Die jong reun lê en bak salig in die son op die stoep, soos net ’n tevrede en gelukkige hond dit kan doen. Toe iets sy aandag trek in die kamp sowat 50 m verder, lig hy sy kop en bespied die situasie. Hy’s op en wakker.

Oomblikke later kom hy orent en verkas flink na ’n sonkol op die grasperk langs die swembad. Dan sien jy dit: Dié africanishond is anders as sy gewone maters.

Hy beweeg nie op vier pote nie; hy loop op sy gesonde voorpote en sleep sy agterlyf agterna. En hy dra ’n weggooibabadoek. Hy is die sewe maande oue Shimbungu, wat in Desember in sy agterlyf verlam is in ’n tref-en-trapongeluk in Namibië.

Die hond is nou by sy nuwe tuiste, die dierehawe van Lexi (31) en Ronnie (32) Austen, waar 17 wolwe versorg word, naby die Hartbeespoortdam in Noordwes.

’n Paar van sy nuwe dieremaats by die All Hearts Foundation SA. Foto: Papi Morake

Maar dit lyk nie asof sy verlamming sy lewenslus geblus het nie. Shimbungu het immers die dood gesystap en het net drie dae voor ons besoek op die O.R. Tambo- Internasionale Lughawe in Johannesburg aangekom om die res van sy lewe by sy aanneemouers deur te bring.

Shimbungu het baie harte, veral in Namibië, geroer sedert die Oshana-dierebeskermingsvereniging (DBV) in dié buurland sy verhaal op hul Facebookblad gedeel het.

Lexi en Ronnie bedryf die All Hearts Foundation SA, ’n organisasie wat beseerde en verwaarloosde diere inneem, rehabiliteer en versorg. Toe Lexi van Shimbungu hoor, het sy wil om te leef haar diep geraak.

Die foto wat in die sosiale media opslae gemaak het van Shimbungu wat homself oor die sand sleep. Foto: Facebook/Oshana DBV

Dis ’n storie van inspirasie, vertel sy. “Ek dink as Shimbungu ’n mens was, het hy lankal nie meer kans gesien vir die lewe nie.”

Oshikuku, wat eers in 2011 dorpstatus gekry het, is ’n klein plekkie in die verre noorde van Namibië, feitlik op die grens met Angola. Dis woestynwêreld waar die son ongenaakbaar warm kan brand.

Vroeg in die nuwe jaar het ’n aangrypende selfoonvideogreep in die sosiale media verskyn van ’n hond op die dorp wat net op sy twee voorpote beweeg, met sy agterlyf wat oor die sand sleep.

Die Oshana-DBV in daardie geweste het hiervan te hore gekom en die videogreep verder versprei en hulp gevra om die hond op te spoor. Wilmarie Horn, ’n vrywilliger wat by die Oshana- DBV werk, vertel dit was ’n groot soektog.

Aanvanklik het hulle geen teken van die hond gekry nie, maar sy sleepmerke is plek-plek in die sand op die dorp gevind.

‘Hy lag altyd as hy gelukkig en tevrede is’

Eindelik het die Otto-gesin, inwoners van die gebied, hom op 6 Januarie gevind waar hy onder ’n motorwrak skuil. Jannie Otto skryf op die Oshana-DBV se Facebookblad ’n motor het die hond in Desember getref op die grootpad wat deur die dorp loop.

Dit het die krag van vyf mans geverg om die wrak op te lig om die hond daar uit te kry. Shimbungu, wat “hiëna” beteken in Oshiwambo, die streek se inheemse taal, is aan die DBV oorhandig, waarna One Africa TV, ’n Namibiese TV-kanaal, ’n nuusinsetsel oor hom uitgesaai het.

Daarin vertel Wilmarie ’n veearts wat hom ondersoek het, het gemeen hulle hoef hom nie van kant te maak nie en dat Shimbungu met die nodige steun en sorg nog ’n lang lewe kan lei.

Sy rug is gebreek, maar aangesien hy verlam is, ervaar hy geen pyn nie. Lexi het die video aanvanklik op haar Facebookblad raakgesien.

’n Tydelike harnas wat in Namibië vir hom gemaak is, was te klein. Foto: Facebook/Oshana DBV

“Ek het geen kommentaar gelewer nie, maar het die hele sage op die Oshana-DBV se Facebookblad gevolg tot Shimbungu gevind is,” vertel sy. “Eers toe ek sien hulle is op soek na iemand wat hom kan inneem en versorg, het ek hulle gekontak.”

Sy het foto’s en inligting oor die dierehawe aan die DBV gestuur, en hulle het haar laat weet Shimbungu kan by hulle kom bly.

“Ek was bly ons kon iets vir die dier beteken, maar het dadelik besef die logistiek daarvan om hom hier te kry, gaan enorm wees – en duur,” vertel sy.

Min het sy toe geweet van al die barmhartige samaritane wat sou help om Shimbungu se hel op aarde in ’n stukkie hemel te omskep. Talle Namibiërs het met die praktiese reëlings gehelp om hom tot op die Windhoeklughawe te kry.

Die Namibiese lugdiens, Air Namibia, het hom gratis na Johannesburg gevlieg.

“Toe ons die krat oopmaak, het hy net sy kop opgelig en ons met ’n groot, dankbare glimlag aangekyk,” sê Lexi. “Asof hy weet hy is eindelik veilig.”

Shimbungu maak gereed vir ’n middagslapie tussen ’n paar speelgoed. Foto: Papi Morake

Shimbungu maak tjankgeluidjies by haar voete. Dis tyd vir ’n skoon doek, sê Lexi. Dit is iets wat sy elke twee uur doen. Soggens maak die wekker haar om drieuur wakker om weer ’n vars doek aan te sit.

“Omdat hy in die onderlyf verlam is, het hy geen beheer oor sy ontlastingsfunksie nie,” verduidelik sy.

“En omdat hy homself op sy onderlyf rondsleep, keer die doeke dat hy bakteriële infeksies opdoen.”

Lexi tel hom op en dra hom na haar en Ronnie se slaapkamer, waar sy hom op ’n babawastafel neersit.

Die africanishond lê doodstil terwyl Lexi sy doek omruil. Sy doen dit ongeveer elke twee uur. Foto: Papi Morake

Hy lê doodstil toe sy die doek afhaal en hom met ’n klamlappie skoonmaak. Tussendeur vertel sy dr. Ruan du Preez, ’n ortopeed van Ortho Pets Africa in Pretoria, het die naweek kom inloer om sy mates te neem.

Sy praktyk gaan vir hom ’n geborgde harnas op wiele maak sodat hy beter oor die weg kan kom. Benewens weggooibare babadoeke, is poeier en klamlappies ’n ander groot behoefte, sê sy terwyl sy ’n nuwe doek aansit.

Sy sit hom op die vloer neer en hy skuif na die matras in die hoek van die kamer waar hy hom vir ’n slapie tuismaak.

shibungu
Dit lyk asof hy heeltyd glimlag, vertel Lexi. Selfs toe hulle die krat op die lughawe oopmaak, het dit gelyk asof hy uit dankbaarheid vir hulle glimlag. Foto: Papi Morake

Dit lyk kompleet asof hy glimlag. Hy lag altyd as hy gelukkig en tevrede is, sê Lexi.

Dit lyk of Shimbungu se hondelewe nou eindelik iets van die verlede is.