Steyn
Die ouers van klein Stefan Steyn, van Vanderbijlpark in Gauteng, is verpletter na sy skielike dood op 19 Februarie. Foto: Verskaf

’n Ouerpaar van Vanderbijlpark in Gauteng is verpletter nadat hul tweejarige seuntjie net meer as ’n week gelede skielik dood is.

Groot onsekerheid heers steeds oor die omstandighede wat op 19 Februarie daartoe gelei het dat Stefan Steyn (2), wat Dinsdag om 12:00 vanuit die Rock of Ages-gemeente in Vanderbijlpark begrawe is, op pad na die hospitaal dood is.

Magda Lourens, van die liefdadigheidsorganisasie Active Angels, vertel Stefan se ouma, Ansie Terblanche, het haar kleinseun op dié noodlottige dag na ’n plaaslike huisdokter geneem omdat hy olik voorgekom en heeltyd gehuil het.

Magda sê die tweejarige se ouers, JJ en Ronel Steyn, was saam in die motor, maar albei is gestremd en kan daarom nie bestuur nie. 

Stefan Steyn
Klein Stefan Steyn (2) is op 21 Februarie dood terwyl sy familie met hom na die hospitaal gejaag het. Foto: Verskaf

Nadat Stefan deur die dokter ondersoek is, is Ansie en Ronel aangeraai om onmiddellik met Stefan na die hospitaal te jaag.

“Stefan se gesondheid het in daardie stadium al ’n dag of twee kommer gewek by die ouerpaar, maar op die dag van sy dood het dit gelyk asof dit vereger,” vertel Magda, wat dié ouers as deel van die liefdadigheidsorganisasie bystaan.

“Stefan was heeltyd moeg en huilerig en sy velkleur het nie reg gelyk nie. Dis daarom dat Ansie-hulle hom na die plaaslike dokter geneem het waar hy al ’n paar keer was.” 

Stefan Steyn
Vir JJ en Ronel was klein Stefan hul engelkind. Foto: Verskaf

Die tweejarige het glo in die motor op pad na die hospitaal – glo in Ronel se arms – ophou asemhaal, vertel Magda. Ansie en haar dogter het met Stefan teruggejaag na die huisdokter, maar dié kon niks vir hom doen nie.

“Daar is in hierdie stadium nog baie onduidelikheid oor die gebeure rondom sy dood,” vertel Magda. “Dis onseker hoekom ’n ambulans nie ontbied is om Stefan na die hospitaal te neem nie.” 

’n Nadoodse ondersoek het glo gewys Stefan is dood aan natuurlike oorsake, sê Magda. Die ondersoek het bepaal die tweejarige het ’n hartdefek gehad en ook aan bloedarmoede gely.

Stefan Steyn
Stefan het “graag geglimlag” en was ’n liefdevolle kind, vertel Magda. Foto: Verskaf

Magda sê JJ en Ronel sukkel finansieel en leef op staatstoelae. Daarom het weldoeners, Active Angels, asook Johan Rousseau van die begrafnisonderneming Fira (Funderal Industry Reformed Association) en Rosemary Brandt van LGB Funerals ingespring om die ouers finansieel by te staan en om ’n begrafnis te reël.

“Geen woorde kan ons dankbaarheid teenoor LGB Funerals beskryf nie – sonder hulle was daar nie ’n begfranis vir die mamma en pappa nie,” sê Ronel. 

“Stefan se dood het JJ en Ronel verskriklik geruk. Hulle is stukkend en kry ontsettend swaar, daarom is dit vir ons belangrik om hulle na die beste van ons vermoë te ondersteun.” 

Stefan Steyn
Die begrafnisbrief wat Dinsdag aan vriende en familie gegee is toe Stefan vanuit die Rock of Ages-gemeente in Vanderbijlpark begrawe is. Foto: Verskaf

Op die begrafnisbrief, met ’n foto van ’n glimlaggende, liefdevolle Stefan daarop, skryf sy ouers: “Ons engelkind, jy was te kosbaar vir hierdie wêreld. Daar was altyd ’n glimlaggie op jou gesig – vir elkeen. Dit is vir ons bitter swaar sonder jou, my kind, maar God het die mooiste pêrel vir sy troon kom haal. Ons is dankbaar vir die magdom tere en soete herinnerings wat ons het saam met jou. Jy is nou veilig by Jesus. Rus in vrede, ons engel.” 

Dat hy veilig en sonder pyn is, vertel Magda, glo hulle sonder twyfel.

“Stefan was die mooiste seuntjie. Selfs toe sy mamma en pappa hom moes uitken, het hy geglimlag en so rustig gelyk. Ons weet hy is nou in die hemel waar hy nie meer ly nie, al is dit so ontsettend seer vir dié wat agterbly.”

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op FacebookTwitterInstagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe