Dit moet ’n sonderlinge soort hel wees: Die pa van jou pasgebore baba word verdink van een van die afgryslikste misdade waarvan ’n volwassene moontlik teenoor ’n kind beskuldig kán word.

Die verloofde van die vermeende Drosverkragter, Nicholas Ninow, was hoogswanger toe hy op 22 September verlede jaar in hegtenis geneem en aangekla is weens die verkragting van ’n sewejarige dogtertjie in die toilethokkie van een van die takke van dié gesinsrestaurant in Pretoria.

Terwyl hy die afgelope vyf maande in die Kgosi Mampuru II-gevangenis in Pretoria agter tralies verhoorafwagtend was, het die natuur sy eie verloop geneem en in Desember verlede jaar is sy baba gebore.

“Dis die mooiste baba; hy is gesond,” sê ’n vriendin van Ninow. Maar, vertel sy, die ma van die kind wil sover sy weet niks meer met Ninow te doen hê nie.

Volgens haar het sy hul verlowing verbreek kort nadat ’n video van die gebeure in Dros op die internet versprei is. Nog ’n anonieme vriend van sy eksverloofde sê: “Sy begin nou weer uit haar dop kruip, maar sy wil glad nie oor die saak praat nie.”

Ook Ninow se ouma, by wie hy voor sy inhegtenisneming gewoon het, wou by navraag niks oor haar nuwe agterkleinkind sê nie.

Maar adv. Sanet Jacobson, die staatsaanklaer in die saak, sê: “Ek weet nie of hulle weer dinge tussen hulle opgeklaar het of nie, maar sover my kennis strek, het die eksverloofde die kind na die Kgosi Mampuru II-gevangenis in Pretoria geneem om vir Ninow te kuier.

Nicholas Ninow
Nicholas Ninow ontken die verkragting in ’n video wat in die sosiale media versprei is.

“Wat dít beteken, weet niemand.”

Kort voor Ninow se volgende hofverskyning in die Pretoriase landdroshof op 5 Maart is sy voormalige vriendekring steeds geskok oor die bewerings teen hom. Die meeste wil niks meer met hom te doen hê nie.

“My hart was regtig baie seer toe ek van die voorval uitvind. Ek het ’n week voor dit nog met hom in die The Grove-winkelsentrum gesels,” vertel ’n voormalige vriendin wat verkies om anoniem te bly. Sy is kort ná die Drosvoorval verkeerdelik deur sosialemediagebruikers vir Ninow se eksverloofde aangesien en geteiken.

“Watter vark van ’n verloofde . . . Jy beter hom los,” het een op haar Facebookblad geskryf. “Jy is mooi; los jou molesteerder-boyfriend,” het ’n ander laat hoor.

“Ek moes alles afhaal,” sê sy oor die kommentare.

Ninow soos hy aan vriende bekend was: ’n regte kuiergees.

Ninow se ware eksverloofde vermy steeds die kollig, vertel die vriendin. Al is haar lewe drasties omgekeer deur die verskriklike bewerings teen haar eks, beur sy voort.

“Daar is baie mense wat haar ondersteun,” vertel die vriendin. Die koms van Ninow se baba was nie al wending aan die vooraand van sy volgende hofverskyning nie. Twee weke voor druktyd het sy ma, Chantelle, se lewensmaat, Steven Wood (40), homself om die lewe gebring nadat hy glo ’n tuinwerker aangerand het.

Dié beweerde aanranding sowel as die selfdood het plaasgevind in dieselfde woonkompleks waar Ninow voor sy inhegtenisneming saam met sy ouma gewoon het. Ook hierop wil Ninow se familie en sy regsverteenwoordiger, Riaan du Plessis, geen kommentaar lewer nie.

Maar hofstukke onthul Wood is wel op 1 Februarie vanjaar op ’n klag van aanranding in hegtenis geneem nadat hy glo op 29 Januarie vir Jan Ramoeding Chiana “met ’n klip oor die kop gekap het”.

