Voor Joggie Rautenbach verlede week na die Karoo vertrek het om aan die Munga-fietswedren deel te neem, was hy nog opgewonde oor sy nuwe toepassing, Liftlink. 

Maar binne ure het alles verander toe ’n weeklikse koerant sy toepassing koppel aan ’n Pretoriase vrou wat in die landdroshof verskyn het ná sy glo met 13- en 14-jarige seuns, van wie onder meer leerlinge aan die Afrikaanse Hoër Seunskool is, gelol het.

Dié vrou se naam mag nie bekend gemaak word nie omdat daar minderjarige kinders betrokke is en sy self jong kinders het. 

Skielik moes Joggie aan sy vriende verduidelik hoe hy ’n vermeende molesteerder ’n vennoot van sy toepassing kon maak. 

Joggie is ontstoke. Niks hiervan is die waarheid nie, sê hy. Hy ken nie die vrou nie en het haar nog nooit eens ontmoet nie.

Hy het die eerste keer haar naam gehoor toe Huisgenoot die naam vir hom gesê het.

“Ek het destyds haar man in sy persoonlike kapasiteit genader om die app vir my te ontwikkel. Ek het nog nooit sy vrou ontmoet nie en ek het nie eens geweet wat haar naam is nie,” sê Joggie telefonies aan Huisgenoot terwyl hy 'n breuk tydens die fietswedren vat. 

Die app, Liftlink, werk soos Uber maar is gemik op skoolkinders en gaan van Januarie af beskikbaar wees. Ouers kan ten alle tye op die toepassing sien waar hul kinders is. Bestuurders is ander ouers of onderwysers. 

“Meer as ’n jaar gelede het een van my vriendinne vir my gesê sy wens daar was ’n app wat spesifiek vir skoolkinders geskryf word. Sy wou met ’n geruste hart haar kind in ’n kar laat klim. Nou hang dit alles, al die werk en al die geld, in die weegskaal,” sê hy.

“Ek het honderde duisende rande aan die besigheid spandeer. Ek het dit juis begin omdat ek self ’n dogter het wat jonk is en ek wil kan verseker dat sy veilig is as sy vervoer word. Nou word ek en my besigheid aan só iets gekoppel. Die skade is enorm. My kop is al moeg gedink hieroor,” sê Joggie.

Joggie sê die plan is steeds om Liftlink van Januarie af te laat lewendig gaan. 

Foto: Verskaf
So lyk die toep wat jy kan aflaai. Die besigheid het niks met 'n vermeende verkragter te doen nie.

“Ons wil die app franchise en daar was klaar agt mense wat belang gestel het, maar van hulle het nou kop uit getrek. Ons het nog nie eens behoorlik begin daarmee nie, man.”

Joggie sê hy het reeds regsadvies ingewin oor die pad vorentoe en wat hom te doen staan.