“Jy weet mos, sy is nog ’n kind en sy kry al die ondersteuning wat sy nodig het. Sy het dokters en paramedici wat na haar omgesien het en steeds na haar omsien.”

“Dit is nog baie vroeg en baie rou. Ons wil nie nou nog praat nie.” 

’n Poenskop Nicholas Ninow (20) het in die hof oogkontak vermy en gereeld na sy hande gestaar toe hy verskyn vir die beweerde verkragting van sewejarige meisie in dié gesinsrestaurant meer as ’n week gelede. 

Waarom die jong man sy hare afgeskeer het, is nog onduidelik.

Nicholas, geklee in ’n donker sweetpaktop, was duidelik gespanne en het met tye amper bang gelyk. 

Toe sy regsverteenwoordiger, Rian du Plessis, verwys na die foto’s en video van hom in die sosiale media het Nicholas se gesig pynlik vertrek. 

“Die gemeenskap sien die misdaad as ’n afskuwelike daad . . . elke keer as ’n foto van hom geneem word sal dit nog meer rassespanning veroorsaak,” het hy aangevoer in sy argument vir waarom foto’s van Nicholas nie tydens hofverrigtings geneem moet word nie.

Hy het gereageer op Media24 se aansoek om Nicholas voor en ná hofverrigtings af te neem. Dit is toegestaan. 

Ná ’n kort verdaging het hy weer verskyn met ’n grys top wat laag oor sy oë getrek was om die talle fotograwe se flitsende kameras te vermy.

“Hoe durf hy wegkruip, lafaard. Hy het daai dogtertjie se onskuld gevat. Hoe durf hy enigsins regte hê,” het ’n jong vrou vurig in die hof gesê. 

’n Stampvol hoflokaal. Foto: Carla Coetzee

Betogers van talle organisasies en politieke partye het buite die Pretoria landdroshof saamgedrom en Nicholas se kop geëis. 

Dit was skoon ’n geskram en ’n gestoot om binne die hof te kom en die meeste mense moes buite in die gange staan en kon nie by die hof inkom nie. 

Nicholas se ouma was nie in die hof nie en dit is onduidelik of enige van sy vriende of familie hom kom ondersteun het. 

Nicholas het tydens die verrigtings glad nie om hom gekyk nie. Hy het sy onderste lip telkemaal gebyt en met tye sy gewig van die een tot die ander voet verskuif, amper asof hy wieg. 

Toe die staat sê sy gesig is reeds in koerante gepubliseer het hy net sy oë toegedruk en sy lippe saamgepers. 

Hy is ook blykbaar deur die polisie en kroeggangers in die Dros aangerand. 

Talle groepe mense het betoog buite die hof. Foto: Verskaf
Talle groepe mense het betoog buite die hof. Foto: Verskaf
Talle groepe mense het betoog buite die hof. Foto: Verskaf

Rian du Plessis sê die polisie by Silvertonpolisiekantoor het Nicholas die aand van sy inhegtenisneming gedwing om push-ups te doen asook “hom geskop, met plat hande geslaan en met hul gordels”. Hy sê ook hulle het hom op sy oog geskop. 

Hy is volgens Rian ook met ’n gebreekte bottel in die Dros geslaan en moes vier steke aan die onderkant van sy regteroor kry. Hy het nog twee snye op sy kop asook een aan die regterkant van sy nek. 

Nicholas het kwaad gelyk terwyl sy beserings gelys word.

Die saak is uitgestel tot 1 November sodat ’n forensiese ondersoek kan plaasvind. Nicholas bly in aanhouding.