Huisgenoot het in November verlede jaar berig oor minstens ses babas wat oorlede is nadat hulle by Yolande gebore is. Nog drie is gestremd gelaat ná geboorte. Al dié ma’s het die vingers na Yolande gewys en haar van nalatigheid beskuldig. 

Sizo Mchunu, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Raad op Verpleging (SARV), het die verhoor teen Yolande bevestig.

“Die paneel sluit ’n verpleegster, apteker en regsverteenwoordiger in,” sê Sizo. 

Sizo sê alle klagtes teen Yolande sal op dié dag hanteer word. 

Volgens Sizo is die verhoor nie oop vir die publiek nie en net studente en verpleegsters wat genooi is mag dit bywoon. 

Oor of Yolande haar lisensie kan verloor, het Sizo Huisgenoot na die Verplegingswet van 2005 verwys. 

Dié wet bepaal dat die komitee haar lisensie tydelik of permanent kan opskort, haar kan dwing om ’n boete te betaal en die koste van die verhoor te dek of haar van die register vir vroedvroue verwyder. 

As sy verwyder word van die register vir vroedvroue, moet dit in die Staatskoerant gepubliseer word. 

Dit is onduidelik hoeveel klagtes teen Yolande hangend is.

Yolande is al vir 11 jaar 'n onafhanklike vroedvro
Yolande is al 11 jaar lank ’n onafhanklike vroedvrou. Foto: Facebook

In 2012 is sy deur die SARV op ’n aanklag van nalatigheid onskuldig bevind. Sy het toe nog in Bloemfontein gepraktiseer. 

Volgens een van die ma’s, Carien Möller, wie se kind gestremd is ná geboorte en wie voor die tugkomitee gedaag word, is vier ander ma’s ook geroep om op 12 Mei hul bewyse aan die komitee voor te lê. Ander getuies soos Yolande se vervreemde dogter, Estuné Maritz, word ook voor die komitee gedaag. 

Estuné het tydens van die geboortes haar ma as doula bygestaan. 

Yolande (middel) saam Estune (regs). Die ma en dog
Yolande (middel) saam met haar dogter, Estune (regs). Die twee is van mekaar vervreem. Foto: Facebook

Volgens Chanel Roux, wie se seuntjie, Brayden, gestremd is ná sy geboorte in 2019, het sy ’n klagte teen Yolande by die SARV ingedien, maar sy is nié geroep om voor die komitee te verskyn nie.

Chanel het voorheen aan Huisgenoot beweer Brayden is gestremd gelaat weens ’n tekort aan suurstof tydens geboorte. 

Chanel se seuntjie, Brayden is serebraal gestrem.
Chanel se seuntjie, Brayden, is serebraal gestremd. Foto: Verskaf

Elsa Swart, wie se babadogtertjie, Cianna, dood is tydens geboorte, het ook ’n klag gelê by SARV, maar is ook nie geroep om voor die komitee te verskyn nie. 

'n Afdruk word van Cianna Swart se voetjies geneem
’n Afdruk word van Cianna Swart se voetjies geneem. Sy is doodgebore by die You and Me-praktyk. Foto: Nicci Coertzer

Minstens vier ouerpare is besig met siviele eise teen Yolande en You and Me Birthing, haar praktyk in Pretoria.

Dit is egter onduidelik of enige van dié sake afgehandel is. 

Yolande is om kommentaar genader, maar sy het nog nie daarop reageer nie.

Sy het verlede jaar, toe die bewerings teen haar aan die lig gekom het, in ’n onderhoud met Carte Blanche volgehou sy het nie nalatig opgetree nie.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe