Merenthia is weens 'n fratsongeluk verlam. Foto's:
Merenthia is weens 'n fratsongeluk verlam. Foto's: Verskaf

Merenthia Cronje (32), ’n veiligheidskoördineerder, was altyd ’n besige vrou, maar nou is sy aan ’n rolstoel vasgekluister en kan sy min vir haar self doen. 

“Ek was altyd baie onafhanklik gewees. Ek het self die huis skoon gemaak en was altyd besig gewees. Nou kan ek amper niks vir myself doen nie.”  Wat veronderstel was om op 26 Desember 2020 ’n heerlike uitstappie by Tsitsikamma Falls in die Oos-Kaap te wees, het vir Merenthia in ’n nagmerrie ontaard wat haar lewe vir altyd verander het. 

Sy, haar man, Jaco (37), hul drie kinders, Dihan (5), Janco (5) en Luhandré (3), en haar ma, Magda de Lange (49), het besluit om glykabel te gaan ry. 

“Dit was veronderstel om ’n avontuur te wees. My ma wou dit baie graag doen en al die strande was toe gesluit gewees, so toe besluit ons om iets lekkers te gaan doen.”

Merenthia saam met haar man, Jaco, en hulle drie kinders, Dihan, Janco en Luhandré. Foto: Verskaf

Elkeen van die volwassenes het ’n kind aan hulle vasgegespe. Haar ma het eerste by die glykabel afgegaan. Haar man, Jaco, het opgelet dat van die kabels slap lê en het die werknemers daaroor gepols. 

Merenthia saam met haar man, Jaco, en hulle drie k
Merenthia saam met haar man, Jaco, en hulle drie kinders, Dihan, Janco en Luhandré. Foto: Verskaf

“Hulle het vir hom gesê die kabels moet so lyk en dat hy nie daaroor bekommerd hoef te wees nie.” 

Daar was ’n kabel wat dwars in die middel onder die parallelle kabels gespan was. Toe Jaco afgly, het hy te naby aan die dwarskabel gegaan en dit met sy been getref. 

“Toe ek afgly, het Jaco vir my geskree ek moet my bene oplig, maar dit was te laat.” 

Die kabel het vir Merenthia getref. 

“Ek het ’n pyn in my rug en nek gevoel en ek het my bewussyn verloor.” 

Sy en haar seun Janco het in die lug tot stilstand gekom. 

Werknemers het Merenthia teruggetrek na die platform. Sy het ophou asemhaal. Jaco het noodhulp op haar toegepas en haar bygebring. Hulle het sowat drie ure gewag voordat ’n ambulans haar opgelaai en na die George Mediclinic geneem het. 

“Janco wat saam my was het genadiglik niks oorgekom nie. Hy het net ’n paar skaafmerke gehad.” 

Daar het sy die slegte nuus ontvang. Merenthia het drie gebreekte ribbes gehad, haar nekwerwel was gekraak en sy het ’n rugwerwel gebreek wat veroorsaak het dat sy van die middellyf ondertoe verlam is. 

“Dit was vir my ’n geweldige skok om uit te vind ek is verlam. Ek het al soveel keer daaraan gedink om my eie lewe te neem. Jy voel totaal hulpeloos.”

Merenthia moes vir intensiewe rehabilitasie gaan.
Merenthia moes vir intensiewe rehabilitasie gaan. Foto: Verskaf

Sy was vir ses weke in ’n rehablitasiesentrum in George.

“Ek moes skielik leer hoe om met ’n rolstoel oor die weg te kom en net staat te maak op my arms.” 

Sy vertel hulle is tans besig met regsprosesse en met ’n skadevergoedingseis teen die toermaatskappy. 

“Ek is van my menswees gestroop. Ek het geen beheer oor my blaas nie en moet deesdae doeke dra. My medikasie is meer as R3 000 per maand en ek maak hoofsaaklik op donasies staat. Ons kan dit nie bekostig nie. Ek kan ook glad nie meer werk nie.

“Ek wil net keer dat iemand anders nie ook verongeluk of selfs dood gaan nie.”

Kom neem deel aan die gesprek

Volg Huisgenoot op Facebook, Twitter, Instagram en TikTok, en teken gerus in op ons nuusbriewe