Die angs sit nog vlak in die blonde ma se stem toe sy die ysingwekkende dag onthou. 

Corlene van Wyk (41) van Helenasrus by Falcon Ridge, Vereeniging, herstel steeds van die aanval toe sy verkrag, aangerand en drie keer, onderskeidelik in haar hand en been, geskiet is.

Corlene van Wyk voor die aanval. Foto: Verskaf
Corlene van Wyk voor die aanval. Foto: Verskaf

Maar dit was nie die einde van haar loutere hel nie. 

Sy vertel sy moes ook ’n stryd teen Discovery voer nadat sy aanvanklik ingelig is dat sy nie aan die kriteria voldoen om op haar mediese skema vir die bykomende traumavoordele te kwalifiseer nie, want sy het glo “nie vyf dae in die intensiewesorgeenheid deurgebring” nie. 

Dit was vir haar baie erg, want “daardeur het hulle eintlik vir my sê: Dít wat met my gebeur het, was nie erg genoeg nie.”

Corlene is ten tyde van die voorval ook in die reg
Corlene is ten tyde van die voorval ook in die regterbeen geskiet. Foto: Verskaf

Toe sy met Huisgenoot praat, het die gapende wond aan haar regterbeen waar sy geskiet is, nog nie genees nie en haar regterhand veroorsaak steeds kwaai pyn en ongemak. Sy het reeds altesaam vyf operasies – drie aan haar hand en twee aan haar been – ondergaan.

Corlene is twee keer in die regterhand geskiet en
Corlene is twee keer in die regterhand geskiet en moes reeds drie operasies aan haar hand ontvang. Foto: Verskaf

Sy sal na verwagting later vandeesmaand nog ’n operasie aan haar hand kry wanneer hulle plate sal insit. Sy vrees dat as haar liggaam die plate verwerp, sy haar middelvinger kan verloor. 

Die aanval

Die dag van Maandag 15 Maart vanjaar het op hul gesin se kleinhoewe doodnormaal begin. Haar man, Jacques, is die oggend vroeg na Johannesburg, waar hy bedags as ’n veiligheid- en gesondsheidbestuurder werk, en hul 18-jarige matriekseun is met haar motor skool toe. 

Die tuisteskepper, wat haar werk in administrasie weens covid verloor het, vertel sy was die oggend op die ruim grasperk voor hul huis met wasgoed doenig. Sy het glad nie onveilig gevoel op die erf met sy dubbele elektriese heining om nie. 

Die uitsig van die stoep na die wasgoeddraad op di
Die uitsig van die stoep na die wasgoeddraad op die gesin se kleinhoewe. Foto: Verskaf

“Ek het ’n berg wasgoed gehad omdat ons krag die vorige week af was. Ek het aan die laaste bondel op die draad gevoel. Dit was droog. Ek kan nie vir jou sê waar hulle vandaan gekom het nie, maar toe het twee mans my oorval. Hulle het my voor aan my gewrigte gegryp en met die trappe afgestamp tot op die stoep.”

Sy verduidelik ’n mens loop van die grasperk en wasgoedlyn met vier trappe af tot hul groot stoep wat na hul voordeur lei. 

“Ek het so hande viervoet op my knieë geland en toe weet ek: Ek kan nie nou wegkom nie.”

Die twee mans, onderskeidelik met ’n wit en rooi hemp, het elkeen ’n balaklawa aangehad.

“Ek het so hande viervoet op my knieë geland en toe weet ek: ek kan nie nou wegkom nie.”

“Die een met die wit hemp het ’n potplant se grond oor my gesig uitgegooi.”

Die twee was woedend. “Hulle het met mekaar baklei, maar ek kon nie verstaan wat hulle sê nie,” herroep sy die bisarre situasie.

Sy vertel die man met die wit hemp is by die huis in. Die ander man met die rooi hemp het haar oor die staaltafel op die stoep platgedruk en met hul tuin se snoeiskêr die klere van haar lyf gesny.

“Hy het in Engels gesê: Make this easy on yourself. Don’t resist.” Corlene is daarna verkrag en aangerand. Huisgenoot weerhou die grafiese besonderhede van die aanval.

