Maar nou sing die Kanadese polisie ’n ander deuntjie. Hulle noem dit ’n “geteikende moord” en daar is glo ’n ellelange lys van mense wat ondervra gaan word.

Speursers. Susan Gomes sê die polisie beskik oor voldoende inligting om die saak nou as ’n dubbele moord te hanteer.

Daar is reeds 125 verklarings van getuies afgeneem terwyl selfs die rioolstelsels van die gesogte buurt deur die polisie onder hande geneem is.

Barry het tot en met sy dood die 15de plek op Kanada en die 363ste op Forbes se lys van rykes  beklee.

Die ontdekking

Hy en sy vrou, Honey, se lyke is op 15 Desember 2017 by hul huis in Toronto deur ’n eiendomsagent ontdek. Barry het kort vantevore die huis wat ’n kasarm van ’n plek was, vir ’n allemintige R66,45 miljoen in die mark gesit.

Die Shermans se indrukwekkende woning. Foto: Gallo Images/ Getty Images

Hy en Honey het die eiendom in 1985 vir $390 000 (sowat R3,71 miljoen) gekoop en ’n huis van 3 792 m2 met ses slaapkamers daarop gebou. Dan is daar natuurlik ook die gebruiklike swembad en tennisbaan.

Hy was besig om ’n nuwe huis in die stad te bou, maar vermoedelik 'n afgeskaalde weergawe van dié huis.

Maar hul nuwe huis was die Shermans nie beskore nie. Hulle is sover bekend die laaste keer op Woensdag, 13 Desember, gesien. Tot die grusame ontdekking deur ’n eiendomsagent twee dae later . . .

Barry (75) en Honey (70) se lyke is in ’n half-sittende posisie en vasgebind met lyfbande aan ’n reëling langs hul swembad gevind.

Honey het in alle waarskynlik teen haar aanvaller terugbaklei. Sy het snye op haar gesig gehad en is in ’n plas van haar eie bloed gevind.

Gedugte sakeman

Barry was allesbehalwe ’n lammetjie waar dit by besigheid gekom het. Inteendeel, hy is al deur mense in die bedryf as ’n “straatbakleier” ervaar.

Ek het al gewonder hoekom hulle nie bloot net iemand huur om my uit te skakel nie.

In ’n boek Prescription Games deur Jeffrey Robinson (2001) het hy uitgebrei oor die koelbloedige aard van handelsmerk-maatskappye wat medikasie vervaardig.

Foto: Amazon.com

“Hulle haat ons. Hulle het privaatspeurders wat ons deurentyd agtervolg. Ek het al gewonder hoekom hulle nie bloot net iemand huur om my uit te skakel nie.

“Vir ’n duisend dollar in die regte persoon se hande kan jy waarskynlik iemand vermoor. Dalk is ek verras dat dit nog nie gebeur het nie.”


Hy is nie die goeie ou soos wat hy nou uitgebeeld word nie.

Paul Whybrow, ’n voormalige bedrogspeurder van Scotland Yard (Londen) het aan die National Post bevestig hy is ook al deur ’n groot farmaseutiese maatskappy gehuur om Barry te ondersoek.

“In daardie tyd (90’s) was die farmaseutiese industrie vol baie donker hoekies.

“Ek glo Sherman was roekeloos in sy soeke na roem en ’n fortuin. Hy het ongetwyfeld vyande gemaak en hy is nie die goeie ou soos wat hy nou uitgebeeld word nie.

"Sherman het altyd politieke konneksies gehad en ek glo hy het dit as ’n vorm van beskerming gesien,” het Whybrow gesê.


Familie-onmin

Tydens ’n onsmaaklike hofgeding het Sherman se neefs en een se vrou hom gedagvaar vir minstens 20 persent van sy aandele in Apotex.

Kerry Winter, wat saam met sy familielede, 'n hofsaak teen Barry Sherman aanhangig gemaak het. Foto: Gallo Images/Getty Images

Volgens hulle het Sherman gefaal om in hul “beste belang” op te tree toe hy hul oorlede pa, Louis Winter (die stigter van Empire-laboratatoriums Bpk.) se maatskappye in 1967 gekoop het.

Louis het in 1965 gesterf en kort daarna is sy vrou, Beverley, ook oorlede. Hul kinders – Kerry, Dana, Tim en Jeff – is almal deur dieselfde Toronto-gesin aangeneem, maar hulle het glo onder baie moeilike omstandighede grootgeword.

Honey Sherman

Honey Reich is in Pole in ’n kamp in Pole vir mense wat die Holocaust oorleef het, gebore. Hulle het na Kanada immigreer.

Sy is op 2 Julie 1971 in die hof met Barry getroud. Lauren is in 1975 gebore, verskeie miskrame het gevolg maar later is Jonathon (1983), Alexandra (1986) en Kaeleen (1990) gebore.

Sy word beskou as die sagte teenpool van haar man en vriende beskryf haar as die vrolikste, energiekste mens wat nooit kla nie.

Gedenkdiens

Sowat 6 000 mense het die geleentheid bygewoon. Onder hulle het van Kanade se invloedrykstes – besigheidsmanne en politici – getel. Die diens is ook regstreeks op televisie uitgesaai.


Die egpaar se vier kinders was ook teenwoordig. Hul seun, Jonathon, het die media gelooi vir die aanvanklike berigte waarin daar bespiegel is dat dit ’n moord-selfdood was waar Barry eers vir Honey en toe homself om die lewe sou bring.

Murray Rubin, ’n jarelange gesinsvriend, het gesê Barry se sterkte was intellektueel van aard, nie fisies nie. Daarom is dit ondenkbaar om te beweer hy het die moord gepleeg.

Hy het Barry se pogings op die tennisbaan as ’n grap afgemaak.

“Hy kon (fisies) nie rondbeweeg nie. Hy het met sy brein beweeg . . . Hy was geensins atleties nie."


Nuwe verwikkelinge by Apotex

Vrydag, 26 Januarie, het Apotex-president en uitvoerende hoof Jeremy Desai skielik sy bedanking uit die groep aangekondig.

'n Woordvoerder van die maatskappy wou egter niks meer bekend maak vir die onverwagte stap nie en het bloot gesê Desai gaan ander moontlikhede elders ondersoek.

Jack Kay sal weer as uitvoerende hoof optree en Jeff Watson as president.

Volgens die Toronto Sun word Desai deur 'n hofsaak in die gesig gestaar na aanleiding van bewerings dat hy uitgelekte maatskappygeheime oor 'n nuwe generiese middel van 'n mededinger aanvaar het.

Sowat 900 dokumente van die Teva-groep is glo van Oktober 2014 tot Augustus 2016 in die kuberruim met hom gedeel.

Apotex se Suid-Afrikaanse konneksie

In November 1995 het Apotex ’n beherende aandeel in Accupharm, ’n Suid-Afrikaanse farmaseutiese maatskappy gebaseer in Midrand, bekom.

Accupharm het in daardie stadium 40 generiese produkte plaaslik verkoop. Garec Pharmaceuticals, ook ’n Suid-Afrikaanse maatskappy, het as Apotex se vennoot na vore getree.

Bronne: 680news.com, nationalpost.com, nypost.com, ca.news.yahoo.com