Dr. Sean Baumann het in dekades as psigiater by die Valkenberg-­hospitaal in Kaapstad al alles gesien. In sy boeiende nuwe boek vertel hy van sy vreemdste gevalle en hoe ’n gevoel van verwondering soms die sleutel tot herstel is.

By die terugvoervergadering op Maandagoggend lig die verpleegpersoneel my in daar is drie Nelson Mandelas in die saal. Hulle tree hoflik en waardig teenoor mekaar op. Daar is geen rusies oor wie die ware Mandela is nie – pleks daarvan lyk dit asof hulle elkeen se keuse respekteer om ’n gesiene en gerespekteerde figuur te wees.

Daar was nog nooit ’n Jacob Zuma in ons saal nie. Dié oudpresident, wat tans deur aanklagte van korrupsie in die gesig gestaar word, is nie ’n gewilde figuur in ons gebroke wêreld nie.

’n Ruk gelede is ’n baie groot en vurige swart man uit die Demokratiese Republiek van die Kongo (DRK) in die hoësorgeenheid opgeneem wat volgehou het hy’s Helen Zille, toe nog die Wes-Kaapse premier. Dit was vreemd, want Helen Zille is ’n middeljarige wit vrou. Dit was vir ons verbasend dat ’n onlangse immigrant uit Sentraal-Afrika sou kies om sy te wees.

Keuse is nie gewoonlik ’n oorweging by psigose nie. Jy kies nie om psigoties te wees nie, maar ek dink wel daar’s moontlik ’n mate van wilskrag betrokke wat die inhoud van waanbeelde betref. Die keuse om eerder ’n Mandela as ’n Zuma te wees, glo ek, is nie bloot toevallig nie.

Dié twee politieke figure simboliseer filosofieë en moraliteite wat drasties verskil. Die een kom in ons saal voor en die ander nie. Ek dink ons pasiënte wil graag hê die wêreld moet veiliger en goedhartiger wees. Ek kan kwalik enige pasiënt in ons stelsel onthou wat geglo het hy’s boos. Al het pasiënte hoe diep in hul privaat psigotiese wêrelde vasgeval, het hulle meestal ’n duidelike strewe gehad om hulself en ander te help en dalk iets goeds te doen.

Die polisie het Thabo* na die hospitaal gebring. Hy het vroeër die dag by die parlement opgedaag en aan verbysterde sekerheidsbeamptes verklaar hy het die regering kom oorneem wat volgens hom korrup en onbevoeg is. Hy was nie woedend of in enige opsig gewelddadig nie. Hy het dit eerder as sy plig beskou om die regering omver te werp as om homself daarmee te probeer behaag.

Ons het nie gedink hy’s gevaarlik nie, en hy is na ’n oop saal oorgeplaas. Ek het hom later aangetref waar hy by die heining na die voëls by die rivier sit en kyk. Hy het gesê: “Ons tyd sal kom. Ons moet geduldig wees. My weermag van voëls wag op my bevel. Dan sal ons die regering oorneem. My voëls is gereed. Ons tyd sal kom.”

Hy was kalm. Hy het vrede in sy binneste gehad. Hy het ’n plan gehad en geglo dit was ’n regverdige plan. Die voëls het in die vlak waters van die rivier gedryf, onversteurd.

Dit was ’n fantastiese vlug, en raai wie wag toe daar vir my op die maan? Dit was Beyoncé! Sy was poedelkaal! Sy was so bly om my te sien. Ons het dwarsdeur die nag die ongelooflikste liefde gemaak. Sy wou my nie uitlos nie. Ek was pootuit.
Foto: Gallo Images/Getty Images
Die Valkenberg-hospitaal in Kaapstad waar Sean al 25 jaar lank as ’n spesialispsigiater werk. Foto: Gallo Images/Getty Images

Op ’n biologiese vlak kan jy jou die ervaring van psigose as geraas voorstel. ’n Komplekse verskeidenheid interaktiewe faktore dra eindelik by tot hierdie pad van disintegrasie. Dit kan ’n aantal genetiese variante insluit – waarvan geeneen op sy eie genoeg is om tot die siekte te lei nie – en ook faktore soos slegte ondervindings in die kinderjare.

