Marie, ’n voormalige sekswerker en dwelmverslaafde van Vanderbijlpark was skaars 20 jaar oud toe haar Britse ma, Lynn, haar elektrisiën-pa, Steven, in 1999 laat vermoor het.

Nadat sy ’n staatsgetuie teen haar ma en ouer broer weens die moord op haar stiefpa was, het Marie se lewe in haar vroeë dertigs in ’n maalkolk beland.

Teen dié tyd was sy ’n dwelmverslaafde wat later as sekswerker en in bordele gewerk het.

Dit was eers toe haar huidige verloofde vier jaar gelede, soos ’n wafferse Richard Gere in die fliek Pretty Woman, haar in ’n bordeel in Pretoria aantref en hulle verlief raak, dat sy haar lewe as sekswerker finaal vaarwel toegeroep het.

Vandag is hulle die ouers van ’n 10 maande oue baba en baklei sy om weer met haar vier ouer kinders, wat in pleegsorg sou beland of aangeneem sou word, ’n band te smee.

Maar alles het met die moord op haar stiefpa begin . . .

Die moord

“Dit moes die perfekte moord wees,” vertel Marie vandag vir die eerste keer sedert die moord op haar Britse stiefpa, Steven Harvey.

“Maar my ma was ook ’n alkoholis, so ek dink nie sy het die hele ding goed deurdink nie,” vertel Marie, wat van die moordplanne geweet het.

Sy was skaars 20 toe sy teen haar ma (toe 48) en ouer broer (toe 23) moes getuig. Sy was nie die aand van 25 September 1999 by die huis nie.

Hy was ’n alkoholis. Hy het my gereeld met ’n sambok aangerand.

Hoewel Lynn in die hooggeregshof in Pretoria getuig het dat Steven, saam met wie sy in 1990 van Engeland na Suid-Afrika geïmmigreer het, haar jare lank genadeloos seksueel aangerand en selfs deur ander mans laat misbruik het, het die hof bevind haar motief vir die huurmoord op haar man was geld.

“My pa was nie ’n nice man nie, nie nadat hy sy been in ’n motorongeluk verloor en moes ophou werk nie. Hy was ’n alkoholis. Hy het my gereeld met ’n sambok aangerand.”

Marie was toe reeds die ma van twee klein kindertjies.

Lynn en haar seun het ’n man, Mpho Mokoena (toe 38), gehuur om die vuilwerk te doen.

Marie vermoed die polisie het snuf in die neus gekry omdat Lynn heeltyd haar storie verander het.

“Toe hulle ons drie maande later in hegtenis neem, het ek geweet ek is vas. Ons was ’n baie hegte gesin. Ek het geweet ons gaan lank tronk toe.”

Maar Marie was self net ses maande agter tralies voor sy as staatsgetuie getuig het.

“Dit moes soos ’n inbraak lyk. Ek het geweet my ma het lank aan die moord beplan. Ek het net nie geweet dit gaan daardie aand gebeur nie,” vertel sy vandag in ’n kalm stemtoon.

“Diep binne het ek eintlik nooit gedink sy sal haar moordplanne deurvoer nie.”

Marie se lewe was daarna nooit weer dieselfde nie.

Só begin haar dwelmverslawing

“Toe die saak verby is, het ek niks oorgehad nie. Ek het alles verloor. My pa, my ma, my broer, my huis. Ek het ’n werk as ’n kroegmeisie gekry om die pot aan die kook te hou en ’n vriend het voorgestel ek gebruik ecstacy.

“Ek het toe ecstacy en acid begin gebruik, wat eintlik partytjiedwelms is al was ek nooit die partytjiesoort nie,” vertel sy oor hoe haar dwelmmisbruik begin het.

Ek weet dit is my eie skuld dat ek dit gebruik het, maar hy het my aan heroïen voorgestel.

Marie sê sy het op 23 jaar met ’n man betrokke geraak wat haar erg mishandel het. Dit het jare geduur voor sy uit die verhouding kon kom. Hulle het saam ook ’n kind gehad en sy vertel daarom het sy nie toe erg dwelms gebruik nie.

Sy het op 30 jaar wel weer iemand ontmoet en hulle is getroud.

“Ek weet dit is my eie skuld dat ek dit gebruik het, maar hy het my aan heroïen voorgestel. Ek dink nadat ek uit die mishandeling gekom het, het ek niks werd gevoel nie. Baie soos destyds met die mishandeling deur my pa.”

Marie het vinnig ’n volslae dwelmverslaafde geword. Kort voor lank was haar huwelik daarmee heen. Sy het toesig oor haar drie kinders verloor en sy was dakloos.

’n Vriendin het haar na Pretoria toe gebring om haar te help, maar hier het sy eerder in die kloue van ’n Nigeriese dwelmhandelaar beland. Sy erken sy het toe haar lyf begin verkoop.

“Ek onthou die eerste nag op straat. Dit was nog winter, dit was ysig koud. Maar al wat ek toe gedink het, is: Hierna kan ek heroïen en ’n rock kry,” vertel sy met ’n droë laggie.

Annari du Plessis van die Go Purple Foundation (links) by Marie Venter voordat sy van dwelms afgekom het. Foto: Verskaf

Die lewe as ’n sekswerker

Sekswerk het haar loopbaan geword. Marie meen die enigste ligpunt in dié tyd was toe sy uit Pretoria na Vanderbijlpark kon wegbreek: “Toe het ek minstens vir myself gewerk.” Sy het gedurende hierdie tyd met haar vierde kind swanger geraak.

