Sy is so opgewonde soos enige ander toegewyde tennisspeler om ná maande van streng inperkingsreëls weer terug te wees op die baan.

Die 14-jarige Susan van Niekerk se gesig straal terwyl haar oë stip op die tennisbal bly wat na haar geslaan word. Dan swaai sy haar raket en slaan die bal sekuur terug. 

Sy kan nou wel nie soos die ander spelers hier op die skooltennisbaan agter die bal aanhardloop nie, maar haar droom is eindelik bewaarheid om soos haar maats aan sport te kan deelneem. Al is dit vanuit die rolstoel waaraan sy vasgegordel is. 

Susan, ’n gr. 9-leerder aan die Hoërskool Secunda in Mpumalanga, was net vier jaar oud toe ’n motorongeluk haar met ’n verlamde onderlyf gelaat het. In haar laerskooldae het sy gewens sy kon soos haar maats tennis of netbal speel of aan atletiek deelneem, vertel sy. 

“Ek is mal oor sport. Dit het my hartseer gemaak wanneer ek gedink het ek sal dit nooit kan doen nie.” 

Susan saam met haar ouers, Johann en Ilsa, en broe
Susan saam met haar ouers, Johann en Ilsa, en broer, Le Roux. Foto: Jacob Morake

Ontdek rolstoeltennis

Sy het nie eens geweet daar bestaan iets soos rolstoeltennis nie tot sy een aand in 2019 ’n onderhoud in Kwêla gesien het met ’n kranige rolstoeltennisspeler. Dit was Mariska Venter (24), ’n voltydse model van Pretoria, wat as een van Suid-Afrika se beste vrouerolstoeltennisspelers beskou word. 

“Toe dink ek, maar dan kan ek dit mos ook doen,” onthou Susan. Nou doen sy dit met soveel oorgawe dat groot dinge van haar verwag word. 

Susan is uiters geesdriftig oor die sport.

“Sy druk haarself heeltyd om beter te wees,” vertel haar afrigter, Lezahn Greeff. “Ons werk daaraan dat sy in Maart aan haar eerste toernooi sal kan deelneem.” 

Susan en haar afrigter, Lezahn Greeff, op die tenn
Susan en haar afrigter, Lezahn Greeff, op die tennis¬baan. Foto: Jacob Morake

Lezahn rig al die afgelope nege jaar tennis af, maar het geen ervaring van rolstoeltennis gehad voor Susan by haar tennisakademie op Secunda kom inskryf het nie. Sy het by Tennis Suid-Afrika om hulp aangeklop. Patrick Selepe, van hul afdeling vir rolstoelontwikkeling, het in September 2019 jaar hul tuisdorp besoek om hulle met die lesse by te staan. 

Ook hy was met Susan se talent beïndruk, vertel Lezahn. “Patrick het gesê sy het die potensiaal om een van Suid-Afrika se voorste junior spelers te word en moet dopgehou word.” Sy raak nooit moeg vir tennis nie, al oefen sy en Lezahn twee keer per week tot ’n uur lank, vertel Susan toe ons ná haar oefensessie by haar ouerhuis verder met haar gesels. 

“Om te dink, twee jaar gelede het ek nie eens van iets soos rolstoeltennis geweet nie. Toe het ek nog gemeen ek sal nooit aan enige sport kan deelneem nie.” 

En dan het sy van voor af kwaad geword oor die ongeluk, erken die donkerkoptiener.

Die ongeluk

Van die enkele oomblikke toe haar jong lewe skielik onherroeplik verander het, onthou sy nie veel nie.

Net: “Dit was laat in die nag en dit het gereën. Ons het gery en ek het agter gesit. Oupa en Ouma het voor gesit. Skielik was daar net ligte in die pad. Dit is die laaste ding wat ek onthou, daardie ligte.” 

Die trompop botsing het vier lewens geëis – dié van oupa Gerhard asook die bestuurder van die bakkie en sy twee tienerseuns, wat op die toneel dood is.

Ma Ilsa vertel verder van daardie aand in Oktober 2010 toe sy saam met haar ouers en twee kinders ná ’n troue op Ficksburg in die Vrystaat op pad was Kestell toe, waar hulle sou oornag. 