’n Algemene oorsaak is die misbruik van middels soos dagga of metamfetamien. Dit lyk asof hierdie toksiese prosesse die presiese en ingewikkelde wisselwerking van neuro-oordragstowwe en reseptore in die sentrale senuweestelsel ontwrig, en dit lei tot die versteuring van die netwerke neurone. In hierdie toestand is alles geraas en chaos en sonder enige betekenis.

Dis moeilik om jou dit voor te stel: Ons lewe bestaan uit lig en klank en gedagtes en gevoelens wat sinvolle patrone vorm en wat ons help sin maak en plesier gee. Die pasiënt wat ’n psigotiese episode beleef, word van hierdie harmonieë ontneem. Ons kan nie ’n ander se denke begryp nie en beslis nie dié van ’n psigotiese persoon nie, maar ons kan ons indink dat soveel geraas, so ’n gevoel van betekenisloosheid, ondraaglik sou wees.

Die vorming van ’n drogbeeld kan daarom die begin van ’n poging tot herstel wees, om ’n vreesaanjaende en betekenislose gebeurtenis te omskep in iets wat sin maak en dalk beheer kan word. ’n Gevoel van verwondering hieroor is nie romanties of sentimenteel nie, maar broodnodig. Dit maak egter nie ernstige psigiatriese siektes minder tragies nie. Ons moet aandag skenk aan die stories wat ons pasiënte ons vertel, maar ook erkenning gee aan die vreemde wonderbaarlikheid daarvan.

Skielik is enige teken van orde daarmee heen toe ’n jong man, Tswalo*, begin skree en huil. Hy gryp na sy buik asof hy verskriklike krampe kry. Tot almal se verbasing glo hy skynbaar hy is besig om te kraam.

Ek het geen idee hoekom die man van die DRK sou begin glo hy’s Helen Zille nie. Ek kan beter verstaan waarom die ander Mandela geword het. Tog deel hulle almal ’n strewe om in ’n magsposisie te wees. In hierdie opsig kan waanbeelde gesien word as strategieë om andersins ondraaglike gevoelens van hulpeloosheid en hopeloosheid te hanteer.

Martin* en Joan* sit op ’n bankie in die skaduwee van ’n denneboom en hou ewe tevrede en intiem hande vas. Hulle staar na die voëls op die rivier. Daar is ’n vreemde kalmte en waardigheid aan hulle, ’n stilte wat ongewoon is by psigotiese toestande. Sy is die koningin van Engeland en hy is haar ietwat bedremmelde prins. Sy is die gesagsfiguur met koninklike grasie.

Martin lyk verwaarloos, asof hy nie juis wil moeite doen om koninklik te wees nie. Hy speel maar net saam, dink ek, om Joan se onthalwe. Sy gebrek aan geesdrif pla haar nie te veel nie. Ek dink sy’s dankbaar vir die geselskap. Hulle sien op hul eie manier na mekaar om. Hulle gly waardig voort in hul rustige waansin.

Hulle word toegelaat om te wees wie hulle gekies het om te wees. Niemand sê: “Jy’s nie die koningin nie. Jy is geen prins nie. Julle is net kranksinnige ou mense.” Hulle word nie bespot nie. Hulle word met respek behandel. Dit lyk asof daar ’n gedeelde opvatting is dat dit geen doel sou dien om hulle hul waanbeeld van adellikheid te ontneem nie. Dit sou wreed wees, en daar sou niks wees om dit te vervang nie.

Dis ’n Woensdagmiddag en ons sit in ’n kring in die saalrondte-vertrek. Ons bespreek die nuwe pasiënte.

Renos* is in die laaste deel van die vorige week ingebring. Met sy aankoms was sy gedrag chaoties en aggressief, maar volgens die verpleegverslae het hy betreklik gou rustig geword. Nou lyk hy merkwaardig ontspanne. Ek vra hom hoe die naweek was, ’n belaglike vraag, want dit kon net ellendig gewees het. Hy was heeltyd in ’n geslote, uiters lawaaierige en waarskynlik skrikwekkende saal. Maar tot ons groot verbasing straal hy behoorlik en verklaar hy het die wonderlikste naweek gehad.

