bulterrier,Cooper,mishandel,vermink,gered,nuwe hui
Inspekteur Mark Levendal van die dierewelsynsvereniging van Suid-Afrika oorhandig die mishandelde pitbull Cooper aan sy nuwe eienaar, Suné Human van Sandbaai naby Hermanus.

Op die foto’s van hul eerste ontmoeting lyk dit kompleet of Cooper glimlag van verligting om by ’n veilige hawe te wees.

“Hy voel weer soos ’n hond, en ervaar weer liefde,” vertel Suné aan Huisgenoot. Hulle het mekaar verlede Donderdag 13:00 die eerste keer ontmoet in Hermanus, waar Suné by die MediClinic as radiografis werk.

“Ek het die oggend gehoor ek is goedgekeur om hom aan te neem en dat die diere-organisasie in etensuur na my woonstel kom kyk. Die brief wat ek vir hulle gestuur het, het almal se harte geraak,” vertel sy.

bulterrier,Cooper,vermink,red,nuwe huis
Geweldenaars het Cooper, die pitbull, se ore met ’n skêr geknip en met vislyn aan mekaar vasgebind sodat hy meer soos ’n gevegshond moes lyk. Foto: Verskaf
bulterrier,Cooper,red,vermink,nuwe huis
Cooper, die verminkte pitbull van Kaapstad, kort ná die operasie wat sy lewe gered het. Foto: Verskaf

Soos Cooper is sy ook die afgelope paar jaar deur ’n moeilike tyd. Sy het al die pad van Kuruman Kaapstad toe gekom om hier oor te begin.

Op Woensdag 22 Januarie moes die hospitaalpersoneel van die Dierewelsynsvereniging van Suid-Afrika in Philippi, Kaapstad, vinnig werk om Cooper se lewe te red. Albei sy ore is met ’n skêr geknip en rofweg met vislyn aanmekaar vasgewerk, vertel Allan Perrins van dié vereniging. Dis glo om hom meer na ’n gevegshond te laat lyk

“Wat oorgebly het van sy klein oortjies was besmet, en hy was duidelik getraumatiseer deur die mense se wrede dade,” voeg hy by. Hy was ’n maand lank in hul sorg voordat hy aangeneem is.

bulterrier,vermink,Cooper,gered,nuwe huis
Inspekteur Mark Levendal van die dierewelsynsvereniging van Suid-Afrika het Cooper uit die kloue van sy eienaars gered. Foto: Verskaf

“Toe ek hom die eerste keer sien, het dit gevoel asof my hart uit my bors wou spring,” verklap Suné. Hy is haar agtste hond sedert kleintyd, vertel Suné.

 ’n Vriendin het haar van Cooper vertel en gesê sy moet sy storie gaan lees. Die oomblik toe sy sy verhaal lees en sy foto sien, was daar reeds ’n konneksie, vertel sy. “Ek het dadelik geweet ek kan en moet hom ’n beter lewe gee.”

pitbull,Cooper,mishandel,vermink,gered,nuwe hui
Cooper, wat wreed aangerand is deur sy vorige eienaars, slaap by sy nuwe huis op Sandbaai naby Hermanus. Foto: Verskaf

“Tydens beurtkrag het ek op die bed gelê en tob oor die aanneming. Ek glo dis die Here wat dit so bewerk het dat my hart vir Cooper sag geraak het. Later het ek skielik op Facebook skakels gekry na video's van pitbulls wat gered word, en gesien hoe dit die diere se lewens verander,” vertel Suné verder.

Daar is ’n saak van dieremishandeling teen drie mense geopen. ’n Familielid van twee van die verdagtes het hulle aangegee by die vereniging. Op hul beurt het hulle geklik op die persoon wat die ore geknip het,” vertel Allan.

As hulle skuldig bevind word, kan tronkstraf of ’n reuseboete hul voorland wees, verduidelik Allan. “Ons het die landdros ook gevra dat hulle as ongeskik verklaar moet word om diere te hê.” 

Hulle het nog nie in die hof verskyn nie.

Intussen gaan stap Suné en Cooper gereeld deur die strate van die stranddorpie en op die strand sodat hy stadig gewoond raak aan ander mense en diere. Hy gaan ook eersdaags hondeskool toe om die kommunikasie tussen hom en sy nuwe eienaar te verbeter.

“Hy is so liefdevol en soek die heeltyd aandag,” vertel Suné. “Hy is my skaduwee en wil almal groet. 'n Mens kan nie glo hy het sulke wreedheid aan die hand van mense oorleef nie.”

Daar is ’n spesiale blad op Facebook vir hom: Cooper’s New Life.