Ninow se ma het op 4 Februarie Wood se borgtog van R750 betaal en die saak is tot 12 Maart uitgestel. Maar op 13 Februarie – nadat Wood weer van aanranding beskuldig is – het Chantelle sy liggaam buite hul huis aangetref.

Steven Wood, Ninow se ma se lewensmaat, het op 13 Februarie sy eie lewe geneem.

Die landdroshof in Pretoria het kort tevore bevind Ninow is wel toerekeningsvatbaar en kan in die hof op die aanklag van verkragting verhoor word.

’n Paneel van drie psigiaters en ’n sielkundige het in die Weskoppies- Psigiatriese Hospitaal in Pretoria bevind hy het op 22 September verlede jaar tydens die verkragting aan geen sielkundige en psigiatriese steuring gely nie.

Hy kon tussen reg en verkeerd onderskei, selfs al was hy moontlik onder die invloed van dwelms.

Sanet sê ’n deel van sy toerekeningsvatbaarheid berus op sy handelings in die veelbesproke video wat ná die voorval geneem en toe versprei is. Daarin sê Ninow: “There’s nothing f****** wrong with me; I’m sober. I’m a mental man. I’m f****** okay; I’ve got a tab running at the bar . . .”

“Ons moes bewys dat hy ten tyde van die voorval die vermoë gehad het om tussen reg en verkeerd te onderskei – en dis presies wat die Weskoppiesverslag nou gedoen het.

“Die verdediging het vroeër probeer aanvoer dat hy al ’n lang geskiedenis van middelmisbruik het en dat dit sy verstandelike vermoë in so ’n mate aangetas het dat hy nie kon verstaan wat hy tydens die voorval gedoen het nie. Maar dit geld nie meer nie. Hy is geskik om verhoor te word.”

Sy verduidelik die pad vorentoe: “Ons gaan nou in Maart moet bewys dat eksterne faktore soos drank en dwelms nie sy oordeelsvermoë aangetas het nie en dat die dwelmmiddel wat aan hom gekry is hom nie minder toerekeningsvatbaar gemaak het nie.”

Dit sal deur middel van omstandigheidsgetuienis gedoen word, sê Sanet.

“Ons wil bewys hoe hy deur die loop van die dag opgetree het – en dat dit bewys dat hy nog onderskeidingsvermoë gehad het.

“As ons as die staat op enige manier getwyfel het of hy toerekeningsvatbaar was, sou ons die saak uitgestel het sodat die direkteur van openbare vervolging vir ons ’n beslissing kon maak. Dis nie die geval nie.”

Ninow tydens ’n vorige verskyning in die landdroshof in Pretoria.

Met die slagoffer van die beweerde verkragting en haar ma gaan dit vyf maande later steeds nie goed nie, vertel Sanet.

“’n Mens kan net hoop en bid dat genesing sal kom,” sê sy. Die meisie, wat einde verlede jaar agt geword het, en haar ma kry steeds sielkundige behandeling.

“Die berading is ’n hele proses. En dis belangrik vir die ma om daarby betrokke te wees omdat sy net so getraumatiseerd is.

“Nes enige ma vra sy haarself af: Kon ek nie iets gedoen het nie? Wat as ek gouer gaan kyk het of sy oukei is?”

Ondanks die hartverskeurende uitwerking van die gebeure sê Sanet: “Hulle is in goeie hande. Hulle het nog ’n lang pad om te stap en daar word mooi na hulle gekyk.”

Die dogtertjie is die sleutelgetuie in die verhoor, bevestig sy. Sy sal haar getuienis agter geslote deure lewer en mag nie geïdentifiseer word nie.

Verlede jaar het Ninow besluit om borgtog te verbeur.

“Die familie by wie hy voorheen gebly het, wou niks met hom te doen hê kort ná die voorval nie,” vertel nog ’n ingeligte bron aan Huisgenoot.

“Maar nou, ná die geboorte van sy seun, lyk dinge dalk effens anders. Dit klink asof sy ouma bereid is om hom weer in te neem. Maar wat dan gaan gebeur, en of sulke wonde ooit sal genees, dit weet ek nie.”