Ons vra versigtig hoe dit dan moontlik kon wees in sulke moeilike omstandighede. Weer glimlag hy breed en beduie trots na sy modieuse en duur drafskoene. Hy wys na ’n gekleurde skyfie aan die kant van die skoen – ek dink jy kan die druk in die hak daarmee verstel.

Foto: Verskaf
Dr. Sean Baumann, psigiater en skrywer van die boek Madness: Stories of Uncertainty and Hope. Foto: Verskaf

“Jy sien, Dokter, al wat ek moet doen, is om hierdie knoppie te druk – wat ek Vrydagaand gedoen het – en woerts, ek vlieg maan toe. Dit was ’n fantastiese vlug, en raai wie wag toe daar vir my op die maan? Dit was Beyoncé! Sy was poedelkaal! Sy was so bly om my te sien. Ons het dwarsdeur die nag die ongelooflikste liefde gemaak. Sy wou my nie uitlos nie. Ek was pootuit.

“Toe dit eindelik te veel word vir my, het ek gegroet en haar bedank vir die wonderlike avontuur. Ek het weer die knoppie op my skoen gedruk en woerts, was ek terug in die saal. Ek kla nie. Ek het die rus nodig gehad. Dit was ongelooflik, fantasties!”

Hy leun terug in sy stoel, skynbaar in ’n toestand van salige versadiging, en gaap. “Sjoe,” sug hy dolgelukkig en kyk na sy verbaasde gehoor. “Sjoe, al julle goeie mense. Wat ’n fantastiese naweek.”

’n Mediese student sukkel om haar lag te onderdruk. Die res van ons knik ernstig en probeer ’n geskikte reaksie op hierdie wonderbaarlike storie toon. ’n Mens moet versigtig wees wanneer jy selfs die idee van verwondering by waansin oorweeg. Verwondering kan as romanties beskou word en dit kan daarom die erns van psigiatriese siektes ondermyn.

Dit kan ons in die versoeking stel om selfvoldaan te besluit dat ’n mate van verwondering beteken dinge gaan nie te sleg nie – of dat behandeling dan óf onverstandig óf onnodig is. Tog voel dit nogal na ’n verlies om nie die vreemde verwondering van hierdie stories te erken nie. Veral as hierdie eienaardige versinsels of waanbeelde – of hoe dit ook al bestempel word – vertolk word as ’n manier van ons pasiënte om vorm en betekenis te gee aan wat hulle dalk as ’n ondraaglike geraas sou ervaar.

Renos is teen sy sin in ’n chaotiese saal opgeneem. Hy’s bang. Hy moet wegkom. Hy vlieg maan toe, waar hy ’n uitgerekte erotiese ervaring met ’n wêreldberoemde popster het. Hy vlieg uit vrye wil weer terug hospitaal toe. Dis uiters vreemd, maar dis een manier om dit te hanteer. Dit het beslis niemand skade gedoen nie. Inteendeel, dit lyk of dit hom groot genot verskaf het.

Op ’n ander keer woon ek ’n vergadering in die saal by toe ’n bohaai losbars. Dit word vreemd genoeg ’n “klimaat”-vergadering genoem. Die idee is dat ek en die verpleegpersoneel in ’n kring saam met die pasiënte sit en luister na watter kwessies hulle ook al wil aanroer. Dis ’n taamlik formele, geordende geleentheid; die verpleegster in beheer laat slegs een pasiënt op ’n slag toe om te praat en net vir ’n paar minute.

Foto: Verskaf
Foto: Verskaf

Skielik is enige teken van orde daarmee heen toe ’n jong man, Tswalo*, begin skree en huil. Hy gryp na sy buik asof hy verskriklike krampe kry. Tot almal se verbasing glo hy skynbaar hy is besig om te kraam. Hy val op die grond en wriemel rond. Die ander pasiënte maal rond, aanvanklik verward oor wat aangaan. Dan besluit hulle om op te tree. Hulle raak doelgerig betrokke. Een hardloop om nat handdoeke te gaan haal; van die ander probeer die nou vreesbevange Tswalo kalmeer en troos.

Die verpleegsters tree terug,verbysterd. Dit gaan ’n ruk lank so aan. Elke pasiënt is besig om op die een of ander manier te help. Niemand lag nie. Niemand is ongeduldig of woedend oor hierdie ongelooflike vertoning nie. Die pyn raak erger; die geween en geskree bereik ’n hoogtepunt. Ek het geen idee wat aan die gang is nie, want die pasiënte bondel nou saam om Tswalo, wat op sy rug lê en huil.