Van haar tande is onder meer beskadig toe die man ’n flitslig in haar mond druk. Met die snoeiskêr het hy haar lang vlegsel van haar kop afgesny. Van haar hare is uitgeruk.

Terwyl die aanval aan die gang was, het sy net gebid dat die Here haar moet help om dit “uit te blok”.

Corlene voor die voorval. Foto: Verskaf
Corlene voor die voorval. Foto: Verskaf

Waar sy magteloos aan die aanvaller se genade oorgelaat was, het sy gevrees die tweede man gaan binnekort uitkom en haar ook verkrag. Maar toe hy uitkom, was hy baie verbouereerd. Binne in die huis het hy toe reeds alles uit die kaste gegooi, opsoek na waardevolle goedere.

Sy het nie die vuurwapen in sy hand gesien nie.

“Hy het net begin skiet. Die eerste skoot was deur my been. Die tweede is deur my hand toe hy oor my (by die staaltafel) kom staan.” 

Nóg ’n skoot het haar weer in die hand getref.

“Ek onthou slegs drie skote, ek het agterna nog met almal baklei, maar daar was vier skote. Die vierde het my kop gemis soos ek met my bloeiende hande gekeer het.”

Die twee het toe laat gespaander. Sy het later gehoor daar was nog ’n ry spore van ’n derde man wat die uitkykwerk gedoen het.

Die uitsig van die stoep na die wasgoeddraad. Dit
Die uitsig van die stoep na die wasgoeddraad. Dit is by die trappe waar Corlene afgestamp is. Foto: Verskaf

Corlene vermoed vandag die man met die wit hemp was kwaad omdat hy niks behalwe haar trouring en van haar juwele kon buit nie. Ná die aanval is sy vallend en struikelend by die huis in. Sy het gewik en weeg of sy haarself moet probeer bewapen of moet sy gaan wegkruip. 

Sy kon haarself tot by haar bed kry. Die bloed het by haar been uitgespuit. Sy het haar been en hand met klere probeer toebind en op die bed gaan lê.

Genadiglik was haar selfoon nog langs haar bedkassie op die laaier, waar dit deels onder ’n kussing en van die droë wasgoed op die bed versteek was.

Van hier kon sy met haar linkerhand haar man bel en op luidspreker sit. Doodrustig het sy gesê: “Jacques, bel die ambulans. Bel die polisie. Bel die buurman.”

Toe sy die foon neersit, het sy vir die eerste keer “dit verloor”.

“Ek het histeries begin huil en begin skree. Toe eers het die pyn my getref.”

Trauma op trauma

Die nooddienste het op die toneel traumabehandeling toegepas. Die buurman, wat eerste op die toneel was, is erg getraumatiseerd gelaat.

“Hy het my op my ergste gesien.”

Corlene van Wyk in die hospitaal. Foto: Verskaf
Corlene van Wyk in die hospitaal. Foto: Verskaf

Tientalle sekuriteitsvoertuie en gemeenskapslede het op die toneel aangekom en die aanvallers begin soek. Sy was nog op die hoewe toe haar man daar aankom.

“My man het eers toe hy daar aankom, gedink ek is dood . . . Die oom (buurman) het vir hom gesê ek lewe, maar ek is verkrag. So erg as wat dit was, was my man verlig.”

Corlene vertel die laaste keer wat sy trane in haar man se oë gesien het, was met hul seun se geboorte. 

“My man het by my op die bed kom sit en my gevra: ‘Moekie, is jy oukei?’ Ek het gesê: ‘Ja, ek is oukei.” Hy vra toe: ‘Kan ek jou soen, asseblief?’ Ek sê toe: ‘Ja, natuurlik.’ Hy het my gesoen en weet jy, toe hy terugtrek, toe bars my man in trane uit en huil soos ’n babatjie.”

Corlene ervaar steeds erge pyn in haar regterhand.
Corlene ervaar steeds erge pyn in haar regterhand. Foto: Verskaf

Die ambulansdienste is met haar na die Netcare Unie-hospitaal in Alberton.

Dit was hier wat ’n tweede skokvoorval met van hul ander bure ontvou het. Sy het gesien hoe ’n tweede ambulans twee mense inbring. ’n Pa en sy dogter was glo op pad huis toe toe hulle in ’n ongeluk betrokke is op die stofpad waar ander na die aanvallers begin soek het. 