Haar pa, Gerhard van der Merwe (toe 70), ’n afgetrede predikant van Polokwane, het bestuur. Haar ma, Susan, ’n sielkundige, het voor langs hom gesit en Ilsa, Susan en haar kleinboet, Le Roux (toe 2), agter in die kar. Op ’n hoogte het ’n bakkie skielik reg voor hulle in dieselfde baan opgedoem.

Die trompop botsing het vier lewens geëis – dié van oupa Gerhard asook die bestuurder van die bakkie en sy twee tienerseuns, wat op die toneel dood is. Ilsa, haar ma en die twee kinders is met beserings in die Mediclinic Hoogland op Bethlehem opgeneem. Susan is die ergste beseer – haar lae rug was gebreek en sy is die volgende dag na die Unitas-hospitaal in Centurion oorgeplaas. 

Frustrasie

Klein soos sy was, was Susan baie depressief toe sy besef sy sal nooit weer kan loop nie, onthou Ilsa. En Susan beaam: “Ek kan goed onthou toe ek in die hospitaal was. Ek kan onthou hoe hartseer ek was.” 

Sy onthou ook die woede en frustrasie toe sy as jong kind nie saam met haar maats by McDonald’s kon klim en klouter nie.

Deesdae is haar groot vriendekring ondersteunend, en wanneer hulle uitgaan, kies hulle ’n plek waar Susan nie uitgesluit sal voel nie. “Hulle sal byvoorbeeld nie voorstel dat ons na die trampolienpark toe gaan nie,” sê sy en lag. 

Om soos haar maats haar liefde vir sport te kan uitleef het vir haar soos ’n onmoontlike droom gelyk tot daardie aand voor die TV toe sy besef het haar tennisdroom is tog binne haar bereik. 

Sy is baie behendig in die kombuis. Foto: Jacob Mo
Sy is baie behendig in die kombuis. Foto: Jacob Morake

Haar pa, Johann, ’n ingenieur, en Ilsa, ’n kunstenaar, het haar aangemoedig en vir haar ’n spesiaal aangepaste rolstoel by ’n verskaffer in Pretoria bestel, ideaal vir rolstoeltennis.

Dit is breër as ’n gewone rolstoel terwyl die wiele ook skuins na binne draai sodat sy vinniger daarmee kan beweeg. Gordels oor die sitplek en onder om haar voete verseker dat sy stewig vasgegordel is. 

Die rolstoel is aan die einde van 2019 afgelewer en in Februarie verlede jaar kon sy met tennisklasse by Lezahn begin. Maar skaars ’n maand later het die coronaviruskrisis Suid-Afrika getref en was sy verplig om haar tennisraket en spesiale rolstoel weg te pak.

Eers ná die verslapping van die inperkingsmaatreëls kon Susan na die tennisbaan terugkeer. In die somervakansie probeer sy langer oefen. Nou mik sy daarna om vanjaar in Pretoria aan haar eerste tennistoernooi deel te neem.

Sy dink aan die toekoms

Wanneer sy nie ’n raket in die hand het nie, sal jy haar dalk met ’n skilderkwas aantref. Ma Ilsa bied kunsklasse in haar ateljee by hul huis aan, en Susan het duidelik haar talent geërf. In haar rolstoel woerts sy in die gang af om vir ons die houtskoolskets te gaan wys waarmee sy besig is – ’n bobbejaan, lewensgetrou uitgebeeld. 

Dit maak haar rustig wanneer sy teken, vertel Susa
Dit maak haar rustig wanneer sy teken, vertel Susan. Foto: Jacob Morake

Sy is nog nie seker watter rigting sy ná matriek wil inslaan nie, maar haar ma dink sy moet in haar ouma en naamgenoot se voetspore as sielkundige volg. “Sy het ’n ongelooflike deernis en omgee vir ander mense,” sê Ilsa. 

“Ek wil ander kinders wat ook in ’n rolstoel sit, motiveer en inspireer,” voeg Susan by. “Ek wil vir hulle sê: Moenie moedeloos raak nie; daar is altyd ’n lig aan die einde van die tonnel.” Partykeer dink sy sy sal graag eendag drama wil studeer. Of dalk sal sy ’n model word soos haar ikoon Mariska Venter, en ’n motiveringspreker daarby. 

Die toekoms wink vol moontlikhede vir die jong rolstoeltennisspeler noudat sy ontdek het daar is meer as een manier om jou drome waar te maak.

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe