Gerhardus van Rooyen en sy vrou, Elana (voorheen Goes), het Vrydag weer vlugtig in die hof in Klerksdorp verskyn op aanklagte van bedrog en diefstal.

Die beweerde bedrieër sal vir eers agter tralies bly terwyl Elana op borgtog van R5000 vrygelaat is.

Van Rooyen is die seun van die berugte pedofiel Gert van Rooyen wat saam met Joey Haarhoff meer as 25 jaar gelede opslae landwyd gewek het nadat ses jong meisies verdwyn het.

Van Rooyen is enkele dae ná Kersfees aangekeer nadat hy maande reeds die lang arm van die gereg ontduik het. 

Volgens sers. Kelebogile Moleko, provinsiale polisiewoordvoerder in Noordwes, het hy hierdie keer nie die moeite gedoen om vir borgtog aansoek te doen nie.

Die egpaar staan saam in dié hof op twee aanklagte van bedrog en nóg twee van diefstal tereg, het Moleko aan Huisgenoot bevestig.

Sy sê dié aanklagte moet egter met nog aanklagte wat met sake van bedrog in Benoni en Pretoria verband hou, in Pretoria gesentraliseer word.

Gerhardus van Rooyen probeer na bewering al jare lank die gereg ontduik.

Potchefstroom

Die egpaar, albei 49 jaar oud, het glo die afgelope tyd in iemand se agterplaas in ’n huurwoonstel in Potchefstroom geskuil. Hulle is in hegtenis geneem nadat die polisie 'n wenk ontvang het oor waar Van Rooyen hom bevind het.

Moleko sê dit sal tydens die sentralisering van die sake beslis word of aanklagte van regsverydeling ook tot die reeds-bestaande klagte gevoeg gaan word.

Gansbaai

Hy is in Maart 2017 in Gansbaai aangekeer nadat die landdroshof van Benoni 'n lasbrief vir sy inhegtenisname uitgereik het. Van Rooyen is later op borgtog van R8000 vrygelaat.

Van Rooyen het egter versuim om sy borgvoorwaardes na te kom wat bepaal het hy moet elke Woensdag by die Villeria-polisiekantoor in Pretoria aanmeld en voet in die wind geslaan.

Sy vrou het hom na bewering gehelp om die polisie uit te oorlê.

Die polisie het maande lank vergeefs talle leidrade opgevolg om hom op te spoor.

Huisgenoot het met bronne na aan die saak verneem hy het meesterlik daarin geslaag om die polisie telkemale te ontduik. Hy het na bewering nooit vir langer as ’n week dieselfde selfoon of simkaart gebruik nie.

Bewerings van bedrog

Die egpaar word daarvan beskuldig dat hulle ’n vrou van Klerksdorp met R30 000 ingeloop het nadat sy die geld as deposito vir die koop van ’n geadverteerde motor oor betaal het.

Sy het nóg die voertuig nóg haar geld ontvang. Dit is na bewering een van verskeie voorvalle waarby Van Rooyen betrokke is wat waarskynlik vanaf 2013 strek.  

Volgens die bron was Van Rooyen se modus operandi om onder meer voertuie, huurhuise en vakansieverblyf op Facebook en in koerante te adverteer.

Sy niksvermoedende slagoffers het telkemale hul geld verloor nadat hulle deur hom aangesê is om 'n deposito te betaal.

Van Rooyen sou die adverteerwerk doen onder verskeie aliasse. Gerrit Cornelius van Rhyn was een van die name wat hy glo ingespan het. Slagoffers sou geld na bewering in 'n vals bankrekening of in Elana se persoonlike bankrekening inbetaal word.

In die sake wat in Benoni en Pretoria ondersoek is, het Van Rooyen op dieselfde manier te werk gegaan.

Gerhardus en Elana sal na verwagting weer op 2 Februarie in die hof verskyn.

Gert en Joey

Die tergende raaisel van Van Rooyen se pa, die vermeende pedofiel Gert van Rooyen is nooit opgelos nie.

Gert en sy houvrou, Joey Haarhoff word met die ontvoering van minstens ses tienermeisies tussen 1988 en ’89 in die destydse Transvaal en Natal verbind. 

Die meisies is nadat hulle weggeraak nooit weer gekry nie. Die voortvlugtige Gert en Joey is dood toe Gert na bewering eers vir Joey en toe homself in ’n jaagtog met die polisie geskiet het.

Van Rooyen het verlede jaar 'n onophoudelike veldtog op Facebook gevoer waarvolgens hy beweer sy pa en Joey het nooit 'n "selfmoordpakt" gehad nie. Hy het ook versoek dat die saak teen sy pa nie laat vaar moet word nie, maar veel eerder herondersoek moet word.

In 'n video wat hy op sy Facebook-blad (as Gerhardus Corneluis van Rooyen) geplaas het, het hy behoorlik gal gebraak oor die polisie wat hulle vasstaar in Gert van Rooyen.

"Daar is baie mense wat baie antwoorde moet hê. Almal kan nie niks weet nie. Dis tyd dat die saak oopgevlek word."

Die Facebook-blad is sedertien gesluit.

Ekstra bron: News24