Corlene was nog in die traumaeenheid toe die pa en dogter ingebring is. Hulle is daarna albei in die intensiewesorgeenheid opgeneem. Die pa, ’n buurman wat sy nie geken het nie, was kritiek. Hy is glo vier weke later dood. Sy dogter het oorleef en het later in die saal langs haar gelê. Dit was vir Corlene verskriklik en sy het self met skuldgevoelens geworstel.

Corlene is wel nooit in die intensiewesorgeenheid opgeneem nie. “Ek weet nie of dit nie nodig was en of daar nie beddens beskikbaar was nie, maar ek was drie weke in die hospitaal in ’n gewone saal.”

Sy vertel die trauma was geweldig. “As ek net iets hoor kap het, iets wat my herinner aan die staaltafel, dan was ek histeries.”

“As ek net iets sou hoor kap, iets wat my herinner aan die staaltafel, dan was ek histeries.”

Sy is kort daarna vir nóg twee weke na ’n psigiatriese kliniek waar sy daagliks sielkundige behandeling kon ontvang. Sy vertel die pyn in haar hand is steeds geweldig en ’n opvolgoperasie is nodig.

Aangesien haar mediese fonds aanvanklik nie haar voordele op hul traumavoordeelplan wou aktiveer nie – al is sy op die nodige hoër plan voer sy aan – het sy sekondêre posttraumatiese stres ervaar toe die uitgawes kort voor lank hul medies se spaarplan uitput.

Die egpaar moes duisende rande uit hul eie sak opdok vir opvolgdoktersbesoeke. 

Die stoep en staaltafel waar Corlene verkrag is. F
Die stoep en staaltafel waar Corlene verkrag is. Foto: Verskaf

Discovery

Huisgenoot het Discovery op 3 Junie die eerste keer gekontak.

Karishma Jivan, ’n Discovery-woordvoerder, het dadelik beloof om Corlene se geval te ondersoek. Teen Maandag 6 Junie het Discovery Corlene genader om die situasie aan te spreek. 

Karishma het Woensdag in antwoord op Huisgenoot se vrae erken dat hulle haar navraag om vir die traumavoordele te kwalifiseer beoordeel en afgekeur het sonder om die “volle omvang van van die gebeurtenis” in ag te neem.

Hulle het verskoning gevra en bevestig dat sy nou op hul traumavoordeel-program gesit is en ’n spesiale toegewyde konsultant aangewys is om al die eise, wat voorheen ingedien is, te hersien. Hulle sal ook voortaan hul prosesse opskerp om só ’n situasie in die toekoms te voorkom.

Corlene en Bullet Foto: Verskaf
Corlene en Bullet Foto: Verskaf

Corlene vertel sy kon met die hulp van weldoeners ’n traumahond kry. Sy het hom Bullet gedoop na die vierde koeël wat haar gemis het. Bullet help haar nou om bedags en snags veiliger te voel.

Corlene se trauma-hond, Bullet, wat haar nou emosi
Corlene se trauma-hond, Bullet, wat haar nou emosioneel ondersteun. Foto: Verskaf
Corlene se trauma-hond, Bullet, wat haar nou emosi
Corlene se trauma-hond, Bullet, wat haar nou emosioneel ondersteun. Foto: Verskaf

“Ek vertel my verhaal, al help ek net een ander persoon.”

Dit het vir haar baie beteken toe ’n groep vroue van Krugersdorp vir haar ’n anonieme geskenkpakkie bymekaar sit. Annari du Plessis van die Go Purple Foundation het haar ook baie bygestaan.

“Ek glo dit wat met my gebeur het, het my net sterker gemaak.”

  • Kapt. Mavela Masondo, ’n Gautengse polisiewoordvoerder, het die aanval aan Huisgenoot bevestig. Hy sê ’n saak van huisroof word deur die polisie in Vereeniging ondersoek. “Geen arrestasies is nog gemaak nie. Ongelukkig kan ons nie meer inligting bekendmaak nie weens die sensitiewe aard van die ondersoek.”
Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe