Toe die trok en sleepwa Woensdagaand na ’n veilige plek verskuif is vir verdere ondersoek, het polisiemanne – wat aanvanklik die toneel bewaak het – hul hoofde eerbiedig gebuig.

’n Nagwaak is ook in Londen en Belfast gehou vir die slagoffers.

Jackie Doyle-Price, ’n lid van die Britse parlement wat die nabygeleë Thurrock verteenwoordig, het gesê: “Om 39 mense in ’n toegesluite metaalhouer te sit, dui op die minagting van menselewens, en dit is boos.”

Tot dusver bekend

Agt vroue en 31 mans van Chinese afkoms se lyke is in die verkoelingshouer op ’n vragmotor gevind. Aanvanklik is aangedui een van die oorledenes is ’n tiener, maar dit is later reggestel nadat bepaal is dit was wel ’n volwasse vrou.

Nog twee mense is Vrydag in hegtenis geneem in verband met die voorval: ’n man en ’n vrou, albei 38 jaar oud, is in Warrington in die noorde van Engeland in hegtenis geneem vir mensehandel en manslag.

Polisie het bevestig die trok-eenheid het Holyhead in Essex op 20 Oktober vanaf Dublin binnegekom. Daarna is die sleepwa-gedeelte waarop die verkoelingshouer was, omstreeks 12:30 die oggend van 23 Oktober by die Purfleet-hawe aangehaak.

Purfleet is ’n klein hawe wat net veerbote vanaf Zeebrugge en Rotterdam akkommodeer. Luidens berigte is Purfleet nie heeltemal gerat om op die uitkyk vir emigrante te wees nie.

David Wood, ’n gewese immigrasiebeampte het aan die Irish Mirror gesê “dit sou ’n betreklik veilige, duidelike roete vir georganiseerde misdadigers wees om te gebruik.”

Die vragmotor, ’n Scania Super-vragmotor, is in Varna in Bulgarye geregistreer in die naam van ’n maatskappy wat aan ’n Ierse vrou behoort.

Intusssen is bekend gemaak dat nog 20 mense – vermoedelik ook emigrante – die week in ’n vragmotor op die M20 in Kent gevind is.

Die man agter die stuur van die doodsvrag

Die vragmotorbestuurder, die 25-jarige Mo Robinson, is steeds in aanhouding na die polisie versoek het om hom vir 24 uur langer aan te hou.

Hy het na bewering flou geval toe hy die grusame ontdekking in die vroeë oggendure van Woensdag, 23 Oktober, gemaak het.

Mo, wat deur sy vriende as ’n sagmoedige reus beskryf word, was die persoon wat die ambulans na die toneel ontbied het.

Mo, wie se langtermynvriendin swanger is met die paartjie se tweeling, bly in Noord-Ierland en plasings in die sosiale media dui daarop dat hy gereeld ritte na Europe, insluitend Denemarke en Swede maak.

Die Dublin-gegronde maatskappy Global Trailer Rentals (GRT) het intussen bevestig die verkoelerhouer behoort aan hulle. Volgens hul woordvoerder is die sleepwa op 15 Oktober verhuur.

Sleepwaens in besit van GTR is met globale posisioneringstelsels (GPS) toegerus en daardie inligting sal aan die polisie bekendgemaak word deur die maatskappy.

Hulle het ’n verklaring uitgereik waarin gesê word hulle was “geheel en al onbewus daarvan dat die sleepwa op die manier aangewend gaan word vir soos wat dit wel gedoen is” .

Vrae wat nog beantwoord moet word

Waar en wanneer is die slagoffers in die verkoelingshouer gelaai — in België of nog voordat die menslike vrag na België vervoer is?

Die burgermeester van Zeerugge (Brugge), wat ook die Zeebrugge-hawe se voorsitter is, Dirk De fauw, het dit as onwaarskynlik beskryf dat die slagoffers binne-in die hawe gelaai sou word.

Elke sleepwa word stelselmatig ondersoek vir moontlike tekens van skade. Daarna word dit geseël. Dis feitlik onmoontlik om die seël te breek en 39 mense in die sleepwa te laai sonder dat enigiemand enigiets sou opmerk,” het hy aan die plaaslike uitsaaidiens VRT in België gesê.

Die Britse media suggereer dat die slagoffers óf versmoor óf verkluim het. Temperature binne-in die verkoelingshouer kan tot -25°C daal.

Volgens Richard Burnett van die Road Haulage-vereniging (RHA) in die Verenigde Koninkryk kan die binnekant van die verkoelingshouer baie gou tot daardie temperatuur daal, wat enigeen wat binnekant vasgekeer is “baie vinnig” sal doodmaak.

"If the fridge is running, you are going to die from the cold, if it isn’t, you are going to suffocate, It’s a horrific situation, it really is.”. @RHARichardB https://t.co/daVexuxoPi

— RHA News (@RHANews) October 25, 2019

Hy het bygevoeg dat dit absoluut afgryslik sou wees (binne-in die verkoelingshouer).

“Dit gaan donker wees en as die yskas aan die gang is, sal dit ongelooflik koud wees.”

Dit mag tot ’n jaar, selfs langer neem, om die slagoffers te identifiseer omdat hul familielede uit vrees waarskynlik nie maklik na vore sal kom nie. Die kans is ook skraal dat enige van die slagoffers wel met hul dokumentasie of identiteitsdokumente die reis sou aanpak.

Donderdagaand is 11 van die oorledenes na Broomsfield-hospitaal geneem vir nadoodse ondersoeke; die res sal in fases vervoer word.

Die polisie maan dat dit lank gaan neem vir die ondersoek om afgehandel te word.

Bronne: theguardian.com, vrt.be, news.com.au, irishmirror.ie, standard.co.uk, thurrockgazette.co.uk, channel4.com

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op InstagramTwitterFacebookWhatsApp en teken gerus in op ons nuusbriewe.