Die jong krulkoptiener se stemmetjie klink klokhelder op wanneer ons haar bel: “Hallo, tannie!”

Ses maande het verloop sedert Shamoné Steynvaart (15), ’n gr.9-leerder aan die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark, uit die veiligheid van ’n rehabilitasiehospitaal in Pretoria ontslaan is om ’n nuwe lewe in ’n rolstoel by die huis te begin.

Nege maande het verloop sedert die tragedie toe ’n loopbrug by die Hoërskool Driehoek ineengestort het. Daarna het Shamoné drie maande in die rehabilitasiesentrum deurgebring. 

Vier kinders, waaronder Shamoné se beste vriendin, Marli Currie (14), is dood en meer as 20 is beseer. Weens ’n spinale besering aan Shamoné se laerug is sy van die naeltjie af ondertoe verlam gelaat.

Marli Currie.

Maar sy is vandag te opgewonde om met Huisgenoot te gesels oor hoe dit met haar gaan, al gaan sy op 2 Desember weer ’n operasie aan haar linkerpols moet kry. Dié pols is ook erg in die voorval gebreek.

“Dit gaan sommer báíe goed, tannie!” vertel sy tussen haar eksamens deur.  “Ek vat ’n break,” verseker sy ons op dié sonnige Vrydag.

Shamoné het ’n lang pad gekom, maar floreer met haar skoolwerk en vertel sy verduur die pyn aan haar pols.

“Ek het nie baie skoolwerk in die hospitaal (rehabilitasiesentrum) gedoen nie, maar ek het daardeur gekom. Ek gaan weer skool toe.”

Shamoné studeer nou aan die Impaq Shalom-akademie in Vanderbijlpark.

Die verlamde Shamoné Steynvaart (links) saam met '
Die verlamde Shamoné Steynvaart (links) saam met 'n maat, Monique du Plooy. Foto: Verskaf

Sy vertel hulle is ’n paar beseerde Driehoek-kinders wat nou in dié skool is. Die hoofrede vir haar om Driehoek te verlaat was  omdat sy gevoel het sy sou nie daar met ’n rolstoel oor die weg kom nie.

“Ek is baie gelukkig in die skool. Ons is altesaam so 18 gr. neges. Ek het heelwat nuwe maats.”

Sy en van die Driehoek-kinders praat nog soms oor wat gebeur het.

“Daar is dinge wat ek net nie kan onthou nie . . .”

’n Betonbrug het op 1 Februarie by Hoërskool Drieh
’n Betonbrug het op 1 Februarie by Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark ineen­gestort en die lewe van die matriekseuns Roydon Olckers (17) en Marnus Nagel (16) en die gr. 8-leerders Marli Currie (13) en Jandré Steyn (13) geëis.
In sy kop herleef Hein Knoetze die verskriklike ge
In sy kop herleef Hein Knoetze die verskriklike gebeure van 1 Februarie oor en oor. Foto: Papi Morake
Vir Hein Knoetze is dit steeds ondenkbaar dat vier jong lewens geëis is op dié toneel op die skoolterrein waar ’n loopbrug ineengestort het. Foto: Papi Morake

Shamoné vertel die emosionele impak op haar was baie erger as die fisieke skade wat sy gely het. Toe Huisgenoot haar in Mei die eerste keer besoek het, het sy in die eerste eksklusiewe onderhoud vertel sy huil veel eerder oor Marli as oor haarself.

“Dit is nog steeds so. Marli se dood was vir my die ergste. Ek mis dit dat ek nie elke dag met haar kan praat nie, dat ek haar nie ’n drukkie kan gee nie,” vertel sy moedig.

Shamoné en haar ma, Charmaine, het nadat sy uit die hospitaal ontslaan is by haar ouma Poppie en oupa Wally gaan bly. Hulle het hul huis spesiaal vir haar ingerig.

“Hulle het die badkamer vir my groter gemaak en in my kamer van die kaste uitgehaal om die ruimte groter te maak. Die moeilikste was vir my om te leer om op die kommode in die stort in te kom.” Die tiener is baie onafhanklik en het dié vaardighede tydens die rehabiltasieproses geleer. “Dis nie altyd maklik as my ma nie by die huis is nie, maar ek kom reg om als te doen wat ek moet. Dis nie só erg nie. Ek kan alles doen wat ek wil.”

Shamoné Steynvaart, wat verlam is ná die Hoërskool Driehoek-ramp (BO), en haar ma, Charmaine. Foto: Onkgopotse Koloti

Dit was net sleg toe sy onlangs nie na ’n maat se verjaardagpartytjie toe kon gaan nie. “Hul huis was ongelukkig nie rolstoel-vriendelik nie . . .”

Sy vertel met haar 15de verjaardag op 28 Oktober vanjaar kon hulle wel lekker by die plaaslike winkelsentrum gaan uiteet en fliek.

Shamoné kry steeds fisioterapie en sielkundige behandeling. Sy is mal oor die maatskaplike werker, dr. Yolinda Steyn, wat haar steeds deur die genesingsproses help.

“Ons het gister met ’n nuwe traumategniek begin, dit is om ’n mens se onderbewussyn te stimuleer om my te help om te onthou.”

Shamoné kan byna niks van die voorval onthou nie. Sy kan net die oomblikke kort voor die tragedie onthou toe sy en Marli ná saalopening onder deur die loopbrug gestap het. Sy glo dit sal deel van haar genesingsproses wees om meer te kan onthou.

Klarissa van Zijl, Hoërskool Driehoek se hoofmeisie, staan saam met skoolmaats in ’n erewag met ballonne in die skool se kleure.Foto: Deaan Vivier
’n Gemeenskap is nog in rou ná ’n brug by die Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark in duie gestort het en vier kinderlewens geëis het. Foto: Onkgopotse Koloti
“Ek moet nou sterk staan vir my kind. Maar ek het maar my moments,” sê Charmaine Steynvaart, wie se dogter Shamoné verlam geraak het toe ’n betonblod by Hoërskool Driehoek in Vanderbijlpark op 1 Februarie neergestort het. Foto: Deon Raath
Rouklaers betoon hul medelye by die hek van die Hoërskool Driehoek nadat dié skool deur ’n ongeluk geruk is.

“Ek is nie kwaad nie. Ek het dit agter my gesit, al die dag toe ek by die rehabilitasiesentrum uitgekom het en my nuwe toekoms moes binnegaan. Ek glo alles gebeur met ’n rede, maar vir Marli mis ek baie.”

Shamoné spits haar nou toe op haar gr. 10-jaar en sal graag eendag ook ’n traumaberader of maatskaplike werker wil word. Sy sal graag met ander wil werk wat in dieselfde posisie as sy is.

“Ek wil graag ander help om vir hulle te sê: Jy kán iets met jou lewe doen. Daar is niks wat jy nie kan doen nie. Jy kan doen net wat jy wil.”