Dit gaan elke dag ’n bietjie beter met die Springbok Franco Mostert se ouboet, JP, wat op 21 Julie verlede jaar verlam is nadat hy in ’n motorongeluk was. Ten tyde van dié ongeluk, op ’n grondpad buite Groblersdal in Limpopo, was JP die kaptein van die Valke-rugbyspan.

Zandré van der Walt, JP se verloofde, was dié dag nog besig om trourokke aan te pas toe JP sy nek tydens die ongeluk breek.

“Albei sy arms raak sterker. Sy maag en rugspiere begin ook goed aankom,” sê Zandré, ’n laerskoolonderwyseres.

Dié voormalige slot, flank en agtsteman was ses maande lank ná die ongeluk in die hospitaal en vier maande daarna in ’n rehabilitasiesentrum in Pretoria. Hy is al sedert middel-Mei by sy en Zandré se huis in Kempton Park. 

Hoewel hy die gebruik van sy bene verloor het, het hy nie ’n tikkie van sy positiwiteit verloor nie.

Ek en JP klou aan die droom vas dat hy eendag self kansel toe sal stap en dra dit aan die Here op.
JP Mostert en sy verloofde, Zandré van der Walt, voor die motorongeluk. Foto: Verskaf

“Ek weet die Here het ’n groot plan met my lewe,” sê hy. 

Danksy harde oefening sien hy en Zandré elke dag ’n verbetering in sy toestand. 

“Ek staan elke oggend halfsewe op. My helper help my om aan te trek, hy strek my en doen oefeninge met my. Sekere dae van die week neem ek die Gautrain na my biokinetikus,” sê JP. 

Die hoogtepunt van sy dag is 'om wakker te word en koffie saam met Zandré te drink’. 

JP en Zandré klou vas aan hul geloof, want hulle weet nie wat die toekoms inhou nie. 

“Ek lees elke dag vir ons ’n Bybelversie. Dit hou ons albei positief. Ek herinner JP ook daaraan dat die Here ’n groot plan met sy lewe het. Ek dra ons toekoms op aan die Here. Ek fokus nou op sy oefening,” sê Zandré. 

Hul troudag is vir eers uitgestel. 

“Ons het te veel ander goed waarop ons moet fokus. Ons leer weer elke dag iets nuuts van mekaar in die nuwe reis waarop ons nou is. Oefening en om sterker word, is prioriteit.

“Ek en JP klou aan die droom vas dat hy self eendag kansel toe sal stap en dra dit aan die Here op,” sê Zandré.