Maar dié 33-jarige Kapenaar het onlangs die hartsnare geroer toe hy foto’s van ’n babameisie deel wat glo deur haar ma verwaarloos is. 

“Ek het die klein prinsessie dié naweek ontmoet. Sy is deur haar ‘ma’ in die bosse agtergelaat en is deur insekte/diere geëet. Maar sy lag en glimlag sonder einde, sy het my hart gesteel,” het Siv by die foto’s laat hoor.

Die meisietjie is een van 11 kinders waarna Amy (34) en haar man, Bronson Vos (36), in hul pleegsorghuis in Kaapstad kyk.

“’n Verbyganger het haar gevind en die maatskaplike dienste onmiddellik in kennis gestel. Hulle het later meer inligting oor haar gekry, dat sy onder meer ’n paar maande oud is,” vertel Amy aan Huisgenoot.

“Sy word daagliks sterker en begin die geluide van ’n gesonde baba maak. Sy was ernstig verwaarloos, maar met die liefde wat sy tans ontvang, maak sy goeie vordering,” voeg sy by. 

Die kinders in pleegsorg is deur hul gesinne mishandel of verwaarloos en word deur dié veilige hawe ’n tweede kans gegun.

Amy en Bronson het vyf jaar gelede die pleegsorg vir kwesbare kinders gestig en twee jaar later as ’n organisasie sonder winsoogmerk geregistreer. 

Die departement van maatskaplike ontwikkeling sal gevalle van kindermishandeling ondersoek en dan sover moontlik dié kinders in Amy en Bronson se sorg plaas. Die egpaar beplan om in die toekoms ’n tweede sorghuis op te rig.  

siv ngesi
Siv kuier by die verwaarloosde dogtertjie. Foto: Verskaf
baba,verwaarloos
Die letsels op die kleinding se handjies is bewys van 'n swaar lewe. Foto: Verskaf

Hoewel Siv oor die Paasnaweek ’n uitstappie vir die kinders beplan, het hy dit duidelik gestel Amy is die “held” in die verhaal; nie hy nie. 

“As jy sukses in die lewe behaal het, maar nie teruggee nie, het jy misluk. Niemand word armer deur te gee nie,” sê hy.