As sekswerker is sy ook meer as een keer verkrag. Sy sê dit is ’n mite dat mense dink sekswerkers kan nie verkrag word net omdat hulle vir seks betaal word nie.

“As iemand jou fisiek aanrand, jou nie betaal nie en dinge doen waartoe jy nie toestem nie, is dit verkragting. Nee is steeds nee.”

Daar was altesaam vier voorvalle waar sy seks geweier het, maar steeds gedwing is om dit te doen.

In een voorval het ’n voornemende "kliënt" haar in Pretoria opgelaai. Maar toe sy in die motor klim, het hy haar met haar lewe gedreig en na ’n onbekende plek geneem waar hy haar aangehou, aangerand en herhaaldelik verkrag het.

Sy kon nooit die aanklagte by die polisie aanmeld nie.

“Met die voorval in Pretoria het die Nigeriër vir wie ek gewerk het, geweier dat ek polisie toe gaan,” vertel sy en klink mismoedig.

Ek het gebid om dood te gaan. Ek het vir die Here gebid: ‘Kom haal my net.'

Met ’n tweede voorval is sy na die polisie in Vanderbijlpark.

“Die polisieman het reguit vir my gesê ek is dan ’n sekswerker, my getuienis sal nie in ’n hof staan nie.”

“Ek het ná my vierde swangerskap so hard probeer om met die dwelms te stop. Ek het gebid om dood te gaan. Ek het vir die Here gebid: ‘Kom haal my net.’ Ek het ’n paar keer my eie lewe probeer neem. Ek het my polse gesny, oordosisse geneem.”

Dit was in dié tyd dat Annari du Plessis van die plaaslike liefdadigheidsorganisasie Go Purple vergeefs na Marie probeer uitreik het.

Marie erken Annari het haar gereeld in die strate opgemerk, maar sy wou niks met haar te doen gehad het nie.

“Eendag het ek voor die kerk op die hoek gestaan. Toe ’n man nader kom, het ek gedink dit is ’n kliënt.”

Maar dit was Annari en haar man saam in die motor.

Annari du Plessis van die Go Purple Foundation (li
Annari du Plessis van die Go Purple Foundation (links) meer onlangs by Marie Venter voordat sy dwelm gelos het. Foto: Verskaf

“Annari het my vir koffie genooi en ek weet nie hoekom nie, maar ek het gegaan.”

Sy het alles in haar vermoë gedoen om Marie in ’n rehabilitasiefasiliteit te kry én sy het daarin geslaag.

“Maar jy sien as die verslaafde nie self wíl ophou nie, dan sal hulle nie.”

Marie het weer in verslawing verval en is terug na Pretoria waar sy in ’n bordeel begin werk het. Hier het sy wel kort daarna besluit om die dwelms te los.

Genoeg is genoeg

“Baie mense sê altyd jy moet medisyne gebruik om jou te help, maar dit laat ’n mens net dink: Nog net hierdie een keer. Ek kan weer medisyne gebruik om op te hou. Ek het cold turkey gegaan. Ek het net eendag opgestaan en besluit genoeg is genoeg.”

Dit was net meer as vier jaar gelede.

Marie Venter lyk deesdae weer gesond. Foto: Verska
Marie Venter lyk deesdae weer gesond. Foto: Verskaf

Een dag, nie lank daarna nie, het ’n man ingestap.

“Ja, hy was net daardie een keer daar. As ’n kliënt. Ons het mekaar net onmiddellik gevind. Dit was liefde met die eerste oogopslag,” vertel sy oor dié Pretty Woman-oomblik. In dié fliek ontmoet Edward Lewis (gespeel deur Richard Gere) ’n sekswerker, Vivian (gespeel deur Julia Roberts) en hulle raak verlief.

Die man – nou haar verloofde – het haar daaruit gekry en saam het hulle ’n lewe gebou. Hulle bestuur vandag ’n klein hoenderboerdery op ’n hoewe in die Vaaldriehoek.

“Ek is nou vier jaar skoon. Die lewe tot hier was nie maklik nie. My verloofde het intussen sy werk verloor en ons moes rondswerf. Maar ek is dankbaar vir die lewe wat ek vandag het.

“Ons het kos in ons maag en ’n dak oor ons koppe en ek is gelukkig. Dit is ’n beter lewe as wat ek nog ooit voorheen gehad het. Ek sal teen April hopelik ’n karretjie hê en dan kan ek ook na werk soek.”

Ek dink nie ek was een keer gelukkig terwyl ek op dwelms was nie.

Haar ma en broer is reeds uit die tronk nadat hulle onderskeidelik 18 en 17 jaar agter tralies was. Haar ma is terug Engeland toe en sy het vandag ’n goeie verhouding met albei. Ook sy is skoon van alkohol.

Marie Venter lyk deesdae weer gesond. Hier stuur m
Marie Venter lyk deesdae weer gesond. Hier stuur mense vir haar bemoediging toe sy in 'n eerste video aan Annari van haar lewe op straat vertel het. Foto: Verskaf

Sy vertel onlangs het sy ook weer een van haar voormalige dwelmhandelaars in die Vaaldriehoek raakgeloop.

“Ek het vir hom gesê ek het meer nou as wat jy ooit vir my kan bied.” Sy raak stil. “Ek dink nie ek was een keer gelukkig terwyl ek op dwelms was nie.”

“Toe ek dwelms gebruik het, het ek almal anders blameer, maar ek kan net myself blameer. Ek was vol woede daardie tyd, nadat ek my familie, alles, verloor het.

 “Ek het myself daarin gekry en ek het weer myself daaruit gekry. As ék dit kon doen, kan enigiemand.”
Het jy hulp nodig?
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.