Rachel, ’n ervare perderuiter, was in haar matriekjaar toe die tragedie hom afgespeel het.

“Sy het SA kleure in perdry, maar sy het daai dag die jong merrie te ver na regs laat draai en toe val die perd. Rachel se nek het bó teen haar skedel gebreek en haar breinstam is beseer,” vertel haar pa, Ben, aan Huisgenoot. 

Sy was vir twee weke ná die val in ’n koma en 'n verdere nege weke onder verdowing.

“Die dokters het van die begin af vir ons gesê hulle weet nie of sy gaan herstel nie, dis ’n baie ernstige besering,” sê hy. 

Aanvanklik kon Rachel nie eens op haar eie sluk nie. Deesdae kan sy wel maar nog steeds nie praat of loop nie.

“Die linkerkant (van haar liggaam) is sterker en sy kan haar linkerbeen by die enkel beweeg. Sy span haar linkerhand in en gebruik ’n sleutelbord waarmee sy die woorde wat sy wil sê uitspel."

'n Onlangse foto van Rachel saam haar ouboet, Benjamin (23) en haar pa, Ben (49).

Asof dié tragedie nie genoeg is nie is Rachel se ma, Theresa (toe 45) vroeër vanjaar aan kanker oorlede.

“Sy het vir vyf jaar teen die kanker geveg maar het serviks-, long- en limfkanker gehad en Theresa is in Februarie oorlede. Rachel het dit baie erg gevat. Sy en haar ma was baie geheg aan mekaar”. 

Ben sê Rachel sal soms net huil oor die dood van haar ma.

“Daar was ’n lang tyd wat sy ook nie eens met haar ma kon kommunikeer nie. Sy’s nou nog baie emosioneel daaroor maar wil nie daaroor praat nie,” sê hy. 

Tog toon dié dapper meisie deurentyd vordering.

“Sy kan haar regterbeen ook nou effens beweeg en ons hoop dat sy teen volgende jaar die tyd kan loop en praat. Sy sien ’n arbeidsterapeut en spraakterapeut. Daar is vordering maar dit is letterlik net millimeters per maand.

“'n Mens moet maar geduldig probeer wees, maar dis maar ’n baie moeilike proses,” sê hy. 

Op 22 Augustus skryf Ben op Rachel se Facebook-blad: " Rachel het met hulp regop gestaan en haar perd wortels gegee. Sy was baie opgewonde en wou die hele tyd haar perd Rebel vryf. Dankie vir Norman en Sue dat haar perde so goed versorg word op Rietkol. Sy het ook vir Nia 'n wortel gegee en gesê dat sy eendag vir Nia sal wil ry . . .”

Ben is ’n sekuriteitrisiko-konsultant en Rachel woon by hom. Hy het iemand wat 24 uur ’n dag na sy dogter omsien. Weldoeners betaal vir haar arbeids- en spraakterapie.

“Die oppassers kos my so R15 000 per maand en met my vrou wat nie meer hier is nie gaan dit maar moeilik maar ek is dankbaar vir diegene wat ons help,” sê hy. 

Rachel het ook voorheen aan die SA's in atletiek deel geneem. Sy was 'n gewigstoter.

Rachel, wat voor haar ongeluk goed presteer het op skool, wou ’n advokaat word. Vandag is haar droom om mense met haar storie te inspireer en om in November volgende jaar saam haar pa op haar 21ste verjaarsdag te dans. 

“Sy wil ’n motiveringspreker word. Sy is vasberade sy gaan weer loop en praat,” sê hy.