Hulle streel en troos hom, en twee van hulle neem ’n vuil bondel lappe by hom weg. Eindelik heers daar weer kalmte. Almal lyk uitgeput deur die dramatiese gebeure; tog heers ’n atmosfeer van opwinding en feestelikheid. Tswalo herwin sy selfbeheersing en kom regop. Net toe ek uit die saal wil stap, staan hy nader met ’n vuil bondeltjie in sy arms. Hy glimlag skaam en lyk trots. Die ander pasiënte kom om hom staan en maak koergeluide.

Dis duidelik my plig as die dokter in die saal om wat hy ook al te voorskyn bring te bewonder. Toegedraai in die lappe is ’n paar vuil skoene. Ek het geen idee hoe om te reageer nie; dis nie deel van jou opleiding as mediese student of as spesialis in psigiatrie nie. Ek maak wat hopelik die een of ander positiewe, bevestigende geluid is, maar kan beslis nie so geesdriftig wees soos die pasiënte wat hom gehelp het nie. Ek los ’n gelukkige saal agter.

Dis ’n raaisel wat Tswalo kon besiel het om te glo hy’s in kraam. Hy is ’n sterk jong Xhosaman. Hy het geen teken getoon dat hy dalk kon gedink het hy’s ’n vrou nie, wat nog te sê ’n swanger vrou. Die kraampyne en die geboorte van die skoene was vir ons almal ’n verrassing, maar wat my dalk nog meer verras het, was die betrokkenheid en goedhartigheid van die ander pasiënte. Dit het opreg gelyk.

Ek het nie die indruk gekry dat hulle dalk verveeld was en die afleiding verwelkom het nie. Dit het nie vir my gevoel of hulle hulself vermaak deur aan ’n belaglike voorstelling deel te neem nie. Hulle wou die jong man help. Hulle wou hom troos en hom deur die krisis dra, al moes sy gedrag hulle net so dronkgeslaan het soos vir my. Dit voel vir my belangrik om aan hierdie goedheid erkenning te gee, iets wonderliks wat verder strek as die vreemde en soms vreesaanjaende gedrag wat met waansin verbind word.

Die goedheid is nie waansin nie. Dit kan dalk ’n besonderse soort goedheid wees: om te besef iemand tree waansinnig op, maar verkeer tog in nood en het sorg en aandag nodig. Wat dit nog merkwaardiger maak, is dat hierdie goedheid van ’n groep uiters gekwelde en vreesbevange jong mans kom wat met hul eie psigotiese demone worstel.

Ons span vergader weer, dié keer in die voorontslagsaal. ’n Verpleegster lei Kgabu* binne. Hy het ’n formele, waardige, gesaghebbende houding. Ek stel myself en die lede van die span voor en vra hom hoe dit met hom gaan. Hy sê dit gaan goed, dankie, en vra uit oor my eie welstand. Ek bedank hom vir sy besorgdheid en vra hom dan uit oor die redes waarom hy in die hospitaal opgeneem is.

Hy lyk verbaas en sê: “Maar ek is die dokter in beheer. Ek is die konsultant.” Ons is almal verstom. Ek vra ietwat huiwerig waar dit my dan laat, want ek was onder die indruk dat ek die dokter in beheer is. Hy dink hieroor na en sê dan plegtig: “Jy, Dr. B – jy is die Meester van die Heelal.”

Dit is ’n teken hy het ’n idee van die hiërargie in die eenheid, maar hy’s ontevrede met sy passiewe rol as pasiënt en wil graag meer behulpsaam wees. Dit het ook my dag gemaak.

* Skuilname.

Foto: Verskaf
’n Geredigeerde uittreksel uit Madness, Stories of Uncertainty and Hope deur Sean Baumann (Jonathan Ball Uitgewers).

Die e-Boek is beskikbaar by Kobo.com teen R90,84. Die prys was korrek met druktyd en is onderworpe aan verandering sonder voorafkennisgewing.

Kom neem deel aan die gesprek
Volg Huisgenoot op InstagramTwitter en Facebook en teken gerus in op ons nuusbriewe.