Johan is in November ernstig in ’n plaasaanval in Lanseria wes van Johannesburg beseer. Nege koeëls het hom tydens die aanval getref en hulle moes hul troudag twee keer uitstel. 

HY STERF VOOR SY KON GROET; TROU

Die aanval het net ‘n paar weke voor hul troudag, wat vir 15 Desember beplan was, plaasgevind. Johan is daarna vir twee maande in Helen Joseph behandel en die huweliksdag is tot 15 Junie uitgestel.

Huisgenoot het toe berig hy het slegs ’n paar dae voor dié nuwe datum ‘n terugslag beleef en is weer opgeneem. Die volgende datum sou op 6 Julie wees . . .

Hanli het Woensdag vertel “iemand van die hospitaal” het haar Dinsdagoggend (25 Junie) gebel en gesê Johan is baie swak en sy moet “so gou as moontlik kom”. Hy het egter 15 minute voor sy langs sy hospitaalbed kon staan aan ’n hartaanval gesterf.

TERUGSLAG NA TERUGSLAG

Huisgenoot het vroeër berig Johan, ‘n wewenaar, se drie kinders, asook Hanli se twee kinders, was almal op Sondag 11 November saam in die huis toe hulle deur vier aanvallers oorrompel is. Hulle het op daardie oomblik gereed gemaak het om aan te sit vir aandete.

Die aanvallers het 25 skote afgevuur, waarvan nege Johan getref het. Die rowers het met TV-stelle, rekenaars en selfone gevlug. Hanli vertel hy het by die voordeur op hul stoep ineengestort.

“Dit het gelyk asof die bloed soos uit ‘n tuinslang uit hom spuit.”

Sy en die vier aanvallers het gedink hy is dood. 

“Hulle het na die versierings wat op die tafel gelê het, gewys en gevra wat dit is. Toe ek sê dit is vir ons troue, skop die een rower hom en vra hoekom ek dan met ‘n dooie man wil trou.”

‘ALLES HET NET TE VEEL GEWORD’

Johan het wonderbaarlik oorleef en is teen die einde van Januarie ontslaan, maar moes kort-kort teruggaan vir verdere behandeling. Huisgenoot het die verloofde paartjie ’n week voor hul tweede troudatum besoek, maar Johan was steeds in erge pyn.

Hy kon slegs met moeite en met die hulp van twee krukke oor die weg kom, maar hy was vasbeslote dat hy met Hanli voor die kansel sou staan. Ná die besoek het Johan erge pyn in sy heup en buik begin kry.

Teen Dinsdagaand 11 Junie het hy die heeltyd opgegooi. “Ek het net besef ek moet hom so gou moontlik weer by die hospitaal kry, maar ek het vas geglo die troue sou voortgaan,” het Hanli toe vertel.

Johan is opgeneem, en Hanli vertel met sy opname was dit die laaste keer dat sy met hom gepraat het. Daarna was hy in ’n mediese koma terwyl hy onder meer vir septisme behandel is.

Dinsdag 25 Junie is hy dood.

“Sy liggaam kon net nie die pyn meer vat nie,” sê Hanli. “Alles het net te veel geword vir hom.”